Читать книгу Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé - Страница 12
5
ОглавлениеWAT ALWYN MY NOG VERTEL HET
“Hy was lateraan net nie by sy volle positiewe nie. Dit het gelyk of hy wegkruip vir die wêreld, jy weet, binne-in homself. En, nou ja, ons weet waar dit vir hom geëindig het. My pa wou hê die weermag moet hom oproep dat hy uitgestryk kon word.”
Ons het in die voorvertrek van die drukpers langs die Heidelberg op regopstoele gesit en gesels, ek en Alwyn. Hy het op my aandrang oor sy broer gepraat. In die oorkantste hoek was my drukpers se marmersteen, wat iemand teen dié tyd seker as ’n grafsteen iewers gebruik.
Nadat ek hom vertel het ek wil ’n boek skryf, het Alwyn ingestem tot ’n reeks onderhoude. Dit was toe al die vroeë jare tagtig en ons het af en toe bymekaargekom wanneer hy van Bloemstad oorgery het om vergeefs na die plaas, wat teen hierdie tyd in sy hande was, om te sien. Hy het homself reguit gemaak teen die stoel se rug en ’n veraf blik in sy oë gekry.
“Ek weet nie hoeveel jy weet nie, Hermanus, so ek begin maar voor. Dirkie was so twintig. Ons praat 1972. Sonder matriek uit die skool. Hy het steeds in die aangeboude woonstelletjie by my ma-hulle gewoon. In sy eie private wêreldjie.
“Dié jaar, soos die vorige jare, het hy maar gewag om in die weermag op te gaan. Hulle sou nog nie geweet het van sy probleme nie.
“Terloops, wanneer gaan dit eindig, Verdomp, hierdie skynvrede? Diensplig gaan seker een van die dae drie jaar word? Ek stel dit self maar so lank moontlik uit.”
“Ja-nee, bly dis nie my deel nie. Een van die oues van dae, mos,” skerts ek.
“In elk geval,” sê Alwyn, “jaar ná jaar is Dirkie se oproep oorgeslaan. ’n Jammerte, want hy was nie universiteitsmateriaal nie. En daar was die probleem dat hy nie getel kan word nie.”
Dit is tot vandag toe een van die vreemdste stories wat ek in my lewe gehoor het.
“Wat gaan van jou word as hulle jou nie kan tel nie! was my ma se kommer. Sy sou aanhoudend dié soort uitroepe kwytraak en huilerig raak. Jy kan die situasie verstaan, Hermanus. Dit het gelyk of Dirkie die vermoë kortkom om amptelik te bestaan.”
Wat ’n hartseer storie, en ek maak toe maar ’n soort grappie om die lug dunner te kry. “Amper soos die swartes …”
Alwyn het gelag, maar sonder oortuiging. “Amper só. Elk geval, die kadette-onderwyser, ou Smittie, wat so gesluk het aan sy woorde dat my ma gesê het hy sluk lugaartappels, het gedink Dirkie is ’n weermagrisiko. Sy gevoel was moenie hoop nie. Maar pa was onkeerbaar. Hy’t self Tempe toe gery en gevra dat my broer opgeroep word.
“Verdomp,” het Alwyn Verwey gesê en in vertroue na my oorgeleun waar ek agter my proefleeslessenaar sit. “Sy verdomde vorms kon óók nie getel word nie!” Ons skater. Maar ek besef die saak was ernstig.
“In elk geval, die intussenlewe vat mos maar sy loop. Toe ek een naweek van Bloem af by my ouers kuier, vertel Dirkie my van sy besoekies aan Anna. So twee of drie. Hy was volslae verlief op dié Anna-meisie. Waar in die wêreld is sy nou? In elk geval, aanduidings was sy was erg oor hom ook. Dit was miskien een van die laaste kere dat hy op ’n logiese manier met my gepraat het.”