Читать книгу Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé - Страница 19

11

Оглавление

DIE UITGESTREKTE MAGNEETVELDE

“Vader!” het Maria uitgeroep toe sy van die trein afklim. Sy het na die priester op die perron gehardloop en haar arms om sy nek geslaan.

Ek herkonstrueer nou daardie dag, 30 Mei 1973, van die treinrit waarop Maria en Dirkie saam was, nog voordat die motel op die Verweys se plaas deur talle gesien is.

My ondersoek is aangevuur deur ’n portretfoto van die volwasse Maria wat in dieselfde jaar geheimsinniglik in Dirkie se besit aangetref is, waarvoor daar steeds geen verklaring is nie. Die twee was wel op dieselfde trein, maar dis onwaarskynlik dat hulle toe of ooit in hul lewens ’n woord met mekaar gewissel het.

Ek het op een van die verbysterendste persoonlike geskiedenisse afgekom. En my bron was Maria Hakskeen se dagboek. Self het ek haar slegs as ’n strooiskind ontmoet en die storie van hoe ek die dagboek bekom het, vertel ek later. Ek het ook ’n tweede bron geraadpleeg, die joernaal van haar weldoener, vader Appel, in bewaring op die sendingstasie waar hulle vroeër gewoon het. Die bronne vul mekaar goed aan.

Die Ampersand-verbinding was ’n sylyn van die spoorlyn na die groot dorp Uping. Dit is later in 1982 gesluit. Dit was in hierdie tyd meestal dienspligtiges in die passasiersgedeelte van die trein na Uping, waar daar ’n weermagopleidingskamp was. Heelparty swart mense het by die weermag aangesluit, en sowel die nieblanke as die wa vir blankes was oor langnaweke volgepak met manne in uniform. Soos vandag, in 1985, het lede van al die rasse meegedoen aan die bolwerk van die staat. Verskeie graantrokke was aangehaak.

Die laatmiddeljarige vader Appel is in sy kerklike habyt geklee en die soldate wat op die perron verby hom loop maak aanmerkings hieroor. Ook oor die bruin meisie wat so styf teen hom loop.

Maria en die vader verlaat Uping in sy Volksie en hulle ry oor die Oranjerivier se betonbrug met sy stutboë soos God se wenkbroue, in die vader se beskrywing. Ver benede kolk die olyfgroen waters van die vergetelheid. Die vader het lankal van sy Chevvie ontslae geraak omdat dit alom begeertes wakker gemaak het wat niks met die skoonheid van die ewigheid te doen het nie.

Dit is ’n paar honderd kilometer se terugry na die Rooms-Katolieke sendingstasie waar Maria met onderrig uithelp en waar sy haar eie opvoeding gekry het. Die leerlinge is kinders van die omgewing se arm inwoners, skaapwagters, stukwerkers op plase en werkers op die sendingstasie. Daar is so vyf-en-sewentig leerlinge, ook ’n klein hoërskool met twintig koppe. Vader Appel is die hoof van beide skooltjies. Dit word gesamentlik die kerkskool genoem.

Toe Dirkie op Uping aankom, loop hy reguit van die stasie na die losieshuis. Hy is baie goed met die lees van padkaarte en vind sonder moeite Spes Bona-losieshuis in Markus de la Reystraat. Die volgende oggend sal hy by die werksagentskap aanklop. Sy pa betaal ekstra vir ’n onderhoud op Republiekdag. Dan moet hy vars wees.

Intussen, op die pad na Pella, pak ’n onverwagse droefgeestigheid Maria beet. Dit het vir haar gevoel of sy iets op die stasie agtergelaat het, of sy dalk besig is om in die verkeerde rigting te ry. Dit is die jong man by wie sy in die trein verbygeloop het. Sedert sy hom gesien het, kan sy nie ophou dink aan hom nie. Dis asof sy hom herken. Miskien het sy hom iewers voorheen gesien.

“Wat is dit, my kind?” vra vader Appel.

“Ek weet nie, Vader. Seker die skaduwees van die agtermiddag.” Maria was welsprekend, een van Appel se beste skoliere ooit. Haar woorde kom uit dieselfde goeie snyhout as haar gelaatstrekke.

“Hoe gaan dit met jou moeder, kind?” Appel leun in die ry met sy linkeroor na Maria oor waar sy in die passasiersitplek sit. Sy habyt ruik na Sunlight-seep en die wasbalies van die abdy. Hy hou sy oog op die pad.

Maria se ma het destyds van Liddell se plaas na ons dorp se lokasie verhuis nadat haar dogtertjie sendingstasie toe is. Liddell het sy werkers stelselmatig afgedank, hy was nie so vooruitstrewend nie, en daar was vir haar en haar seuns slegs by ’n suster op die Lykso blyplek.

“Goed, dankie, Vader. Sy word ouer. Verlang mos na Oupa. Maar hy is lankal dood!” Maria grinnik kopskuddend hieroor.

“Ja, ons harte weet waarheen hulle op pad is,” sê Appel. Hy praat Afrikaans met ’n Duitse aksent.

Die landskap word sanderiger, ’n dieper oker. Hulle ry deur twee of drie reënbuie, die nat buike van die wolke hang naby die grond. Appel se joernaal het ’n digterlike manier. Dit het ek ook oor hom besef die enigste keer dat ek hom ontmoet het, daar in die hospitaal toe hy nog ’n jong man was.

“Die tydjie darem geniet?”

“Ja, dankie, Vader. My gunsteling-band het by Ma Els-hulle gespeel. Die Songbirds, van Mamelodi.”

En dan ry hulle eensklaps uit die bewolktheid die verblindende sonskyn in, soos deur ’n klankgrens; dis droog en warm, en ’n eindelose helderblou lug weergalm ver bo. Die nuwe water in die veld raas nog by die oopgedraaide karvensters in, maar reeds slaan die vars sweet op hulle lywe uit. Die Volkswagen nader die afdraaipad. Hulle is op ’n grondpad van nagenoeg dertig kilometer en die laaste skerp draai na regs sal hulle na die sendingstasie neem.

“Nog geen spesiale een nie?” vra die vader.

Maria lag skamerig. Met haar sandale op die karvloer uitgeskop, haak sy haar linkervoet onder die waai van haar regterbeen in en draai haar bolyf om na die vader kyk. Haar skouer naaste aan die venster rem aan die veiligheidsgordel en die rok skuif hoog teen haar dybeen op. Maar sy dink nie hieraan nie, sy is tuis by die vader.

“Nee, Vader, net u.”

Die vader bloos van die trots. Sy sybaarde skyn silwerwit teen die rooierige Germaanse vel.

“Daardie Duitser was ’n nikswerd. Jy kan nie ’n Duitser vertrou nie.” Vader Appel skerts nou oor sy eie soort. “Wat was sy naam nou weer?”

“Gunter,” sê Maria somber. “Maier.” Sy kyk af en vryf haar hande senuweeagtig delikaat oormekaar. Die onderwerp is vir haar rou. “Hy is bang vir die wet, vader.”

Oral buite sidder dit nuut ná die reën. En die gedagte kom by haar op: dit lyk soos magneetvelde wat blink. So staan dit in haar dagboek. Maria is wetenskaponderwyseres.

Die Volksie ry verskeie kere verby donkiemobiele, kardoes-ore wat getrou vooraan arbei. Donkiemobiele is die vernaamste vervoermiddel hier rond. Deur donkerpers bewolktheid ry hulle weer, dan draai die son, en opeens baai die sanderige vertes in skerp heldergeel lig so ver die oog kan sien. Verby ’n flets olyfboord met sy duisend gestolde ledemate.

Verderaan kom ’n dadelboord in sig. Wildepapegaaie woon daar. Die Volksie skiet verby ’n donkie met ’n jong ma op die rug, jerusalemperd genoem. Haar gesig en kop is in serpe teen die son toegedraai, net oë wat uitsteek. Sy hou ’n baba in doeke teen haar bors. Miskien die pa daar wat langs hulle loop? Die sendelinge het hul bes gedoen om nog ’n Palestina hier te skep.

“God sal die regte een stuur,” sê die vader. “Wag maar.”

Maria is verknog aan haar omgewing, haar sintuie is gespits vir die terugkeer. In ’n kamp aan die regterkant wei drie kamele. Voor in die pad loop nog ’n kameel met ruiter. Volgepakte saalsakke hang teen die dier se sye, ’n kamee van die Midde-Ooste, sê die Ensiklopedie van Suider-Afrika wat ek uitgeneem het by die reisende busbiblioteek.

Die kameel loop statig met grasieuse, golwende tred. Hy hou nou ver links. Met die verbyry waai Maria vir die ruiter en steek haar kop by die venster uit om terug te kyk na waar hy soos ’n verspieder tussen die boggels sit.

In die damespieëltjie van die afgeslane sonskermpie sien sy iets uitsonderliks. Uit respek vir die alomgeliefde vader Appel laat die ruiter die kameel stadig kniel, net daar langs die pad. Die hoë toring van mens-en-dier sak, asof die dier deur ’n klein gaping wil kruip. Die vader sien dit ook in sy truspieël en hy wuif deur die oop venster in erkenning.

Op daardie oomblik, met net die vader se een hand op die stuur, ruk die motortjie heen en weer soos in ’n aardskudding. Vader Appel ken rukwinde en hy hou die stuur weer stewig met albei hande vas. In sulke oomblikke van onsekerheid sien die oog interessante dinge. Die stuurwielknobbels wat vir goeie greep daar is, lyk vir Maria nes die vader se prominente kneukels. Dit lyk of stuurwiel-en-hande as een geskape is maar deur ons, as mense, afsonderlik waargeneem word.

Die geruk-ruk laat haar toe dink aan die konsertinaverbinding waardeur sy vroeër moes loop om van treinwa te verander omdat ek nie ’n blanke is nie, volgens haar dagboekinskrywing.

Hulle ry te vinnig oor ’n deining. Maria bal haar vuiste en verstyf terwyl die onverwagte ekstase deur haar lyf trek.

“Ekskuus,” sê Appel. Hy verminder spoed, die nedersetting trek nader. Maria sien doer regs die toring van die kerk wat in die negentiende eeu gebou is. Sy kyk tussen die kiere lug deur wat die armoedige huisies van mekaar skei en sien die hoë palmbome soos skildwagte weerskante van die kerk. Die kar klingel oor die dierehek, deur die nou poort.

Hulle ry rigting abdy tot naby die kerk. Vader Appel laai Maria met ’n vaderlike piksoen op die wang af, en toe hy weer wegtrek, draf sy flink met haar tassie op na haar kamer in ’n anneks.

Later vanaand sal hulle mekaar aan God se tafel sien. Die vader sal volgens sy aard en gewoonte ’n groentedis eet. Sy sal die dis van die dag, seker skaap- of beesvleisbredie, geniet.

Maria neurie ’n deuntjie en sit haar koffer plat neer op die enkelbedjie en maak die knippe los. Sy lig die deksel, en trek hoorbaar geskok haar asem in. Dis nie haar tas nie!

Wat sy sien is ’n stel mansklere, ’n kartonlêer met dokumente en ’n kop-en-skouersfoto van ’n jong man ’n bietjie uit fokus. Dit moet die een wees op die trein toe hulle albei deur die tonneltjie is, die witte. Sy het hom ook later op die perron in Uping gesien.

Daar is ’n pakkie vars Camels in die tas. En ’n reghoekige plat boks met ’n legkaart in. Op die verweerde buitekant is ’n sprokiestad in ’n vallei met torings wat bo miswolke uittroon. Daar staan Brigadoon op. Sy trek die kledingstukke een vir een uit en gooi dit met misnoeë op die vloer.

Daar voel sy dit weer, die weemoedstrek, soos netnou in die kar. Die besef slaan deur … die onbekende man is met háár koffer vort!

* * *

In sy losieshuiskamer gaan sit Dirkie kop tussen sy hande op die sitbankie voor die spieëlkas, verslae. Langs hom op die vloer is ook ’n oop koffer. Dit lyk presies soos syne, maar die inhoud is drie somersrokke, ’n meisietrui, ’n vrouelangbroek, bloesies, sokkies, ’n paar tekkies, ’n toeryg-lapsakkie met gebruikte onderklere in, hy ryg dit oop om te loer, ’n tandeborsel en grimeersak, en ’n dolos-met-naald-en-gare.

En daar is ’n boek met die titel Orkane en tornado’s. Hy slaan die voorblad oop, binne is ’n stempel waarna hy lank staar en in die sirkelformasie staan Busbiblioteek van die Provinsiale Diens.

Hy sit kaallyf, met die losieshuishanddoek om sy onderlyf gedraai, sonder ’n draad skoon klere tot sy beskikking. Die klere is nie syne nie. Dis wat gebeur as jy Woensdae met Vrydae omruil, het hy teenoor Alwyn gebieg. As jy selfs net ’n paar sekondes jou aandag laat dwaal.

Dit moet gebeur het toe hy die vetkoek gekoop het. Op daardie oomblik het hy vergeet om Woensdag en Vrydag uitmekaar te hou. Dís toe hy die verkeerde koffer gegryp het, die een wat reg sou gewees het as dit die Vrydagtrein was, wat in die ander rigting loop. Dirkie se gedagtes teister hom. Sy pa sal woedend wees hieroor.

Hy tel een van die somersrokke op en hou dit teen sy vel. Dis diep-oranje en hy kyk na die voue, hoe dit oor die waai van sy arm hang. Hy ruik parfuum aan die hals, vat aan die frilletjiesmoue. Daarna tel hy een van die broekies op, sysag, net die bonnet-gedeelte is bietjie harder. Die klere lê naderhand gestrooi oor die vloer.

Verbeel hy hom? sy staan voor hom, die treinmeisie, met haar glimlag en swart krulle. Sý tel ’n lêer op, vou dit oop, kyk na die foto. “Sommer so, in my kamer, boetie,” het hy aan Alwyn vertel.

En sy kon hom ook duidelik voor háár sien, net soos op die trein, soos dikwels ook net voordat sy aan die slaap raak. Sy het altyd gewonder wie hy is. Aldus die dagboek se inskrywing op 6.6.1973.

Toe sien hy die skimmure met hul skynsel, die vlakke wat skyn. “Hy het gepraat van skynmure, hoewel ek twyfel of hy die dubbelbetekenis verstaan het,” was Alwyn se woorde.

Die skimmerige mure het sommer so skuins en halfdeursigtig deur die losieshuis se mure gestaan. Hy het ’n deur wat nie daar was nie, reg langs hom hoor toeklap, het Alwyn aan my oorvertel.

Dirkie sien in die spieël die meisie langs hom op die spiëeltafelbankie kom sit, hoor haar sug. Daar is ’n vae skynprent van Jesus teen die skynmuur na regs van hom.

By die spieëltafel draai sy die syspieëls terwyl sy haar hare droogvryf, en hy sien die rye eindelose gesigte van homself. In die bodemlose silwer dieptes.

“Ek het nog nooit so baie Dirkies gesien nie, boet, nooit nie.”

Maria het haar na hom gedraai, haar hand uitgesteek en gevat-vat aan die beeld van hom. Dit was hý, die een op die foto uit die lêer met die naam Dirkie Verwey, sê haar inskrywing. Ek het die mansmensbeeld diep in sy oë gekyk. Hy was al hoe minder silwerig en deurskynend totdat hy soos ’n mens van vlees en bloed was.

Vir iemand wat die weë van God ken, is min dinge vreemd.

Sy kyk weer na die vloer, haar kledingstukke wat rondlê. Sy staan van die spieëlbankie op en raap alles met sekel-arms bymekaar. Dit het gevoel of ek hom opgedink het, maar dat hy op sy eie beweeg.

Waarom gebeur dié dinge met haar? Is dit ’n uitreik van ander, volgens God se opdrag? Ja, sy dink dit is die rede, en die gedagte gee haar vrede. Daar is niks wat sy graagter wil doen as om God se opdragte uit te voer nie.

Sy loop na haar lessenaartjie in die hoek voor die venster wat oor die stofplein uitkyk en sit die foto van Dirkie, wat sy so per ongeluk gekry het, in die boonste laai weg. Sy haal iets uit ’n ander laai. Dan gaan sy na hom by die spieëltafel en sê: “Dis nou joune.”

Hy neem die geraamde swart-en-wit A5-grootte foto van haar. Toe is daar die geklop aan die deur.

“’n Oomblikkie asseblief!” roep Maria.

In ’n bevlieging trek sy die enkel rosie uit die dunsteelvaas op die spieëltafel, die vader moes dit seker daar kom sit het, en sy loop na Dirkie en hou dit na hom uit. Hy neem dit.

“Alles reg hierbinne?” vra die bekommerde stem van vader Appel. “Jy is laat vir ete!”

Die vader het ’n gemompel aan die binnekant gehoor: Maria se stem, maar ook ’n ander een! Hy stoot die deur geluidloos oop: só staan dit in sy daaglikse rekords.

Wat hy sien, laat hom bleek van die skok, dieselfde kleur as sy sybaarde, het Maria geskryf.

By die spieëltafel sit ’n man met kaal bolyf. Ek het nog nooit my hemelkind se kamer so deurmekaar gesien nie. Maria in haar kamerjas en hare wat drup.

Sy het so flussies gestort en bemerk die vader nog nie. Sy hou met een hand die kamerjaslapelle teen haar hals vas terwyl sy hurk. Dit lyk vir die vader of sy haar naaktheid met die deemoed van ’n eedgebaar toedruk. Sy kyk af, is besig om onderklere op te tel. Dan kom sy te vinnig orent, steek arms uit vir balans, en die lapelle waaier oop. Opeens staan sy poedelnaak voor vader Appel. Intens verleë trek sy die kleed toe en steek die hand met die bondeltjie private sierade agter haar rug weg.

“Ek is so jammer, Vader!”

Vader Appel slaan die toneel geskok gade, nie oor haar oomblik se naaktheid nie, maar oor die man wat daar sit. Sy hand is nog op die deurknop. Vir etlike sekondes staan hulle so.

“Ek wag vir jou in die eetsaal.” Die deur gaan ekstra saggies toe. Maria hoor hoe sy voetstappe in die gang sagter word en wegkwyn.

Hy het nooit weer na die voorval verwys nie. Nooit gevra oor die onbekende man nie. Die skoonstes word die meeste versoek.

Of was dit sy jaloesie? ’n Hersenskim gebore uit oorbeskerming? Uiteindelik was dít vir hom die waarskynlikste verklaring …

Hy en Maria het later van tyd weer saam gelag. Tussen hulle was die onbekende man vergete. Maar die vrede was ’n illusie.

Toe vader Appel die deur toegemaak het, voel dit nie vir Maria of sy haar sinne herwin nie. Sy merk op dat Dirkie verdwyn het waar hy voor haar spieëltafel gesit het. Sy ruik aan haar vingers in ’n desperate gebaar, in die hoop dat iets van hom daaraan sou kleef.

Want die sluimering praat met die sluimering. Dit steek tasters uit. Die sluimering is ’n veelvuldig vertakkende leefvorm. Só staan dit in vader Appel se rekords vol mymerings. Soos hy dit met die genade van God begin insien het.

VOETNOTE

1.Volgens Die verhaal van ons spoorweë (H.P. Slink, Solidariteit-Uitgewers, Pretoria, 2010), is daar geen historiese rekord van ’n sylyn wat aangesluit het by die spoorlyn na Upington nie. Laasgenoemde is die naasklinkendste pleknaam aan Verdomp se “Uping”.

Daar is wel verwysings na haalbaarheidstudies oor die beplande bou van so ’n lyn, naas die foto van ’n boukundige skaalmodel gemaak uit papier, hout en karton wat ’n kleindorpse stasie uitbeeld, met ’n manlike en vroulike figuurtjie en tassies op ’n perron. Die skaalmodelfoto toon dat beplanning gevorderd moes gewees het. Besonder toevallig is die naam op die skaalmodelstasietjie se piepklein naambordjie: Lyksovlakte. Maar die byskrif sê dat dié naam fiktief is.

2.Orkane en tornado’s (Van Schaik, 1969) is die vertaling van Into the Storm (J.S. Rowan, Vantage Press, Londen, 1960). Dit het in die reeks Vreemde natuurverskynsels verskyn.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Подняться наверх