Читать книгу Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé - Страница 25
16
ОглавлениеWAT ALWYN MY NOG VERTEL HET (2)
Alwyn het sy broer se gedagtevlugte, soos hy dit genoem het, begin neerskryf. Hy wou tot elke prys kontak met hom behou. Hy het Dirkie met groot moeite gekry om meer oor sy binnewêreld te verklap.
Ek het Alwyn se oorvertel aan my van wat Dirkie hom oor sy ontmoetings met ’n Maria vertel het, vergelyk met Maria Hakskeen se dagboekinskrywings. Die ooreenkomste was ’n openbaring.
Dit is onmoontlik dat daar ’n oorleg tussen die twee kon gewees het. En tog was daar ’n Maria Hakskeen in Dirkie se lewe. En ’n Dirk Verwey in Maria se lewe. En ’n gedeelde lewe tussen hulle.
* * *
In 1983 het ek vir oulaas ’n onderhoud met Alwyn by sy huis gaan voer. Dit was altesaam agt onderhoude.
Alwyn Verwey was teen dié tyd getroud, twee kinders ryk, en hy en sy jong gesin het in Wavermead, Bloemstad gewoon. Hul woning was naby die kruising van die bekende Generaal Mineurstraat en Meulstraat.
Hy het geruime tyd lank reeds klas gegee aan die landboukollege, waar hy voorheen student was, die P.K. le Roux Gimnasium, alombekend as Die Plaasdam. Doseer, noem die boere dit mos.
’n Saggeaarde en besnorde man, effens onder middelmatige lengte en met blas vel, was onse Alwyn. Na aan sy pa in voorkoms, maar nie in persoonlikheid nie. Hy was simpatiek, iets wat sy pa nooit kon wees nie.
“Ek dink die gebeure met Anna moes bygedra het,” was sy woorde langs die vibracrete-heining van sy huis toe ons uitstap om afskeid te neem daardie laaste keer. Ek moes terugry Lykso toe. Ek dink daaraan as Alwyn se vibracrete-woorde aan my.
Hy het soms so in die staan sy snor met duim en voorvinger platgestryk voor hy ’n moeilike onderwerp aanraak.
“Hoe … hoe sal ons ooit weet, Verdomp? Daar is min werklike bewyse. Buiten vir die bewys wat my oorlede ma mos gekry het toe sy die meisie in die foto gaan opspoor het. Maar kan mens so iets ’n bewys noem?”
* * *
By ’n geleentheid voor dit het ek en Alwyn op die vendusiegrond net buite die dorp ontmoet. Dit was ’n weeksagtermiddag en ons was die enigstes in sig. Ons het op die klein pawiljoentjie gesit, net bokant die drukgang, hy links van my, en van tyd tot tyd het ons sywaarts gedraai om mekaar aan te kyk. Geselskyke.
“Ek is dit eens met die staatpsigiater se verslag, wat was haar naam? Hartman, ja, dokter Hartman.”
Alwyn het sy oë teen die son bly knipper terwyl hy die as van sy sigaret met ’n vroulike oorkruis haal van die arm langs sy ander been, reg langs myne aftik.
“My broer het oneindige woede teenoor pa gekoester. Maar hy was heeltemal aan pa se wil onderworpe. Soveel so dat hy ná die insident in die kerk nooit weer oor Anna gepraat het nie. Hy kon haar net so wel deur die dood verloor het. Ek dink sy sterkste begeerte was om elders te wees. Vandaar …”
“Vandaar?”
“Vandaar miskien … sy gedagtevlugte oor …”
“Jy het haar seker nooit ontmoet nie?”
“Nee. Net my ma se beskrywings van haar gehoor. En by die verhoor. Jou storie oor haar dagboek.”
Die rye peperbome in die verte het begin swem teen die blou. Ek het gevoel-voel vir my diktafoon en dit voorlopig afgeskakel.