Читать книгу Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé - Страница 21
13
ОглавлениеSTRELITZIAS UIT DIE VULGAAT
En toe kry ek die geleentheid om ’n onderhoud te voer met een van die navorsers wat Maria Hakskeen se taalverhuising, soos hy dit genoem het, bestudeer het. Op 5 Augustus 1985. Die man wil nie sy identiteit bekend hê nie.
Dit was die tweede laaste ding wat ek gedoen het voor ek die Lyksovlakte verlaat het. My koerant het nie meer bestaan nie. Net die vorige week het ek Bloemstad toe gery en met die pakketgeld my hartskar gekoop.
Dit was ook die laaste dae van die sentrale. Ek het Die Pers gebel, wat my in kontak gesit het met Lantern-tydskrif. Hulle het my ’n nommer gegee. Ja, vertel die taalkundige my toe, hy kan my artikels oor die plaaskind goed onthou. Ons maak toe ’n afspraak.
Ek het hom op sy plasie naby Reddersburg in die Vrystaat besoek. Die grondpad na die huis het deur twee rye wild waaiende platane gekronkel. Flou skaduwees van die swaaiende takke het heen en weer oor my enjinkap gekaats. My vensters was toe vir die dieseldampe. Dit het pas gereën. Halfvier die middag. ’n Ysige sonnetjie het ’n rits ingehaakte bulte in die verte geskerf, en die paadjie het kwaai na links en regs geswenk. Al met ’n geilerige middelmannetjie langs. Die motor het soos ’n vlot op deinings gevoel, telkens na agter en weer skerp op sy voorste vere gaan lê.
Die laaste ent het reguit voor my uit gedraf. ’n Ingekampte platdakkie het naderhand opgedoem. ’n Kaalvoet oemfaan het die hek oopgemaak en die taalkundige en sy vrou het my op die sementstoepie van hul woning ingewag.
Hy was glad nie die hovaardige soort, soos ek hom altyd voorgestel het, nie. Sy vrou had ’n jolige pienk gesig, ’n kort swart kapsel. En sy was bedeeld met middeljarige rondings. Hy was pas afgetree. In kakiekortbroek-en-boshemp. Ondanks die yl lug.
“Ja, jy het reg gehoor, meneer Verdomp. Daar was nog een, miskien twee personasies van die kind wat ons nie bekend wou maak nie,” het die vroeg afgetrede dosent in vergelykende taalwetenskap my in sy woonkamer vertel.
Hy het met sy bene oorkruis gesit en na een kant oorgeleun na ’n sytafeltjie om met ’n delikate gebaar sy leë teekoppie op die piering neer te sit. Twee stewige stompe had die kêrel, so in sy laat vyftigs. ’n Ligte kleefbaard, rooibruinerig.
“Is daar nuwe inligting oor wat van haar kon geword het, meneer Verdomp?” Ek het besluit om niks te sê van wat ek weet nie.
“Ek sien,” het hy gereageer. Hy het sugtend uit sy stoel opgestaan en twee spoele film uit ’n kartonboks gaan haal wat hy voor my koms op die eettafel gesit het.
“Ek het albei kere verfilm. Die insidente het kort op mekaar gevolg. Dis die laaste opname waarna ons gaan kyk, en die laaste wat jy daarvan sal sien. Die sendingstasie wil nou die opnames hê. Waar sy skoolgegaan het. Tot by matriek. Sy was later ook onderwyseres daar. Hulle wil dit seker vernietig.”
Die verfilmings het met die laaste besoek plaasgevind. Dit was met ’n ou cine-kamera opgeneem, van daardie blikgryses met die yspatroon op. Hy het die draaikamera vir my gaan wys net voordat ek later vertrek het.
Die taalkundiges het ’n ateljeelamp wat met ’n battery werk uit die dramadepartement saamgebring. Maria se familielede het gegiggel toe hulle sien daar gaan afgeneem word. Maar dit was oplaas net die taalman en sy kollega saam met die kind in die kamer. Hy het ’n voorgevoel gehad dinge kan ontstellend raak en het die ma gevra om uit te gaan. Sy is teleurgesteld aan die arm van haar broer, die verdagte oom, daar uit. Laasgenoemde was definitief onwelkom, het die taalkundige my meegedeel.
Hy het ’n projektor opgestel en ons het die stoele geskuif om regoor die bleek muur te sit. Sy vrou het ’n skildery wat haar man van die muur afgehaal het in ’n handdoek toegevou.
“Is u gemaklik?” Soms rol ek my skouers, ’n aanwendsel.
“Ekskuus? O, heeltemal, dankie Mevrou.”
Die gordyne is toegetrek en die projektor het begin tjir. Van die vroeë soort, voor klank, ’n stilopname in uitgewaste kleur. Die film was vinniger as regte tyd, maar die spoed van pyn is altyd dieselfde.
Maria op ’n bed, in ’n ligte sisrokkie. Sy het teen ’n muur gesit-lê, arms bo haar kop uitgestrek. Dit het gelyk of haar boarms by die potjies trek. Die slanke handjies het met ’n onnatuurlike hoek uit haar polse gespruit, soos twee strelitzias, asof sy by haar gewrigte teen iets trek.
“Sy beleef haarself as vasgebind,” het die taalman verduidelik. Haar bene was oopgesper sodat die verslete broekie onder die rok gewys het. “Sy het ook geglo sy is vasgeketting by elke knie.”
Dit het gelyk of sy hiperventileer. Weer was die houding en gesigsuitdrukkings dié van ’n volwasse vrou, skrikwekkend beleë.
“Sy het woorde geuiter wat Frans geklink het. Oud-Frans, nie die moderne taal nie. En frases uit die Vulgaat.” Hy het verduidelik oor wat ek nie kon hoor nie.
“Dit wou voorkom of sy sinsnedes herhaal wat iemand haar voorsê.” Die taalman het harder gepraat, bo die getjir uit.
Die kind is beangs, het ek besef. Sy baklei vir haar lewe. Die spyker in die muur waaraan die skildery gehang het, het reg in haar een oog gesteek.
Haar spraak het op sommige plekke haastiger geword, volgens die taalman. Ek kon dit aflei uit die lipbewegings, die borskas se bewegings.
Daar was baie ontkennings, die koppie wat gedurig heen en weer draai. “Non, non, non,” het die taalman haar woorde herroep. Dit is Frans vir nee. Ek kon sien hoe sy dié woord aanhoudend prewel. Daar, met haar rug teen ’n muur.
Die vrou van die huis, die eggenote, was in dié stadium nie meer by ons nie. Sy wou nie die film kyk nie. “Verskriklik,” was haar woord net voor die opname begin draai het.
En toe “hoor” ek die skrikwekkendste stil gil uit daardie oopgesperde mond, meer as een. Sy het agteroor gebuig en die gille met haar hele lyf uitgestoot. Ek het gevrees dat haar te maer heupbene onder die skamele laprok van haar vlees sal lostrek.
“Jesus, Jesus,” het dit oor haar lippe gekom. Dié kon ek met gemak liplees. Sy het tjankgeluide soos ’n hond gemaak, volgens die taalkundige, en die trane het gestroom.
“Dit was asof sy … gebulk het … van die skynpyn.” Ek dag eers hy bedoel pyn wat skyn van die taalmanne se oorbeligting. Maar, ja, goed, dan: wat bestaan en ook nie bestaan nie.
“Sy het gesê Jesus is haar Saligmaker. Sy het gesê … aan die manier waarop sy haar gesig skuins gedraai het … as jy mooi kyk … dat sy die hemel kan sien en soontoe wil gaan.”
Toe is daar plotseling die rukkerige swart wat ’n onderbreking in die verfilming aandui. Tjirts-tjirts, maak die projektor.
“Ons het opgehou verfilm. Om haar uit haar beswyming te probeer kry … Maar ons kon niks doen om haar te help nie. Toe gaan ons maar voort en lê dit alles vas.”
Só het die taalman lopende kommentaar verskaf. Oor hulle interpretasie van wat hulle gesien het: ’n jong dame in die sestiende eeu se ongeoorloofde verhouding met die seun van ’n edelman, en hoe sy aan die verkeerde kant van die Inkwisisie beland het. Terwyl ek my hart vashou en vasgenael na die geluidlose gebeure kyk wat afspeel teen ’n wit muur. Naby Reddersburg.
Die film het hervat en ’n manshand het links in die raam verskyn. Met flonkerende knoetse vir ringe aan drie van die vingers. Die hand word vaderlik op Maria se skouer geplaas.’n Kerklike kleed, in terme van die film se atmosfeer?
Die taalman sien ek leun vorentoe toe die kledingstuk weer in die prentjie kom. “Dit is my kollega se hand. Hy wou haar kalmeer. Hy het dié dag ’n poncho aangehad. Ons was deur die hippies beïnvloed.”
“Lyk my hy hou van ringe,” het ek afkeurend opgemerk.
“Die meisies het nie omgegee nie, hulle hou van die dandies.” Die taalman het gegrinnik.
En toe gebeur iets baie eienaardigs. Die kind se trane droog op. Sy gee ’n paar rukke wat snikke moes gewees het. ’n Serene gelaatsuitdrukking neem oor. Jy sien hoe haar gesig van kleur verwissel, al was die filmkleur net een kleur: bleek.
Toe beur sy vorentoe, weg van die kussing wat tussen haar rug en die muur ingeskuif was. Haar bene begin bewe. Sy het haar oë styf toegeknyp en haar gesig eenkant toe gedraai, asof sy iets nie wou sien nie. Haar buik maak spasmas, die onsigbare toue trek stywer. Die lesers moet my verskoon, maar ek moes wonder of ek nie ’n orgasme aanskou het nie. Net daar het die film geëindig.
“Dit was te skielik. Ons was nie daarop bedag nie,” maak die taalman verskoning. Hy is rooi onder sy baard. “Net voor dit het ek die cine op die stoeltjie aan die voetenent van die bed staangemaak. Ek was dus nie meer by die kamera toe … toe dit gebeur het nie.” Hy sluk swaar.
“Ons het nie weer verfilm nie.”
Die taalman het die gordyne gaan ooptrek. Dit was nog lig. Vrystaatse laatwinterlig. Die kleur van ou, ou silwer.
“Sy het uitgebars van die lag, meneer Verdomp. Sy het wraggies van personasie verander, dit was nie meer die martelsessie nie.” Die taalman het opnuut, ná al die jare, uit die veld geslaan gelyk.
Volgens hom het die kind gesê: “You can tie me up any day.” Die uitspraak was moderne Amerikaans. Sy kon nie ophou sê “My God, my God” nie. En: “That was so li-be-ra-ting!”
“Sy het gelag … van die verligting!” volgens my oorblufte gasheer. En toe hy omdraai, het hy die oom buite by die stroois se venster gewaar. Soos ek sê, dit was nog lig.
Ek het instinktief na die venster se kant gekyk. Dit het baie vlugtig vir my gevoel of ek myself daar gewaar.
“Die donder,” het die taalman bygevoeg. “Hy’t ons afgeloer. Ek is oortuig hy het haar daardie dag in die veld verkrag!”
Die wete het soos ’n klip tussen ons geval.
* * *
Die taalman het opgestaan om die projektor te gaan afsit en toe hy weer plaasneem, was dit met sy stompe ver uitmekaar. ’n Verslaentheid? Terwyl hy met neergesakte skof vooroor leun en sy kneukels kraak. “Wat maak jy van wat jy gesien het, meneer Verdomp?” Sy vraag was wat ek gevrees het.
“Wel, ek is maar ’n verslaggewer, u weet.” Ek het my klewerige hemp van my bors weggetrek en dit geflap vir ventilasie. Dit het vir my gevoel of ek so pas ’n gru-ongeluk aanskou het.
“Laat ek jou dan sê wat ék dink.” Die taalman het ’n rukkie lank asem geskep. Dit was teen die tyd bedompig van ons asems in die woonkamer.
“Ons menslike begrip is te verknog aan die indiwidu as die kroon van die skepping. Ons raak soms ondergedompel in die kollektiewe, wat ons oorspronklike aard is. Hierdie indiwiduele bestaan, dis ’n droom, meneer Verdomp. Die Skepper is veelduidiger as wat ons dink.
“Dit verbaas my dus nie dat Maria by ’n verdere misterie betrokke geraak het nie, die een van die personasies in die dagboek waarvan jy oor die foon vertel het.”
Ek het aan my gasheer beduie ek moet nou my diktafoon aanskakel. Anders gaan ek later geen duit hiervan verstaan nie. Hy moet asseblief ’n paar dinge herhaal.
Toe hy na indiwidue as miere begin verwys, het ek begin kriewel. Miere maak deel uit van ’n miershoop. ’n Miershoop, wat op sy beurt die mensdom versinnebeeld, sien. Kry ek die prentjie? Hy het verwys na die skrywer Eugène Marais, wat ek uit my skooldae ken vir sy gedig “Winternag”. Hy het die naam herhaal: “Eugène S. Marais.”
Ek het met moeite bygehou.
“As die indiwidu verswak weens pyn of rampspoedige psigiese faktore, kan sy persoonlike herinneringe plek maak vir kollektiewes wat veel ouer is as hy self.” Aldus die taalman, my “toring van Babel” op daardie dag.
“’n Mens sal meestal die maklikste aanklank vind by kollektiewe herinneringe wat ’n bietjie soos jou eie is. Dis verskriklik om te dink,” het die taalman gesê, en sy hand oor sy hare gevryf, “Maria se vernaamste belewenis was vasgebondenheid, vasgekeerdheid. In ons opnames ervaar sy dit in meer as een historiese gewrig. Sy ervaar … die gevangeskap der eeue, Verdomp!”
“Gewrig?”
“’n Tyd.”
Sy woord “gewrig” het my aan rumatiek laat dink en ek het nog gereken, ja-nee, ons slim man dra swaar aan kennis.
“Óf dit kan … mensstamherinneringe wees wat juis in spanning verkeer met die indiwidu se eie gees … Hierdie eenvoudige plaaskind het iemand in haar rondgedra soos … die snobistiese Lady Cartwright!” Die taalman het hieroor geglimlag asof dit ’n ligpuntjie is.
“’n Bepaalde kollektief, soos die mensdom wat ons is, is ook nie die begin en die einde nie. Anders gestel: daar is baie byeneste en hulle bevat almal bye.”
Dit was ’n agtermiddag van miere en bye.
“En dit bring ons by hierdie dagboek van Maria wat jy sê in jou besit is. Soms onthou ’n bytjie die bye in ’n ander korf.” Die taalman se laaste woorde oor die onderwerp. Korreksie: tweede laaste.
“Die menssyn werk soos tale,” het hy verduidelik. “Verskillende stelsels, verskillende kollektiewe wat betekenisse oor en oor herhaal, elke keer met verskille en ooreenkomste.” Ek het dit neergeskryf soos die taalman dit vir my gespel het: syn.
“Dis nie die spoorwegterm nie, meneer Verdomp, al klink dit dieselfde.” Hy het fronsend van onder sy wenkbroue na my gekyk. “Meneer Verdomp?”
“Ja?”
“Nie skrik nie, hoor. Dis net ’n teorie.”
* * *
Hy was nie so ver verkeerd nie. Ek het hom gevra of hy daarin sou belangstel om Maria se dagboek te sien. En sy antwoord was nee, o nee, nee dankie, hy het nou afgetree.
VOETNOOT
Verdomp het in een van ons Skype-oproepe gesê hy het teen die einde van 1985 sy boek begin skryf. Volgens Rentia Melck is dit die jaar waarin sy en Hermanus hul jeugvriendskap hervat het. Ek het in 2016 en 2017 ’n e-poskorrespondensie met haar oor die manuskrip en oor Verdomp gevoer, en ek haal haar hieronder in skuinsdruk aan.
Hermanus was sy ouers se enigste kind, wat laat in die huwelik gebore is, en was van vroeg op homself aangewese. Rentia vertel van hoe hy toe hy klein was verbeelde maatjies gehad het. Die gesin het gewoonlik elke jaar tydens die lang somervakansie op haar ouers se plaas in die Petrusville-distrik deurgebring want die pa’s was boesemvriende van skooldae af. Melck vertel van die heengaan van Hermanus se ouers, die een kort ná die ander, rondom die einde van haar laaste skooljaar. Hermanus so alleen soos ’n tak in die wêreld.
Ek was sewentien, hy negentien. Hy het die Kersfees vir my kom kuier en het reeds ’n werk in Bloem gehad. Ons het elke middag op die kikoejoe gelê en na vervolgverhale op die radio geluister. Dan vryf ek sy rug onder sy hemp.
Ná skool het sy lang jare niks van hom gehoor nie. Haar eie ouers is intussen oorlede en sy het die plaasbestuur oorgeneem. ’n Raps oor twee dekades later, in die laaste kwart van 1985, eind Oktober het hy by haar plaaslaning afgery gekom. Ek haal aan: Dit was so uit die bloute, in ’n tweedehandse diesel-Audi. En daar staan hy weer, met sy opgetrekte skouers en daai koei-oë van hom, al sy aardse besittings op die drarak van sy kar. Ek het net gedink: liewe mens, wáár wás jy?
Hy het haar vertel van die Lyksovlakte. Dit was waar hy lank as koerantjoernalis gewerk het en die hele streek het effektiewelik, in sy woorde, “van die aardbol verdwyn” nadat ’n groot tragedie getref het.
Rentia skryf: Ek het gewonder hoekom daar niks in die nuus oor was nie. Dit was seker maar deur die regering gesensor. Toe vra hy my of hy op die plaas kan kom loseer om ’n boek daaroor te skryf. Hy het nie meer ’n plek gehad om te bly nie. Hy was haweloos en pynlik reguit oor sy verknorsing, gebroke eintlik.
Sy het die vriendskap met hernieude oorgawe ’n plek in haar lewe gegee en Hermanus laat verstaan dat haar huis ook syne is. My reisiger was weer terug! en: Ek het nog gedink hy moes gehoor het ek het onlangs ’n weduwee geword.
Die volgende brok moet ook vermeld word. Ja, ek onthou ons eerste Kersfees in ons nuwe lewe saam, C-P, natuurlik. Noudat jy vra. Daar het ’n kaartjie in die pos aangekom wat Hermie baie ontstel het. Dit het baie oor sy geheime verklap. “Ek en Miems is so bly dat jy vir ons hier op Redelinghuys kom kuier het, meneer Verdomp. Dankie en seënwense. Ludwig Matthias, jou taalman.” Daar was ’n NS by. “Al ons dae gehad om jou regte adres op te spoor!” Hermie was wit geskrik toe hy dit lees. Witwortelwit! Ek het opgepak van die lag en gevra maar wat’s dan fout, Hermie. En al wat hy sê, sedig soos môre heeldag, is: “Ek dag dit was Reddersburg.” Ek het my natgemaak, C-P. Dit was ons eerste nuwe Kersfees saam, siende dat jy vra. Boundless happiness. Ek was só dankbaar ek is ’n weduwee.
Ek haal aan uit:
Emmerentia Melck <emelck@gmail.com> Subject: Green green grass of home; <emelck@gmail.com> Subject: Re: Re: Green green grass of home; <emelck@gmail.com> Subject: Re: Moments in time, soos jy gevra het