Читать книгу Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé - Страница 26

17

Оглавление

VERTROULIKE INLIGTING

Ek hou daarvan om te dink dat oom Willempie toenemend my vriend geword het.

En miskien is dit waarom hy op ’n dag ’n stuk baie vertroulike inligting met my gedeel het, iewers gedurende 1976.

Miskien was daar nog ’n rede: oom Willempie was iemand met ’n sin vir die regverdige. Hy het geweier om raad te gee as so-en-so nie weet hoe om sy ouers te eerbied nie of ’n mansmens met satansbui ’n vrou met die appels bygekom het.

Ek moet sê, die manier hoe hy hom verkneukel het in die oordrag van hierdie inligting aan my – wat my geskok het, om eerlik te wees – laat my iets verders vermoed. Daar was ’n sekere bevrediging vir hom in om die storie te vertel.

Dit het gegaan oor ’n daad wat willens en wetens begaan is en boonop herhaaldelik. Die betrokkenes was twee kleurlingvroue wat tot kort ná die opspraakwekkende moorde waaroor ek verderaan skryf by die Verweys as huisbediendes gewerk het. Hulle het hul storie in vertroulikheid aan oom Willempie vertel want hulle wou vergifnismedisyne by hom kry.

Nie so lank terug nie, Augustus 1983, het ek in my kar geklim en gery om die storie te bevestig. Ek het hulle albei voorheen al ontmoet. Die twee het saamgekoek, sedert hul Lykso-dae het hulle saam-saam agter werk aan geswerf. So het ek hulle ook aangetref, soos ’n paar kapokkies, op ’n plaas naby Brandplaas in die Moornaarskaroo. ’n Omslagtige navraag in meer as een lokasiebuurt het my op die spoor gebring.

Hulle het geen aspek van die storie ontken nie. En ondanks die dramatiese tranevloed, het ’n mate van misplaaste trots deurgeskemer, dieselfde trots wat ek in oom Willempie gesien het toe hy die storie vertel het.

Die daad, baie persoonlik van aard, was myns insiens ’n manier om onregte waaraan hulle onderworpe gevoel het te vereffen. Historiese onregte, as mens nou die vermoede by name wil bysleep, waardeur hulle in hierdie land getref is. Maar terselfdertyd was dit ’n intense versugting na onmoontlike kontak. ’n Paradoks. Maar miskien kloof ek nou hare.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Подняться наверх