Читать книгу Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé - Страница 17
9
ОглавлениеBORRIEGEEL OGGEND MET KAMELE
Dit was op Maandag 7 Mei 1973 dat die betreders in die kerk afgeneem is. Ondanks die getuienis tot die teendeel het Kleinschmidt die foto’s as klinkklare bewys van ’n voorval, soos hy dit genoem het, beskou.
Daar was Kleinschmidt, dominee Verster en burgemeester Stroebels. Anna se ouers het mekaar styf vasgehou, hulle was behoorlik by mekaar ineengevleg om die ronde tafeltjie wat opgestel was in die middel van die Waenhuissaal vir die vergadering.
Dirkie se ma het met Alwyn opgedaag, wat tuis was vir die naweek. Hy het in die plek van sy nukkerige pa gekom.
Ek vermoed Boer se afwesigheid het ook iets met die stramheid tussen hom en sy buurman te doen gehad. Boer het neergekyk op Band Bandjies omdat laasgenoemde nie so vooruitstrewend soos hy geboer het nie.
Daar was glo verdere grimmigheid. Volgens Anna het haar pa nie daarvan gehou dat Boer sy skape aanjaag in plaas van hulle te roep nie. Band het geglo mens sê nie aan ander mense wat hulle moet doen nie, selfs nie eens wanneer hulle skape is nie. Jy werk saam met hulle.
Die ouers was in ’n hoek. Anna se ma het die aanwesiges oortuig dat haar dogter eersdaags aansoek sou doen om ’n werk wat haar uit die distrik sal wegneem. En Ans het almal verseker dat Dirkie in die komende week in een van die groter dorpe werk sal gaan soek.
In absentia is die term wat by my opgekom het. Dirkie en Anna het ’n misdaad in absentia gepleeg. En, op dieselfde wyse is hulle ook skuldig bevind. Die sondaars sou mekaar nie weer mag sien nie.
“Dit was op die laaste Saterdag van die maand,” het Alwyn my vertel. Saterdag 26 Mei 1973. ’n Dag wat net die volgende dag so afwesig was soos al die dae van die dooies.
* * *
Dirkie moes met die trein Uping toe – sy pa se bevel. Ek skets sy storie van die reis, soos hy dit aan sy broer vertel het, en ek maak staat op Alwyn se vertolking.
Die trein was dié dag met iets soos ’n halfuur vertraag, volgens my ander twee bronne, die kaartjieverkoper en die kioskvrou. Dit moes teen 10.30 reeds langs die perron ingetrek het.
Ek het dikwels gewonder hoe so ’n afgeleë dorp soos ons s’n ’n stasie kon hê. Dit het teen streeksbeplanning ingedruis, maar so was dit.
Die trein na Uping het die dorp slegs op Woensdae aangedoen. Op Vrydae was daar ’n trein terug. “Woensdag en Vrydag”, het dit deur Dirkie se kop gezoem, soos hy dit later oor en oor aan Alwyn herhaal het.
Daar was dié dag nie baie mense op die perron nie. Die gesette vent in die kaartjieskantoor was een. Hy het op ’n groen draaistoel agter ’n vuil glaspaneel gesit en fotoboekies deurgeblaai. Vaag soos ’n wolk muggies het hy agter die glas beweeg, so onthou ek hom van die tye toe ek self op die stasie gekom het.
Ver, aan die uiteinde van die perron, was natuurlik die nieblankes se kaartjieskantoor, soos die aparte opset van donkiejare voorskryf. Hoewel die orde mos deesdae uitmekaarval.
Die wolk het opgekyk. Waar is sy kaartjiekoper? Net weg! Hy het sy stoel agtertoe gestoot en die kaartjie weer in die vakkie teruggesit. Maar toe die balie sy stoel terugwiel na die glas om die volgende klant fronsend te bedien, was die klant steeds Dirkie. “Die een oomblik was hy daar en die volgende oomblik nie. En toe is hy wéér daar. Ek het eers nie gedink dis vreemd nie, maar toe onthou ek wat die mense oor hom sê.”
Ek het die voormalige kaartjieverkoper, Joubertjie by name, in 1984 by sy huis op Niemandsfontein gaan besoek om sy weergawe van die dag se gebeure te kry. Gebeure op sigwaarde geensins dramaties nie, maar onderliggend wel.
Verwey het ’n kerrievetkoek-met-sousie en ’n Groovy-koeldrank by die kiosk gaan koop. Die lokasievrou wat bedien het, kon hom duidelik sien. Haar naam was Magriet. Sy kon Dirkie jare daarna nog voor die gees roep. Haar idee was dat hy net moeilik sigbaar geword het wanneer hy ongemaklik gevoel het en hy sal mos nou nie ongemaklik gewees het met iemand soos sy nie.
Dit het alles gebeur ’n dag nadat Dirkie se pa hom by die plaaskantoor ingeroep het. “Ek stuur jou na ’n werksagentskap op Uping. Die trein is môre. Jy moet rigting kry,” het hy gesê.
* * *
Maar eers moes Dirkie op ’n foto vasgelê word, wat nie so maklik was nie. Boer het sy seun met die motor na die fotograaf op die buurdorp geneem.
Dit was Tropkolonie, sowat vyftig kilometer verder. Mense het altyd van Tropkolonie gepraat as die buurdorp, selfs die inwoners het van hulself as buurdorpers gepraat weens ’n oorgevoeligheid oor die lelikste dorpsnaam in menseheugenis.
Boer het die probleem van sy seun wat nie op foto’s wys nie met groot verleentheid aan die fotograaf verduidelik. Maar die lenige Engelsman, wat in die omtes vir sy ervaring as kiekiesman bekend was, het gemaak of dit geen probleem vir hom sal wees nie. Net gebly neurie.
Boer het daarop aangedring dat die foto’s ontwikkel word terwyl hulle wag. Hy wou sien of dit werk. Daar was nog tyd om na Niemandsfontein te ry, daar’s ook iemand met ’n sitkamera, glo.
Ná ’n rukkie pak die fotograaf die kontakblaaie op die toonbank uit en bepeins die afwesigheid van sy klant daarop.
“Oh my word,” was sy kommentaar.
“My pa wou die Engelsman wat so binnensmonds sing net bykom. Hy het gesê die man klink soos ’n oorprobleem. En hy kon dalk die verkeerde bloed in sy are hê … My árme pa,” het Alwyn gesê.
“Hy het geglo dis die sogenaamde modderrasse wat so onduidelik sing, mense wat op banjo’s en goeters speel en nooit in die kerk kom nie.”
Die fotograaf het die foto’s in allerlei mengsels gedoop, jellies met ’n borseltjie op die kontakblaaie aangebring, en die plaat Popular Classics op die draaitafel gesit, “een van my pa se gunstelinge”, aldus Alwyn, en ’n ligpuntjie in die swaarmoedige oggend. Enigiets om die regte atmosfeer vir die ontwikkelingsproses te skep. Die fotograaf het selfs met ’n messie onder die blink bolaag van die nuwe foto’s gekrap asof Dirkie ónder die oppervlak wegkruip.
“Die man kan net half-Joods wees met al daai smousvoorwerpies,” het Boer teenoor Alwyn gekla, maar hy was te lank vir ’n Jood. Dit het eers gelyk of alles tevergeefs is. Dit was die ou probleem: Dirkie kom nie uit op foto’s nie.
Toe kry die fotograaf ’n blink idee en bokspring soos ’n jong kameel. Hy vra Dirkie om een laaste keer te sit en maak alles pikdonker. Hy loop gou na sy huis daar naby en kom terug met drie dik winterkomberse om voor die vensters te hang.
En hy skakel die elektrisiteit af. Sy kamera had ’n battery. “Solved,” was sy opgewekte kommentaar. Boer was amper buite homself van irritasie om so in die donker te moet sit maar hy het vasgebyt.
Die fotograaf het in algehele duisternis en sonder magnesiumflitse afgeneem. Dít was sy geheim. Daarna het hy die komberse voor die vensters afgehaal en sy laaste bietjie werk in die donkerkamer gaan afhandel. Toe hy weer by die voorvertrek instap, wink hy na Boer om langs hom by die toonbank te kom staan. Met sy lang, slanke vingers het hy verskeie foto’s uitgepak met sulke soepele vingerbeweginkies asof hy besig is om klavier te speel.
Die meeste van die swart-en-wit foto’s had net die leë stoel op. Maar op een daarvan het Dirkie sowaar vertoon. Lewensgroot, met sy waaierkuif en verbaasde oë duidelik sigbaar. Dit het gelyk of hy in daardie stoel gebore is.
“The problem is illumination,” het die fotograaf aan Boer verduidelik, terwyl hy vertroulik na sy moeilike klant oorleun, byna soos ’n dokter sou maak met die naasbestaande van ’n siek pasiënt. Hy het met oordrewe, elegante gebare verduidelik.
“Remember for next time: No light. No flash. Total darkness! Some very rare people are best photographed in the dark because they belong to the family of ghosts.” In hierdie laaste opmerking het Boer sy renons duidelik getoon deur weg te leun van die fotograaf asof laasgenoemde ’n reukie onder lede het.
“Wat het ons tog getref met hierdie kind?” het Boer later vir Alwyn gevra. Hy is in ’n stuurse luim daar uit nadat hy met die fotograaf vereffen het. Die fotograaf, kinderlik ingenome met sy professionele oplossing, het die twee klante oorvriendelik agternagewuif, met ywerige handgebare soos voëls wat opvlie. Hy wou nog groetwoordjies praat.
Pa en seun het in stilte met die grondpad na hul tuisdorp teruggery. Met die seldsame foto in hul besit.
“Ai, is my pa nie vir jou ’n ondankbare een gewees nie?” het Alwyn my kant toe gevra. Hy was simpatiek oor die pa, soos oor ’n familielid wat nie behoorlik kan loop nie.
Terug op die dorp het Boer haastig ’n portefeulje vir sy seun saamgestel. Belangstellings (versin), hoogste kwalifikasies (min), familiesiektes (geen). Bereid om enige plek te werk. Sommer so op sy knie ingevul in die dorp se teekamer waar hulle ingestap het vir koffie.
“Jy sal in ’n losieshuis bly,” het ek Boer hoor praat toe pa en seun voor Die Weekpos-drukkery verby geloop het.
Ek is vlugtig na buite, net betyds om die twee om die hoek te sien wegraak. Onder die skuinsdak op die sypaadjie, hande in die sakke het ek gestaan. Ek het straataf en straatop gekyk en dit het vir my opeens gevoel of die dorp se laaste twee inwoners buiten ek self om daardie hoek verdwyn het. Dis mos wat Anna ook sê hoe sy gevoel het toe sy Dirkie nie meer kon sien nie. Sy het alleen gevoel.
Was dit ’n voorbode? Selfs tydens die dorp se hoogbloei was dit of die plek net nie bestaan nie. Daar was ’n eensame plakkaat aan ’n paal vasgebind wat ’n komende konsert deur Die Sangvoëls aankondig, vier blonde skoongesiggies uit die hartland. Hulle het onverpoos getoer en hul konserte gebruik om die sinvolheid van apartheid en die Woord te verkondig.
Toe lui die klok by die skool. Pouse, rondom die warmword-uur. Boer het sy seun voor die groot oop houtdeure van die stasieportaal afgelaai. Sy afskeidswoorde was: “Bly weg van die vroumense. Daai dinge is nie vir vertraagdes nie.”
Die arme Dirkie was reeds erg hartseer oor die reëling oor Anna. “Ai, ai, Verdomp, hartelose woorde,” was Alwyn se kommentaar.
* * *
En daar hoor Dirkie toe die trein is ’n halfuur laat.
Op die perron het twee oorslaaptassies gestaan, identiese bruin hardebakbokskoffers. Onderskeidelik, is mos die verfynde woord daarvoor.
Die een tas het voor die perronbankie vir nieblankes gestaan, die ander een in die identiese posisie voor die bankie vir blankes. Die twee bankies was ’n entjie uitmekaar soos die wet voorskryf.
Toe Joubertjie, die muggiewolk-agter-vetterige-glas, oor die krakerige luidspreker aankondig die trein is vertraag, het die enigste twee wagtendes so te sê gelyktydig omgedraai om na die ronde horlosie teen die perronmuur te kyk.
Hulle het nie met mekaar gepraat nie. Daar was die kleurskeidslyn.
Een van hulle was die onderwyseres Maria Hakskeen, wat ná ’n week se kuier by haar ouers in die lokasie nou op pad terug was Oranjerivier toe. Sy het voortdurend een voet opgelig om ’n jeuk aan die ander kuit met die loshangende sandaal te vrywe. Elke keer as sy haar voet lig, het die verplasing haar netjiese kurwes beklemtoon. Van tyd tot tyd het sy liggies aan die wieg gegaan, deuntjie in die kop, arms oorkruis en effens agteroor geleun van lewensgenot.
Jare later vra ek toe die kaartjieverkoper: “Onthou jy hoe sy gelyk het, haar klere?”
“Man, dit was jarre terug, en jou vragies maak my kop seer. Ek het by my kantoor uitgekom vir ’n skelm kykie na die vroumensgoed. Ek onthou die bloedrooi sandale, plakkies seker. En fyn enkels, nie ’n polisieperd s’n nie. Pikswart gekrulde hare tot naby die skouers. Maar sy was beslis nie-blank, volgens my oog. Hulle maak daai kroese mos reguit met ysters.”
Maria was twee-en-twintig, een jaar ouer as Dirkie.
Die kaartjieverkoper het swaar asemgehaal en sy buik met albei hande reggeskuif terwyl hy agteroor leun in sy stoel om met my te praat. “Sy het ’n losgeknoopte trui gedra, dowwe liggroen, lokasiegroen sou ek sê.”
“Watse groen?”
“Sukkelgroen, man. Moet ek myself óórverduidelik?”
Op ’n sorgelose skuifelhardlopie is Maria na die linkerkantse uiteinde van die perron, na die toilet vir haar soort toegewys. Die linkerperron was regoor die agterste wa, die nieblankeswa, wanneer die trein stilhou. Dis nou te sê, op Woensdae. Op Vrydae, vir die terugreis, was die nieblankeswa aan die trein se voorkant pleks van agter. “Die owerheid het hard gewerk om dié wa in daardie rigting óók aan die gatkant te kry,” het Joubertjie vertel. “Maar dit het op die ou einde nie gewerk nie.”
Die aankomende lokomotief het skril gefluit. ’n Pikswart balie, een van die laastes, uitgeskuif na hierdie sylyn, onder haastige wit pluimpies aan die aankom. Aan die kant van die twee treinwaens het gestaan: Ampersand. Alle Stasies. Die kondukteur het afgestap, ongeduldig sy hande ’n paar keer saamgeklap en plekname afgerammel.
Die twee afwagtendes het gespaander vir die trein. Dirkie met sy rukkerige bewegings en Maria. Sy met haar skuifelhardlopie weens die los sandale. In die harwar het elk ’n tas opgeraap en hul verskillende trapstelle bestyg. Die twee waens se deure was reg langs mekaar.
“Daar het groot fout gekom,” het Joubertjie vertel.
Eers toe die trein in beweging kom, moes die kondukteur kom beduie het hulle moet van waens verander.
Toe Dirkie met sy tas in die hand gebukkend aan die wa se agterkant deurstap en sy kop aan die ander kant opkrink, kyk hy vas in die ondeurdringbare pikswart oë van hierdie vreemdeling wat Maria was. Daardie oomblik was ’n ewigheid. Sy was aan die wag om ook deur te loop, en is toe eendvoete oor die skuiwende konsertinavloertjie tussen die waens.
Soos twee kamele wat deur die oog van ’n naald glip, het sy in haar dagboek geskryf. Bybelse metafore kom oral in haar dagboek voor.
Daardie verbinding tussen die waens was meer as dit. Dit was ’n verbinding tussen twee mense wat mekaar in ’n ander bestaan gevind het. Sulke bestane kan nie vanuit hierdie lewe gesien word nie.
* * *
“Ek is jammer om te hoor oor jou … vriendin, die een met die baie hare,” was Joubertjie se groetwoorde toe ek sy voordeur agter my toemaak. Hy was nou al bejaard en die stasie het al toegemaak. “Ek hoop sy word weer gesond. Die stories loop.”