Читать книгу Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé - Страница 18
10
ОглавлениеDIE STEMME VAN ’N KIND
1963
Die moeilikste aspek van my storie is dat dit oor gebeurtenisse handel in ’n geskiedenis wat nie in die normale sin van die woord bestaan het nie.
Meer as elf jaar voor die motel op Boer Verwey se plaas verskyn het, en ’n dekade voor die episode in die kerk wat presies gebeur het soos wat Anna dit gedroom het, het ’n ander gebeurtenis op die Lyksovlakte kenners dronkgeslaan.
Die sentrale persoon hierin was einste Maria Hakskeen. Sy was toe ’n jong meisietjie. Dis hier, by die jonge Maria, waar ek die oorsprong van my storie gaan haal. Die geheimsinnige verbintenis tussen haar en Dirkie Verwey sou later ’n ondersoek van passie vir my word soos geen ander in my loopbaan nie.
Ek was werksaam by Die Volksnuus in die wetgewende setel Bloemstad, relatief groen in die bedryf, en was verheug toe die koerant my gekies het om die storie te gaan dek. Dit was my kennismaking met die Lyksovlakte, waar ek later gaan woon het toe Die Pers my aangestel het om hul streekskoerantjie daar te begin.
Ter sprake: ’n sekere herfsdag. ’n Twaalfjarige kleurlingmeisie het gedurende die dag beeste in die veld opgepas. Toe die trop teen skemeraand sonder die kind terugkeer, het die ma en ’n oom na haar gaan soek.
Dis die oom wat haar aan die ander kant van ’n steil helling aangetref het, twee kilometer van hul stroois af. Die kind het oënskynlik geval en haar beseer. Die helling was nie baie hoog nie, maar sy moes met haar kop teen ’n klip geval het. Sy is in ’n verwarde toestand met ’n verstuite enkel en met bloed aan een van haar slape gevind.
’n Verdwaalde koei het verontrus naby die toneel bly bulk. “Daar was ’n bosluisvoël op die koei se rug, dié het so gemaak-maak met die vlerke, die meneer weet mos, maar hy het maar somaar bly sit soos ’n wimper wat lui geword het,” het die oom my vertel. Die opvallende eienskap van die man se getuienis was die opnoem van sulke indrukke wat geen betrekking gehad het op enige iets nie, en dit het hom uit die staanspoor vir my verdag gemaak.
Dit was amper donker toe die familielede die kind kry. ’n Bietjie laatlig het nog oor die vaaltes gelê. Die meisie het geheueverlies opgedoen, nie iets onverklaarbaar nie, maar ’n ander aspek het wel uitgestaan: sy het ’n persoonlikheidsverandering geopenbaar en met ’n onbekende naam na haarself verwys.
Maria het glad nie haar ma of die oom herken nie. En haar stem en praattoon was nie ’n twaalfjarige s’n nie maar dié van ’n volwassene. Die handjie wat krampagtig die seer enkel vasklou, was al wat aan ’n kind herinner het.
Nog meer opvallend was die feit dat sy nie meer haar huistaal, Afrikaans, kon praat nie. Sy het ’n beleefde en foutlose Engels gepraat, ’n taal wat sy voorheen nie geken het nie, met ’n aksent wat nie plaaslik bekend was nie.
Toe die ma uitvra wat gebeur het, was haar antwoord sy wil nie nou praat nie, veral nie met vreemdes nie. Sy sal maar eers wag vir die koets om haar te kom oplaai. Sy het gepraat van ’n carriage. Die ouers se kennis van Engels was te skraps om behoorlik te reageer. Die ma wou net dringend huiswaarts, maar die kind wou nie saamwerk nie. Sy het vasgeskop en haar kop gebly skud en toe sy sien die ma kyk bekommerd na haar erg geswolle enkel het sy haar koppie gekantel en in ’n geoliede Engels die ouer gerusgestel. Sy het gemaak of sy ’n loshangende bos hare met ’n hand oor haar skouer wip soos ’n volwasse meisie wat vit. Maar as kind was Maria se hare teen haar kopvel geknip.
Die jong ma se gevoelens hieroor was ’n warboel. Toe sy my later van alles vertel, kon sy ’n bewondering vir haar kind se nuwe stylmaniertjies nie wegsteek nie. ’n Onderdrukte ingenomenheid was nou en dan tussen haar trane en snikke deur te bespeur. En dan sou sy weer haar kop heftig skud in ontkenning van dié situasie, soos die erns daarvan haar getref het.
Die ma wou nou tot elke prys uit die oopte, voor die donker sy lê kry. Sy het wankelend van haar knieë opgestaan, en die dogter aan die arm opgetrek. “Los die speletjies, Maria. Luister vir jou oudstes!”
“Ek het vir haar vermaan, Meneer,” het die ma my vertel. Sy het meer gesag met die kind gehad as die oom. Dié se reaksies was uiters halfhartig vir so ’n ernstige situasie. Ek het niks van hom gehou nie, hy was die donkermaan-tipe, soos my ouma altyd gesê het. Hy het meer daarin belanggestel om los bees te bespied as om die kind te help. Totdat hy self begin koud kry het en aanstaltes wou maak.
“Hy doen maar altyd net sy eie ding,” het die ma vertel. Die oom was effe kleiner as sy, met ’n seunsagtige afleibaarheid aan sy houding.
Halfpad huis toe het van die ander plaaswerkers met lanterns die drie in ’n voetpaadjie teëgekom. Maria het haar “permission” gegee dat die “strangers” haar huis toe mag dra. In ’n kombers wat aan twee horisontale houtpale vasgespyker was. Die prentjie wat by my opgekom het was van ’n drastoel uit Kinders van die wêreld.
Dit het by tye gelyk of die kind sonsteek het. Haar Engelse selfversekerdheid het skerp getaan en sy het gesweet en bang rondgekyk. Die strooishonde het van ver af vir die optog met die lanterns geblaf, vir hoe dit oor die skemervlakte aangedobber kom.
Daardie nag het die kind diep geslaap soos gewoonlik. En die volgende oggend was sy weer die ou Mariatjie. Kon glad niks van haar ghrênd gepousery, soos haar oom dit genoem het, of van die ander gebeure onthou nie. Net haar enkel het bly pla. En sy het gesê haar onderbuik voel seer.
Maar gedurende die loop van die wakker ure het sy opnuut stillerig voorgekom, meer eenkant, “nes ’n vyfuursonnetjie, Meneer”. Sy het onbekende liedjies geneurie. En sy het dansies uitgevoer waarin sy op een been hink en ’n denkbeeldige rompie vashou, dan weer op die ander been. In ’n langbroekie.
Die Hakskene, of Hatstene soos hulle ook bekend was, het besluit om die boer te laat weet wat aangaan. Dié was jonge Liddell, wat die plaas onlangs van sy pa oorgeneem het.
Liddell, weet die ma te vertelle, het dadelik vasgestel dis Skotse liedjies wat die kind sing. “En sy doen Skotse volksdansies!” Maria het nog nie ’n dag in haar lewe skoolgegaan nie, nêrens kon sy sulke danse geleer het nie. Liddell, van Skotse afkoms, het aanvanklik saam gedans en ’n paar woorde Skots wat hy van sy oupa geleer het met die meisie gepraat. Maar sy glimlag het gou verdwyn …
Die enkeltjie was nog verstuit, maar haar beswyming was só sterk dat sy gedans het asof geen seer bestaan nie. Liddell besluit toe die kind ly aan trauma en bring haar per motor na Nieblanke Ongevalle op die dorp.
Die wit dokter daar kon niks met haar verkeerd vind nie. Maar hy het skynbaar meer aan sy verloofde gedink as aan pasiënte. Sy het vir hom in sy kar gewag. Hy het die kind nie behoorlik ondersoek nie, volgens Liddell toe ek ten tyde van my besoeke aan sy plaas ’n woordjie met hom gewissel het. Die kneusplekke aan haar lyfie kan enigiets wees, is al wat die dokter gesnork het. Maar as hy aan die lyfie gedruk-druk het, het die kind saggies gehuil.
Dis die dokter wat gesê het hy gaan ’n priester bel, hulle moet die kind oornag in die hospitaal los, hy het nie raad vir die Engelsgepratery nie.
Die Rooms-Katolieke priester het van Pella aan die Oranjerivier deurgery. Dit het vader Zacharia Appel twee dae geneem en hy het op die Lyksovlakte in ’n two-tone-Chevvie opgedaag.
Terwyl die priester met Mariatjie aan die praat was, het die oom, wat die ma op haar aandrang na die hospitaal vergesel het, kringe om die geparkeerde Chevvie bly loop, dit het lank die oom se verwondering in beslag geneem, volgens ’n hospitaalwerker.
Dit was rondom hierdie tyd dat ek uit Bloemstad opgedaag het, nadat ’n giggelende bakvissie Die Volksnuus van die voorval verwittig het. Die verloofde van die wit dokter, en sy wou weet of die storie vir haar geld sal bring, verbeel jou.
Ek het dadelik opgemerk hoe somber die priester langs Maria sit. Die vader, aan wie ek myself in fluistertone voorgestel het, het liefderik oor haar wangetjies gestreel, terwyl die kind beurtelings voor haar uitstaar of in ’n onverstaanbare taal met hom terugpraat.
Nou kyk, dié Maria was ’n mooi kind. Mens kon eintlik sê sy was beeldskoon. Wit mans het sommer vergeet sy is nieblank en boonop ’n kind. Almal het haar skaamteloos aangegaap. Die fyn gelaatstrekke, hoë wangbene, besnede neus, alles porselein. Maar bruin.
“Hoe is sy dan so mooi?” wou die wit doktertjie by die ma weet. “Het julle wit bloed?”
Die priester het ’n oomblik se privaatheid gevra en die familielede nader geroep om hulle mee te deel dat Maria ’n baie, baie intelligente kind is.
“Daarom probeer die Satan by haar inbreek en hy maak nou probleme.” Dis omdat hy altyd andere probeer kry om sy vuilwerk te doen, dié Satan.
Hy wat vader Appel was, wou Maria ’n behoorlike opvoeding by die sendingskool te Pella gee. Kan hy die vorms na die familie se huis bring om te laat teken? Maar hy moet eers die nodige toestemming by die kerkowerheid kry.
Die ma het sonder enige wroeging toestemming gegee vir die verlies van haar dogtertjie. En die oom het ywerig, té ywerig en sonder ophou die kop instemmig geknik. Hy had ’n effens onnatuurlike manier, die vorentoe gebeur vir indruk skep en die ligte bewing van die hande. Dan praat hy so saggies soos motvlerke se geskuur, maar probeer homself kamstig hoorbaar maak. Mens kon sien hy hoop eintlik niemand hoor wat hy sê nie. Hy wou maar net die tyd vul met niksseggendheid.
Vader Appel het belowe hy kom die dogter op die plaas haal. Hy moes die boer se samewerking kry. Ná drie dae is die kind uit die hospitaal ontslaan sonder ’n diagnose.
’n Week later het twee geleerdes op die plaas opgedaag om haar beswymings op band op te neem. Van ’n kollege iewerste, of soos mense dit al geruime tyd genoem het, ’n universiteit. Liddell het hulle die rigting na die stroois beduie.
Ek het meer as een keer van Bloemstad gery om die opvolgstories by die ma, Hanties, te kry. Sy het vertel hoe die stroois se brandmaer honde omtrent berserk geraak het. Hulle het teen die slim manne opgespring en na hul weerlose hande gehap. Vat skaars grond, dan spring dit weer. Terwyl die strooismense nuuskierig in die deurkosyn saamdrom. Die slimmerds moes bontstaan en keer vir hul sagte plekke.
Die kollege-manne was in modieuse Saterdagbaadjies met bypassende kortbroeke geklee, hoewel dit ’n weeksdag was. Dit was Hepworths-manne daardie, so kon ek my hulle voorstel, duidelik nie staatsdiens nie. En in die een hand waarskynlik ’n pyp, al suigende terwyl dit aandrentel. Navorsers. Mens ken die prentjie.
Die slimmerds het hulself voorgestel. Mevrou Hakskeen, altyd met reguitmaakrollers teen die kopvel, was aanvanklik baie agterdogtig. Huismense van verskillende ouderdomme het bly staar en skamerig soos kokkerotte geskarrel.
Mevrou Hakskeen het die brakke moes stilkry, soos met my besoek ook. Hulle het haar gemoed aangevoel. Die een slimmerd het haar danig verseker hulle is nie daar om haar dogter soos ’n sirkusapie te begluur nie. Nee, hulle bedoelinge is suiwer. Die ma het vir “die verheefdes” bostee gemaak en hulle ’n ruk laat sit. Die oom, so sien ek hom, het homself soos ’n stuk afwesigheid in ’n hoek geplak, soos tydens my besoeke.
“Ek het vir die menere gesê hulle kom op die regte tyd, sy is in hierdie dae weer só, ons kan netnou ingaan, sy slaap nou eers,” het Hanties die besoek geskets.
Die misvloer was hier en daar bedek met twee of drie deurgeskaafde weefmatjies. Ek het gesien die meubelmentjies was uiters verweer. Die trots van die kamer was die sideboard, die houtvoorkoms asof dit met verf aangebring was en weer afgevryf het. Bo-op: ’n ou staanklok sonder tyd en ’n blou-en-wit Philips-transistorradio.
In die huis was dit skemer, hoewel reeds elfuur in die oggend. Buite het ’n triesterige laat-April lig soos fynmeel oor die werf gesif en twee sussies het mekaar by die hoenderhok gesoen.
Die kind het in ’n beswyming op ’n dubbelbed in die enigste slaapkamer gesit, gesig met kleigrimering bedek. Sy het net Queen’s English gepraat.
Ek het voor die skryf van hierdie roman, nie so lank gelede nie, in 1983, voordat ek die Lyksovlakte verlaat het, die notaboekie van die taalkundiges waarin hul besoek gedokumenteer staan in die Carnegie-biblioteek van die Universiteit van die Vrystaat gaan besigtig. Die volgende beskrywings is deels daarop gegrond.
“Who are you?” het die een taalkundige die meisie gevra terwyl hy stof wat uit die rietdak neersif van sy baadjielapelle en skouers afvee en sy ander hand oor sy mond hou teen die hoendermisreuk wat van buite inwaai. Die strooismense het in die woonvertrek fluister-fluister saamgebondel. Die twee dogtertjies en ’n seuntjie.
“Lady Anne Cartwright,” het Maria haarself voorgestel. “Pleased to meet you.” Sy het die rugkant van haar hand uitgehou om gesoen te word. Die verheefdes het huiwerig gesoen.
“I have never been to Africa before. We have been here for the entire quarter,” het Maria voortgegaan. Sy was geneig om uitdrukkingloos te kyk. Maar in die oomblikke wat sy gepraat het, het haar gesig skielik opgehelder.
“My husband, Lord Cartwright, does trade in India. He assisted in the search for Doctor Livingstone, you know. And he is a personal friend of Sir Richard Burtons.”
Maria het haar uitdrukkingloosheid onderbreek om haar oë ergerlik te knipper. “The flies here are impossible. They are worse than the savages. [ … ] Except for my bearers, whom we call John and Samuel. They answered to their European names from the very first day. The next day the priest christened them.” Sy het met ’n grinnik bygevoeg in genieting van haar eie humor: “They’re rather like eunuchs. Sans arbor vitae.” Ek moes die betekenis gaan naslaan: “sonder die lewe van die boord”.
Ek haal aan uit die aantekeninge wat die taalkundiges gemaak het, in hul telegramstyl: “een hand om denkbeeldige handvatsel geklem/ bene uitgestrek/ rug teen muur/ waai met ander hand kamstige waaiertjie voor die gesig”.
Sy was geïrriteerd toe sy sien die taalkundiges verwonder hulle. “Why, it is a parasol. Oh, this? A folding fan, of course. From Japan. I can see you are rabble.”
Sy het gefrons en stip op die ander handjie afgekyk, haar beswyming amper verlaat. Enkele volsinne: “Mens kon sweer sy sien vir ’n oomblik lank haar vingers klem om niks nie. Maar die innerlike gety sleur haar weer mee.”
Op geen tydstip het sy die navorsers of haar ma, wat toe nog in die kamer was, in die oë gekyk nie, altyd skuins verby. “I am a lady, you know. And here in Africa I don’t feel like one. I want to return.” Die kind se stem was klaerig gemoduleer en gedrae ver verby haar jare.
’n Interessante moment was toe die een taalkundige ná ’n halfuur vra: “Lady Cartwright, where in Africa are you?”
“In Cairo, you [ … ] sod! How might you not know the name of a place you’re in? I dare say you’d get kidnapped by the Arabs.” Sy het hom boos aangegluur. “Go back to Fleet Street and learn to get robbed first!”
“Ons was vir haar joernaliste!” en “kon nie die Engelse kragwoord volg nie (sien ellips)”, staan dit in die aantekeninge.
’n Artikel oor die Lady Anne Cartwright-verskynsel het in Die Lantern van April 1966 (jaargang 13, nommer 2), in die seksie Kultuurraaisels verskyn. Die geleerdes het nie ver gekom met hul vrae oor die tale gepratery nie. “Lady Cartwright” het dit nie nodig gevind om te dink oor haar Victoriaanse Engels nie. Sy wou weet waarom die koerantmanne se eie Engels nie so suiwer is nie.
Die navorsers het hul notas met geskiedkundige bronne vergelyk. Maria Hakskeen het ’n verbasende kennis oor die negentiende-eeuse Engeland getoon. Sy het die “drawing room” van haar “tuiste in Londen” met oorgawe beskryf, vol heimwee na die “fox-hunt paintings” van ene Mister Horace Asher.
Die Kerkbode van 15 Oktober 1965 het die verskynsel toegeskryf aan die Bose en verdoem as ’n “vervalle nabootsing van die Heilige Gees”.
Die navorsers het dokumentasie van altesaam vier besoeke aan Die Lantern vrygestel. Die ander tale uit die kind se mond was vyftiende-eeuse Portugees, ’n suidelike Oud-Nederlandse dialek, “waarskynlik ’n dialek van die Indiese vasteland”, en “iets soos Venda-taal”.
Waar op dees aarde het daardie stemme in die kind vandaan gekom? Waar eindig ’n indiwidu en begin ander mense? Hierdie verskynsel was die begin van my groot vraagstuk.