Читать книгу Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé - Страница 8
2
ОглавлениеDIE DROOM
Middel Mei 1973
Dit was so elfuur die oggend ’n paar Saterdae daarna, by my aan huis, van waar ek ook Die Weekpos se redaksiekantoor bedryf het, dat ek Anna se kant van die storie gehoor het.
Sy het twee of drie keer per jaar by my kom tee drink, gewoonlik as sy dorp toe kom vir inkopies of iets dergeliks, besoekies wat vir my lewensbelangrik was sonder dat sy ’n benul daarvan kon gehad het. Ek vermoed die kuiertjies was net ’n manier om die tyd te verwyl terwyl sy wag vir haar geleentheid terug plaas toe. En vir my was die skamele uurtjie te kort om die mateloosheid van my liefde oor te dra.
Die lig het in wye bundels deur die geboë erkers van die twee vertrekke aan weerskante van die stoepkamer na binne gestroom. Dit was hoë, slanke vensters, bruide van glas. Ek het die huis van die munisipaliteit gehuur.
Die stoep was met gaas toegemaak en ek en Anna het in die poeletjie winterlig daar gaan sit. My huis was op ’n hoogtetjie en het lekker son gevang.
Sy het vertel hoe die skinderstorie haar oorbluf laat, dat sy absoluut niks met so ’n insident te doen wil hê nie, en ja, ek moet haar asseblief, groot asseblief, gló. Sy was in ’n beige langbroek en ’n wit kraaghempie geklee, onhoudbaar stemmig vir haar. In die lig van dinge wou sy seker haar sindelike kant beklemtoon.
Sy was baie ontsteld. Oor die onbehoorlike foto’s van haar in die polisieman se besit. En oor die feit dat sy en Dirkie weens die voorval nou mekaar se geselskap belet is ná ’n ontmoeting van die ouerpare en die polisiehoof. Sodat openbare sedelikheid bevorder kan word, glo. Maar veral oor nog iets.
Sy verstaan nie, het sy gesê. Alles wat in die kerk tussen haar en Dirkie gebeur het, presies soos wat die koster en die polisiemanne dit gesien het, het sy in haar bed gedroom. Die droom moes min of meer op dieselfde tyd gebeur het. Dit besef sy nou, nadat Kleinschmidt die kerkinsident smalend aan haar in sy kantoor geskets het. “Die tros” het haar mos privaat ingeroep terwyl haar ouers in die aanklagkantoor gewag het.
Kleinschmidt het ook sy storie ’n onnodige kleurtjie gegee. Waarmee sy bedoel het, dink ek, dat hy na haar blosende naaktheid op die foto’s verwys het.
“Ek kon my ore nie glo nie. In my droom was ek en Dirkie op ’n treinstasie, toe weer in die kerk, en sommer in die veld ook. Ag, jy weet mos hoe dit werk in drome, meneer Verdomp, ’n mens skuif maar bietjie rond. Maar die hele tyd was ons in mekaar se arms. Ek is mal oor Dirkie! Ek droom aanmekaar oor hom en ek weet hy droom oor my.”
“Jy moet jou nie dinge oorverbeel nie.”
“O ja, ek kan. En in my drome is Dirkie glad nie vertraag nie, hoor. Hy is wonderlik!”
“Maar hoekom het jy jou klere uitgetrek?” Ek kon hoor hoe seergemaak ek klink.
“Ek weet nie, dit was maar nét ’n droom.” Anna was ’n vrou met ’n sterk gemoed, maar ek kon sien haar oë kry nou water. “Ek weet nie!” het sy heftig herhaal. “Ek het maar net gedroom!”
“Maar net …! En boonop oor die kerk.”
“Die kerk was Dirkie se idee. Dit het koud geword, toe loop ons by die kerk in.”
“Dirkie se idee?”
“Sy idee in die droom, meneer Verdomp.”
Ek moes wonder of Anna weet van my eie drome oor haar. Dis toe dat sy haar hand in haar langbroeksak steek en een van die foto’s wat oom Kossie geneem het vir my wys.
Sy het die foto’tjie tussen ons op die tafeltjie gesit. Van Kleinschmidt se lessenaar gesteel toe hy toilet toe is, vertel sy my. In die voorgrond van die foto is Anna besig om met groot oë na die kamera te kyk, en op die agtergrond, ook in die kerkbank, ’n bietjie vaer, is die gestalte van Dirkie Verwey. Hy kyk strak voor hom soos sy manier maar was. Haar arms is om sy nek geslaan en sy kyk oor haar skouer na die kamera. Haar kaal borste is gedeeltelik sigbaar van die kant af. Daar was wat gelyk het na ’n stralekrans om die koppe, soos mens soms kry op foto’s wat effens uit fokus is.
Ek het na Anna daar langs my gekyk, en weer na die foto, en weer na Anna. Die vreemdste gewaarwording van my lewe was besig om in te sak, soos landsreën in sagte grond.
“Anna,” het ek gesê. “Dis nié jy hierdie nie. Sy lyk soos jy. Maar dis wraggies nié jy nie. Kyk!”
Toe bars Anna in trane uit. “Presies! Dis Kleinschmidt se dinge, die vark! Hulle het ’n foto van my gemaak waarop ek nie is nie.” Die trane het gevloei.
“Dis ook nie Dirkie nie,” sê ek vir haar. “Die hare lyk sagter en dit golf dan! Dirkie is borselkop. En hy is te skaam om op te wys op foto’s. Ek het hom al self reg van voor afgeneem en dan is daar later niks in die raampie nie.”
Anna het geknik en haar oë toegeknyp van die trane. “Jy’s reg, meneer Verdomp …” het sy amper onhoorbaar gesê.
My hart was oorhoeks bly dat dit nie sy op die foto is nie. Maar die enigste ander moontlikheid het my winduit geslaan. Ek onthou nog die gevoel van uiterste verbasing, ná al die jare. My woorde was nog: “Ek dink die waarheid is komplekser as Kleinschmidt se dinge, Annatjie.”
“Dis vreeslik kompleks, meneer Verdomp!” het sy sputterend tussen die trane deur beaam en my mismoedig om die hals geval. Met haar arms so om my nek het ek gehoop sy is nie te bewus van die boggel in my skouers nie.
“Hermanus,” het sy gesê. “Daar is nog iets waarvan ek jou moet vertel.”
Die kerkvensters waarin die droomagtige lig geskyn het. (Foto: Die Weekpos)