Читать книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten - Страница 11

6

Оглавление

Sy ken al die reaksies. Dis altyd dieselfde. Die konsternasie en onbegrip, die skok en trane, die verslae stiltes terwyl die verskriklike nuus insink, dan al die vrae. Die opstandigheid kom eers later, en die wrewel. Dit tap haar ook, hierdie intense emosies, maar dis haar lot as draer van onsalige tydings, en dit laat haar ook nie ongedeerd nie, al is háár gevoelens niemand se dêm besigheid nie.

Sy’s geduldig, gee Babs Eloff kans om te huil, te snuif, die neus te blaas, stamelend tot verhaal te kom.

“Nee wag,” keer Babs dan, “laat Jan hom bel, hulle is ou vriende, jare al. Jan sal weet. Kan mos nie dat ’n vreemde mens Tom met so iets bel nie. En sommer so uit die bloute. Nee, Jan sal mooi met hom praat.”

“Goed, maar meneer Heyns sal wil weet wat gebeur het ná jou man met hom gepraat het. Gee my nommer vir hom, hy kan my bel. Wat doen hy daar in Sun City?”

“Een of ander konferensie.” Snuif-snuif. “Shame, dis so vreeslik. Arme, arme Clara.”

“Mevrou Eloff, ek lui nou eers af sodat julle met hom kan praat.”

Meneer Heyns bel vyftien minute later. Klink of hy sy emosies goed onder beheer het, al kan ’n stem oor ’n foon baie misleidend wees. En hy wil, nes sy verwag het, summier elke besonderheid weet. Sy gee hom die agtergrond van hoe Adam Jonker op Clara se liggaam afgekom het en sê veel meer het hulle nog nie, sy kan nie eens vir hom sê presies hoe sy dood is nie omdat die patoloog nog eers die oorsaak van dood moet bepaal. Sulke bevindinge mag sy nie vooruitloop nie.

En nee, ons het ook nog geen vermoede oor ’n verdagte óf leidrade na een nie.

Oukei, as jy nou terugry, ek wag hier by jou huis, ons sal nog lank hier besig wees. Ons gesels dan verder wanneer jy terug is. Terloops, wat’s jou beroep, meneer Heyns? En as ek mag vra, met die kinders op die plaas, hond en al, hoekom is jou vrou nie vir die naweek saam Sun City toe nie?

Sy stap agter op die stoep uit, vul haar longe met die vars lug, verras om die kolonel steeds daar te sien, met sy blou verfsmeersels.

“Ek’s trots op jou, kolonel. Of rook jy nou skelm?”

’n Onhoorbare gebrom, dan duideliker: “Wat kry jy uitgerig?”

“Haar man is op pad, glo ’n jagter. Wat verf julle?”

“Voordeur.”

“Blou voordeur?”

“Dis g’n blou nie, dis periwinkle, dis wat dit is. Wat sê die man?”

“Was op ’n beraad oor die bestuur van wild. Is dit wat ’n jagter doen – as hy die wild nie doodskiet nie, dan bestuur hy dit?”

“Jy weet nie veel van wildsake nie, nè? Uitdunning is ook bewaring en bestuur.”

Stallie kom pak die inhoud van ’n bultende kossak op die patiotafel.

“Vir kolonel ’n Big Crunch met bacon en een Diet Pepsi. Vir Ella medium tjips met sout en asyn, en een swart koffie. Vir die uwe ’n Crispy Strip Snack Box met een bottel Aquafina. Tjeers, prost en Gesundheit!”

“Wat dink jy, Ella?” vra die kolonel en gee die Big Crunch ’n allemagtige hap.

Sy dink: gebraaide hoender en Diet Pepsi is soos om met een voet op die petrol en die ander een op die briek te ry. Maar sê: “Ek’s nog bietjie onseker, kolonel. Dit was alles so skielik, nogal op my áf naweek – taamlike groot sprong van ’n organiese mark tot ’n moordtoneel.”

“Ja, toe nou maar, jy’t dit genoeg ingevryf. Ek het Fred eerste gebel, as hy nie by die veearts was nie, was dit sý saak.”

“Dis oukei, kolonel, alles werk mos ten goede. Miskien die beste dat ek hier is. Om my aandag af te lei van ander goeters. Maar ek het nog nie spesifieke idees nie.”

Dis wat almal wil weet – Jimmy, Stallie, Dok, nou die kolonel: Wat dink jy, hoe vorder jy, al iets gekry, enige idees?

Natuurlik is dit nie net uit professionele nuuskierigheid nie. Só iets, só ’n moord word gou persoonlik. Jy probeer ’n afstand hou, maar dis moeilik. Hulle is almal, hoe gesout ook al, duidelik diep geraak deur wat hulle vanoggend in hierdie woonkamer gesien het. En die gewelddadige dood van ’n vrolike, mooi ma van twee jong seuns … dit slaan jou ekstra hard. Dié slagoffer is nie ’n boef wat in ’n straatgeveg oor dwelms of drank of die verdeling van buit ’n koeël of ’n lem in die hart gekry het nie.

Vannag, alleen in haar eie bed, sal sy begin rekonstrueer en hopelik môreoggend met vars insigte wakker word. Môre kan hulle haar weer vra wat sy dink en of sy enige idees het. En Maandag se outopsie sal verdere insigte bring, selfs leidrade, daarvoor sal Dok sorg. Want die liggame praat áltyd met hom.

Sy kyk hoe die kolonel gulsig met die Big Crunch afreken en met die papierservet sy lippe en vetblink ken afvee en sy sedige moestassie bestreel. En dan aan niemand in die besonder nie sê: “Ons moet maar goed kyk na meneer Heyns, met sy gerieflike Sun City-alibi en sy lovey-dovey SMS’e.”

Ja, dis wat sy ook al gedink het, nie omdat sy bevooroordeeld is teen onverwagte wewenaars nie, net dat dit in haar opleiding so by haar ingedril is. Soek meneer se sexy skelmpie, soek meneer se geldskuld, soek die nuwe uitkeerpolis van ’n paar miljoen wat meneer onlangs op wyle mevrou se lewe laat uitneem het. Dus, besoek eers al die gewone motiewe, so holrug en oud soos die mens self, en selde verkeerd.

Háár Groot Drie hoef sy nie in bosse te gaan jag nie, hulle is oral, op enige plek, in enige hart. Geld. Liefde. Wraak. Die aartsmotiewe waaruit elke bose intensie spruit – hebsug, skuld, drank, dwelms, seks, jaloesie, haat, woede, trots, vernedering, onreg.

Jy leer dit ook in speurkursusse en die FBI bespreek dit in sy handleidings: bejeën gades altyd as eerste verdagtes in so ’n saak, want die geskiedenis, die statistiek, die misdaadrekords leer ons dat in tagtig persent van sulke moorde blyk daar bloed te wees aan die hande van die bedroefde, liefdevolle gemaal – wellig figuurlike bloed, want dikwels is ’n alibi bekonkel en het silwerstukke hande gewissel vir die pleeg van die vuil daad.

Ella se sel lui. Sy kyk na die naam van die beller en wonder of sy moet antwoord, stap visdam toe en sê: “Hallo, hoe was die gholf?”

“So-so. En die mark, gekry wat jy soek?”

“Iets het voorgeval.”

“Seker dan ook nie by Putzi uitgekom vir die steaks nie?”

“Jy kon gaan, jy’s seker lankal by die huis.”

“Uh … nee, nog by die gholf.”

“Dis amper vieruur, by die negentiende vasgehaak?”

“Nee, nee, netnou eers klaar.”

“O, ek dog jy’t nege-uur al afgeslaan?”

“Wat het voorgeval?”

“Ek’s séker jy’t gesê julle afslaantyd is nege-uur. Jy’t nog gesê jy sal dalk betyds wees om die vleis sommer self by Putzi te gaan haal – ingeval ek nie in Linden regkom nie en Bryanston of Houghton toe moet ry.”

“Daar was ’n probleem, ons het eers later afgeslaan. Waar’s jy?”

“Watse probleem?”

“Besigheid … dringende kliënt.”

“Dringend op ’n Saterdag?”

“Wat het voorgeval?”

“’n Moord het voorgeval. In Aucklandpark.”

“Jy’s nie veronderstel om te werk nie.”

“En jy’s nie veronderstel om so laat nog gholf te speel nie.”

“Silas kon iemand anders gekry het. Vir Fred Lange.”

“Wil jy dit vir hom sê? Hou aan, ek gee die foon vir hom.”

“Nee, dis oukei! Dink net hardop. Sal die steaks op pad huis toe gaan oplaai.”

“Jy gaan dit nie maak nie, Putzi sluit Saterdae vieruur.”

“Ek sal hom waarsku ek kom.”

“Dis reeds vieruur.”

“Ek dink ek het nog tjops en wors. Hoe laat kom jy?”

“Dis kliphard gevries. Luister, Lou, ek gaan dit nie maak nie, almal is nog hier besig. En ek wag vir die slagoffer se man. Dit gaan ’n lang nag word, ek bel jou môre.”

Dringende besigheid. Ga! Dringende kliënt wat nie haar dêm pote kan tuishou nie!

Vyfuur voor Clara se rekenaar lui Ella se sel. Dis die afloskonstabel op hekplig. “Warrant, meneer Heyns is hier, sê hy’t vroeër met jou gepraat, sê dis sy huis dié.”

“Dankie, laat hy inkom, ek’s in sy vrou se kantoor.”

Sy herken hom onmiddellik van die gesinsfoto’s af. Nou net somber, sweetkolle aan die bors en oksels van sy hemp, sonbruin arms fris en harig, die buitelewe-tipe.

“Waar’s sy? Waar’s my vrou?”

“Sit, meneer Heyns, laat ons gesels.”

Het hom duidelik op pad sit en opwerk. Hy ken reeds die hooftrekke, maar sy verstaan dat hy elke detail wil weet, elke kriesel. Alle naasbestaandes is so. En dit kan sy nie gee nie, want ’n moordondersoek berus nie op afleidings, bespiegelings of raaiwerk nie; elke leidraad en bewysstuk word eers getoets, moet eers forensies bevestig word. Soos die wond wat Dok tussen haar hare gekry het. Die afleiding is dat sy met die glasbak geslaan is om haar te bedwing. Maar sy kon ook geval en haar kop teen ’n sytafeltjie gestamp het.

En hoe kan sy vertel van die duimspykers in die oë voor die amptelike bevinding in ’n regsgeneeskundige ondersoek? En die verhale van vasgebinde hande en voete, van gebreekte naels, van wit vlerke op haar rug, van ’n versteurde broekie. Dit kan net deur feite vertel word, en daardie feite het sy nog nie. Dieselfde vir die serp om haar nek. Dit lyk of sy verwurg is, al die tekens van livor mortis en petegiese bloeding dui daarop. Maar wat as Dok agterna in die outopsie haar bors oopmaak en haar hart uithaal en bevind Clara Heyns is aan ’n hartaanval dood terwyl ’n serp dalk per ongeluk te styf om haar nek vasgetrek is?

Dan’s dit manslag, nie moord nie. Dan kan meneer Heyns omdraai en sê: Maar jy’t gesê my vrou is vermoor! Hoekom sê jy so iets? Weet jy wat dit aan my en my kinders en ons familie gedoen het? Jou onbehoorlike uitlatings? Watse soort speurder is jy dan wat so ongevoelig is, wat sulke wilde uitsprake die wêreld instuur? Het jy dan nie ’n hart nie, warrant Neser?

“Wat het gebeur? Jy sê sy’s dood gekry. Hoe’s sy dood? Clara is ’n gesonde vrou, sy gaan nie net sommer dood nie. Dit was ’n inbreker, nè?”

“Meneer Heyns –”

“Wie’s in beheer? Waar’s die offisiere?”

Sy bekyk hom en sluk haar ergernis. “Soos ek oor die foon gesê het, ek is die ondersoekbeampte. Kolonel Sauls is my bevelvoerder, ek sal sy nommer ook vir jou gee. As jy ontevrede is oor my.”

Heyns gaan sit op ’n gastestoel, vryf oor sy hare. “Ek moes haar nie alleen gelos het nie.”

Ja, die warrelwind van emosies, eers die aggressie, nou die selfverwyt.

“Hoekom hét jy?”

Dis nie ’n beskuldiging nie, die antwoord is net nog ’n stukkie wat ingelê moet word in die legkaart van hierdie moord, want Clara Heyns is nié aan ’n hartaanval dood nie.

“Ek wou, ek het haar gevra om saam te kom. Om bietjie weg te breek. Maar sy was te besig, vergaderings en goed, altyd besig.”

Ook dringende besigheid op ’n Saterdag?

Hy kyk op. “Kan ek haar sien, waar’s sy?”

“Klaar weg. Die patoloog doen Maandag die ondersoek op haar. Jy kan haar Dinsdag gaan sien, meneer Heyns. Vir die amptelike uitkenning.”

“Waar’t hy ingekom?”

Hy? Nie hulle nie?

“Die stoep se skuifdeur was nie gesluit nie en die alarm was af. Iemand kon daar ingekom het, maar ons is nog nie seker nie. Ook nie hoe die aanvaller, of aanvallers, by die erf ingekom het nie. Lyk nie na gewone inbraak en roof nie.”

Hy frons. “Wat bedoel jy?”

“Daar’s altyd chaos ná ’n huisbraak. Nie hier nie.” Sy wuif met ’n hand. “Kyk, hier’s haar rekenaar, iPad, iPhone, handsak met beursie, in die woonkamer is die TV op sy plek, die dekodeerder, DVD-speler, CD’s, in die slaapkamer lê haar horlosie en ringe op die spieëltafel, ook een met diamante. Het julle ’n kluis?”

“Onder in daai kabinet. Vir persoonlike dokumente, juweliersware, kontant. Hoekom?”

“’n Vuurwapen?”

“Sy’t een vir selfverdediging.”

Ella hou die bossie sleutels vir hom.

“Kan jy in die kluis kyk of alles nog daar is?”

Hy gaan kniel, vroetel en sê: “Niks is weg nie.” Hy hou ’n pistool op. “Hier’s dit ook, sy’s onverhoeds betrap.”

Of sy’t aanvanklik nie gedink dis nodig om haarself teen haar besoeker te beskerm nie.

“Waar’s joune? Jy’s ’n jagter, jy’t seker –”

“My vuurwapens is in geweerkluise by my kantoor. Is sy geskiet, is dit hoekom jy oor vuurwapens vra?”

“Nee.”

“Hoe dan? Hoe is sy dood, hoekom kan jy nie sê nie?”

“Daar was sigbare tekens van trauma aan haar, dis al wat ek kan sê.” Die hou teen die kop, die duimspykers in die oë. Dis alles trauma.

“Trauma beteken wonde, is dit nie? Wat ek vra, is hóé is sy doodgemaak?”

“Ek het nie meer inligting nie. Dis die doel van die outopsie, om sulke feite vas te stel. En die oorsaak van dood.”

“Maar julle moet tog weet, julle het haar tog daar sien lê. Ek bedoel, as sy nie geskiet is nie, is sy met ’n mes gesteek? Oor die kop geslaan? Hoe lyk dit vir julle?”

Sy voel ineens jammer vir hom, so byna pleitend. “Jammer, meneer Heyns, maar wat ek gesien het of wat ek vermoed, is in hierdie vroeë stadium onbelangrik. Ek kan verkeerd wees. Kom ons wag vir die patoloog, ons behoort Dinsdag meer antwoorde te hê.”

“Wie sal so iets aan haar wil doen?”

“Ja, dis die groot vraag, en dis my werk om vas te stel wie dit gedoen het, en hoekom. En dit bring my by ’n paar lastige vrae wat ongelukkig altyd eerste in sulke omstandighede gevra moet word. Want enigiets kan help, hoe nietig of persoonlik ook al.”

Hy knik. “Vra.”

“Het jy rede om te glo dat jou vrou … dat daar ’n ander man in haar lewe was?”

Sy oë is nou stip en kil, en sy kan haar indink: daardie oë deur die teleskopiese visier van ’n jaggeweer. Dan elke woord asof afgemeet: “Nee. Daar is niemand nie. Clara is nie só nie.”

Haar sel vibreer. Sy ignoreer dit en vra: “Wat van vyande, weet jy van so iemand?” Sy beduie na die rame teen die muur. “Benewens haar huispraktyk het sy ook baie vrywillige werk gedoen. Op uiteenlopende plekke. Dwelmslawe, straatkinders.”

Dit lyk of hy ook dié vraag eers deeglik oorweeg, ’n antwoord in sy gedagtes toets en hertoets. Sy kry die indruk van ’n berekende man.

“Nee, sy het nie ’n minnaar óf ’n vyand gehad nie.”

“Enige mens het vyande.”

“Sy sou my vertel het. Soos sy vertel het hoe Lettie van der Sloet haar op skool geboelie het. Maar dit was ’n kwarteeu terug. Is Lettie ’n vyand?”

“Hoe lank is julle getroud?”

“Elf jaar.” Sonder aarseling, al het die meeste mans eers ’n abakus nodig.

“Hoe was julle verhouding? Ek bedoel die laaste tyd.”

“Wat!” Dadelik opgepluk, ’n man met ’n kort lont. “Wat impliseer jy?”

“Ek impliseer niks, ek vra vrae. Self is ek ongetroud, maar dis mos hoe verhoudings werk, ook in die huwelik – daar’s soms grade van turbulensie. En jy moet maar kalmeer, meneer Heyns, as my vrae vir jou lastig is, want dis nog net die begin. Ek gaan baie vrae hê en mense hou nie altyd van my vrae nie. Maar dis al hoe ons by die waarheid gaan uitkom. En is dit nie wat ons álbei soek nie? Ons wil tog weet wat regtig laas nag hier in jou huis gebeur het, ons wil weet hoekom dit gebeur het, maar bowendien wil ons weet wié dit gedoen het. Jy lyk moeg, het iemand jou iets vir die skok gegee?”

“Ek’s reg.” Hy staan op. “Ons verhouding was goed, geen fout nie, jy’t dit tog seker self al gesien, die SMS wat sy gisteraand vir my gestuur het.” Uitdagende blik, begin dan heen en weer stap en sê oor sy skouer: “Wat nou?”

“Jou vingerafdrukke. Ons moet alle vreemde afdrukke isoleer. Ook jou DNS, dieselfde rede.”

Hy steek vas. “Daar’s vreemde DNS in my huis?” Dis of iets hom meteens so hard in die maag tref dat hy met albei hande op die lessenaar moet kom leun, sy oë op haar. “DNS van wat?”

“Van enigiets. Hare, sweet, spoeg, velselle, bloed, ander vloeistowwe. Ons toets alles en het jou monsters nodig. Waarin slaap jou vrou, in nagklere, propperse pajamas?”

Hy staan tru en dit lyk of hy die vraag nie mooi verstaan nie, of dalk sukkel om hom nou eers weer sy dooie vrou lewend in die egtelike bed te verbeel.

“In die winter, ja. Lang pajamas, broek en hemp. Hoekom? Is sy, is sy …”

Ella skud haar kop. “Ek weet nie, kan nie sê nie, die patoloog moet eers toetse doen. En in die somer?”

“Soms ’n T-hemp, frokkie, soms in … in …”

Sy help: “In ’n broekie en kamisool dalk?”

“Ja, is dit wat sy aangehad het, sy was nie kaal nie?” Toon van verligting in sy stem.

“Ook ’n lang kamerjas, liggrys satyn.”

“Ja, ek ken dit. Vir wat moet hy dan toets?”

“Dis standaardprosedure. In sekere situasies word altyd vir seksuele molestering getoets. Net om seker te maak. Ook vir moontlike vreemde DNS aan haar liggaam en klere. Gaan rus nou eers. Maar ek’s bevrees nie hier nie. As ek jou dringend soek, sal ek bel.”

“Die Eloffs verwag my. Maar ek ry môreoggend vroeg plaas toe, my seuns het my nou nodig.”

“Goed, ek sal jou nie onnodig daar pla nie. Sterkte daarmee, dan sien ek jou Dinsdag ná die uitkenning. Vir ’n verdere geselsie en die vingerafdrukke en speekselmonster.”

“Waar?”

“Ek sal jou Maandag bel. Twee ander sake vir Dinsdag. Een: Wie dink jy sal so iets aan jou vrou wou doen, en hoekom? Twee: Wil jy jou prokureur laat insit by ons gesprek?” Sy hou haar hand op. “Wag, moenie nou antwoord nie, vat jou tyd, gaan dink eers daaroor.”

“Sy’t nie vyande nie,” sê hy weer. “Sy’s ’n goeie vrou, sy doen net goed vir ander.”

Selfs Moeder Teresa het vyande gehad, en dit was juis omdat hulle afgunstig was op haar goedheid.

“Die huis en erf bly eers afgesper. En hier’s my kaartjie. Kolonel Sauls is by dieselfde werksnommer. O ja, net nog iets.” Sy haal die sak met die PlayStation-boks uit. “Weet jy iets hiervan?”

“Ja, Charlie moes dit gebring het, dis Tommy se Kersgeskenk.”

“Wie’s Charlie en wie’s Tommy?”

“Charlie is van die gaming-winkel en Tommy is ons oudste seun. Kan ek dit saamvat?”

Sy hou die kwitansie en gee die sak vir hom. “Charlie doen aflewerings?”

“Vir Clara, ja. Bly hier af in die straat.”

Toe hy uit is, haal sy haar foon uit haar sak en lees Lou se SMS: Nog by die moordhuis? Vat ’n blaaskans en kom eet iets. Ek sal Chinees kry en jou skouers masseer.

Sy antwoord nie. Steek hy iets weg? Moet sy hom vra oor die rooikop? Of sien sy spoke? ’n Kliënt met dringende besigheid. Dis logies, dit verstaan sy. Baie kliënte het dringende besigheid. Selfs op ’n Saterdag. Sy verstaan ook as hy sy vierbal uitstel vir ’n vername kliënt. Dis soos hy is – eers werk, dan plesier. En hy werk hard, regtig hard. Daarom gun sy hom sy afwykinkies. Sy swamme en sy gholf.

En ongetwyfeld omhels baie sakemanne hulle kliënte. Dit verstaan sy óók. Veral sexy kliënte. Dié omhels hulle seker graag. Verkieslik sonder die wete van hulle vroue.

Wel, gering en gekerk is sy nie, maar daar’s ’n dêm ongeskrewe akkoord tussen haar en Lou. En die fynskrif sê as hy ’n sexy rooikop omhels, is sy geregtig om die wie en hoekom te weet. Veral as ’n oornagsak ter sprake is. Op ’n aand toe sy niksvermoedend in die Pink Flower was, met sy seën en selfs aanmoediging.

Is sy onredelik, mag sy nie weet wat aangaan nie?

Net voor agt kom Jimmy in. “Ons is klaar vir die nag, ligte af, deure gesluit. Net die voordeur nog.”

“Ek sal dit sluit en seël as ek uitgaan.”

Haar sel lui, Stallie wat rapporteer dat hy niks te rapporteer het nie, en dat dit laat is, dat huisbewoners deure nors in sy gesig begin toeklap. “Hulle wil voor die TV gaan sit, wil nie aan moorde in hulle eie buurt herinner word nie.”

“Goed, tjaila maar,” sê sy, en waai vir Jimmy wat wegstap.

“Wanneer is jý klaar?” vra Stallie.

“Sal nog ’n rukkie besig wees.”

“Ja, tot middernag toe, en gisteraand het jy ook min geslaap.”

“Sorg dat jy môreoggend in die gim is.”

“Ry, gaan kuier vir Lou, hy mis jou.”

Die dood van 'n goeie vrou

Подняться наверх