Читать книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten - Страница 8

3

Оглавление

Nog geen agies in die straat nie, sien Ella toe sy by Camden indraai. Wie steur hom in elk geval aan ’n enkele patrolliebakkie voor ’n huis – in ’n land met gemiddeld elke dag 750 inbrake en rooftogte by woonhuise, 150 vroue en kinders wat elke dag verkrag of seksueel gemolesteer word, 50 mense wat elke dag vermoor word?

Met sulke statistiek, nogal die SAPS s’n, is dit moeilik vir enige speurder om soggens werk toe te gaan sonder om te voel hy pie wind-op. Maar sy pie nie staande nie en is nie enige speurder nie; min dinge kry haar van stryk … wel, tot omtrent ’n halfuur terug in Linden.

Die nuuskieriges sal begin saamdrom wanneer die geel polisiebaniere gespan word – CRIME SCENE … KEEP OUT … En wanneer die manne in die wit Tyvek-oorpakke begin arriveer. Veral wanneer die chaperons van die dood aankom in hulle onheilspellend toegeboude bakkie met die suigwaaier op die dak en PATOLOGIESE DIENSTE teen die kante.

Die voorhekkie word bewaak deur konstabel Masilo, aldus die naam op sy bors. Jonk en skraal. Sy wys haar SVC-ID, sê sy is ’n speurder van Serious & Violent Crime, net om die gewig van haar status te bevestig.

’n Vriendelike glimlag. “Thank you, ma’am.”

In die muur langs die posgleuf lees sy ’n naamplaat soos dié teen Lou se muur: CLARA HEYNS, MED (PSYCH), CLINICAL PSYCHOLOGIST/KLINIESE SIELKUNDIGE.

Langsaan is die groot dubbele motorhek van soliede swart plaatmetaal, sodat van die huis agter die hoë muur net rooierige dakteëls tussen takke en boomkrone sigbaar is.

Sy stap by die voetgangerhek in en steek by ’n bromponie vas. Sy het ’n Vespa op universiteit gehad, in haar tweede jaar toe sy vir ’n jong dosent se buitemuurse attensies en vatterige hande – en erger – geval het. Hierdie een is ’n scooter-op-steroïed, ’n 125 cc-Gomoto Nippi, valhelm op die voetspasie.

Oor haar skouer vra sy: “How did you get in, was the gate open?”

“The witness opened it, it’s his scooter.”

“Witness of what?”

“The body, ma’am … the victim’s body. They are waiting at the back, on the stoep. Constable Sello and the witness. The victim is inside.”

Sy buk en voel-voel. Die uitlaatpyp is koud.

“You should move the scooter out of the way, there’s going to be a heavy traffic jam here soon,” sê sy en mik na die voordeur.

“Door’s locked, ma’am. You have to go there, round the side.” Konstabel Masilo beduie motorhuis toe, geselsradio voor sy mond om haar aankoms vir sy stoepkollega aan te kondig.

Uit die steeg tussen die motorhuis en grensheining betree sy die groot, boomryke agtertuin met swembad, visdam, netjiese grasperk tussen bome en struike en blombeddings. Op sonstoele tussen twee gevoude staansambrele lê paddavoete en duikbrille en groen en blou plastieksnorkels en ’n kleurryke lugmatras, slap afgeblaas.

Op die onderdakstoep lê konstabel Sello plomp uitgespan op ’n patiostoel, sy polisieradio op die glasblad van die groen potystertafel. Vir dié SVC-speurdertjie, net ’n adjudantoffisier en boonop ’n vrou, verwerdig hy hom klaarblyklik nie om met ’n opspring respekte te wys nie.

Sy kyk na die oopgetrekte skuifdeur in die glasmuur tussen stoep en huis, na die bokskedel teen die muur, die twee vet potte, in een ’n jukka, in die ander ’n welige fuchsia in volle blom. Staan dan vir ’n oomblik verras na die dooie voël en staar. Het hy hom misgis, teen die groot ruit vasgevlieg en sy nek gebreek? Dis nie hoe sy sluwe en astrante mynahs ken nie.

Sy verskuif haar blik terug na konstabel Sello en betrag sy vet klein ore en sy vingers soos vet klein koeksisters op sy boep ineengestrengel.

“Have you been inside?”

Hy reageer nie en sy wonder of hy oopoog aan die slaap geraak het, of dalk stil-stil ter siele is.

“Konstabel!”

Roer steeds nie, behalwe vir lippe wat kripties mompel: “We looked inside. To make sure.”

“To make sure of what?”

“About the body that was reported.”

“Did you see a body?”

“Uh-huh.”

“Did you open the sliding door and curtains?”

“Found it like that.”

“Did you touch anything?”

“Huh-uh.”

“You didn’t put the light on?”

“We didn’t touch anything!” ’n Ergerlikheid kruip by die stemtoon in.

Sy leun met haar bolyf by die deur in. In die skemering binne is dit of haar oë parte met haar speel, asof hulle sukkel om op iets gefokus te kry. Sy tuur na die wit gedaante tussen die rusbank en TV-rak. Gedaante. Dis al hoe sy dit van hier af kan beskryf. Gedaante in wit, wat lyk of dit vooroor leun. Sy kan nie die liggaamsvorm uitmaak onder die bedekking nie, dalk ’n wit laken of ’n soort kleed, en wil nie ingaan en die toneel kontamineer voor Forensies dit ondersoek het nie.

Sy draai terug na die patiotafel. “Where’s the witness?”

Konstabel Sello lyk te moeg om verder te praat, knik net skaars merkbaar, en sy sien die skraal figuur doer van die hoek van die tuin af aankom; agter hom, half verberg deur twee piesangbome, ’n houthut, vermoedelik bergplek vir swembadtoerusting.

Sy hou die aankomende figuur dop – slenterend, kop omlaag, rugsak oor ’n skouer, diep betrokke by die selfoon in sy hand. Hy kom die trappies op en kom staan voor haar op die bokvelmat. Sy is nie kort nie, maar moet opkyk na sy oë diep in die skadu’s van die pet se rand. En haar eerste gedagte noudat sy hom so van naby beskou: Iets is fout, hy’s siek. Of is dit van skok?

Sy vel is onnatuurlik bleek, asof hy aan ’n armoede van bloed of velpigmente ly, maar sonder albinisme se rosige tint en sproete en huidvlekke en sonsere. Sý vel is melkwit en glad en vlekkeloos soos dié van ’n baba; vir só ’n vel sal baie vroue ’n onbetroubare minnaar opoffer. Sy gesig is selfs sonder teken van tienerpuisies. Hy lyk so sewentien, agtien, lyk nie of hy al ernstig skeer nie, en aan die donse van die bolip en bakkebaard klou fyn druppels sweet.

Hy staan met sy linkerhand in die sak van ’n driekwartbroek, blou tekkies sonder sokkies, sy donker oë amper uitdagend op haar. Sy T-hemp sê: TREKVOËL.

“Ek’s adjudantoffisier Neser,” sê sy en steek haar hand uit. “Van die eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad.” Eintlik sommer moord-en-roof, maar generaal Pitso is tog so gesteld op politieke korrektheid, die ou gatlekker. “Wie’s jy?”

Hy sit sy sel en rugsak op die tafel en vat haar hand, sy ander hand steeds in die broeksak.

“Poolboy,” sê hy met ’n sagte greep van lang, skraal vingers soos dié van ’n pianis, of sakkeroller. “Dis ek wat gebel het.” Hy gee ’n kopknik skuifdeur toe. “Oor haar. Kan ek waai?”

“Netnou. Sit eers.”

Sy trek vir haar ’n stoel uit en haal haar notaboek uit haar sak.

Hy gaan sit oorkant haar. Konstabel Sello moet die wenk gekry het, want dié stoot sy gemeste lyf met ’n steun uit die stoel op en sleep sy voete oor bokvel en leiklip om nou daar teen die braaiplek te gaan hang soos ’n oorvrete afvlerkkraai.

Sy los die konstabel en kyk terug na die seun. “Wat’s jou naam?”

“Adam,” sê hy. “Adam Jonker.”

“Die haar, praat jy van mevrou Heyns? Hoe weet jy dis sy? Die liggaam is bedek, het jy gaan kyk, haar gesig gesien?”

“Ek weet net.”

“Het jy ingegaan?”

Hy knik. “Hoe anders sou ek geweet het om 10111 te bel?”

“Hoe laat was jy hier?”

“Halfnege.”

“En jy bel eers halftien?”

“Besig by die swembad, het eers later die deur gesien. Op ’n skrefie oop.”

“Hoekom was ’n oop deur vir jou snaaks, veral op ’n Saterdag, veral op so ’n heerlike somersoggend?”

“Oor dit so stil was. Sy’t nie uitgekom nie. Sy kom gewoonlik uit. Kom sê hallo, bring koeldrank.” Hy aarsel, sê dan: “En sy’s alleen, sal mos nie die deur oop los as sy alleen is nie.”

Het die aanvaller laas nag by die oop deur ingekom en uitgegaan? Was die alarm ook af? ’n Vrou alleen in ’n huis maak tog seker dat al die deure gesluit en die alarm geaktiveer is. Sy maak dubbel seker. Dis wat sý doen, so alleen daar in haar eie huisie.

Ella kyk na die swembadspeelgoed. “Waar’s haar man en kinders?”

“Hy’s Sun City toe, die seuns is op die plaas.” Hy haal sy pet af en vee met die T-hemp se mou oor sy gesig. Nou kan sy die groen van sy oë sien. “Ek maak die swembad skoon, dis al. Vir sakgeld.”

Asof hy sy teenwoordigheid hier by die moordhuis probeer regverdig.

“Lyk of die Kreepy werk,” sê sy.

“Hy werk. Maar om dit mooi skoon te kry moet jy die rande met die hand borsel, en dit suig en backwash, alkaliniteit en pH toets. Anders word dit groen.” Hy bekyk haar. “Jy’t nie ’n swembad nie, nè? Oukei, dis al wat ek weet. My plig gedoen en gebel.”

“Dankie daarvoor, as meer mense hulle plig doen –”

Sello se polisieradio knetter en sy hoor Masilo by die hek se stem: “They just arrived. Forensics and CSM.”

Jimmy-hulle en Crime Scene Management. Vir dok Koster verwag sy eers heelwat later. Hy vat sy tyd, gee Forensies en Misdaadtoneelbestuur kans, sê hy soek hulle nie onder sy voete as hy begin nie. En dit klink of Mara kolonel Sauls eers by die huis in die werk gesteek het.

“Kan ek nóú waai?” sê Adam. “Gaan kyk self.”

“Net nog ’n paar vrae.” Sy wys na die potte. “Het jy daardie dooie voël gesien, was dit daar toe jy hier gekom het?”

“Indiese spreeu. Het dit gesien toe ek na die deur kom kyk.”

“Hoe weet jy meneer Heyns is by Sun City?”

“Dis wat sy gesê het, toe sy bel om te hoor of ek vandag kom vir die swembad.”

“Wanneer het sy gebel? Die presiese datum en tyd, dis baie belangrik.”

“Gistermiddag net ná vyf.”

Sy skryf in haar notaboek en toe sy opkyk, betrap sy sy oë op haar. Hy kyk vinnig af, terug na die sel op sy skoot, maar sy kan sweer daardie groen oë was op haar T-hemp, op haar bralose T-hemp.

“Hoe’t jy by die erf ingekom, Adam?”

Hy antwoord sonder om op te kyk. “Ek het ’n sleutel vir die klein hekkie. Ek het die klokkie gelui. En ingekom toe sy nie antwoord nie. Dis hoekom dit snaaks was. Die skuifdeur is oop, maar sy hoor nie die klokkie nie?”

“Sy kon hier in die tuin gewees het. Julle ken mekaar goed, as sy vir jou ’n sleutel gee?”

“Ek ken haar lank, ja. Sy’t my behandel.”

“Behandel vir wat?”

“Ek’s onsosiaal, ek meng nie.”

Hou hy haar vir die gek? Maar sy gesig verklap niks, dis sonder emosie. Jimmy sal sy vingerafdrukke ook moet neem, ingeval hy binne aan iets gevat het. En hulle sal afdrukke van sy tekkies se sole wil maak.

“Waar bly jy? Ek’t jou adres en foonnommers nodig.”

“Maxwellstraat, paar blokke hiervandaan. Naby die UJ-kampus.”

“Hoe oud is jy?”

“Negentien.”

“O, jy’s klaar met skool?”

“By Wits se School of Arts.”

“Ek soek ook jou pa se naam en nommers, sel én werk. En ons het jou tekkies nodig vir ’n paar dae. Om jou sole van ander merke te onderskei.”

Hy kyk na haar en begin dan sy tekkies losmaak.

“Ek sal weer met jou wil gesels,” sê sy. “Ek sal bel vir ’n afspraak. Hier’s solank my kaartjie, laat weet as iets jou byval.”

Hy sit sy tekkies langs mekaar op die tafel, staan op en lig sy rugsak van die tafel af oor ’n benerige skouer. Weer daardie skramse glimp na haar bors. Of verbeel sy haar?

“Kan jy kaalvoet ry? Moet konstabel Sello jou gou huis toe vat vir ander skoene?”

“Dis oukei, ek sal self ry.” Hy lees haar naam hardop van die kaartjie af: “Ella.” En kyk na haar. “Kan ek jou Ella noem?”

Die dood van 'n goeie vrou

Подняться наверх