Читать книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten - Страница 18

4

Оглавление

Op Dinsdag se oggendbiduur sê kolonel Sauls: “Warrant Neser, jy sien die helse bohaai in die koerante en op TV. Ons word dopgehou, generaal Pitso het my vroeg vanoggend al gebel, hy wil weet wanneer hy ’n arrestasie kan verwag. Het jy al iets?”

“Nee, kolonel, maar ek’s –”

“Jy kry vir Stallie, laat hy help. Skreeu as jy nog hulp soek, ek sal kyk of ek nog iemand tydelik kan losmaak, dalk Fred en Tabs ook as julle later vasbrand. Begin gatte skop onder julle informante, almal van julle. Dis ’n hoëprofielsaak, iets sal iewers uitspring. En dryf die ondersoek, warrant. Ek soek voetwerk, voetwerk, voetwerk. Moenie wag dat leidrade na julle aangedra word nie, gaan uit, gaan soek die blerrie leidrade! Einde van die week kan ons aan ’n hotline begin dink. Hoop nie dis nodig nie, hoop einde van die week het ons al ’n verdagte. Of hoe, warrant?”

“Ja, kolonel, ek hoop so, ek begin klaar wenke kry.”

“Watse wenke?”

“Moet dit eers opvolg, kyk of dit nie nonsens is nie. Gee my ’n dag of twee.”

Sy’s dankbaar vir Stallie. En Tabs is ook oukei. Maar sy kan sonder Fred klaarkom. Min liefde tussen hulle. En kyk daardie uitdrukking op die ou suurgat se gesig: Sý kry hulp, wat van mý, is ek nie ook toegegooi nie? Is ons nie almal toe onder berge dossiere nie? Wat maak háár so spesiaal?

In haar afskorting wys sy vir Stallie die PlayStation-kwitansie van The Gaming Spot. “Dis Vrydag uitgereik, toevallig dieselfde dag as Clara se dood. Gaan gesels met die afleweraar, Tom Heyns noem hom Charlie.”

Haar sel sing “Loslappie”. Sy kan hom nie langer ignoreer nie. Sy kyk na Stallie. Dié is vlug van begrip, staan op en stap weg.

“Hoekom antwoord jy nie?” vra Lou.

“Hier’s ek, ek antwoord.”

“Wat van al die ander?”

“Dis ’n malhuis, Lou.”

“Jy’t nie vyf minute om terug te bel nie?”

“Ek het skaars vyf minute om te gaan pie.”

“Bel dán.”

“Lou, ek’s soggens sesuur op, hol die hele dag rond, eet nie, rus nie, kom elfuur saans by die huis, slaap skaars. Ek kan nie die wêreld skielik net laat stilstaan vir enigiets nie.”

“Ek’s nie enigiets nie, Ella. Of ek hoop nie so nie. Wat’s fout?”

“Ons gesels as dinge hier bedaar het.”

“Ek wil jou sien, ek mis jou. Kan jy vanaand kom?”

“Ek het vyfuur ’n afspraak met Tom Heyns, sal sien hoe lank dit duur. Praat later, koebaai.”

Stallie is net ná twee terug, plak hom oorkant haar neer en vra: “Bespeur ek onmin in die liefdesnessie?”

“’n Ligte meningsverskilletjie.”

Vir sy lang neus kan jy niks wegsteek nie. En sy weet sy kan op sy skouer gaan grens, soos gewoonlik. Maar sy’s nog ver van die huilfase.

“Jou spesmaas was reg, sy’s ’n ou klant van The Gaming Spot, koop haar seuns se electronic games daar. My chat met Charlie het ’n paar interessante brokkies opgelewer. Ek dink ons het nog ’n getuie gekry. Charlie sê … hy beweer hy’t Vrydagnag iemand met ’n beanie op die sypaadjie voor die Heynse se huis gesien.”

“’n Verdagte? Hoe laat?”

“Hy’s nie seker nie, dink dit was ná middernag.”

“Wat soek hý op die moordnag in daardie buurt?”

“Hy woon daar, huur ’n buitekamer by Camdenstraat 39, skuins oorkant die Heynse. By meneer en mevrou Moller, pensioentrekkers. Hy’t die beanie-man gesien toe hy laatnag huis toe gery het.”

“Kan hy hom beskryf vir ’n identikit?”

“Dis die slegte nuus – nee, hy kan nie, was te donker, daar’s nie ’n straatlig voor die Heyns-huis nie.”

“Maar in die donker kon hy ’n beanie herken?”

“Hy sê dit het soos ’n beanie gelyk.”

“Het dit gelyk of die beanie-man by die Heynse se voorhekkie uitkom?”

“Dit kan hy ook nie sê nie, hy’t die figuur net op die sypaadjie voor die huis sien stap.”

“Het hy ’n bril gedra, of was hy brilloos? Was hy lank of kort, vet of maer? Het hy regop gestap soos ’n soldaat, of krom soos Fred? Het hy vinnig gestap, of gedrentel? Het hy iets in sy hande gehad? Hoe laat ná middernag het hy die figuur gesien? Ons moet die presiese tyd kry.”

“Ek sal weer met hom gaan chat.”

“Hoe oud is die afleweraar, dié Charlie?”

“Charlie Olsen. Vyf-en-twintig, en hy’s nie ’n delivery boy nie, hy’s die eienaar.”

“Al baas van sy eie winkel?”

“Nou nie juis ’n winkel in die klas van Pick n Pay nie, net vier mure skaars groter as my slaapkamer. Verkoop PC games, meestal streaming, sê hy’t nie geld vir groot voorraad hardware nie. As ’n customer iets soos ’n PlayStation soek, gaan source hy dit op ’n ander plek as guns.”

“Wat nog, jy praat van ’n páár brokkies.”

“’n Paar is twee. Die ander een is: hy ken vir Adam Jonker, jou poolboy-getuie. Hy sê hy en Jonkertjie is soort van tjommies.”

“Adam is bietjie jonk om sy tjommie te wees.”

“Hy sê soort van. Jonker studeer art en Charlie het skelm na van sy sketse gekyk.”

“Hoekom skelm?”

“Jonkertjie is glo erg oor sy privaatheid, wys nie sy art sommer vir enigeen nie.”

“Nie eens vir sy tjommie nie? Wat’s so snaaks aan die sketse?”

“Charlie wil nie hê Jonker moet weet dat hy aan die wêreld uitlap wat hy gesien het nie, sê Jonkertjie kan taamlik touchy wees.”

Taamlik touchy? Opvlieëndheid is nou nie juis ’n emosie wat sy sou assosieer met die skugter bleeksiel op Clara se stoep nie, met sy pragtige babavel en groen oë.

“Charlie noem die sketse ‘extremely bloody en violent en weird’. Praat van comic book superheroes.”

“Ek het nie broers nie, Stallie. Maar Adam is negentien jaar oud, is sulke jong knape nie van nature maar soms bietjie barbaars nie?”

Stallie haal sy selfoon uit. “Ek het hom opgeneem. Luister self.”

Stallie: “Oukei dan, off the record, vertel weer van daai tekeninge wat jy in jou Jonker-tjom se boek gesien het.”

Charlie: “Hy noem dit sketse. Hy’s mal oor voëltjies, hy versamel opnames van voëlsang en het my genooi om na van sy nuwe opnames te gaan luister. Ek kry Adam partykeer jammer.”

Stallie: “Hoekom?”

Charlie: “Hy’t nie eintlik vriende nie.”

Stallie: “Hoe ken julle mekaar?”

Charlie: “Hy maak Saterdae mevrou Heyns se swembad skoon. En hy was een van haar pasiënte. Dis waar ek hom gesien het.”

Stallie: “En hoe’t jy háár geken? Omdat julle in dieselfde straat woon?”

Charlie: “Ek was ook vroeër by haar.”

Stallie: “Jy bedoel as ’n pasiënt?”

Charlie: “Nie vir lank nie.”

Stallie: “Vertel wat jy gesien het.”

Charlie: “Een van sy sketsboeke het daar op sy lessenaar gelê. Dis nie dat ek in sy laaie gaan krap het nie. Hy’s badkamer toe en ek was nuuskierig. Ek het deur die boek geblaai terwyl ek na sy voëls sit en luister het. Hy teken baie mooi, ek dink hy’s ’n baie goeie kunstenaar, hy’s goed genoeg vir gaming-sketse.”

Stallie: “Oukei, hoekom dink jy ek behoort van die sketse te weet?”

Charlie: “Die koerante sê mevrou Heyns is verwurg? En daar’s sketse van hoe ’n comic book superhero ’n vrou aan ’n tou om haar nek agter hom aan sleep. Met vlerke op haar rug.”

Die dood van 'n goeie vrou

Подняться наверх