Читать книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten - Страница 12
7
ОглавлениеMet Kandas die Vierde en ’n spul tropiese vissies as geselskap lê hy op sy sofa voor die dooie TV, The Fungi Field Guide op sy bors, die Grateful Dead op die agtergrond: “I will get by, I will survive …” Almal angstig, almal wagtend op Ella se oproep, of minstens op ’n SMS. Lou reg om op te spring en na Fong te jaag vir soet-en-suur Chinees-vir-twee, en om agterna haar skouers te masseer. Maar van haar g’n piep nie.
En dis nie ’n goeie ding nie, want nou is sy kop aan’t dwaal weg van swamme af na gisteraand se besoek, ietwat ontsenuend uit die bloute. ’n Mooi vrou skielik op jou drumpel – wie sal nie ’n wind sluk nie, veral as dit boonop jou mooi eksvrou is?
Hy reken ’n toevallige en oningeligte waarnemer sou maklik oor Lente en Ella kon dink: You lucky bastard, met só ’n eks en só ’n lover! Maar: Oh, East is East and West is West, and never the twain shall meet.
Dalk moet hy Ella maar weer ’n slag SMS. Verdiep sy haar eers in ’n saak, vergaan hoor en sien om haar … Nee, wag – los haar, moenie verder pla nie, sy was klaar moerig toe hy bel oor die steaks by Putzi. Die plan was om haar vanaand te bederf met ’n braai hier by sy huis. Sy’s nie ’n groot vleiseter nie, geniet net die gekuier om ’n vuur. Hy ook, maar hy hou veral van baie proteïen, of baie van proteïen. Dik fillet steaks, alkant net sekondes oor hittige sekelbos- of swarthaakkole gezap om die sappige marinadesmaak binne te verseël; sy bees moet nog ’n laaste bulk gee wanneer hy sy tande in hom inslaan. Filette saam met swamme, natuurlik. Enige tyd van die dag, enige eetbare soort – ’n ewigheid terug selfs die onaptytlikes, die magic mushrooms wat hy self gekweek en gedroog het en in sy rooibostee met heuning ingeroer het as moetie teen die demone van die nag wat hom uit die bos agtervolg en bly teister het.
Van sy mushies, dank die Vader, is hy intussen gespeen. Hy kan homself weer vierkant in die oë kyk in die spieël wanneer hy sy baard skeer, sy gryswordende hare borsel, met die klein skêrtjie obsternate ranke uit sy neusvleuels en aan sy wenkbroue snoei, die gerimpelde voorkop en nek en die spore aan die hoeke van sy oë en mond betrag. ’n Beeld wat hy leer aanvaar het. Maar daar was dae – en weke en maande, selfs jare – toe hy en alter ego nie juis mekaar se knaters gelek het nie, dit erken hy openlik namate hy ouer en gemakliker in sy losserwordende vel voel. Hy het dit selfs so aan Ella bely, met ’n minder kras metafoor. Sy ken dus min of meer die verloop van sy lewe sover. Min of meer. Want die pad oor die eerste twee, drie dekades was nie altyd effe nie, plek-plek inderdaad rof en onbeskof; dele daarvan is steeds, selfs vir hom, vaag of totaal duister en doem soms net gedrogtelik in nagmerries op, maar minder knaend as voorheen.
Hy en Ella se ontmoeting – al omtrent ’n jaar en ’n half gelede – kan nie juis beskryf word as fabelagtige liefde met opslag van die eerste oog nie, selfs nie van die tweede of die derde nie. Hulle het mekaar wel uitgekyk, hy waarderend, sy ietwat skepties, maar hy het haar nie daarvoor verkwalik nie – hy wás al in matriek toe sy skaars haar eerste treë gegee het. En boonop is hy geskei. Langer as twintig jaar al. Maar verloop van tyd versag nie die stankie dat ’n geskeide man nie heeltemal te vertrou is nie, tekortskiet as geskikte troumateriaal. Al het hy nie weer sulke planne gehad nie, daarvoor was die skrik en ontnugtering van destyds té groot. Buitendien, sy kat en sy visse is nie beterweters nie, en die gevoel is wederkerig: hy oordeel hulle nie, hulle oordeel hom nie, en in sy huishouding heers al jare lange rus en vree.
Selfs hy en Lente het al intussen vrede gemaak ná hulle mislukte kalwerliefde wat so jammerlik onbestand was teen die eise van grootword, veral teen die eise van ou leiers wat jong seuns gestuur het om in die bos te gaan sterf vir ’n futiele ideologie.
Hy was een van die gelukkiges. Hy was flenters, maar het die lokval oorleef. Agterna bossies, ja, rasende kop met roereiers vir ’n brein; gryp na ’n skietding vir elke hoes, nies en poep. Snydokters het hom probeer lap, kopdokters het sy brein probeer ontroer.
Kom uit die kophospitaal en stap in ’n leë woonstel in – Lente weg, Kandas die Eerste weg, matras op die vloer, koevert op die kussing: Lou. Nie eens Liewe Lou nie. Dis toe dat hy na betroubare nuwe BFF’s begin soek het en hulle gekry het: die tweeling psilocybin en psilocin, geëkstraheer uit Psilocybe cubensis, die mushies wat sy woedende, slapelose kop moes diens. ’n Man se hart is mos darem nie van Pretoria Portland Cement nie, want hulle twee het immers – welbeskou toe nog taamlik onhandig – mekaar hul maagdelikheid oor en weer ontneem, en toe getrou. Lente, skrywer van afskeidsbriewe, ontvoerder van katte, eksvrou. En hier duik sy gisteraand op, Batseba herrese, met haar rooi hare en sagte lyf vol kontoere en beloftes.
Nou die gatslag: te danke aan ’n moord is hy sy braai kwyt, te danke aan sy eks het hy laat afgeslaan en is hy ook sy steaks kwyt. Ewe erg, dalk erger, is dat Ella nie vanoggend kans gehad het om Linden toe te kom vir Ramona se sampioene nie. En buite is dit al sterk donker, en hy voel dit aan sy water: die kanse op Chinees is ook omtrent nul.
Hy staan op, gaan voer sy tropiese visse in die glasbak, eens die terrarium vir sy mushie-kwekery, skep vir Kandas salm-in-jellie in, kry in die vrieshok ’n boks lasagne met bief, spinasie en ricotta, hard soos sement.
Hy staan besluiteloos, hoor die mikrogolf se gesnor, staar na sy swygsame sel.
Sy beantwoord nie sy oproepe nie, reageer nie op sy boodskappe nie, sny hom af ná die oggend se afjak. Hoe besig kan ’n mens wees? Selfs met ’n moord? En hy wil net help, dis al, haar bietjie skraag en troetel.
Dinge lol.