Читать книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten - Страница 16

2

Оглавление

In die huis in Greenside gaan sit Ella op dieselfde sofa, eerder ’n soort biegstoel as ’n Freudiaanse lêplek. Dieselfde seegroen oortreksel, die ferweel net nog meer verslyt deur al die angstige sitvlakke, die kelim nog meer uitgetrap deur al die rustelose voete. Niks het verander nie. Dieselfde kothuismeubels, daar teen die muur dieselfde twee kuslandskappe: die duin met sy vet groen seeplakkies en mauve laventels, die laagwaterstrand met sy tobie wat pik na ploegslakkies. Dekor van eenselwige, kalmerende huislikheid vir gekneusde siele.

Sy sit met haar rug na die venster. ’n Pasiënt se aandag mag nie na buite afgelei word nie, Mimi Landsberg vereis oogkontak en onverdeelde aandag. ’n Sagte soet van jasmyn in die lug.

Die vertrek is asof vasgevang in die tydkapsule van daardie dag ’n paar jaar gelede toe sy die eerste keer hier beland het, toe teen haar sin, toe met ’n verstikkende vrees vir ’n onbekende, vormlose ding. Nee, erger as vrees, die swart hond wat haar hele armsalige bestaan bedreig het. Angst. Die woord wat meermale opgeduik het in daardie eerste siklus van terapie nadat sy op nerf na ontkom het aan die Nagsluiper se vuil skalpel.

Twee jaar later was sy op die einste sofa terug vir nóg ’n skof ná ’n nat handdoek om haar nek opgewen is.

Dus, sy het groot simpatie met Clara Heyns, sy weet presies hoe dit voel wanneer iemand jou van jou asem beroof, hoe die paniek groei saam met die drukking agter jou oë, die histeriese gespartel, geroggel, gehuil, hoe jy rasend van angs daardie knellende wurging van jou keel probeer wegbeur en wegskeur.

Mimi Landsberg het haar gemoedstoestand destyds ’n slag korrek gediagnoseer as die donker nag van die siel waar dit altyd drie-uur in die oggend is. En het haar demone probeer besweer en haar gees probeer reinig van die neerslag van daardie gevegte om lewe en dood, nie net ter wille van die gesonde herstel van haar liggaam nie, maar veral vir die gesonde herstel van haar gees.

Die liggaam het soort van reggekom; dis die siel wat partykeer nog bekwaald is.

Mimi kom plaas die skinkbord op die tafel tussen hulle, gaan sit op haar stoel, kruis haar bene, stryk met ’n hand oor haar kuise skoot en wuif na die koffie.

Sy’t onthou! Of miskien staan dit so in ’n pasiëntnota? LW: Adjudantoffisier Ella Neser drink haar koffie swart en bitter. Is dit aangeleerde smaak, of ’n metafoor?

Ella vermoed die groen lêer langs die skinkbord bevat min of meer ál haar geheime; Mimi Landsberg het die vermoë om tot die diepste misteries van jou hart en siel deur te dring.

“Só? Hier’s ons weer. En jy lyk goed, Ella. Maar jou stem, dis dan steeds hees, of het jy verkoue?”

“Nog ’n letsel, ook permanent, is ek bevrees. Dié een darem onsigbaar, al is dit nie onhoorbaar nie.”

Die nat handdoek is so styf om haar nek gedraai dat dit fyn breuke in die kraakbeen van die larinks veroorsaak het. Wat toe skeef aangegroei het en nou die vloei van lug oor haar stembande versteur. Die spesialis se advies was: Ek kan opereer en dit probeer herstel, maar wil jy regtig so iets waag, veral as jy nie ’n loopbaan as operasanger oorweeg nie?

“Ek het jou weer in die koerant gesien, moet al langer as ’n jaar terug wees,” sê Mimi. “Jy kan net nie uit die nuus wegbly nie, nè? Skietery, as ek reg onthou, maar dié slag darem ongeskonde, anders was jy al vroeër hier. Die skurke was nie so gelukkig nie.”

“Net vleiswondjies, ek het darem nie weer iemand doodgemaak nie. Soos ek gesê het, dié besoek is privaat, niks met my werk te doen nie, ek betaal self. Dis oor, dis oor …”

“Ja? Sê maar reguit.”

Haar sitvlak skuur effe oor die seegroen ferweel. “Dis oor ’n man.”

Oukei, daar’s dit uit, daar hang dit saam met die jasmyn se geur in die lug.

Maar Mimi lyk besorg, leun met haar bolyf effens vorentoe. “Het hy iets aan jou gedoen?”

Ja, hy hét! Hy karring aan my gemoed, aan my brein, my hart, my siel, aan my hele dêm wese. Maar hoe sê sy dít, watse woorde gebruik sy om dít uit te druk? Laas nag in haar donker, rustelose bed het sy alles so mooi lê en formuleer, tussen die rekonstruksies van Clara Heyns se dood. Nou, hier op die onrustige sofa, klink niks reg nie, klink alles nietig en bietjie laf.

“Jy kan maar praat, Ella, jy weet mos dit bly tussen ons. Het hy jou seergemaak?”

Sy skud haar kop. “Nog nie. Maar ek gaan hóm seermaak. En ek wil dit nie eintlik doen nie, dis hoekom ek kom raad soek, ek wil –”

“Hokaai eers. Kom ons begin voor. Waarvan praat ons? Onderdrukte aggressie? Gevoelens van vergelding?”

“Ek het hom met ’n ander vrou gesien.”

Jaloesie, plein en simpel. En agterdog. Maar dié is te verstane. As speurder trek jy agterdog aan soos ’n kledingstuk.

Mimi knik, tel die groen lêer op haar skoot en begin blaai. Sy blaai jare terug.

Ella weet presies waarna sy soek. Sy blaai na haar groot liefde van eens. Na Bam die rugbyspeler. Sy het hom óók by ’n ander vrou betrap, hy het haar ook verraai, hy het ook die onuitgesproke liefdesakkoord van vertroue en lojaliteit verbreek. Willens en wetens. Hulle was verlief, het van trou gepraat. Hy’t by haar ingetrek, demmit! Hy móés geweet het dat vertroue en lojaliteit in haar boekie die heel belangrikste waardes is. Ingebore, jy kan dit g’n vir iemand leer nie; as iemand dit nie het nie, dan verstaan hy nie die pilare van vriendskap en veral van liefde nie.

Ja, hy’t sy fout agtergekom en by haar kom pleit om hom te vergewe, nog een kans te gee. Maar sy was mos hardegat, het mos vir haarself gesê: ’n ontroue man is soos ’n alkoholis, as hy dit een keer doen, sal hy dit wéér doen. En toe, voor hy haar vergifnis kon kry, sterf hy aan hand van dieselfde Nagsluiper – asof Abel Lotz hom vir sy ontrouheid gestraf het, sy gesig afgeskeur en vir sy pit bulls gevoer het.

Is sy naïef om só sterk oor blinde trou te voel? Nee, sy is nie. Sy is ’n lojale mens, en sy verwag op haar beurt lojaliteit terug. Vat vir Stallie, vat die kolonel. Hulle wéét hulle kan op haar staatmaak, hulle wéét sy sal daardie vertroue nooit ooit skend nie. Lou ook. Al is sy geen engel soos Clara Heyns nie. Maar dít is soos sy is: lojaliteit is in haar gene, lojaliteit is inherent deel van daardie kosbare pakkie van vriendskap en liefde – onlosmaaklik, onuitgesproke, en veral onafgesmeek.

“Ella! Van wie praat ons, wie’s die hy?”

“Sy naam’s Lou Pepler. Ek het sy lewe gered, destyds in daardie skietery waarvan jy praat. Toe vat hy my ballet toe.”

Ja, dis die einste Coppélia se skuld, want dis waar dit begin het, die aand ná die ballet op haar rusbank. Maar daardie detail is vir niemand se ore nie.

“Het hy hom toe aan jou opgedring? Ná die ballet?”

“Nee, nie eintlik nie.”

“Nie eintlik nie?”

“Eintlik was ék die opdringer.”

“O.”

Sy merk opeens onsekerheid. Wanneer laas, indien ooit, het die traumaberader van die polisie met só ’n bieg gesit, met só ’n pikkedil van ’n opdringerige vrou?

“Ella, praat ons hier oor dieselfde ding – oor seks?”

Sissende esse soos verwyte oor Mimi se dun Protestantse lippe. En dis nie hoe dit is nie, dis nie sommer net seks nie, dis liefde maak. Hy’s sag met haar, sensueel en romanties, druk die regte knoppies, aan die lyf én die hart.

“Ons verhouding kom van daardie tyd af. Ek dink ek’s lief vir hom. Maar ek dink nie dit gaan uitwerk nie.”

“Wat het jy gesien, wat het hy en die ander vrou gedoen?”

“Mekaar omhels.”

“Ken jy haar?”

“Eerste keer dat ek haar sien.”

“En jy’s jaloers?”

“Ja, en ek wil nie wees nie. Dis ’n negatiewe gevoel en ek sien genoeg negatiewe dinge elke dag in my werk, ek soek dit nie in my private lewe ook nie. Hoekom is mans so onverskillig oor gevoelens?”

“Nie almal is so nie.”

Hoe weet sý, sy’s omtrent sestig en sit op die rak?

“In graad tien wou ek ’n Benediktynse non word omdat my kys my van my maagdelikheid ontneem en my toe gelos het. Op universiteit het ek vir ’n vatterige dosent geval. Toe begin ek werk en ’n rugbyspeler duik my bene onder my uit. Daarna wou ’n mooi en gevaarlike man my Parys toe vat … Parys aan die Seine, nie die Vaal nie. Nou’s dit ’n ouer een wat beetsap drink en paddastoele eet. Wat de hel is verkeerd met my, Mimi? Waar’s my ingebore shit detector?”

Mimi aarsel.

“Sorry,” sê Ella, “dit het uitgeglip.”

“Het jy hom oor die vrou uitgevra? Dit kan onskuldig wees, dalk ’n familielid wat hy lanklaas gesien het.”

“Die enigste familielede wat hy lanklaas gesien het, is sy verloopte pa en verlore broer. En die onus is tog nie op mý om hóm oor sy straatomhelsing uit te vra nie.”

“’n Mens gee nie net op nie, jy veg vir iets wat vir jou belangrik is.”

Ek gee nóóit op nie, Mimi, vra vir Abel Lotz, vra al daardie geweldenaars wat óf onder die kluite óf agter die tralies is. Maar hierdie geveg is op ’n vlak waar ek nie so gekonfyt is nie.

“Dis nou sewe-uur Sondagaand,” sê Ella. “Hy’t vier-en-dertig uur gehad om oor haar te praat. As hy dit genoem het, sou ek begin veg het, en jy ken my as ek begin veg – kyk na al my letsels. Hy praat van dringende besigheid met ’n kliënt, maar swyg oor ’n sexy, omhelsende rooikop. Hoe kan ek veg as ek nie weet of die uiteindelike prys die moeite werd is nie?”

Want wat gebeur nóg waarvan sy nie weet nie? Hoeveel ander ongesiene omhelsings was daar al? Of lê in die toekoms voor? En daardie kleresak, met sy spookbeelde van bedbesigheid?

Mimi swyg weer, asof sy nou eers haar woorde mooi wil kies. “Ek het ’n teorie, Ella, en ek wil dit toets, nie vanaand of in ons volgende sessie nie, maar as deurlopende tema. Want dit gaan ’n paar sessies vat, en dis belangrik dat ons dit uitpraat.”

“Wat uitpraat? Dink jy ek ly aan die een of ander Freudiaanse kompleks? Iets soos penis-afguns?”

“Miskien nie heeltemal só erg nie, maar daar’s ’n opstandigheid in jou aan’t gis. Teen die einste … uhm … penisdraers. Nie omdat jy die gebrek aan so ’n ding as ’n danige verlies ervaar nie, eerder omdat jy voel dat mans jou lewe beheer. Jy’s in ’n manlike beroep, jy’s elke dag omring deur mans, jy’s bekommerd oor jou pa, die moordenaars wat jy soek, is meestal mans, jy’s skepties oor ’n man se gevoelens vir jou. Maar ons sál jou gemoed regkry, glo my, al het ek nie onmiddellik al die antwoorde nie. Want ek’s ook net ’n soort speurder, wat soos jy saam na leidrade soek en geheime probeer ontrafel. En alles vat tyd. Maar ons sal die Lou Pepler-spook stuit voor dit jou lewe oorneem … die spook, nie die man nie. Met die man is daar waarskynlik nie veel verkeerd nie, die probleem is die spook.”

“En intussen, wat doen ek?”

“Intussen bly jy lief vir hom.”

“Al is hy dislojaal?”

“Moenie lojaliteit of dislojaliteit meet aan ’n toevallige omhelsing in ’n straat nie.”

Die dood van 'n goeie vrou

Подняться наверх