Читать книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten - Страница 7

2

Оглавление

Vanmôre klokslag sesuur was sy in die gim, al was die opstaan bra traag. Die Pink Flower se partytjies is legendaries – kry nie einde nie. Maar dis haar af naweek en hulle het Stallie se verjaardag in dié klub gaan vier. Kon nie nee sê nie. Selfs Lou het haar aangepor, gesê vanaand maak hulle op vir wat hulle laas nag gemis het.

Ná gim het sy kom stort, jogurt en muesli geëet, twee koppies koffie gedrink. En hier’s sy nou, haar ou self. Reg vir vanaand. Maar eers – in jeans en T-hemp, haar spiere tintelend, haar vel gloeiend – die heroïese soektog na die heilige graal: wilde sampioene by die organiese mark in Linden. Of as sy daar onsuksesvol is, by die groot mark in Bryanston. Die derde en laaste opsie is die Fungi Guru in Houghton Estate, sewe dae te perd.

Lou, connoisseur van swamme, sampioene, paddastoele, enige dêm makrofungus, het haar aangeraai om in Linden by Ramona Feiersinger se stalletjie te begin. Dis waar hy Saterdagoggende sy swamme gaan kry, vars van die Feiersingers se sampioenkwekery en plantasies by eMkhondo. Dreig juis om haar nog op ’n uitstappie soontoe te trakteer, haar te gaan leer hoe om in die gramadoelas na swamme te soek, die eetbares van die giftiges te onderskei, miskien selfs ’n swarttruffel of twee in ’n eikebos te gaan uitgrou.

Vanoggend is sy op haar eie, want nege-uur, wanneer die organiese mark oopmaak, slaan hy in ’n vierbal by die Kyalami Country Club af.

Sy idee van ontspanning: soek swamme en speel gholf. Vreemde man. Wel, nie meer heeltemal so vreemd nie, net ongewone eetgewoontes. Maar ai, kan hy met jou goël. Met jou lyf, jou hart, jou alles. Lou Pepler. Sy kan in stil oomblikke steeds nie haar geluk glo nie. Sy, die ongeluksvoël van die liefde, wat in sulke arms inloop. Heel laaste ding wat sy voorsien het ná hulle eerste paar ontmoetings destyds – dié was, ligweg gestel, rampspoedig. En baie ouer as sy. Boonop geskei! Sy was gewoond aan haar portuur, aan Bam, haar rugbyspeler, haar grootste liefde, was destyds al reg om saam met hom huis op te sit – tot sy hom met die blonde hokkiespeler betrap. En dít is wat haar eie diep letsel gelaat het, die een aan haar siel, die een wat steeds sukkel om te heel. Haar lyflike wonde, nalatenskap van haar skermutselings met lieplappers, skorriemorries en diverse barbare, almal ’n onafskeidelike deel van haar beroep – dié het herstel, min of meer. Hierdie ander een nie.

Halfnege klim sy in haar ou VW Golfie, vol skrape en duike en met SAVE THE RHINO teen die agterruit. Met ’n mandjie, want op haar lys vir markinkopies, hetsy in Linden, Bryanston of Houghton, is ook broodrolletjies, kruie, groente, eiers, rou gemmer, appels, pynappels en beet, baie beet. Want die vreemde, goëlende man drink nie soggens koffie, smiddae tee en saans wyn soos normale mense nie; nee, hy drink beetsap, van hy soggens sy oë oopmaak tot hy hulle saans toemaak.

Die steaks sal sy laaste gaan haal, daar by die slaghuis in Langstraat waar ou Putzi Heinkel gisteraand al Lou se filette in ’n geheime ou Pommerse marinade ingelê het.

’n Kok is sy nie, selfs nie eens koksmaat nie, maar sy het ’n ou Kook en Geniet, en wat Kook en Geniet nie weet nie, weet Mara, of die internet; hulle weet van álles.

Sy draai die sleutel. Die Golfie hoes, proes, vrek. Dêm.

’n Beretta kan sy toe-oë uitmekaarhaal, aanmekaarsit en die bull’s eye tien uit tien keer tref. Vir ander dinge is haar kop te klein. Soos vir beetsap en sampioene op ’n nugter maag, vir Afrika-tyd, vir Number One se gelieg en gegiggel wanneer almal om hom aan’t huil is. Veral vir die werking van ’n binnebrandenjin. Kan haar netsowel vra om E = mc² te verklaar.

Sy draai weer die sleutel, gee hom gas en hou asem op. Die aansitter hoes-hoes, proes-proes, skop dan in, en die enjin kry stotterend sy loop. Sy blaas haar asem uit.

Met beproefde swamme kan selfs sý nie verkeerd gaan nie – die romerige wit buttons, die crimini, die groter portobello’s, die porcini en morelle. Maar sy het ’n resep opgespoor vir ’n eksotiese gereg van gesoteerde wilde sampioene, met selfs ’n fênsie Franse naam: Sauté de Champignons Sauvages. Vra vars wilde sampioene van een kilo. Een kilo is ’n groot spul swamme. Die resep noem oesters vir hulle pepersmaak, vrugtige chanterelles, rokerige shiitakes, Kaapse russula, aangevul met boletusse, morelle, porcini, crimini; die grotes in kwarte gesny, die middelslag-outjies net gehalveer.

Sampioene en steaks, dis mos nou hemel – in Lou Pepler se boekie. En wilde swamme is nie goedkoop nie, kos ’n fortuin uit haar verhongerde spaarvarkie. Intussen is die Golfie op ’n drup, met óf aansitter óf battery kapot. Moet ook nog vir Lou ’n geskenk gaan soek. Oor drie weke is dit Kersfees, kan nie uitstel tot op die laaste oomblik wanneer die Krismiskopers jou vertrap nie. Hy skimp oor ’n gholfhemp – asof hy nie genoeg het nie, elkeen teen die prys van ’n opgeknapte Golfie-enjin.

Uit Beyers Naudé draai sy regs in Mendelssohn, kortpad na sy huis, om daar iewers te gaan parkeer. Van sy straat is dit ’n kort stap om die hoek na die mark in 4de Laan, en dáár is op ’n Saterdagoggend skaars parkeerplek vir ’n fiets.

Met die indraai in 9de Straat sien sy al die karre weerskante op die sypaadjies onder die jakarandas ingeryg, almal met dieselfde plan as sy. Sy kruie aan en kry ’n gaping so twintig tree van sy huis af. Dié is sommer ook hersoneer as kantore vir PEPLER & ROOS, INVESTIGATORS & SECURITY CONSULTANTS, aldus Lou en Willem se geelkoperbord teen die hoë wit muur.

Sy loer in die truspieëltjie of haar lippe nog kleur benodig, dep met ’n Kleenex aan die blink sweterigheid op haar neus en bolip, druk die snesie vlugtig onder die T-hemp en onder elke oksel in. ’n Bra vir haar skugtere boesem is veral op ’n warm af dag gelukkig heeltemal onnodig.

Sy druk die sonbril met ’n voorvinger terug op haar neus, kam die kuif van haar voorkop weg en reik na haar skouersak en mandjie om uit te klim. En verstyf.

Oor die bagasiebak van die kar langsaan merk sy beweging by Lou se voorhek – die stewige gedoente van ou jarra-dwarslêers gaan oop en laat ’n vrou uit, lenig in beige broek en wit bloes. Maar dis die hare wat haar oog vang. Glansend en golwend en vlammend, in hierdie skerp oggendson die kleur van rooibostee wat sterk getrek het.

Wie’s sy? Het sy vir Willem, die Roos-gedeelte van Pepler & Roos, kom besoek? Kan nie wees nie, want Willem is lid van vanoggend se vierbal en hulle maak al skouers los.

Op die lenige hakke verskyn nou ’n man. Ella loer oor haar sonbril se raam om seker te maak. Ja, hóm herken sy. Nóg ’n lid van die vierbal, en nié nou op Kyalami nie.

Die weledele heer Lourens J. Pepler vergesel die rooikop na haar kar, ’n hupse tweedeur-BMW. Ella gly op haar stuitjie af en loer oor die stuurwiel. ’n Peeping-dêm-Tom, dís hoe sy voel. Maar wag, sy moenie dat haar gedagtes met haar weghol nie, die vrou is net ’n kliënt, dis al. ’n Kliënt met dringende besigheid. Vir wie Lou bereid is om sy Saterdag-gholf op te offer.

En o so ’n jintelman, kyk net hoe maak hy nou haar deur vir haar oop.

Maar wat’s daar in sy hand, ’n sportsak? Hoekom nie ’n aktetas met dokumente vir dringende besigheid nie? Hoekom ’n kleresak, soos vir gim? Of vir oornag?

Hy sit die sak in die BMW, maar die vrou klim self nog nie in nie, hulle staan nog eers aan’t kekkel en lag. Oukei, daar lyk dit nou of sy aanstaltes begin maak.

Wat de hel? Aanstaltes met haar arms om sy nek, sy hand laag op haar rug, daar op haar tramp stamp!

Ella se oë is so stip, haar aandag so gefokus, dat sy amper vergeet om asem te haal. Snak dan en begin hik van verligting: geen gesoen nie, net die momentele vasdruk en die veeg van wange teen mekaar, soos die een of ander soort seksuele voorspel, miskien van die Inuïete. Nou klim die rooikop uiteindelik in en hy druk die deur toe. Maar daar buk hy waaragtig weer by haar oop venster vir nóg ’n laaste woord.

Ella voel die sweet opnuut teen haar ribbes afbiggel, weerskante, soos die koue pootjies van ’n duisend opstandige miere. Die BMW vertrek en hy draai om, terug by sy hek in.

Sy grou na ’n nuwe snesie.

Wat nou? Moet sy sy klok gaan druk, hom vra wie die omhelsende kliënt is?

Moenie laf wees nie. Vat jou mandjie en gaan mark toe, gaan soek die swamme, een of ander tyd sal daar wel goeie opklaring wees.

Sy aarsel, diep haar sel uit die sak op, gee sy naam ’n heftige tik met ’n duim. Maar stop dan die oproep nog voor dit begin lui. Sit met die sel op haar skoot, haar kop ’n tuimeldroër. En dis nie soos sy is nie, haar gedagtes is gewoonlik ordelik gestysel en gepars.

Sy pluk haar skouers terug. Boggher dit! Gryp die mandjie, klim uit. En koes weer weg toe sy motorhek oopgly en die groot wit SUV uitgery kom. So, nóú is meneer skielik op pad gholf toe, afslaantyd uitgestel vir sy belangrike kliënt. Met die rooi hare en laaistoklyf asof sy rondloop met ’n boek op die kop, een getiteld Hoe om ’n man af te vry in 3 maklike stappe.

Ella slinger die sak oor ’n skouer, haak die mandjie oor haar arm, stamp die Golfie se deur toe. En die dag het só goed begin – waar’s daai dêm lied in die hart nou?

Haar sel lui. Kan net hy wees, om alles op te klaar. Nee, dis nie Lou nie, dis Silas.

“Môre, kolonel. Mara jou uit die bed geskop?”

“Waar’s jy? Ry. Camdenstraat, Aucklandpark.”

“Kolonel, ek’s besig met inkopies, dis my áf –”

“’n Liggaam. Ek bel nou vir Crime Scene en Forensics, en vir dokter Koster. Kry jou netnou daar, maak net iets hier klaar, Mara is –”

“Kolonel?”

Stilte. Abrup en finaal. Het hy homself afgesny?

Sy maak weer die deur oop, smyt die mandjie en skouersak terug en klim in. Die enjin vat met die eerste draai van die sleutel. Maar sy laat haar nie só maklik bekonkel nie; dis tyd dat Doep die mechanic sy ghriesvingers diep in hierdie enjin inkry.

Die dood van 'n goeie vrou

Подняться наверх