Читать книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten - Страница 9

4

Оглавление

Die gordyne is nou heeltemal weggetrek, die glasmuur van skuifdeure heeltemal oop, die grense tussen binne en buite het verdwyn. In die sakkerige Tyvek-pak, mus en lateks-handskoene wag sy by die braaiplek op Jimmy se teken. Die son bak nou byna loodreg van bo en selfs hier in die skaduwee van die stoep is die oorpak warm en bedompig.

Haar oë sweef oor die wit figure van die forensiese ondersoekers, byna roerloos in hulle swyende, diepe konsentrasie, ’n byna dioramiese tablo: dié een staande by die muurrak, daardie een gebukkend oor die bank, nog een wat hurk, ’n ander een wat kniel.

Sy herken opeens die stem van die bejaarde forensiese patoloog en draai om na dok Koster wat groetend oor die grasperk aankom. Dok wat sê hy het omtrent veertig jaar terug al finaal besef dat simpatie met ’n dooie ’n ondankbare sentiment is, sonder enige betekenis. Wat sê sy werk is nie om vir slagoffers jammer te voel nie, maar om hulle op sy outopsietafel te oorreed om die geheime van hulle dood aan hom te verklap. Wat sê sý plig is om antwoorde te soek op die hoe, nie die wie en hoekom nie, want daai vrae en hulle ontwykende antwoorde is die speurder se baba – háre.

’n Stofsuier begin binne brom toe Dok die stoeptrappies steunend met ’n hand op ’n knie bestyg. Sy verlig hom van die verslete ou leertas met sy instrumente van die dood; sy toortas, noem hy dit, vol duiwelsdrek en dassiepis.

“A, warrant Neser, opgedollie vir ons Saterdagpaartie. Maar ek wou eintlik vandag ’n paar balle gaan rol het.” Wuif met sy hand. “Jy kon dit gerus eerder vir ’n weeksdag gereël het.”

“En ék was op pad groentemark toe,” sê sy en vat ook sy driepootklapstoel van seil. So byna asof hy reg is vir ’n lang kuier om ’n bosveldvuur; hy sê sy ou knieë kan dit nie meer hou, so hurkend en knielend om die dooies nie.

Hy haal sy bril af, poets die lense met ’n wit sakdoek en vee dan daarmee oor sy voorkop en bles en oor die ongehoorsame skaapwolletjies om sy ore. Hy begin sy oorpak aantrek, al geselsend.

“Sonder goedertierenheid, dié helse son, nè? Selfs my miere gooi vanoggend lang skaduwees.” Hy kyk rond. “Jou vreeslose leier nog nie hier nie?”

“Op pad, Dok.”

“Kom,” roep Jimmy, “ons is reg, dis julle beurt. En ons is besig met haar kantoor, gedog dis waar jy sal wil begin.”

“Dankie, Jimmy,” sê sy en tel Dok se tas en stoel op en volg hom by die woonvertrek in op die spesiale trapblokke wat die integriteit van die mat moet beskerm terwyl dit gestofsuig word vir spoorelemente en ander latente bewysmateriaal.

Binne steek sy vas en sit die tas en stoeltjie neer. Dis deel van haar persoonlike werkwyse, haar maniertjies, spot kollegas; sy sê sy beskou die vista. Sy hou daarvan om eers ’n oorhoofse indruk te kry van die toneel van ’n misdaad, vóór sy op die detail begin inzoem. Met die gordyne oop en in die lig van Forensies se skerp halogeenlampe is hierdie vista nou helder – ten minste helder verlig, die gewelddadige gebeure wat hulle hier afgespeel het steeds duister.

Die bedekte gedaante wek ’n beeld in haar kop van ’n vroom gelowige wat knielend met uitgestrekte arms op ’n bidmatjie salaam.

Met die skuifdeure oop is die stoep saam met die woonkamer en eetkamer en kombuis ’n groot oopplanarea. In die woongedeelte is die sentrale fokuspunt ’n groot rusbank met los kussings, gerig op die huisaltaar: die TV-skerm in die muurrak. Dis hier, kan sy haar voorstel, waar ’n eens gelukkige gesin saans saam gekuier het.

Weerskante van die bank vorm twee passende leunstoele ’n U. Die figuur lê in die middel van die U, met haar maag miskien op ’n lae koffietafel, arms uitgestrek na die TV-rak, voete na die rusbank, wit laken oor haar gedrapeer.

Op die rak is naas die TV verskeie ander elektroniese toestelle, ornamente, boeke, tydskrifte, ’n uitstalling van gesinsfoto’s, blou en pienk krismisrose aan’t verlep in ’n vaas.

Een van die sytafels langs die rusbank is met staanlig en al omgestamp, die lampie se draadjie gloei steeds. Langs die tafeltjie en staanlamp lê ook ’n soliede dekoratiewe glasbak in skakerings van vloeiende, vlammende rooi. Sy hurk by die bak en beskou ’n plastiekboksie en duimdrukkers, eintlik lang duimspykers, wat uitgestrooi lê. Dit kon uit die glasbak geval het toe die tafeltjie omgestamp is. Seshoekige koppe van geel plastiek met skerp naalde van amper twee sentimeter. Sy leun vorentoe. INDICATOR PINS, sê die boksie.

Sy kom orent. Dok en Jimmy is eenkant diep in gesprek – kan oor enigiets wees, van rolbal tot opera tot moord. Sy kyk af na die plooie van die voetsole voor haar, verskrompel asof dit lank in water was, en na die stuk materiaal waarmee die enkels aan mekaar vas is. Liggrys, miskien ’n das. Die kuite is geskeer en gerond, maar die askleur van die dood; die bobene en res van die liggaam is versluier.

Wat sou daardie homp op die rug wees – een van die strooikussings?

Op die bank lê ’n koerant, asof iemand daar sit en lees het voor die staanlamp omgeval het. Voor die bank is wollerige naaswit pantoffels uitgeskop, langs sandale van egte leer. Dit lyk asof die sandale met die hand gemaak en gepoleer is, en so met die oog gemeet dieselfde grootte as die pantoffels.

Sy tree op die trapblokke tot voor by die hande en hurk weer. Die polse is met ’n smal leerband vas. Sy loer om na die sandale, en terug na die gordel – lyk na dieselfde soort leer, gepoets tot dieselfde onewe patina, maar tog met ’n sekere eksentrieke, aardse bekoring. ’n Los gordel as aksent vir die heupe. Dis styf om haar dun polse vasgeknoop en die vel is gekneus, plek-plek rou geskuur. Sy het haarself vergeefs probeer bevry.

Die hande is purper van bloed wat weens swaartekrag uit die arms afgesak en daar versamel het nadat die hart ophou klop het; livor mortis, of postmortem-hipostase, noem Dok dié proses. Hy het haar al by vroeëre slagoffers geleer dat die kleur van hipostase ’n belangrike eerste leidraad is: pienkerig of rooierig beteken suurstofryke bloed; donker purper dui op bloed arm aan suurstof. Die verkleuring aan die rûe en boude van die Nagsluiper se eerste twee slagoffers was dieselfde diep purper – Abel Lotz het hulle destyds met sy kaal hande verwurg en hulle suurstof afgesny.

Is hierdie een ook verwurg? Maar selfs van hier laag by die hande kan sy steeds nie die keel of gesig sien nie, net die punte van ligte hare wat onder die laken uithang, hare met ligstrepe.

Ella leun vooroor na die arms en snuif, snuif weer: geurige seep en lyfroom. Nog geen doodsreuk nie, maar in die ingewande is bakterieë op hierdie oomblik reeds genadeloos besig met die aftakeling van die sagte weefsel.

Sy sit op haar hakke terug, oë stip op die hande, goed versorg, sonder ringe en horlosie. Maar aan die regterhand het die laklose naels van die wys- en middelvinger elk ’n skeurtjie, en ’n hoek van die nael van die linkerwysvinger is heeltemal afgeskeur. Sy het haarself teengesit, voor of nadat haar arms vasgebind is. Sy het om haar lewe geveg, en verloor.

Dok slaan sy seilstoeltjie by die voete oop en begin eers albei kuite betas. Dan sukkel hy om die das om die enkels los te knoop en sy vat dit by hom. Dis van satyn of sy en nie ’n das nie. Een van die forensiese ondersoekers sit dit in ’n bewyssak en nommer die sak.

Sy staan gebukkend agter Dok en kyk hoe hy elke enkel heen en weer draai.

“Rigor mortis in haar onderbene en voete is nog nie volledig nie,” sê hy. “Die enkels is premortem vasgebind. En wat beteken die livor mortis hier aan die skene en voete en die pers tone, warrant?”

Sy word soos ’n skoolkind geleer, maar sy gee nie om nie, geniet dit, is van nature leergierig; ’n regte orige agie, het haar ma haar kleintyd verwyt.

Die versamel van bloed in haar bene en voete sê sy is in hierdie posisie dood, of is kort ná haar dood so opgestel. Die gebrek aan styfheid van die voete beteken sy is minder as twaalf ure dood. En sy het die skuurmerke en bloeding aan haar vel opgedoen terwyl sy nog geleef het, want dooie mense bloei nie.

“Maar hoekom haar so poseer?” vra Ella.

“Dit sal ons weldra weet, indien nie vandag nie, dan met die outopsie.”

“Haar naam is Clara Heyns,” sê Ella.

Onder haar op die driepootstoeltjie knik die besproete bles. “Ja, dis wat Jimmy ook vermoed. Maar die gesig is nog ongesien, haar identiteit nog nie amptelik geverifieer nie.” Hy snuif. “Ruik jy dit ook? Sy’t gebad of gestort.”

“Ja, sy was reg vir bed.”

“Jimmy sê hulle kry g’n teken van inbraak nie, selfs die skuifdeur se knip is ongeskonde. Dis oopgemaak, nie oopgedwing nie.”

“Sy’t al haar naelpolitoer verwyder, haar beenhare geskeer, gebad, nagroom aangevryf, nagklere aangetrek … en toe iemand in haar huis ingelaat. Maak dit sin?”

“Nagklere?” vra hy. “Wat sien jy wat ek nie sien nie?”

“Haar enkels. Dit was vasgebind met die seintuur van ’n kamerjapon, ek wed uit ’n eksotiese boetiek in Sandton.”

“Hoekom ’n kamerjas as sy bed toe wou gaan?”

“Miskien oorgegooi vir die onverwagte gas.”

“Of lover.” Hy staan op, vat sy stoel na die lyk se voorkant en sê: “Pepler, nè? Dis mos jóú nuwe lover? Gawe kêrel, hoop nie jy laat hom ook deur jou vingers glip nie.”

Ook? Sy wens daar wás ander. En wie het sy nogal deur haar vingers laat glip? Niemand nie, hulle doen sélf die dêm glipwerk. Soos Bam destyds met daardie blonde bimbo. Nou die gawe Pepler met ’n rooikop-sirene.

Maar sy swyg, dis nie die tyd of plek vir lovers nie. By die muurrak gaan beskou sy die foto’s. Man, vrou en twee jong seuns, ’n gelukkige en mooi gesin. Die twee seuns baljaar in die swembad met ’n hond. Spanjoel. Waar’s die hond? ’n Foto van die vrou alleen, waarskynlik impromptu met ’n selfoon geneem. Laggende Clara Heyns met sonbril en bikini-bostuk. Nog een van haar, dié een geposeer saam met haar seuns. Mooi vrou, Ella skat haar so veertig.

Dan meneer Heyns, ook die ene tande, met veldhoed, kakieklere en geweer knielend by ’n koedoebul. Sou dit dié koedoe se skedel teen die stoepmuur wees? As meneer Heyns dit geniet om dood te maak, is dit seker ook hý wat die springbok afgemaai en verneder het tot stoepmat waaraan hy sy voete kan afvee.

“Ella!” Dok se stem. “Kom, laat ons sien of dit mevrou Heyns is. En ek’s nuuskierig oor hierdie boggel op haar rug. Jimmy, waar’s jou fotograwe?”

Hulle kom neem stelling in, een met stilkamera, een met video.

Van voor by die kop dirigeer Dok: “Oukei, Ella, gaan vat die laken daar by die bene. Ons lig dit saam op. En stadig, g’n afplukkery wat iets kan versteur nie. En, Jimmy, laat een van jou manne die laken sommer dadelik in ’n bewyssak sit sodat dit vir DNS getoets kan word. Een, twee, drie.”

’n Sagte, effe bedompige aromatiese damp ontsnap van onder die laken.

Ella staan verstyf en staar.

“Wat de hel!” sê Dok.

Almal kom orent van waarmee hulle ook al besig is en draai na die figuur.

Die boggel is nie van ’n kussing nie, dis van vere – die wit vere van twee groot vlerke wat dreig om oop te gaan, asof Clara Heyns op die punt is om weg te vlieg uit haar knielende posisie. So half toegevou, skat Ella, is elke vlerk maklik ’n meter en ’n half van skouer tot punt.

“Wat is sy?” vra Dok, dié slag eerder vir homself. “’n Voël, ’n engel? Tinker Bell?”

Sonder die laken raak alles nou duideliker. Sy lê met haar maag en borskas op ’n lae, gestoffeerde voetstoel oorgetrek in sagte bruin leer. En onder die vlerke is sy inderdaad in ’n lang liggrys satynjapon.

Ella kyk na die kop wat voor tussen uitgestrekte arms van die voetstoel hang, die hare liggoud soos kanolaheuning met ligter strepe en ’n effense karteling. Die gesig kan sy steeds nie sien nie. Oor die skouers is die wit nylonbande van die vlerkharnas, baie soos die verstelbare skouerbande van ’n rugsak. Die vlerke lyk eg, maar sy vermoed die vere is van sintetiese materiaal, nes syblomme.

Dok buk oor die figuur se kop, sy vingers tussen die hare in asof hy haar kopvel masseer.

“’n Knop hier agter die oor. Die vel is gebreek, net ligte bloeding. Sy’t ’n hou gekry, maar ek twyfel of dit noodlottig was, of selfs konkussie kon veroorsaak het. Miskien net bietjie duiseligheid.”

Ella loer na die glasbak. Geen skerp kante nie, maar swaar. Miskien kry Forensies van haar hare en bloed aan die bak.

Dok het nou sy handpalms weerskante om haar ore, asof hy nie wil hê sy moet hoor wat oor haar gesê word nie.

“Nek het reeds verstyf,” sê hy dan.

Ella weet die proses van rigor mortis begin altyd bo.

“Het sy oorringe aan, Dok? Miskien ’n hangertjie?”

“Nee, g’n juwele nie.” Hy lig die hare weg. “Net die serp, baie styf. Lyk na verwurging, maar ek los dit vir die outopsie. Wat sê dit vir jou?”

“Dit verklaar die donker livor mortis, sy’s met haar eie serp verwurg. Ons weet dus hoe sy dood is, en ons het die moordwapen.”

“Jy maak vinnige afleidings, warrant. En jy weet ek werk met feite, nie afleidings nie. Weet jy dit, of weet jy dit nie?”

“Ek weet dit, Dok.”

Sy hande is by die vlerke doenig. “Pleks van bene het háár vlerke rame van draad wat met kunsvere bedek is. Die draad gee veerkrag en keer dat die vlerke platval. Dis deel van die illusie van sulke kostuumvlerke, moet lyk of dit wil oopgaan vir vlug.”

“Het sy en haar nagtelike gas konsert gehou, sommer so in haar nagkabaai?”

“Dit lyk my ek gaan –”

“A, warrant Neser!” bars dit skielik agter hulle uit. “Herken jou amper nie. Watse onheil beplan jy en Dok so skelm?”

Sy swaai om. “Kolonel, jy bekruip mens.”

Hy is te laat vir ’n Tyvek-pak, in ou jeans en kakiehemp, albei met blou verf besmeer, ook blou spatsels aan ’n wang, sy kake kouend, ongetwyfeld aan ’n Nicorette-kougom in sy ewigdurende stryd om op te hou rook. Hy het darem lateks-handskoene aan.

“Ella, hoor ek jou gevierde leier?” vra Dok sonder opkyk. “Uiteindelik besluit om ons te kom vergas met sy teenwoordigheid.”

“Sy’t vlerke!” sê die kolonel verbaas. “Wat beteken dit?”

“Goeie vraag,” brom Dok en kry sukkelend die leerbelt om die polse los. “Goed, nou eers die vlerke afkry voor ons haar van die voetstoel kan afhaal.”

Hy klik eers die een, dan die ander skouerband los en probeer die vlerke loswikkel.

Ella sak op haar hurke langs die voetbankie. “Wag, dis ook om haar middel vas. Lig haar effe op.”

Dok en die kolonel lig en sy vroetel tot sy die knip onder die maag kry, klik dit los en kom orent. Hulle lig die vlerke op en een van Jimmy se manne vat dit om te laat prosesseer.

“Goed,” sê Dok, “nou kan ons haar afkry. Jimmy, jy en Silas spog mos graag met julle spiere, julle vat by die skouers, ek en Ella by die bene. Ons draai haar om, op haar rug op die mat.”

Hulle lê haar neer, Dok vee die hare uit haar gesig en Ella gryp na haar mond, ’n onwillekeurige gebaar, soos ook die rukking in haar maag.

“Blienkieng hel …” grom die kolonel, nie gewoonlik geneig tot sterk taal nie.

Die res kyk in stilte toe, die twee fotograwe reeds met hulle kameras op die gesig ingezoem. Veral op die seskantige geel koppe van die lang duimspykers wat in elke oog ingedruk is, haar wange blink van drooggeworde glasvog wat uit haar oë gelek het voor sy kop onderstebo oor die voetstoel gedrapeer is.

Die dood van 'n goeie vrou

Подняться наверх