Читать книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten - Страница 21

1

Оглавление

Woensdagoggend lê hy en Kandas nog skuins toe sy foon lui.

Ella! En met die gryp na sy sel waai die waterglas van die bedkas af.

Nee, Lente: “Lou, is jy wakker? Luister hierna, raai wat dit is …”

Hy kan ’n geraas hoor. “Is dit branders, is jy op ’n vroeë stappie op ’n strand? Van wanneer af is jy ’n oggendmens … Sorry, nie my saak nie.”

Haar laggie is so ’n halfonderdrukte bronstigheid uit haar maag uit. Hy onthou dit en hou daarvan, dis lekker om dit weer te hoor; die laaste jare van hulle huwelik was lagloos. Aan Ella se skater is niks gesmoords nie, en dis aansteeklik soos ’n airborne virus, het hy al gespot – wanneer sy lag, loop wildvreemdes binne hoorafstand skielik met simpel grynse.

“Het jy my SMS gekry?” vra sy. “Ek bel net om weer dankie te sê vir Vrydagaand. Amper soos in die ou tyd, nè? Ek bedoel voor –”

“Ek’s bly jy’t veilig daar aangekom, hoop die son en see maak jou kop skoon. Laat weet wanneer jy terugkom.”

Ella is seker al terug van die gim. Hy stuur vir haar ’n SMS: Ek het toe maar WEER alleen geëet. Bel my.

Agtuur bel sy: “Jy soek my? Hoekom?”

Net so. Hoekom? Blerrie hel. Sy’s tense en oorwerk en onderslaap en haal dit nou op hom uit.

“Hoe vorder jou ondersoek?”

“Vorder nog nie eintlik nie.”

“Jy’s skaars. Ek hoor en sien niks van jou nie.”

“Ek hol rond. Moet regmaak vir die oggendbiduur, praat later.”

En hy wil haar net help ontspan, haar liefde gee, haar las help dra. Maar sy dink mos sy’s sterk, dink mos omdat sy in ’n manswêreld werk, moet sy ook borshare wys. Hy sê nee, jy’t nie nodig om dit te doen nie, jy’t aanleg vir speurwerk, ’n intuïtiewe aanvoeling; hulle is die brawn, jy die brein.

Goed, hy gee haar nog ’n dag of twee met die Heyns-saak, dan gaan druk hy haar in ’n hoek vas. Kak aan ’n wolkombers. Dis hy, dis hoe Lou Pepler is – ás sy dit nog nie agtergekom het nie. So maklik laat hy hom nie afsit nie. Oor sy dooie liggaam gaan hy haar ook verloor soos hy Lente destyds verloor het.

Wag, dalk nie heeltemal so ’n gepaste metafoor nie, want hy hét haar amper oor sy eie dooie liggaam verloor, nog voor hy haar behoorlik gehad het. Sy – skamel en lenig en ’n liggewig (sou sy in ’n bokskryt klim) – kom red hom, die lummel van honderd-en-tien kilo’s (darem meer spiere as vet). En red hom net betyds van ’n klomp helsems wat van plan was om hom in ’n karwrak tot skroot saam te pers en uit te voer China toe vir die maak van visblikke.

Uit dankbaarheid het hy haar Coppélia toe gevat, in haar nuwe aandrok waardeur jy haar ribbes kon tel, onder meer. Die res is geskiedenis waaroor ’n fatsoenlike man nie uitpraat nie.

Dus plein en reguit en onomwonde: Ella Neser, jy’t my van die dood gered, nou sit jy met my, nou’s ek jou verantwoordelikheid, jy kan my nie net ignoreer of verstoot nie, dit werk nie so nie.

Die dood van 'n goeie vrou

Подняться наверх