Читать книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten - Страница 19

5

Оглавление

Tom Heyns kom omtrent halfses eers by haar afskorting aangeslenter, toe sy haar aand se drawwery al lankal afgeskryf het. Hy het ’n metgesel. So, hy’t toe besluit om tog sy geleerde vriend saam te bring. Nie ’n goeie besluit nie; tussen haar en prokureurs was daar al menige bloedlatings in howe – sý sukkel om die skurk aan te keer, hý probeer die skurk loskry.

Haar plan was ’n simpatieke gesprek, veral omdat Tom Heyns pas die oggend sy vrou moes gaan uitken. Sommer ’n informele geselsie hier by haar lessenaar, slaan die bal bietjie heen en weer oor koffie, klaar ’n paar sakies uit, maak ’n paar aantekeninge. Hoekom moet ’n dêm prokureur sy hand kom vashou?

Hy stel hulle voor. Zimmerman het ’n swart pinkiering, rooi sydas, blink skoene, pap groethand, en trek sy neus op ’n plooi of hy iets slegs in haar hok ruik.

Sy gradeer die gesprek op tot formele onderhoud. Laat haar nie meer intimideer nie. Deur niemand nie. As dit hulle plan was, gladdejan en gladdebek … wel, hulle moer.

Sy druk haar sel, notaboek en tablet in haar sak, gryp haar Clara Heyns-werkslêer, tel die boks van haar lessenaar op. Dis nie swaar nie, net ongemaklik, maar nóg bruingebrande Heyns nóg uitgevrete Zimmerman bied hulp aan.

Sy stap eerste by die onderhoudkamer in.

“Baie offisieel, nè?” sê Zimmerman.

“Jy weet tog, meneer Zimmerman, met ’n regsverteenwoordiger by is alles offisieel.” En aan Heyns: “Jou regsman het seker die prosedure verduidelik, maar net sodat daar nie misverstande is nie: offisieel beteken alles wat hier gesê word, word opgeneem en vorm deel van die amptelike ondersoekdossier en kan in ’n hofsaak gebruik word. Jy’s nie ’n verdagte nie, die doel is bloot om met die ondersoek te help.”

“Is die outopsie afgehandel?” vra Zimmerman.

Elke keer as hy sy mond oopmaak, krap dit aan haar soos naels oor ’n swartbord. Sy rig haar weer tot Heyns: “’n Laaste punt van protokol. Ek praat met jou, nie met jou regsverteenwoordiger nie. Hy kan jou adviseer, maar jy antwoord.”

Sy sien Heyns se blik na Zimmerman, sien Zimmerman se grimmige lippe, sien sy skouerophaling wat sê: Gee haar tog maar haar sin, fokken cops kan tog so petty wees, veral dié met ’n agterstand, jy weet, dié sonder borshare en balls.

Ella skakel die oudiovisuele opname aan en stel elkeen vir die rekord voor, met tyd, datum en plek.

“Is die outopsie afgehandel?” vra Heyns toe sy na hom opkyk.

“Ja, gister, en ek was as ondersoekbeampte teenwoordig. Jou volgende vraag, raai ek, is oor hoe sy dood is. Dit kan ek nie beantwoord nie, dit vorm deel van dokter Koster se regsgeneeskundige verslag. En hy wag nog vir die uitslae van biologiese en ander forensiese toetse. Dit kan nog ’n tyd duur.”

“Die koerante sê sy’s vermoedelik verwurg.”

“Ek kan nie namens koerante praat nie.”

“Maar is hulle reg?”

“Ek kan nie oor die oorsaak van haar dood bespiegel nie, dokter Koster sal die bevindinge in sy verslag hanteer.”

“Jy’t gesê jy sal –”

“Wat ek Saterdagaand gesê het, is dat ons ná die outopsie sal weet hoe sy dood is. Ek was onder die indruk dat ek en jy privaat gaan gesels om mekaar te help om jou vrou se moordenaar op te spoor. Jy’t verkies om hóm saam te bring. Dit kompliseer dinge, dit verander die trant van ons gesprek. Dus, my formele antwoord op jou formele vraag is: Uit die voorlopige bevindinge van die outopsie blyk dit dat jou vrou aan onnatuurlike oorsake dood is. ’n Wond of wonde is gekry wat noodlottig kon gewees het. Dit lyk nie of die wonde selftoegedien is nie. Maar ek’s nie ’n kenner van sulke wonde nie, dokter Koster wel, en hy sal alle wonde volledig in sy verslag behandel. Haar dood lyk ook nie na ’n ongeluk of wat genoem word ‘an act of God’ nie. Dus ja, ons ondersoek die moontlikheid dat jou vrou vermoor is.”

Hulle konsulteer weer met koppe bymekaar, en Heyns sê: “Dis die vierde dag van die ondersoek, volg julle al enige leidrade op?”

“Ons hét sekere leidrade gekry, maar die ondersoek is vertroulik. Nog vrae, voor ék ’n beurt vir vrae kry?”

Zimmerman los die pretensies. “Wat van verdagtes?”

“Wat daarvan, wat’s die vraag?”

“Het julle al ’n verdagte geïdentifiseer? Dink julle daar was meer as een?”

“Ek kan my nie oor die verloop van die ondersoek uitlaat nie.”

“Help my, adjudantoffisier Neser,” sê Heyns. “Off the record, dan. Alles is so onseker. My seuns wil weet wat met hulle ma gebeur het. Haar ouers vra my uit. Almal wonder hoe sy dood is, en waarom, of dit inbrekers is. Maar inbrekers skiet en steek mos, hulle verwurg nie?”

“Ek sou jou graag wou help, meneer Heyns, die hele tragiese besigheid openhartig met jou wou bespreek. Maar hier sit jou regsverteenwoordiger, en ek moet my woorde mooi tel, hy kan later groot probleme vir my veroorsaak as ek nie by protokol hou nie. Kyk hoe skryf hy daar – sien wat ek bedoel?”

“Kan jy ten minste sê of sy gely het?”

Sy skud haar kop. “Jammer, ek weet nie, ek’s nie ’n dokter nie.”

“Laat sy vra,” brom Zimmerman.

“Meneer Heyns, ek het jou gevra om te gaan dink of jou vrou moontlike vyande het, iemand wat haar om die een of ander rede sou wou seermaak.”

“Nee, daar’s niemand nie. Almal was lief vir haar, sy’t uit haar pad gegaan om mense te help. Sy was ’n goeie vrou.”

“Het julle ’n huishulp?”

“Ja, Pula werk van Maandae tot Vrydae, kom met ’n taxi uit Soweto. Werk al tien, elf jaar vir ons. Min of meer van Tommy se geboorte af.” Heyns snuif en vee oor sy oë.

Haar hart wil-wil vermurwe. Sy kan nie eens probeer dink hoe daardie ontmoeting met sy seuns Sondag verloop het nie.

“’n Tuinier?”

“Elias kom Vrydae in, skoffel bietjie, hark bietjie, vee die stoepe. In die somer kry ons ook tuindienste.”

“Pula en Elias loop nie, sover jy weet, met enige wrokke teen jou vrou nie? Jy weet mos, lees dit in koerante, dat inbrekers soms huis- en tuinwerkers as medepligtiges werf.”

“’n Inside job? Nee, nie Pula nie, sy’s deel van ons gesin. En Elias is omtrent sewentig, ons persoonlike welsyngeval; Clara kry dit nie oor haar hart om hom te laat gaan nie.”

“Dalk het jou prokureur jou ook ingelig: in súlke gevalle fokus ons gewoonlik eers op eggenotes. Nie omdat ek jou verdink nie, net om jou gou as verdagte uit te skakel. Ek dink ek het met ons eerste ontmoeting in dié koers gepraat, maar nou’s dit meer amptelik: Het jy rede om jou vrou van ’n onbehoorlike vriendskap te verdink?”

“’n Skelm affair?”

“So iets, ja.”

Is ’n affair nie per definisie skelm nie? Nee, seker nie. Sy en Lou Pepler het tog ’n openlike affair.

Heyns is driftig. “Néé, sy’s nie so nie.” Oorgeskakel tot snelrat, laat borrel hy alles in die teenwoordige tyd uit. “Sy’s ’n eerbare vrou, ons kinders en ons huis beteken áls vir haar. En ek.”

“Hoe weet jy? Hoe weet jy met wie sy almal bevriend is, wie sy almal sien wanneer jy op safari is, of wildberade bywoon?”

Intense konsultasie met fluisterstemme.

Sy laat hulle begaan. As die Eloffs reg vermoed, het Tom Heyns en sy Duitse finansier ’n affair. Maar het Clara ook een gehad, en met wie? Sy blaai in haar lêer.

Heyns kug. “Ek was vroeër getroud, maar het nie kinders uit daai huwelik nie. Ek was jonk en onverantwoordelik. Toe ontmoet ek vir Clara. Sy raak swanger. En ek het besef dis ware liefde. ’n Maand ná my egskeiding is ons getroud.”

Gaaf dat hy dit beken, gee hom ’n regmerkie.

“Het jy Clara ook verneuk, meneer Heyns, soos jy jou eerste vrou met Clara gekul het?”

Oë afgewend, langs hom Zimmerman soos ’n baber met ’n vishoek in die bek.

“Nee,” sê Tom Heyns.

Verkeerdmerk.

“Sy was nie in die pad van ’n nuwe romanse nie?”

“Néé. Ek het haar nie verneuk nie en haar ook nie doodgemaak nie!”

Tweede kruis. The lady doth protest too much, methinks. En sy haal ’n plastieksak met amptelike plakkers en saak- en bewysstuknommers uit die boks, skuif dit na Heyns oor.

“Herken jy dit?”

Hy lig die sak op, bekyk die inhoud. “Ja, ek het dit vir haar gekoop.”

“Vir die rekord, wat is dit?”

“’n Serp.”

“Kan jy meer spesifiek wees?”

“Hermès. Silk Twill Carré uit Lyon, om presies te wees. Ek dink die oorwegende kleur word koraal genoem.”

“Dankie. Wanneer het jy jou vrou laas lewend gesien?”

“Vrydagmiddag in die etensuur.”

“Het sy toe die serp aangehad?”

“Ja.”

Sy haal ’n ziploc-sak uit. “Herken jy dié?”

“Ja, dis haar leerbelt, sy’t dit ook Vrydag aangehad.”

Sy haal die derde sak uit. “Die laaste een, vir eers.”

Hy lyk onseker, bestudeer dit van alle kante, sê: “Haar kamerjas, die satyn-een, lyk soos sy belt.”

Sy sit die serp, leergordel en seintuur in die kartondoos terug en kyk hom reguit in die oë: “Ook vir die rekord: Meneer Heyns, het jy iets te doen met die dood van jou vrou? Direk … óf indirek, gegewe jou alibi op die moordnag?”

“Néé.” Lyk dan onseker of hy reg gehoor het. “Wat bedoel jy met indirek?”

“Het jy iemand gestuur of gehuur om jou vrou kwaad aan te doen, seer te maak, of haar lewe te neem?”

“Nee!”

Zimmerman stamp sy stoel terug. “Kom, Tom, die onderhoud is verby, dis genoeg van haar skimpe.”

“Wanneer is die begrafnis?” vra sy.

Heyns steek by die deur vas. “Môre. Hoekom?”

Sy haal haar skouers op. “Ek wil dit graag bywoon – onopsigtelik natuurlik, uit julle pad uit.” Sy staan ook op, maak haar dokumente bymekaar. “Ek wou nog jou toestemming vra vir jou jongste selfoonstaat.”

“Dis vertroulik,” sê Zimmerman, sy arm beskermend om Heyns se skouer.

“Dan kry ons ’n lasbrief.”

“Op grond van?” vra Zimmerman.

“Suspisie van medepligtigheid aan die dood van Clara Heyns.”

“Jissus, warrant, medepligtigheid? Waarvan praat jy?”

Sy wend haar tot Heyns. “Het jy ’n nuwe vennoot in Simba Africa Safaris – dis mos jou jagsafari-onderneming, is dit nie?”

“Kom!” sê Zimmerman.

Sy los hulle. Haar en Tom Heyns se geselsies is nog lank nie verby nie, met of sonder Zimmerman. Wou net ’n laaste saadjie saai, nie al haar troewe te vroeg uitpak nie. Tess Waldeck sal die onderwerp wees van ’n lang opvolggesprek. Ook die vlerke; Jimmy-hulle is nog besig met forensiese toetse, dit vat lank om elk van die sowat 500 sintetiese vere vir vingerafdrukke en DNS te toets.

Sy het nie ses onderskeidings in matriek gehad of haar graad gecum nie, maar sy dink nie sy is heeltemal onnosel nie. Haar common sense-kwosiënt – vergeet nou maar eers van haar IK – kan dalk op Mensa-vlak wees, hoor sy wanneer haar kollegas op kantoor haar sesde sintuig bespreek. Stallie sweer byvoorbeeld dat haar verfynde aanvoeling inderdaad al psigiese proporsies begin bereik het. Maar dis net gesonde verstand, en common sense sê speurwerk kom neer op drie dinge: wat jy dink, wat jy weet, wat jy kan bewys. En sonder die bewys-een beteken die eerste twee niks nie.

Kry dus die bewysbare feite vir die Wie, Wat, Waar, Hoe, Hoekom.

Geen feitlike antwoorde op enige van dié vrae nie, geen hoop op ’n rekonstruksie van die daad nie; geen rekonstruksie nie, geen hoop op ’n oplossing nie, klap maar die lêer toe, smyt die dossier in die hoek in, wag vir die stof. Nóg ’n koue saak.

En koue sake háát sy soos die pes. ’n Dossier vol stof pluk al die ou gesegdes uit: Jy’t gaan lê, jy’t die handdoek ingegooi, jy’t harpuis geruik, jy’s bloedneus gemoer, jy’s ore aangesit. Al manier om dit te verhoed is om jou agterent van die stoel af op te lig en te gaan voetwerk doen, want al die antwoorde wag daar buite – gaan soek hulle, moenie hoop hulle kom vanself na jou toe aan nie. Gaan soek, snuffel, grou. Soos sy by Silas Sauls geleer het.

Begin by die mitiese driehoek van die liefde:

TOM HEYNS. Die aantreklike, fornikerende getroude man. Jagter van wild en vroue. Met ’n nuwe vennoot. Met wie hy ook in die bed kuier. Of nie. Kenner van vuurwapens. Is verwurging en ’n spel met vlerke net ’n afleier, of ’n misleier? Is duimspykers in oë simbolies – sy mag nie sien waarmee ek besig is nie?

CLARA HEYNS. Die arme dooie vrou. Verwurg. ’n Baie persoonlike daad, nie op ’n onbetrokke afstand platgetrek soos ’n bok nie. Haar moordenaar kyk sy slagoffer as’t ware in die oog, voel as’t ware in sy vingers en palms hoe die lewe haar verlaat. Maar dis nie genoeg nie. Hy moet ook haar weerlose liggaam aan sy onheilspellende speletjies onderwerp.

TESS WALDECK. Die ryk Duitser wat geld aan Tom Heyns voorskiet en sy liefde vir jag deel, en dalk ook sy bed. Wat die finansiering van sy besighede by Clara oorneem. Wat hom op jagsafari’s vergesel. Sien hulle ook ’n persoonlike toekoms vir hulle saam? Of is dit ’n blote saketransaksie sonder sinistere motiewe?

Maar wat van Adam Jonker? Hy’s nie deel van ’n driehoek nie, maar hy teken sketse van ’n vrou met ’n tou om die nek en vlerke op die rug. Die vraag is: Wánneer het hy dit geteken? Is dit toevallig? As dit al ’n paar jaar terug is, sal dit moeilik met Clara se dood verbind kan word. Meer onlangs? Wel, dit open baie nuwe moontlikhede. Daardie sketse sal sy onder oë moet kry, ook weer vir Adam Jonker.

Die dood van 'n goeie vrou

Подняться наверх