Читать книгу Anderman se vrou - Chris Karsten - Страница 10

DIE ONDERHOUD

Оглавление

Saterdag 6 September 2008

“Wat kom soek ek spesifiék hier in Kanada? Ek’s ’n amateur-lepidopteris, ek kom kyk na julle skoenlappers.” Ek loer van sersant Doucette na korporaal Young, terug na Doucette, en lees ongeloof op albei gesigte. Of skeptisisme. Wat is die verskil? Of onbegrip.

“Skoenlappers?” sê Doucette. Kon net sowel wees: Pterodaktiele?

“Ja, spesifiék bloues. Byvoorbeeld Celastrina ladon, al is hy in die westelike dele van Kanada eerder persblou. Baie ou spesie, Cramer het hom in 1780 al spesifiék beskryf … monumentale werk wat hy gedoen het, Lambertz het –”

“Die Popes, is hulle ook lepi- … skoenlapperkykers?” onderbreek Sarah Young my ongeskik.

“Nee. Sover ek weet het Simon … het doktor Pope nooit enige ander belangstellings gehad as die neurofarmakologie nie. Sy vakgebied. Die wetenskap wat hom besig hou met die chemiese, fisiologiese, terapeutiese en selfs sielkundige uitwerking van genees- en dwelmmiddels op lewende organismes. In sy geval, spesifiék op die menslike brein.” Sy eintlike belangstelling was om mense te laat martel, maar dit sê ek nie.

“Wat van mevrou Pope?” Steeds korporaal Young, skynbaar behep met ’n gewaande vriendskap tussen my en mevrou Pope.

“Ek het die afgelope week ontdek dat sy ’n entoesiastiese amateur-ornitoloog is. Sy hou van voëls.”

“Het Nova Scotia blou skoenlappers?” wil Doucette weet.

“O ja, sowel die genoemde Spring Azure as Summer Azure kom byvoorbeeld hier voor, veral by Kejimkujik.”

“Was jy daar, by Keji?” vra Sarah Young, lig haar wenkbroue, klink beïndruk, ondanks die waterige ogies.

“Ja, ek het albei spesies daar afgeneem. Wil jy sien?”

Sy skud haar kop, bekyk haar kortgeknipte laklose naels, kyk op. “Was mevrou Pope saam met jou Keji toe?”

Dit begin al hoe duideliker word dat ’n bepaalde gedagte soos ’n kwaadaardige gewas in Sarah Young se agterkop posgevat het. Oor my en Rachel, dat ons “iets aan die gang” het. En as ek begin lieg of bontpraat, gaan dit haar suspisies net versterk. “Ja, sy wou voëls kyk terwyl ek blou vlinders soek.”

“Is jy getroud, meneer Kellerman?”

Ek loer onderlangs na Doucette, dié sit agteroor, momenteel net ’n belangstellende toehoorder, vrye teuels aan sy kollega om in te zoem op my hernome vriendskap met Rachel Pope, spesifiek op my band met ’n ander man se vrou. Waarskynlik vol hoop dat hierdie koers van die ondervraging hulle sal help om die ware motief uitgepluis te kry vir die oënskynlik noodlottige gebeure rondom Simon Pope.

“Van bed en tafel geskei,” sê ek. ’n Antwoord wat natuurlik kos is vir Sarah Young se groeiende gewas.

“Oor ’n derde party?” vra sy skaamteloos.

Ek staar na haar. “Presies wat het intieme besonderhede van my mislukte huwelik van jare terug met die huidige gebeure rondom doktor Pope te doen?”

“Dis mos wat ons probeer uitpluis,” sê Doucette. “Die korporaal wil weet of jy ’n skelmpie gehad het, of dit die rede is hoekom jou vrou jou gelos het?”

G’n subtiliteit meer aan al hierdie insinuasies nie. Maar my kriewelrigheid is nie soseer oor haar gekarring oor my en Rachel nie, eerder omdat die uitvraery naderkom aan Bon Accord. En wat dáár gebeur het, die navorsing wat ons destyds in daai laboratorium gedoen het, is bedoel vir die doofpot. Veral die gebeure rondom Portis en die Bonteheuwel-vyf wil ek allermins hier aan Kanadese speurders probeer verduidelik.

“Julle wil weet of mevrou Pope dalk die rede is hoekom ek en my vrou uitmekaar is? Nee, sy is nie. Ek en doktor Pope was ’n klompie jare kollegas en soos alle kollegas het ons en ons vrouens soms saamgekuier. Maar daar was nooit enige onbehoorlikhede nie.”

Doucette sit regop. “Julle was kollegas?”

“In ’n patologielaboratorium. My vakgebied is virologie. Wás virologie. Lankal afgetree, nou voltyds skoenlapperboer.”

Oor wat tussen my en Mira skeefgeloop het, het Sarah Young nie die vaagste benul nie. Skelmpies mag die oorsaak van baie huismoleste wees, maar nie in ons huis nie, daar was alles so ingewikkeld as die liefde self. Dít was die gevolgtrekking waartoe ek gekom het nadat Mira my gelos het. En ek bepeins dit steeds, op daai bankie in my skoenlapper-atrium in die Goeroegabvallei. Liefde, het ek al daar sit en probeer uitpluis, kan nie op ’n skinkbord uitgedeel word soos Bertolini’s se tertjies nie – vat ’n happie aan een, beproe dit, en besluit of jy daarvan hou. Of nie. Die liefde kan nie soos ’n onsmaaklike tertjie eenkant toe gesmyt word as dit bitter op jou tong is nie.

* * *

Dit is my gunstelingsitplek, veral wanneer iets swaars op die hart druk. Soos verlore liefde. Dit is ook waar ek Jack en sy dolk daai nag gesit en inwag het, hier tussen my skoenlappers. Die bankie is in die grootste van die vier atriums wat ons hier in die Outeniquas opgerig het, op my erfplasie waarheen ek vir Portis gebring het vir sy lang herstel sonder bene.

Agteroor, een knie oor die ander gevou, arms weerskante op die rugleuning uitgestrek. Langs my die koerant rof opgevou. Nie neergesmyt oor ek iets gelees het wat my omgekrap het nie. Ontstel, ja, maar neergesmyt omdat ek nie kan fokus op wat ek lees nie, omdat ek sinne twee, drie maal moet herlees. My gedagtes aan’t dwale. Oor Mira se oproep gisteraand. Die hele nag daarmee geworstel. Vanoggend steeds toe my oë oopgaan en die ratte van my ontwakende brein lomerig en krakend aan’t draaie begin kom, soos ’n ou wiel wat ghries kort.

My oog volg sydelings die kobaltbloue wat oor my leë teekoppie langs die koerant kom fladder.

Mira wil met haar gynae trou. Dit is hoekom sy gebel het. Maar dit is nie die eintlike gatslag nie. Nee, ek weet lankal … wel, ek het lankal ’n sterk vermoede dat Mira en haar gynae meer dinge saamdoen as om net in hulle kerkkoor saam te sing.

Ek skud my kop. My brein is op ’n ander plek as my oë. Haal my bril af, knie my oë. Asof dit sal help om lui neurone aan’t werk te kry. Sit die bril terug.

Dit is ’n luna, die een oor die teekoppie. Oor my knie huiwer ’n electra, hom kan jy nie met enige ander bloue verwar nie, nie daai neonblou blerts nie.

Goed, dit is beter, baie beter, die brein en oog begin weer sinchroniseer.

Mira is ’n mooi vrou, steeds. Daaroor is daar algemene eenstemmigheid. En volgens riemtelegramme het sy al ’n hele paar vryers gehad sedert ek haar daar in Pretoria agtergelaat het. Die gynae is net die laaste een, die een wat die langste en hardste vasbyt. Nie dat ek jaloers is op hom nie, daarvoor is ek en Mira al te lank uiteen. Wel, dalk so ’n klein bietjie … sy wás tog my eerste groot liefde! Wat nie lekker op my gemoed lê nie, is nie soseer die voorgenome troue nie, eerder die implikasies van hulle bruilofsplanne. Die besigheid dat ek en Mira nou moet aansoek doen om ons liefde nietig te laat verklaar; van bed en tafel is ons immers jare al geskei. Vir my het dit nog altyd gevoel asof daai skeiding g’n afbreuk gedoen het aan ons liefde vir mekaar nie. Nou lyk dit, ná gisteraand se oproep, asof Mira nooit dieselfde gevoel het nie.

Nee, vir iets soos die liefde is my kop gans te klein. Gee my dan eerder daai wellustige stiefkind van die liefde, dié ken ek, daai uiting van erotiese attraksie waaraan ek en Mira ons steeds oorgegee het wanneer sy af en toe kom kuier het. Voor sy haar siel en lyf aan die gynae bemaak het. Mira steur haar klaarblyklik min aan Roomse voorskrifte oor seks, dat enige ontydige afwyking van die primêre oerbehoefte om voort te plant buite perke is – die Bertolini’s kom van Emilia-Romagna in Italië, daar is álmal streng Rooms-Katoliek. Pil, kondoom, skei … alles taboe.

Dit is hoekom ek en Mira ná iets soos twee dekades steeds offisieel getroud is, en nooit voorbehoed het nie; ons wou kinders hê, maar kon nie. Sy ontken dat dit bygedra het tot die verbrokkeling van die huwelik. Ek is oortuig dit het. Sy sê dit was oor my werk destyds, oor ek ’n geheime lewe gelei het, en watter vrou sal dit uithou met ’n man vol geheime?

Nou moet ons daai liefde wat ons aanvanklik wedersyds vir mekaar gevoel het, laat nietig verklaar. Sodat sy weer kan trou. Ons moet voor Kerk en Vader erken en bieg dat ons mekaar nooit liefgehad het nie. Dat ons huwelik dus nooit bestaansreg gehad het nie. Dat dit net ’n skynheilige, liefdelose leë dop was.

Dit maak seer.

Die spatsels blou in die lug om my lok weer my oë. Ek en Portis het al ’n versameling van 206 spesies, eksotiese bloues van Morphinae en Polyommatinae, en al die Suid-Afrikaanse bloues van hoofsaaklik die subfamilies Lycaeninae en Pierinae, en enkele bloues van die Nymphalinae en Charaxinae. My trots is ’n nuwe toevoeging, die Orachrysops niobe van ’n enkele duinhabitat by Brenton, sommer hier in die Tuinroete, met status “kritiek bedreig”. Dan is daar die Polyommatus crostolas, 160 jaar gelede die eerste keer beskryf met status: “Waarskynlik uitgesterf.” Tot twee Italiaanse entomoloë onlangs ’n klein kolonie opgespoor het in ’n beskeie habitat van gras en lupiene in ’n bergheuwel by Canossa in Italië, daar by die ruïnes van Matilda se ou fortvesting, destydse gravin van Toskane.

Ek het daai goeie nuus van Luigi gekry. Die Scaravelli’s en Bertolini’s loop geslagte saam en Mira het my aan Luigi voorgestel toe sy my haar geboorteplek in Italië gaan wys het, en natuurlik ook die Bertolini’s se eerste bakkery. Luigi Scaravelli, nou senior klerk in die streekkantoor van die Ministero delle Politiche Agricole e Forestali in Bologna, het aangebied om my van die nodige permitte te voorsien en self Canossa toe te vat om ’n klompie crostolas-papies te gaan versamel vir my atriums. Maar toe kom daai skrikwekkende karakter Jack, bring sy dodelike mes saam, om my en Portis bokveld toe te help.

Ek kyk deur toe.

Portis kom met ’n skinkbord uit die broeikamer aan. “Wat meditate jy vandag weer so diep? Busi stuur vars tee.”

Ek maak op die koerant plek. “Sommer hier.”

Hy sit die skinkbord neer. “Brak weer jou brekfis afgevat?”

Hoe kan ek oor iets praat wat ek self nie verstaan nie? Ek vat die koppie by Portis en sit daarmee op my skoot, my oë doer in die hoek by die skoenlappers wat tussen die groot blare van die piesangboom in lig-en-skadukolle sweef en dartel. “Dis oor Mira. Ons was so lank deel van mekaar, nou word sy deel van ’n ander, vreemde man.”

Portis herkou daaraan en sê: “Die gynae.”

“Sy’t my gelos oor ek goed vir haar weggesteek het, vir my eie vrou.”

“Jy was geforseer om stuff weg te steek, so’t jy tog self gesê. Official Secrets Act.”

Dis waar jy in my lewe gekom het, hè, Portis? Dit is waar ek jou gekry en ingeneem en beskerm en gesond gemaak het. Ek en Mira. Want sy het kom help toe sy van jou hoor. En toe stuur hulle die hitman. Hy kom ook uit daai laboratorium. Daai Jack. Dit is waar Jack gebreinspoel is om hulle vuilwerk vir hulle te doen.

En sedertdien, wat het van hulle almal geword, die gespuis van daai satangsplek by Bon Accord? O, skielik getransformeer tot sulke fatsoenlike seders – Ben Koorts en Simon Pope vennote in ’n klaarblyklik winsgewende private praktyk, Sieg Eyselen afgetree met ’n vet goue handdruk, Louis Smith en Braam Venter iewers oorsee.

Jack se vleiemoorde was speurluitenant Lenny Arries, intussen welverdiend bevorder, se eerste moordondersoek. En kritiek was daar baie op arme Lenny, bystand min. Maar daai stang het Lenny vasgebyt en hy het kopgehou. Dalk oor hy sy deep throat so vertrou het. En daarvoor eis ek g’n eer nie; wat ek aan Lenny gelek het, was eerder uit selfbeskerming toe ek begin agterkom dat die vleiemoordenaar sy visier ook op my en Portis het.

Dit is met Jack in my gedagtes dat my oë altyd asof deur die een of ander vreemde magnetiese krag na die plaveisel voor die bankie aangetrek word, hier onder langs my skoene.

Portis moet dit opgemerk het: “Miskien moet ons pool acid gebruik.”

Die donker vlekke lê diep in die poreuse stene, g’n gewas en geskuur kry dit uit nie – Jack se bloed hier by my voete, Portis s’n dáár. “Nee, nie suur of bleikmiddels nie, daai walms is nie goed vir die vlinders nie. Los dit maar, die tyd self sal dit regmaak.”

Soos die tyd ook vir Portis genesing gebring het. Eers met die amputasies destyds van albei sy bene net onder die knieë om sy lewe te red, toe meer onlangs die steekwonde van Jack se mes wat Portis se hart en slagare net-net gemis het, maar nie ’n long nie; dit was nerfskeel of ons het Portis ook daar in Vader Stefano se kapelkerkhof gaan inspit. En die ironie daarvan ontgaan my nie. Die kerkhoffie langs die Sint Neri-kerk op die nek is die domein van ou Jakes wat sy rug boggel werk om die kerkterrein met hark, vurk en graaf net en onkruidvry te hou. En om die klok te lui. Jakes, pa van Marsie, eerste vrou wat Portis as hubare jong man raakgesien en waardeer het en nie as afbeenkruppel bejammer het nie.

Portis skuur-skuur met die sool van sy prostetiese voet oor die vaal vlekke waar sy eie bloed in die plaveisel lê. “Dink jy nog aan hom, af en toe?”

“Aan Jack?”

“Nee, ek bedoel die puppet-man.”

“Simon Pope?”

“Ja, hý wat vir Jack aangesit het om my voete te brand, hy’s die cause van als.”

Die naam Simon Pope kry Portis steeds nie oor sy lippe nie, uit jare van ingehoue, pruttende woede. Ek vermoed Portis dink aan Pope elke oggend wanneer hy sy voete aangespe, en elke aand wanneer hy dit afhaal, en dikwels tussenin, om welke rede ook al, en ondanks die stand van son, maan en planete.

“Lenny sê hulle hande is afgekap, hulle kry nog geen bewyse dat Simon Pope by Jack se moorde betrokke was nie.”

“Dis hý wat die ander ook laat disappear het … soos hulle my wou laat disappear,” voeg Portis by.

Hy bedoel Pope.

Die ander.

Lionel Booyse, Sella Janeker, Alexandro Fransman, Rosemary Sonto, Melville Miggels.

Die polisie het miskien nie bewyse nie, maar Simon Pope is so skuldig as die duiwel self. En hy is maar net een van so baie wat aanspreeklik was vir gruwels in daai ellendige jare. Om die woedende massas teen te werk en te ondermyn was daar geen tekort aan applikante nie. Vir hulle, ook vir dié by Bon Accord, was dit ’n byna gesalfde roeping, ’n oproep met beuel en ramshoring tot hoër diens, om die godgewyde poorte teen die gepeupel te gaan bewaak. Maar ek deel Portis se sentimente oor Simon as marionetspeler. Ten minste is Simon van vlees en bloed, nie een van die baie ander gesigloses wat so meedoënloos en ongenadig die bloedige toutjies agter die skerms getrek het nie. En ná die intuimeling van die mure het hulle handewringend gaan bieg en lieg, selfs voete gaan was, of andersins die vaseline aangesmeer om o so skaamteloos en skynheilig in die einste eertyds vyandige holle in te glip.

En Simon het van die radar verdwyn, daar in sy en Ben se nuwe laboratorium waar hy gesig- en naamloos biologiemonsters toets en diagnoseer.

Portis pak die koppies op die skinkbord terug. “Busi wil weet of jy lus is vir pap en wors vanaand?”

“Sê vir haar sy weet mos ek’s altyd lus vir pap en wors. Eet jy saam, of by –”

“Ek eet saam. En ry môre vroeg Kaap toe … as dit oukei is.”

“Dis oukei.” Arme Marsie. Sterk teenstand van Vanessa van die Kaap. Vanessa Sonto, suster van vermiste Rosemary. En ek voel-voel na my selfoon. Tyd dat ek weer bietjie nader aan Molly Onkers beweeg, met dié dat Mira al hoe verder van my af wegbeweeg.

Anderman se vrou

Подняться наверх