Читать книгу Anderman se vrou - Chris Karsten - Страница 8

RACHEL

Оглавление

Julie 2006

George Town, Grand Cayman

Die badhanddoek is nuut en donsig en byna liefkosend aan haar gloeiende vel. Álles is nuut. Sy skud haar nat hare. So ’n vreemde nuwe wêreld.

Sy gaan staan voor die lang spieël en laat val die handdoek oor haar voete. In die aangewasemde spieël is haar lyf silfagtig en rosig, met stemmige borste. Hoe sou Simon haar heimlik takseer, sou hy haar só sien – darem óók met ’n knik van beskeie goedkeuring? Maar hy sien haar nie só nie, hy sien haar nie rosig en silfagtig nie, ook nie kaal nie. Sy hou nie daarvan boek nie. Dalk onbewustelik in haar oor geknoop, want dié datum onthou sy dan, die laaste keer dat hy haar kaal gesien het: 1 Januarie 2000. Ses en ’n half jaar gelede. ’n Lang tyd, ’n ewigheid, om nie deur jou eie man kaal gesien te word nie.

Sy het toe ook uit ’n stort gekom.

Die gebeure van daardie Saterdagoggend van die nuwe millennium lê soos ’n stuk drifsel in haar geheue, ’n soort keerpunt, soos om gevra te word: Waar was jy die dag toe die eerste man op die maan stap? Wat het jy gedoen die dag toe die Boeings teen New York se torings vasvlieg? En: Hoe het jy die nuwe millennium ingelui? O, ek was in ons huis in Groenkloof, Pretoria, die een met die gewels en rietdak, alleen voor die TV, ek het gekyk hoe die dag gevier word op plekke waar die son eerste opkom.

Toe is sy bed toe. Simon reeds in ’n diep slaap, sy asemstote ’n ritmiese ruising deur sy neus. Beuselagtighede soos vierings van nuwe millenniums traak hom mos nie.

Saterdagoggend was sy kant leeg. In sy studeerkamer, het sy vermoed. Sy sanctum sanctorum.

Maar toe sy onder die stort uitkom, skrik sy … Daar staan hy in die deur, nog in sy slaapbroek en T-hemp, haar handdoek in sy hande, staan daar soos ’n slaaploper.

Sy merk sy oë, sien hoe hulle begin beweeg, af na haar voete, en weer tydsaam op, en opper, nog opper, kompleet of hy haar waarde bepaal, soos ’n ooi op vendusie.

Sy besluit om saam te speel, begin in die rondte draai, stadig, half terterig, gee hom ’n weidse uitsig op die kale bas wat hy so takseer, hande koesterend oor haar boesem, vingers flankerend oor haar ronde magie, oor die malsheid van haar heupe en dye.

Maar hy staan net daar. En sy dog: Ag, wat help dit tog …

Net toe glip die handdoek uit sy hand en haar oog vang die slaapbroek en sy dink verras: Simon, Simon … kan dit wees, is dit tog nie jou oorwinterende laaistok wat so roerend aan’t ontwake is nie?

Ja, sowaar! Want kyk, nou hou hy ’n hand na haar uit, trek haar die slaapkamer in, stamp haar met stelligheid op haar rug op die bed neer, haar kop ’n warboel van belofte en hoop.

Maar toe, net daar, stort die hele ritsige lot in duie. Want hy slaat op haar neer, pomp en kneus haar met sy warse stok, gee ’n hyg en ’n laaste kreun, trek sy rug krom soos ’n dol hond wat die doodskoot kry, lê vir nog ’n asemteug, druk hom van haar weg, glip verlep en verleë uit haar uit. Hy pluk sy slaapbroek op, klap die badkamerdeur agter hom toe, los haar net so op die bed, steeds oopgespalk, steeds nat en onbevredig en chaoties, nou ook met ’n gevoel van verslaentheid, van skaamte en sletterigheid, van versaking en ontnugtering.

Wat haar veral bybly van daardie kopulasie, so woordeloos en liefdeloos, so ontneem van alle teerheid, flirtasie of enige romantiese en erotiese aanloop en afloop, is die reuk van naeltjies aan sy hande. Dit is dáárdie reuk wat haar laat besef het waarmee hy vroegoggend al doenig was terwyl sy nog ingelê het. Hy het sy versameling eksotiese messe versorg, hulle lemme gepoets met die sagte lappe deurweek van die spesiale naeltjieolie. Ja, dit was ’n dolk daar in sy broek, geen laaistok nie. Die dodelike, glansende, trillende lem van een van sy dolke. Dít is wat sy libido so oproer, daardie messe, wanneer hy die staallemme met sy olielappe vrywe en polys en troetel.

Dit was die laaste keer; daardie eeuwending se hit-and-run – wat anders was dit? – was hulle laaste intieme kontak. Soggens en saans nog die groetpikkies op die lippe of wang, nog die hoflike dankies, nog die toevallige en sydelingse aanrakings, die halwe glimlagge oor die eettafel, lou en afgestomp van enige innige bedoelings. Teenoor mekaar, dink sy, het hulle die trae en meganiese figurante geword wat by drome in- en uitsluip. Só lank reeds hou hulle skynheilig die huweliksrituele vol dat alle intimiteite liefdeloos en vals geword het, aldags en geyk soos eb en vloed.

Tussen hulle word die kloof ál groter, sodat sy begin wonder: Ken ek hom nog, verstaan ek hom nog, soos jy die een wat jy liefhet moet ken en verstaan, die man sy vrou, die vrou haar man, die eenwording in ’n lang huwelik? Tot jy een oggend wakker word en na die slapende gesig langs jou kyk wat jou bed al soveel jare deel en jy skielik besef dat die lyne van die mond en neus en oë bekend lyk, maar die man self, sy wese, dié ken jy nie meer nie. En jy lê daar en jy kan nie help om hartseer te voel oor hierdie ontdekking nie, en oor hierdie benouing dat jy nie weet wat in die tussentyd van julle liefde en julle huwelik geword het nie. Dit is of jy meeding met ’n ander groter swaartekrag, iets onsigbaars en kragtigs soos ’n swart gat in die ruimte wat hom van jou probeer wegtrek en insluk en jou alleen agterlaat, met ’n gevoel van groot eensaamheid.

Daarom die selfverwyt, die suspisies. Is dit alles háár skuld, waar het sy as sy vrou gefaal? Waarom mag sy nie na hom hunker nie, of voel dat hy háár wil hê nie? Hoe herset jy die program van julle huwelik ná al die teleurstellings en al die verwagtinge wat so onbevredig gelaat is?

Of is daar iemand anders, voer hy skelm ’n dubbele lewe?

En bedag op die uitwerking van naeltjies en dolke op sy gemoed, groei haar agterdog soos ’n gewas, begin sy na ’n patroon soek, probeer sy ’n ander vrou aan hom uitruik. As hy nie meer ’n behoefte het aan háár liggaam nie, waar doen hy dit dan, sy hit-and-runs? By wie? Werk hy regtig so dikwels saans oortyd? Is daar regtig so dikwels saans vergaderings? Moet hy regtig so dikwels saans dringend by sy ou kollega en vriend, Ben Koorts, die uitslae van patologiemonsters gaan bespreek?

Een aand bel sy vir Lea, stort haar hart uit, droog die trane af, en gaan sit in sy studeerkamer in ’n leunstoel, broeiend. Sy was nooit so nie, wil nie so wees en so word nie, maar sy kan haarself nie meer help nie. Dít is wat jaloesie en suspisie aan mens doen, dit maak jou lelik. Maar hoe anders?

Laatnag hoor sy uiteindelik sy kar by die motorhuis inry. Sy skakel die leeslig aan, wag in die halo, hoor hoe hy by die kombuis inkom, Wag. Hoor sy sagte tred in die gang, kyk om, sien hoe hy in die deur vassteek.

“Rachel?”

Hy kom in, leun na haar af.

Sy draai haar wang weg. “Weer by jou lover?”

“Rachel …” sê hy weer, ’n toon van betigting.

“Of is dit hoere?”

Hy bly langs haar staan, in die skemering ’n geil stilte. ’n Sug. “Ons het laat gewerk. Bel vir Ben, hy –”

“En verneder myself verder!”

Hy sit sy aktetas op die lessenaar, haal sy bril af, knie ’n oogkas, sit sy bril terug en kyk na haar: “Jy weet hoe ek oor jou voel.”

“Ek weet dit nie meer nie, hoe wys jy dit?”

“Ek hoef dit nie meer uit te spel of te verklaar nie, dis bloot daar.”

Sy sluit vir ’n oomblik haar oë en agter die ooglede flits beelde uit hulle huwelik. In haar is so baie opgekropte gevoelens wat moet uit, maar hulle sal nie sonder wonde kan uitkom nie. “Het jy al gedroom hoe iemand na aan jou besig is om van jou weg te gaan, Simon, al hoe verder in die mistigheid in en jy kan daaraan absoluut niks doen nie?”

“Waarvan praat jy?”

“Dis wat ék gisteraand gedroom het. Ek het gedroom ek probeer met jou praat maar jy ignoreer my, ek gryp jou arm en probeer jou terughou, ek pleit en huil, want ek weet nie hoekom jy my ignoreer nie en jy wil nie sê nie. Jy trek net jou arm los en kyk nie vir my nie, jy draai net om en loop weg en ek roep agter jou aan: ‘Simon! Simon! Moenie my los nie, kom terug, kom terug bed toe, kom wees bietjie teer en liefdevol met my, kom maak liefde met my, met jou vrou …’ Maar dis of jy my nie hoor nie, jy kyk nie eens om nie, maak of ek nie bestaan nie. Toe word ek wakker, en ek is eers ontsteld oor die droom, toe –”

“Rachel, daar is soveel dinge in my kop, die laaste ding waarvoor ek tyd en lus het, is om drome uit te lê.”

“Ja, ek weet jou kop is vol, en nie net met dinge nie, met ander mense, ander vroue. Vir my is daar nie plek nie, was nóóit.” Sy keer met ’n palm toe hy haar in die rede wil val. “Wag! Al daardie jare wat jy by Bon Accord gewerk het, al daardie geheime waarvan ek uitgesluit was, dis alles maar net weer dieselfde.” Die kosmos van hulle huwelik het nie net ophou groei nie, dit is besig om terug te krimp en alles ongedaan te maak, onkeerbaar in trurat. “Jy vat nie aan my nie, Simon, jy sien my skaars raak, asof ek ’n meubelstuk geword het. En nou moet ek jou glo as jy middernag by die huis kom, moet ek weet hoe jy oor my voel!”

“Jy’s kwaad.”

“Natuurlik is ek kwaad, ek was eers ontsteld, nou’s ek kwaad, want my droom het werklik geword.” Maar nou voel sy skielik so moeg, te moeg om met hierdie gesprek voort te gaan, hom te probeer oortuig dat hy haar ook moet liefhê, om te wýs dat hy haar liefhet. Dit is eintlik al wat sy vra: wys dit, omarm my, bemin my, wees teer met my, moenie wegstap van my af asof ons lewe saam net bestaan het uit die gedeelde rituele van eet en drink en beskaafde saambly nie.

Voorheen was dit veralgemenings: “Seks is nie vir my belangrik nie, Rachel. My dieper gevoelens vir jou, dís die belangrikste. Ek’s bloot nie warmbloedig gemaak nie, daaraan kan ek niks doen nie. Buitendien, ons huwelik is op ’n hoër vlak, dit berus op gevoel en rede, nie op wellus en seks nie.”

Vannag, voel sy aan, nader hulle ’n apsis. Haar oë volg hom toe hy ineens van sy lessenaarstoel opstaan. Hy sit die hooflig aan en gaan staan voor een van sy groot boekrakke, ry stadig met ’n vinger teen die rûe af, sy kop effe skeef om die titels te lees. By een huiwer die vinger, gaan dan voort. Stop weer. Hy trek ’n boek uit. Die vinger soek verder. Sy wag. Sy weet, ook hiérdie ritueel ken sy. Sy verskonings, alibi’s en verontskuldigings, sy ekskuse om haar te paai, gaan soek hy soos ’n masoreet in ou geskrifte wat sy duistere denke en optredes moet help verklaar.

Dié aand is sy gesag inderdaad van die hoogste orde: Aristoteles en Averroes, Dante en Cavalcanti, Thomas van Aquino en Mahatma Gandhi, Johannes Bogomil en Middeleeuse Katare en ketters – oor die ontginning van rede en intellek as die mens se allerbestemming. Oor hoe die geslagsdaad rasionele vermoëns ondermyn, oor hoe gedagtes oor seks die mens se bonum perfectum versteur, oor die ewige stryd tussen die goeie en die bose godheid, tussen ’n sondige vleeslike lewe en die soberheid van gees en rede. Oor hoe elke mens deur ’n spirituele reiniging van sondes purgeer moet word, verlos van die gevangeskap van vleeslike luste en drange na fornikasie, en om die siklus van prokreasie en reïnkarnasie te verbreek, anders is jy en jou nageslag gedoem om ewig dwaalgeeste op ’n sondige aarde te wees.

Met toenemende onrus het sy hom geduldig uitgehoor, toe sonder woord opgestaan en uitgeloop. Die aand het hy nie in hulle bed kom slaap nie.

’n Week later het sy, pleks van reiniging, sonde gekies. Haar verskoning aan hom was dat sy saans by Lea gaan kuier. Haar verskoning aan haarself was dat hy haar deur sy geestelike en liggaamlike afwesigheid tot die sonde gedwing het.

Hulle was almal jonger as sy. Willem was die eerste een. Toe Rob. Toe James. Wanneer een te veeleisend begin word, op haar gevoelens begin aanspraak maak, het sy haar losgewoel en verder gereis. Want haar huis – en Simon is deel van haar huis – gaan sy nie opgee nie. Hoekom sou sy? Dit is waar sy sekuriteit kry, gerief, geselskap, vertroude rituele.

Dat die aantreklike doktor Pope, boonop so intelligent en fynbesnaard, háár destyds gekies het, was in haar jong gemoed amper asof uit ’n feëverhaal; sy en Lea kom uit ’n ander soort huis.

Nou het sy uit ’n lang slaap wakker geskrik en alles het verander, alles is vreemd, die verlede afgesluit. Hulle is al vier maande hier, en in hierdie vreemde kan daar nie meer ’n lover, hoer of ander vrou in sy lewe wees nie, hier is dit net hulle twee, op mekaar aangewese, en sy het selfs hoop dat iets gered kan word van hulle verbrokkelende lewe en huwelik.

Sy trek die nuwe japon aan, streel ingedagte oor die klein moesie hoog aan ’n prominente wangbeen, haar beauty spot, begin met die nagroom en sê: “Gaan ons nou maar net aanhou vlug, vir die res van ons lewe herwaarts en derwaarts soos twee trekvoëls?”

In die slaapkamer is daar stilte, dan sê hy: “Dit sal oorwaai, Rachel, vertrou my net.”

“Oorwaai? Kyk waar sit ons, Simon, ons het nie eens meer ’n huis om na terug te keer nie.” Oor daardie mense wat hulle mooi huis laat afbrand het, huil sy steeds. Sy wonder wat Simon dáároor alles weet en nie vir haar sê nie. Om haar groter hartseer te spaar? Of iets meer sinisters?

“Dis mos hoekom ons moes vlug, Rachel.”

Sy wag, maar in die slaapkamer nou net stilte. “Hoekom?” vra sy.

“Omdat hulle jou wou kom vat.”

“Kom vat? Wie?”

“Die polisie, Rachel.” Die irritasie duidelik. “Hulle was op die punt om jou te kom arresteer. Maar nou dink hulle dis óns wat in die brand dood is. Alles gaan nou oorwaai.”

Sy kom uit die badkamer met die handdoek om haar hare en staar verdwaas na hom, daar op die bed met sy koerant. “Mý arresteer? Hoekom vir my?”

“Om landuit te vlug was al hoe ek jou kon red. Hulle dink jy’s medepligtig aan Jack se moorde, hulle dink mos jy en Jack … hulle dink julle was minnaars.”

“Waarvan praat jy, Simon?”

Bid jou aan – sy en Jack! Hy was vroeër Simon se laboratoriumassistent en motorbestuurder en het haar ook in daardie tyd dikwels rondgery, hare, naels, inkopies, Bertolini’s toe. Maar hy is weg omdat hy glo sy eie potjie wou gaan krap het … eintlik om mense te gaan doodmaak, het dit later geblyk. Daaroor het Simon net sy kop geskud en gesê: Wie sou dit ooit van Jack kon dink, so ’n sagte en stil kêrel.

Hy laat sak die koerant op sy bors. “Jammer, Rachel … ek wou jou nie daarmee ook belas nie, ek weet hoe swaar dit reeds vir jou is.”

“Wat gaan aan? Praat, Simon! Hoekom het jy nie vroeër so gesê nie?” Daardie moorde het die Paasnaweek begin, net ’n paar maande terug.

“Die speurders wou jou uitvra oor leidrade en bewyse wat hulle in Jack se blyplek gekry het. Glo van jou hare op sy lakens. Tissues met jou DNS. Koppie met jou lipstiffie aan. Wat nog? Ja, selfs afdrukke van jou vingers in sy kombuis. ’n Foto van jou onder sy matras. Maar die goed is geplant om jou te frame. En ek weet wie dit gedoen het … Wim Kellerman!”

“Hoekom sou hy my wou frame?” Sy het destyds nogal van Wim gehou. Aantreklike man en op sy plek.

“Wie sal weet hoe sy kop werk? Al wat ek kan dink, is dat hy my jaloers wou maak, hy wou my uitlok. Om iets aan jou of Jack te doen. Hy wou hê ek moet iets aanvang wat die polisie se aandag op ons sou vestig.”

Hoekom wou hy die polisie op hulle spoor sit? Dit maak nie vir haar sin nie. Wim wat skielik ná al die jare ou vriende en ou kollegas in die rug wil steek, Jack se moorde gebruik om háár te probeer frame om Simon by te kom? Nee, daar moet ’n ander verklaring wees en sy is seker dat Simon, soos altyd, weer goed vir haar wegsteek. Dit was mos kastig daardie wet op ampsgeheime wat hulle verbied het om selfs met hulle eie vrouens oor hulle werk by Bon Accord te gesels. Simon praat nou nog nie daaroor nie. En Mira het oor dieselfde ding gekla, gesê dis hoekom sy Wim gelos het, oor sy geheime werkslewe.

Sy staan langs die bed en kyk na hom af. “Dink jy regtig ek’s so naïef, Simon?”

Ook die moord op die gewese minister was groot nuus, nadat hy nog so ewe skynheilig die voete gaan was het van daardie vroue in Bonteheuwel. Die einste een wat destyds alles gaan staan en oopkrap het met sy gebiegtery voor die aartsbiskop. Meer lieg as bieg, vermoed sy.

“Wat is die eintlike rede hoekom jy besluit het om te vlug? Het die polisie nuwe leidrade gekry ná die minister se dood, oor daardie geknoeiery in julle geheimsinnige laboratorium?”

“Ons het goeie werk daar gedoen, Rachel, daar was géén getuienis oor onwettighede nie, die koerante het liegstories die wêreld ingestuur. Ingeligte bronne. Dis mos wat hulle sê as hulle goed uit die duim suig.”

Sy beduie. “Het jy gesien, daar op my bedkas?”

Hy leun oor na haar kant toe en bestudeer die kennisgewing, gerig aan: Simon Pope, Poste Restante, George Town, Grand Cayman.

Sy gaan terug badkamer toe. “Wat’s dit?”

“O,” sê hy, meteens ’n wip in sy stem, “dis my messe, uiteindelik aangekom, gedog ek sien hulle nie weer nie.”

Anderman se vrou

Подняться наверх