Читать книгу Anderman se vrou - Chris Karsten - Страница 6

Оглавление

Sondagoggend 7 September 2008

Noord-Atlantiese Oseaan, kus van Nova Scotia, Kanada

Die visserskuit ry die golf uit ’n lang en diep deining. Op die kruin, sy keps en reënbaadjie van geel plastiek nat van seesproei, roep Charlie uit, arm uitgestrek na Black Rock: “Doer! Kyk!”

Jimmy lig sy verkyker. In die mistigheid lê ’n visserskuit, vet en mank oorgehel op die swart rotse, nes ’n gestrande walvis. Teen die romp breek branders, spoel skuimend oor die stuurboord se ghonnelplank. Immer asend vlieg die laaste drie haringmeeue van die kajuit se dak op, hulle sarrende gekrys aangedra deur die sterk bries, en bly swewend saam met ander oor die boot hang.

Jimmy, net vier en twintig, is op die Betty Bee gespeen, nou is dit syne, ná sy pa se aftrede; hy is die skipper, sy bemanning maats van kleintyd af, almal met vis in hulle gene, seewater in die are. Die hegte viermanskap staar met handskoenhande langs mekaar op die dolboordrand na elke seevisserman se donkerste nagmerrie.

Dan eggo Herb die erekode van alle seevaarders oor alle eeue: “Ons moet gaan help.”

Charlie sê: “Ons moet die Kuswag laat weet.”

Oor die astrante meeue spreek Rob al vier se gedagtes uit: “As daar lewe is … hulle sal nie gaan sit nie.”

In die kajuit gaan maak Jimmy die BHF-noodoproep en gee Black Rock se koördinate. Black Rock, op hulle roete na die Georges Bank se heilbotvelde, is nie ’n eiland nie, bloot ’n verraderlike stuk rotsmassa, ’n surreëele swart boggel wat bokant die golwe uitsteek, lank reeds ’n noodlottige pes vir skepe en hulle vaarders, so sewe seemyle suid van Lower LaHave se Moose Cove en minder as twee seemyle suidwes van Cape LaHave Island se Butter Cove.

Nader word die gedoemde skuit se vorm deur die kajuitvenster vir Jimmy duideliker: hy herken ’n Cape Islander. Elke Nova Scotia-visserman ken die Cape Islanders wat hierdie Noord-Atlantiese viswaters bevaar.

Hulle luier nader. So twintig meter van hierdie ongelukkige een af gooi Jimmy die Betty Bee se John Deere in trustoot, en al deinende maak hy en Charlie reg om te gaan help, oë op die boeg wat hom teen Black Rock te pletter geloop het, die bodem waarskynlik oopgeskeur deur die verskuilde onderwaterse rotstande.

Sophie.

Dit is die naam wat Jimmy daar voor op die romp lees. En groter as syne, maklik veertien meter, en dertien, veertien ton. Hy skat die enjin iets soos ’n agtsilinder-Caterpillar. Lyk nuut, ten minste nuut oorgedoen. Groot geld wat vir hierdie Sophie uitgehaal is, nou ’n wrak.

Die ander twee help Jimmy en Charlie oorboord met reddingsboeie aan nylontoue vas. Hulle roei na die Sophie, klouter nat en koud oor die glibberige swart rotse, op en oor die ghonnelplank waaroor die skuimende water spoel. Voetjie vir voetjie teen die helling van die nat dek kajuit toe, die skuins kant kniediep onder water.

Die romp knars en die deur klap oop en toe met die spoeling van elke brander. Jimmy loer in.

Ruk terug, onwillekeurig.

Langs hom is Charlie se uitroep gesmoord: “Jeez … fok …”

Jimmy tree binne, kyk rond, laat sy oë momenteel hier rus, en daar, en probeer ’n beeld vorm van wat hier kon gebeur het. Hy haal sy keps af, vryf oor sy hare, sit sy keps terug en teug diep.

Hy hurk, steek sy hand uit om te voel vir ’n pols, maar weet reeds: al die bloed … hulp is helaas te laat. Hy kom orent, kyk weer rond, herstel van die aanvanklike skok.

Langs hom sê Charlie: “Bagasie vir ’n lang reis.”

“Toe’s daar ’n moerigheid,” sê Jimmy lakonies en stap uit. Buite op die dek adem hy weer diep aan die vars seelug, blaas dit hard uit, voel ’n rilling.

Dit moet van die wind wees, dink hy, uit die noordooste bring dit altyd koue, en kyk op na die swewende, krassende meeue in die grou lug.

Terug op die Betty Bee wag die vier vir die Kuswag se helikopter.

Anderman se vrou

Подняться наверх