Читать книгу Anderman se vrou - Chris Karsten - Страница 18

SERGE

Оглавление

Junie 2007

Montreal

Die muur agter die kroegtoonbank is ’n kaleidoskoop van refleksies, van ligte en gesigte en die kleurespel van eksotiese likeurs en aperitiewe. Hy nip aan ’n absint en sluk dit af met groter slukke van sy bier, sonder dat sy blik wyk van die baan tussen muurhorlosie en muurspieëls, sy oog op elke nuwe inkomeling by die deur agter hom.

Van dieper binne hoor hy die aanswellende musiek; “Le Mardi à Mado” het begin. Hy sou graag daar wou gesit het, die pret en jolyt deel van Mado Lamotte se drag show, vanaand met gaskunstenaars Frankie Dee en Sasha Baga.

Maar hy wag en sy nuwe vriend is laat.

Dit is in hierdie nagklub waar Luc Provost jare terug die eerste keer uiting gegee het aan sý innerlike vroulike kwaliteite. Hy moes dit so lank onderdruk voor hy sy manlike vel kon afskud om Mado Lamotte vry te laat, vir hierdie uitbundige, buitensporige, losbandige, skandalige, hedonistiese, hitsige shows. Dit is wat Luc reggekry het: hy het homself herskep.

Herskepping, transformasie, gedaanteverandering, metamorfose. Noem dit wat jy wil, dink Serge, dit is wat met elke mens gebeur – nie noodwendig so drasties as met Luc Provost of so gedaantewisselend as met Gregor Samsa nie. Maar dit is hoe jy die lewe se draaiballe oorleef, jy herontdek jouself, en gaan aan. Luc doen dit elke aand. Saans stap hy in sy kleedkamer in, trek sy oranje, blou, rooi of geel satynrok aan, sit sy oranje, blou, rooi of geel pruik op, verf sy naels met oranje, blou, rooi of geel lak, behang sy hals en ore en polse met oordadige kostuumjuwele, kleur sy lippe karmosyn, sit geil grimering aan sy gesig, laat glip sy voete in een van sy honderd pare hoëhakke in, en met ’n vel skitterend van blinkers kom Mado Lamotte by die kleedkamer se deur uit, die transformasie voltrek van middeljarige man tot middeljarige drag queen.

Serge slurp aan sy bier. Tien oor nege. Hy hoop nie Michael laat hom vanaand in die steek nie. Dit sal net hulle vierde ontmoeting wees en hy hou van Michael. Van binne bereik entoesiastiese applous en uitroepe en lagbuie sy ore. Hy kan nie daar sit en die risiko loop dat hy Michael gaan mis nie.

Hy, Serge, reken hy is self die toonbeeld van só ’n transformasie. Permanente transformasie, nie net saans vir ’n show nie. En sy oriëntasie moes hy ook lank diskreet hou, maar nou is hy uit die kas en hy gee nie ’n fok om dat die hele wêreld dit weet nie. En as hy ’n absint wil drink … as hy enigiets wil drink, dan sal hy dit doen, paroolvoorwaardes of nie, Monsieur Bastien se moer. Hy is ’n vry man. En die nuwe professorale brilletjie is deel van sy transformasie, saam met die kaal kop en baardlose wange. En die nuwe klere gekoop met van die geld in die bruin koevert. En hy voer ’n respektabele nuwe lewe as wildbewaarder op Couvée. Die Sint Lawrence kruis hy net elke Dinsdagaand na Montreal, reguit na Le Village se reënboogvlae. Soms gaan geniet hy eers ’n langsame aandete in die Saloon, flirt bietjie met jong Paul, en kom dan vir ’n show in Mado’s.

Hy gooi die laaste absint in sy keel af en lig sy bier, laat sak dit weer, oë op die spieël, op die beeld van die skraal ouer man wat inkom en vassteek, soekend. Hulle oë ontmoet. Michael lig sy hand.

“Jy’s laat,” sê Serge toe hy langs hom kom sit. “Vodka?”

“Oponthoud by die werk.”

Serge gee ’n kenknik binnetoe. “Wil jy gaan kyk?”

“Nie vanaand nie.”

“Wat’s fout?”

“Werk. En onnosel studente.”

“A, die professor het ’n slegte dag gehad. My prof het altyd gesê daar’s nie dom studente nie, net luies.”

“Jy was op universiteit?”

“Polytechnique.”

“Jy’s ’n ingenieur?”

“Tot sekere versoekings my pad gekruis het,” sê Serge. “Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.”

“’n Bysiende gay ingenieur met die spiere van ’n liggaamsbouer en tatoes van ’n Russiese matroos.”

“Wat kan ek sê? Ek hou van spiere en ek hou van tatoes.” Hy sluk, vee die skuim van sy lippe af, kyk na sy nuwe vriend: “Jy’s getroud, nè? Het jy kinders, Michael?”

Hy merk die verbasing. “Hoe weet jy ek’s getroud, is dit so opsigtelik? Nee, geen kinders nie.”

“Weet sy?”

Michael haal ’n skouer op. “Ons is al dertig jaar getroud, ons verstaan mekaar.”

Dit kan enigiets beteken, maar Serge los dit, hy kry die gevoel dat die bekentenis van sy huwelikstatus ’n grens vir Michael is wat hy nie verder gaan oorsteek nie, nie so gou nie. Serge wonder oor Michael se transformasie. Of nie-transformasie, dalk steeds in die kas. En sê: “Ek’s bly jy’t vanaand gekom.”

“Hoe gaan dit met die voëls? ’n Ingenieur wat nou voëls oppas en jakkalse probeer vang.”

“As mens iewers langs die pad verkeerde besluite neem, in oomblikke van swakte voor versoekings swig … wel, dan’t jy min keuses; jy moet tog leef, al verdien jy dan op ander maniere jou brood. Maar dis nie sleg nie. Soggens ry ek met Wildlewe se boot eiland toe, inspekteer die vanghokke, patrolleer ’n wildernis, twaalf hektaar. Ek kla nie, ek’s dankbaar vir die werk.”

“Wat wás daardie versoekings wat jou so laat ontspoor het?”

Hy sit ’n oomblik in swye, wonder of hy sy lewe moet uitpak aan hierdie man van wie hy hou, maar wat steeds ’n vreemdeling is en wat sku is om uit te wei oor intieme detail van sy eie lewe.

“Jammer,” sê Michael, “daardie versoekings is nie my saak nie.”

“Dis oukei. Waar sal ek begin. By die begin? Goed, ek kom uit ’n klein dorpie aan die Gaspésie-kus, daardie skiereiland in die Golf van Sint Lawrence. Petit-Cap. Arm grootgeword. Dis al wat ons gedoen het, saam met my pa uitgegaan om kreef te vang. Kon nie wag om Montreal toe te kom nie, universiteit toe. Droom van ingenieur, droom van geld. Kry graad. Kry werk. Kry kontrakte. Lei ’n goeie lewe. Maar die rykdom sloer. Te veel werk, te min geld. Kook die boeke. Nou kom die geld. En die lekker lewe. Al die goeie drome word uiteindelik bewaarheid. Vir omtrent vyf jaar … Toe’s alles weer weg – al die geld, al die drome, de lot.”

“Moes jy gaan sit?”

“Ja, lank. Maak dit saak? Gaan jy nou opstaan en uitloop oor ek ’n tronkvoël is, oor ek ongeduldig was met my drome?”

“Nee, ek gaan nie loop nie. Ek dink ons het baie dinge gemeen. Ek het ook groot drome gehad, én hulle uitgeleef. Tot sekere mense ook mý drome verwoes het.”

“Het jý ook gesit?”

“Nee, nee … niks so drasties nie. Al is dit in sekere opsigte erger as tronkstraf, dit wat met my gebeur het. Daarom verstaan ek jou so goed. Sal ons op ons vriendskap ’n glasie klink?”

“Wat het met jou gebeur?”

“Jy moet geduldig wees, Serge. Daardie les het jy mos nou op die harde manier geleer. Goeie dinge gebeur met tyd. Dankie dat jy my met al jou drome … en voëls vertrou.”

Dis oukei, Michael, en dankie dat jy al my shit sommerso vir soetkoek opvreet.

Anderman se vrou

Подняться наверх