Читать книгу Anderman se vrou - Chris Karsten - Страница 11

BERNIE

Оглавление

Augustus 2006

Montreal

Bernie Noble se malers is vrot en die korsies hard. Maar dit is ’n lot wat hy lankal aanvaar het; hoe keer mens dan die loop van Gods water? Al besef hy alte goed dat dié houding nog sy dood gaan beteken. Want soms saans op sy armlastige katel kry hy die gevoel dat ’n voorbode hom iewers uit ’n donker hoek staan en betrag en kopskuddend die sekondes na sy sielsverhuising aftel. Dan dink Bernie: Wat de moer … álmal moet die een of ander tyd omkap, vet, maer, ryk, arm. Die verskil is, die rykes sterf in die arms van fariseërs, ten minste gaan hý in sy eie eerlike arms sterf. Tot dan is sy lewe eenvoudig – bedags is sy boerplek die Jean Talon-mark in Little Italy, sy lêplek snags in Chez Saint-Lambert, ’n skuiling vir haweloses so halfpad tussen die mark en die park.

In slaapsaal B waar ’n katel met matras van klapperhaar aan hom toegewys is, is sy een buurman hardhorend (of maak of hy is), die ander een praat in tale. Tipies. Deel van sy miserabele toeval; die geluksgodin wat nogeens haar dik gat vir hom wys. Maar Larry en Claude het nie ’n keuse as om saans na hom te luister nie, hulle gaan nêrens heen nie, hulle is, soos hy, vasgevang in hulle eie ellende. Larry lyk na ’n seningrige klein otter, taai en glad gehaar, gemene ogies te na aan die neus, skerp tandjies wanneer die punt van sy rooi tong sy skurwe dun lippe benat. Sê nie boe of ba nie. Maar dit skeel Bernie min. Dit lyk darem of Claude soms probeer luister. Maar dan lag hy en begin chant en laat spat mistiese plofklanke saam met kwylsproei uit sy mond, en Bernie dink: Dis ook oukei, dis nie eintlik gespreksgenote wat ek soek nie, net luisteraars, ek het goed in my wat moet uit.

Hy vertel van sy dag by die Talon-mark. En hy vertel hoe hy in beter dae nooit ’n bofbalwedstryd van die Montreal Expos in Jarry-park gemis het nie. Voor hy dakloos, kosloos en familieloos geword en die Expos uitgewyk het States toe, glo nou die Washington Nationals genoem. Hulle moere ook! sê hy driftig vir Larry en Claude. Ook destyds twee voetbalwedstryde in Jarry gaan kyk – Patriots teen die … teen die … wag, wag, op die punt van die tong. Dis die swaarkry, sê hy, dalk bietjie wyn en whiskey ook, wat die geheue so stomp maak. Larry se ogies beloer hom en Claude lag. Die ander wedstryd was die Giants teen … Daar in die laat sestigs, g’n mens kan só ver terug onthou nie.

Julle vra: Beter dae?

Larry en Claude bekyk hom stom.

Alles voor 1990 was beter dae! sê Bernie driftig. Sy slegte dae het in Desember 1990 begin. Nee, eintlik was dit in die aanloop tot die herfs al, September, Oktober se koers. In Desember was dit net die finale toneel van die laaste bedryf. Einde November het sy baas hom ingeroep, die hawemeester, hom die slegte nuus meegedeel en die afdankingsbrief gegee: Sorry, Bernie, dis ook nie vir my lekker nie, maar die druk kom van bo af, jy weet. Hulle sê ons was toegewend, ons het uit ons pad gegaan om jou te probeer help. Jy’t baie kanse gehad. Nou’s die einde van die pad bereik. Jy weet jy’t ’n probleem, nè? My raad is gaan weer rehab toe, kry weer hulp, dringend. Hou oud is jy … veertig? Gaan droog uit, jy sal weer werk kry, dis nie te laat nie.

Vir Doris sê hy niks. Te skaam. Sê hy vat sy af dae in Desember, is in die nuwe jaar terug by die werk. Gaan aan’t suipe. Boxing Day kry Doris die brief onder sy kouse, skop sy besope gat by die huis uit, smyt die koffertjie met klere agterna: En moenie terugkom nie, ek het genoeg gehad! Vat jou nie weer terug nie!

Doris …

Skoert!

Dit is waar sý afdraand begin het. Maak die tas oop, inspekteer die inhoud, loop met die tas na die naaste drinkplek, tot hy ook daar uitgemoer word, slinger stasie toe, vir ’n trein na Sherbrooke, sy suster sal tog nie haar broer op straat wil sien nie. Bel haar van die tiekieboks. Nee, sê sy, hy kan nie kom nie, hy’s ’n slegte voorbeeld vir haar kinders, gaan droog eers uit, dalk kan ons dán iets uitwerk. Natuurlik was dit Doris wat haar gebel en gewaarsku het.

In Montreal, dwalend deur ysige winterstrate, kry hy snags slaapplek en sop met ’n paar snye brood by die Old Brewery Mission. Sluip op Nuwejaarsdag terug huis toe, verlang na Jenny en Henry. Verlang na Doris. Verlang na sy huis, sy bed, sy vorige lewe. Het nie ’n sleutel nie. Klop. Doris maak die deur oop, sê niks, druk die stuk papier teen sy bors, klap die deur in sy gesig toe.

Hy gaan sit op die trap en vou die papier oop. Beskermingsbevel. Mag nie binne honderd meter van die huis kom nie, mag nie binne honderd meter van Doris of die kinders kom nie. Trek die halfbottel Jack Daniels uit sy jas se sak, skroef die prop af.

Cheers!

Dit is 1 Januarie 1991.

Anderman se vrou

Подняться наверх