Читать книгу Anderman se vrou - Chris Karsten - Страница 17

RACHEL

Оглавление

April 2007

Montreal

My liewe Sus

Dit was maar ’n klein en sad funeral, want dis waar dat ou mense min vriende oor het, die dominee het darem mooi gepreek. Dis net jammer dat jy en Pa nie hier kon wees nie. Sy ekskuus is dat hy nie op so kort notice ’n vlug uit Australië kon kry nie.

Mira Kellerman het ook ’n kaartjie van sympathy gestuur. Ek het by haar pastry shop gaan tee drink en haar van Ma se dood vertel en ’n paar dae later kom haar kaartjie hier by TipTop aan. Sy’s tog altyd so considerate. Dit kom seker maar van daardie tyd toe julle mans saamgewerk en julle almal saam gesocialise het. Sy’t my daar in Bertolini’s ook aan Pippa Eyselen voorgestel. Pippa onthou jou baie goed, so upstairs sonder ’n plooitjie aan haar gesig!

Dis al gossip wat ek vandag het, wou jou eintlik net van die funeral vertel het.

Ek wou nie eintlik iets daaroor sê nie, maar laat ek dit van my hart af kry, ek was nogal bietjie geskok oor my prim and proper suster wat lovers gehad het! En ek kan dink dat jy seker skaam was om só ’n dirty little secret met enige een te deel, maar ek neem jou nie kwalik nie, Sus. Eintlik wil ek sê: Good for you! En ek wens met my hele hart dat jy iemand gaan ontmoet wat jou waardeer en liefhet, jy verdien ’n goeie man wat vir jou omgee en jou cherish and love, nie iemand wat so emotionally absent is nie.

Sorry, daar meng ek weer by jou hartsake in, maar dis net omdat ek die beste vir jou wil hê.

Jou verlangende suster

L

Rachel sit met ’n glimlag. Sy dink aan haar ma as ’n flikkerende ster en aan Pippa Eyselen as ’n wit graf. Maar namate haar herinneringe linies begin vorm om die Eyselens, begin die glimlag om die hoeke van haar mond kwyn. Want as jy alles terugvoer en mooi van die begin af ontleed, is dit eintlik by hóm waar alles begin het. By Sieg Eyselen. Uitverkorene van Alfons Jonker en die res van daardie kragdadige ou spul. Dit was Sieg wat die Bon Accord-navorsers met die hand uitgesoek en onder hom versamel het vir hulle geheimsinnige werk by BioTech Industries: Simon Pope, Ben Koorts, Wim Kellerman, Braam Venter, Louis Smith.

Later op sittings van die Waarheidskommissie is vergeefs probeer om by die waarheid van die Bon Accord-lab uit te kom. Almal het toegeklap oor wat regtig alles bebroei is agter die fasade van daardie ondeurdringbare ou fabrieksgebou tussen die bosse naby die dam. Bewerings, beskuldigings, bespiegelings. Ja, daarvan was daar genoeg, ook in die koerante. Chemici en bioloë wat gif voorberei om van struggleleiers ontslae te raak, van middels wat glo die senuweestelsels en sinapse van breine van vermiste jong struggle-aktiviste befonkfaai het, van eksperimente om die name van ander aktiviste uit aangehoudenes te kry wanneer skop en slaan nie wil werk nie …

Projek Antenor.

Dít is die naam wat sy in die koerante gelees het nadat Alfons Jonker voor die amnestiekomitee van die WVK vergifnis gaan vra het. Hy het gebieg dat dit waar is, dat hy die vader van daardie projek was, maar wat daar gedoen is, het hy hoogheilig gesweer, dit was alles bo verdenking. Vir enige gifstowwe vir struggleleiers wat dalk uit BioTech Industries se laboratoriums kon gekom het, daarvoor kan hy nie pa staan nie, dit was nie die doel of opdrag nie, en as goeie, wetsgehoorsame burger is hy eenhonderd persent ten gunste daarvan dat ás sulke bewerings in ’n hof as die waarheid bewys kan word, dan moet die skuldiges gestraf word. En swaar. Dit is sy submissie.

Die vingers is in allerlei windrigtings gewys, maar niemand anders het na vore gekom om daaroor te bieg nie. En geen bewyse is gevind en niemand is aangekla nie. En Alfons Jonker het vryskelding gekry. Maar verlede jaar, in die Pase van 2006, het hy met sy lewe geboet. Of sy dood verband hou met Bon Accord? Dit is die groot geheim wat saam met sy moordenaar, Jack, graf toe is.

Daardie eksminister het wel getuig oor opdragte wat hy aan veiligheidsmanne onder hom gegee het, maar ook niks oor Projek Antenor nie. Vir sý bieg het hy ook amnestie gekry. En kort ná 2006 se Pase is hy óók, soos Alfons Jonker, dood gekry, gekruisig, met einste Jack se “signature” oral op daardie moordtoneel.

Nou geniet Sieg Eyselen en sy Pippa-pop die vettigheid van sy goue handdruk, terwyl sy en Simon soos skurke oor die aardbol aan’t vlug is. Dit is nie reg nie, en sy sê dit elke dag vir Simon, druk dit op sy hart. Kyk vir Ben Koorts. Waar’s Louis Smith en Braam Venter? Hulle hoef nie te vlug nie, Sieg het vir hulle gesorg, sorg seker steeds vir hulle. Vir Wim het Sieg vir die honde gegooi, daaroor was Mira baie bitter. Hom eers misbruik en sy mond gesnoer en daardeur hulle huwelik gedoem. En hom toe uitgeskop, met tronkstraf gedreig sou hy net ’n halwe woord rep oor wat hulle daar by Bon Accord gedoen het.

En jý, Simon? Jy wat kastig Sieg se regterhand was? Net één kraai van die haan toe verban Sieg jou ook tot die buitenste duisternis. Sy herinner hom kort-kort daaraan:

Luister, Simon, liefie … jy onthou dit mos, daardie skrif aan die muur destyds. Oor hoe hulle hul handjies was en ’n bok soek vir hulle kollektiewe sondes. En op jóú besluit het. Want dis mos jý wat die eerste fout begaan het, dis mos jý wat toegelaat het dat daardie stomme Portis met die verbrande voete ontsnap het. Dis jý wat daardeur die hele Projek Antenor in gevaar gestel het. En toe die tsoenami van bevryding nie langer gestuit kon word nie, is ook Bon Accord se BioTech Industries, nes al die ander bedenklike staatsprojekte, summier gesluit en is ylings opgeruim, is die bewyse van julle doen en late saam met die duisende ton ander inkriminerende dokumente vir Yskor se hoogoonde gevoer.

Dis toe, Simon, liefie, dat Sieg Eyselen jou naam aangeteken het: Simon Pope, sondebok.

En daar het dit al die jare gelê, wagtend, wagtend. Tot Alfons Jonker en sy minister – eens konsuis so kragdadig, maar eintlik sulke swakkelinge – hulle eie agterente probeer red het. En ter wille van die beskerming van die groep moes ’n offer gedoen word, en daarom is, uiteindelik, die sondebok se keel vir die slagmes aangebied.

Nou vra ek wéér, Simon, liefie: Hier’s ons nou in Kanada, kastig om ’n nuwe lewe te begin. Maar vir hoe lank? Hoe lank voor ons wéér moet vlug? Vlug en wegkruip, vlug en wegkruip … Is dit wat ons vir die res van ons lewe gaan doen?

En intussen, wat van my? Nie van my as medevoortvlugtige nie, van my as mens van vlees en bloed, van my as jou vrou? Ek wil nie vir jou aandag en aanraking bly smeek nie, kan jy nie my smagting sien na bietjie teerheid nie, na bietjie liefde nie? Sit jou arms om my, hou my vas, ek wil jou liggaam teen myne voel, jou lippe op myne, ek wil behoort.

Hulle deel oppervlakkige brokkies van hulle nuwe lewe in die nuwe land, maar niks dieper nie, sy geesteryk sluit haar steeds uit, sy intellektuele behoeftes skynbaar bevredig deur nuutgevonde akademiese uitdagings. Sy probeer haarself oortuig dat sy nie regtig meer omgee nie, dat hy sy eie gang kan gaan. Maar in die roetine van hulle huislike lewe is daar so baie stringe wat hulle aanmekaarbind en dit is swaar om te erken dat dit nou sý is wat ekspres die huwelik rafel vir rafel lostorring, en haar afhanklikheid aan hom. Gaan sy dit regkry, wanneer alles los is en in flarde, om alleen op eie bene te staan?

Anderman se vrou

Подняться наверх