Читать книгу Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux - Страница 10
Hoofstuk 7
ОглавлениеKerneels en Theo sit saam in Figaro, die Italiaanse restaurant waar hulle gewoonlik eet en waar Theo laas die meisie raakgeloop het. Of sy vir hom. Vir die eerste tien minute kon hy nie ontspan nie, hy het kort-kort na die deur gekyk, bang dat sy weer sal inloop.
“So, jy gaan Bosveld toe vir die naweek,” sê Kerneels.
“Ja. En sy gaan saam.”
“Die naamlose een.”
“Ja.”
“Hoekom?”
Theo eet sy broodrolletjie. Soos die vorige keer is dít ten minste vertroud. Werklik. Dis brood wat na brood smaak en ruik. “Ek weet nie. Sy hou van die wildtuin, sy wou liewers na die wildtuin gaan as om saam met my te eet – en ek voel skuldig oor die appel.”
“Almal goeie redes,” sê Kerneels.
“Sy gaan met die diere speel of kommunikeer en ek sal saam met my ma kuier.”
“Nie die renosters nie,” spekuleer Kerneels. “Ek sou nie met hulle speel nie. Nee.”
“Jy is nie sy nie,” sê Theo. “Ek dink sy kan.”
Kerneels ignoreer sy brood omdat hy op ’n dieet is. Geen onnodige stysel nie, het sy vrou, Janie, gesê. “Wat het jy vir jou ma gesê?” vra hy om van die brood te vergeet.
“Net dat ek ’n vriendin saambring. Glo my, ek het dit in die sterkste moontlike terme genoem dat sy nie ’n geliefde van enige aard is nie.”
“Kan nie,” stem Kerneels saam. “Nie as jy nie eers haar naam ken nie.”
“Presies.”
“En jou ma het dit so aanvaar?”
“O ja.”
“Goeie vrou, jou ma.”
“Ja,” sug Theo en kyk bly op toe die kelner langs hom verskyn met hulle kos.
Jenny is nie heeltemal so aanvaardend soos Kerneels toe Theo haar vertel hy gaan weg vir die langnaweek nie.
“Bosveld toe?” vra sy en kreukel haar neus. “Wat op aarde wil jy daar gaan doen?”
“Dis waar ek vandaan kom. My ma bly nog daar.”
“Is dit nie baie stowwerig nie? Droog?”
“Ja, dit is. Maar lekker as jy van die Bosveld hou.”
“Ek ken dit nie,” sê sy. Sy is kwaad vir hom omdat sy wou hê hy moet die nag oorbly en hy het gesê hy kan nie, hy moet huis toe gaan om sy klere te was en in te pak. Dat hy haar aanbod bedank het, is iets wat hom verstom.
Hy sien nie kans vir ’n aand se koketterige geklets vóór die onvermydelike nie; nog minder sien hy kans om langs haar wakker te word. Hy sê vir homself dis omdat sy die jagwerk doen, nie hy nie, maar hy weet dis nie die rede nie. Iets omtrent haar, iets omtrent meisies verskrik hom op die oomblik.
Toe hy die Donderdagmiddag by sy huis kom, effens later as wat hy voorsien het, staan die nuwe wit motor reeds buite, maar van die meisie is daar geen teken nie. Hy is dadelik op sy hoede; die sleutel is nou altyd in sy sak en dis met ’n sekere fatalisme dat hy die voordeur oopsluit en instap.
Sy sit inderdaad rustig op die bank en lees en kyk vriendelik op toe hy inkom. “Besige dag?” vra sy.
“Hoe het jy ingekom?” vra hy kwaad.
Sy wys na die kombuis. “Venster was nie op knip nie.”
“Maar daar’s nie genoeg plek tussen die muur en die venster vir ’n rot nie en buitendien is dit vol plante.”
“Ek kan nie namens die rot praat nie,” sê sy. “En ek het versigtig beweeg tussen die plante. Niks is beskadig nie. Ek het groot respek vir plante.”
Sy bekyk hom rustig. “Sal ek vir jou tee of iets maak terwyl jy inpak?”
“Ek is klaar ingepak, ek moet net verklee.”
“Dan lees ek verder.” Sy kyk af en bepaal haar aandag by haar boek.
Hy spring die trappe twee-twee op en is vyf minute later terug, ’n drasak in sy hand en nou geklee in ’n kakiebroek, oopnekhemp en ferweelbaadjie.
“Kom,” sê hy sonder omhaal.
By die motor oorhandig sy haar sleutel plegtig, kyk hoe hy die bagasie in die bak laai en klim dan langs hom in. Hy wil kwaad bly, maar kan dit nie volhou nie – dis eenvoudig te lekker om die kragtige motor te bestuur. Die laatmiddagverkeer is geweldig druk en hy moet konsentreer.
“Almal gaan weg,” merk sy op. “Maar miskien verstaan jy nou haar frustrasie.”
“Ja,” sê hy.
Dis ongetwyfeld sy verbeelding, maar dit voel vir hom ook of die motor wil ontsnap uit die slakkepas waarin die verkeer hulle dwing.
Die oomblik toe hulle op die oop pad na die noorde is, vergeet hy van alles behalwe die plesier om so ’n motor te bestuur. Sy lyk ook nie asof sy wil gesels nie, haal net ’n kasset uit haar bodemlose sak en skakel die radio aan.
“Ek hoop jy hou van opera,” sê sy en draai die volume hoër.
“Ek gee nie om nie.”
“Sy hou daarvan,” sê sy en sit gemaklik agteroor toe die musiek begin speel.
“Die kar? Hoe weet jy?”
“Jy kan mos sommer voel sy is gelukkiger.”
Hy lewer nie kommentaar nie en die kilometers gly onder die bande verby terwyl die son laer sak aan die westekant en die lug al rooier en die gras al geler word. Op Nylstroom hou hy stil by ’n vulstasie omdat die meisie hom in kennis gestel het dat sy nie tyd gehad het om in die stad vol te gooi nie.
“Hier,” sê hy toe hy uitklim. Hy gee vir haar sy petrolkaart. “Gee dit vir die man as hy klaar is. Ek gaan gou na die supermarkie. My ma het gevra ons moet slaaigoed saambring.”
Toe hy terugkom, sy hande vol plastieksakke, sit sy ongelukkig voor haar en staar, ’n beduidenis van trane in haar oë.
“Wat is dit?” vra hy ontstem en teken gou die strokie.
“Hy het haar geslaan.”
Hy gooi die sakke op die agterste sitplek en kyk om hom rond. Op die sypaadjie sit ’n groepie vroue wat kralewerk en ander snuisterye verkoop, maar hulle gesels rustig met mekaar en lyk nie of hulle onlangs mishandel is nie.
Sy wys na die petroljoggie wat teen die kantoordeur leun en met ’n vriend gesels. “Hy het haar geslaan.” Sy wys na die neus van die motor. “Daar.”
“Hy het die motor geslaan?”
Sy knik en hy loop na voor, bekyk die enjinkap, maar behalwe dat dit effens stowwerig is, makeer dit niks nie en hy klim kopskuddend agter die stuurwiel in. “Hoekom het hy dit gedoen?” vra hy toe hy weer ry.
“Hy’t gesê: ‘Mooi ding’ en toe slaan hy haar.”
Theo hou sy hand voor sy mond en maak asof hy van ’n kriewelrigheid in die keel ontslae moet raak. “Ek sien,” sê hy met bewonderenswaardige bedaardheid. “Hy wou haar dus komplimenteer, nie seermaak nie.”
“Dis om ’t ewe,” sê sy bedroef. “Seermaak is seermaak, maak nie saak wat sy motiewe was nie.”
Sy vryf haar hand koesterend oor die paneelbord en prewel iets wat Theo net kan aflei trooswoorde is vir geval die kar tog nog pyn het. Dan sit sy ’n nuwe kasset in, draai haar kop in die rigting van die venster en gee haar oor aan die musiek.
Dis lankal donker teen die tyd dat hulle afdraai op die stofpad na die plaas en hy moet uitklim om die eerste hek oop te maak. Die meisie het die musiek stilgemaak en sit nou vorentoe, haar blik gretig op die pad, die ruit halfpad afgedraai al is dit koud.
“Ruik net,” sê sy ademloos. “Dis stof en bosse en houtvure. Is dit nie wonderlik nie?”
“Ja,” stem hy saam, sy eie bloed tintelend by die herkenning van reuke en gesigte waarvan hy vergeet het. “Maar ek sou tog liewer die venster toehou anders gaan jou mo-. . . anders gaan sý vreeslik vuil word binne.”
Toe ’n vlakvark beangs oor die pad hardloop, is haar dag gemaak alhoewel sy ook besorg is toe hy weer moet uitklim om ’n hek oop te maak.
“Sal iets jou nie bespring nie?” vra sy.
“Ek dink nie so nie. Ons het nie bespringende diere op die plaas nie.” Hy kan dit nie help nie, hy kyk haar tergend aan toe hulle weer ry. “Sal jy omgee as iets my bespring?”
“Ek ken mos nie die pad nie,” sê sy. “Ek sal nie weet hoe om by die huis te kom nie, en nog minder hoe om terug te kom.”
“Natuurlik.”
“En wat sal ek vir Jenny sê?”
Hy rol sy oë. “Luister, kan ons ’n ooreenkoms aangaan? Kan ons net vir hierdie paar dae nie oor Jenny praat nie?”
Sy herkou die voorstel. “Ook nie oor Sandra nie?”
“Nee.”
“Of enige van die ander honderd nie?”
“Daar was nie soveel nie,” sê hy weer vies. “Maar ja. Kan ons hoegenaamd glad nie oor meisies praat nie?”
“Goed,” sê sy inskiklik. “Ons moet jou ma se gevoelens spaar.”
“Ek het my gevoelens in gedagte gehad.”
“Ek weet, maar as gaste van jou ma is sy belangriker.”
Hy kyk vinnig na haar. “My ma ken my heelwat langer as jy. Ek dink nie daar is iets wat haar nog skok nie.”
“Seker nie,” gee sy toe. “Maar dis ook moontlik dat sy oor die jare geleer het om haar diep teleurstelling en ontgogeling goed weg te steek.”
“Sy is nie teleurgesteld in my nie! Sy is – om die waarheid te sê – nogal trots op my.”
Sy skud haar kop en sug. “Ja, dis hoe vrouens nou eenmaal is.”
“En wat is dít veronderstel om te beteken?”
“Vrouens in die algemeen en ma’s in die besonder weet hoe om hulle gevoelens weg te steek. Te onderdruk. Dis nodig, sien, omdat hulle die rol van vredemaker moet speel. Hulle moet altyd ondersteun en help en troos en aanmoedig. Hulle mag nie wys wanneer hulle self seergemaak is nie.”
“Liewe vader,” sê hy verbyster. “Probeer jy my nou vertel my ma bring haar dae deur in wroegende en bitter trane oor haar slegte seun en sy verderflike leefwyse?”
“Ek sou dit nie verderflik noem nie. Uitspattig en ongevoelig, maar nie verderflik nie.”
“Hoe weet jy ek is ongevoelig?” vra hy.
“Hoekom anders het jy al soveel honderde meisies gehad?”
“Ek dog ons het ooreengekom om nie weer daaroor te praat nie? En dit is nie honderd nie!”
“Ons is nog nie op die plaas nie,” beantwoord sy die eerste vraag. “Die ooreenkoms geld net daar.”
“Ja, ons is,” sê hy en wys na die ligte wat deur die bosse skyn. “Daar’s die huis.”
“Dis klomp huise,” sê sy.
“Hou op om so letterlik te wees, dis buitegeboue en waenhuise en die rondawel waar gaste slaap.”
Theo is baie bly toe hy op die werf stilhou en sy ma sien nader kom. Hy is nog blyer toe die honde hom omtrent onderstebo spring en hy so verstrengel raak in hulle dat die meisie moet uitklim en haarself voorstel. Terwyl hy nader beweeg deur die omringende honde sien hy hoe sy ma die meisie se hand skud en haar arm liefdevol om haar skouers sit asof sy ’n ou bekende is.
“Mamma,” sê hy en druk haar so hard teen hom vas dat sy protesteer. “Hoe lekker om weer hier te wees.”
Dit duur ’n tydjie voor die motor afgelaai is, die honde tot bedaring gekom het en sy ma hulle in die enorme kombuis voor die Aga sitgemaak het. Die meisie sê nie veel nie, maar haar oë skitter agter die groot brilglase en haar wange gloei rooi van die skielike hitte en die glas wyn.
“Ek het ’n stoofpot gemaak,” vertel sy ma terwyl sy rondskarrel tussen die stoof, diverse kassies en die groot tafel waarvan die een helfte bedek is deur ou koeverte, tydskrifte, brosjures en hondekos. ’n Dik gemmerkat kom ingestap, kyk almal uit die hoogte aan, bly voor die meisie staan en takseer haar vir ’n oomblik voor hy grasieus opspring en op haar skoot gaan lê.
“Klap hom af as jy nie van katte hou nie, hartjie,” sê mevrou Senekal.
“Nee, nee,” glimlag die meisie en krap die kat agter sy ore.
“Ai tog,” sug mevrou Senekal en beweeg in die rigting van die sifdeur. “Ek het die dinges . . . Ek is nou terug.”
“Kan ek nie help nie, Ma?” vra Theo.
Sy waai net met haar hand en verdwyn uit op die donker stoep. Die kat is verlief op die meisie se dik kabeltrui. Met sy voorpote knie hy die sagte wol en spin al harder.
“Hy hou van jou trui,” sê Theo, nou warm en ontspanne en bereid om vriendelik te wees.
“Ek het dit self gebrei.”
“Is dit so? Jy is vol talente.”
Sy kyk na hom oor die kop van die spinnende kat. “En ek gaan nie vir jou ook een brei nie.”
“Dis ook nie wat ek gesê het nie!”
“Want jy moet kaste vol truie hê,” gaan sy onverstoord voort. “Wat jou meisies vir jou . . . oeps, ek is jammer. Ek het belowe om nie daaroor te praat nie.”
Hy maak sy oë vir ’n lang, gepynigde sekonde toe. Hy moes die glasappel saamgebring het sodat hy dit die hele tyd voor hom kan hou om hom te herinner waarom hy homself soveel leed aandoen.
“Ek is jammer,” sê sy spytig. “Ek het onderneem om iets te doen en ek hou nie daarby nie. Dit sal nie weer gebeur nie.”
Hy drink liewers nog ’n sluk wyn en antwoord nie.
“Kan jy my glas aangee?” vra sy vriendelik. “As ek nou oorleun, gaan jou kat afval.”
Hy gee haar glas woordeloos aan en wonder waar sy ma so lank bly.
Die meisie drink ’n klein slukkie, sit die glas op ’n koerant neer en kyk na hom. “My hare maak my seer,” sê sy beleef. “Gee jy om as ek dit losmaak?”
“Hoekom vra jy vir my? Jy kan met jou hare doen net wat jy wil.” Maar hy kyk gefassineerd hoe sy haarnaald na haarnaald uit die stywe knoets op haar kop trek. Dit interesseer die kat ook, hy lig sy kop en toe sy klaar is en die dik, blink massa losskud, steek hy ’n poot uit en klap na die string naaste aan hom.
Teen sy beterwete, teen al sy voornemens en instinkte in is Theo bekoor. Die glansende hare wat nou oor haar kop aftuimel, in haar dun, wit nek invou en dan oor haar skouers val, is iets wonderliks.
“Jy het pragtige hare,” sê hy. As dit iemand anders was, het hy nou vorentoe geleun en sy vingers daardeur getrek.
“Ek weet,” sê sy, sien dan die kwaai flits in sy oë en tel weer haar glas op. “Ek bedoel, dankie.”
“En jy noem mý arrogant.”
“Ek kan mos nie sê dis lelik nie?” vra sy. “Dit sou ’n leuen wees.”
“Ek veronderstel so,” gee hy toe. “Dis net dat meisies gewoonlik ten minste maak asof hulle nie weet nie. Beskeie.”
Sy sug. “Ek weet ons mag nie oor meisies praat nie, maar jy sien, ek is onbekend met die speletjie wat hulle speel. Jy, as die kenner, moet my maar reghelp.”
Gelukkig kom mevrou Senekal op hierdie oomblik terug en red die meisie se lewe, want Theo was besig om te besluit tussen verwurging en versmoring.
“A,” sê mevrou Senekal. “Ons kan nou eet.” Sy kyk bewonderend na die meisie se los hare. “Ek sien jy het jou gemaklik gemaak, hartjie. En sulke pragtige hare.”
“Nee,” sê sy met neergeslane oë. “Dis lelik.”
Theo spring so woes op dat hy moet gryp na sy stoel of dit val om. “Ek sal vir Ma die bakke op die tafel sit. Waar is die aanvatlappe?”
Die meisie het ook opgestaan ná sy die gesteurde kat versigtig opgetel en weer op die stoel neergesit het. “Mag ek gou my hande was?” vra sy.
“Haai, hoe sleg van my,” sê mevrou Senekal. “Jy moet dink ek is so ’n slegte gasvrou.” Sy kyk na Theo, maar hy buk voor die oop oonddeur en syself het twee skottels in haar hande wat haar begin brand sodat sy dit vinnig na die tafel moet dra.
“Theo sal jou wys, hartjie.”
Die meisie knipper haar groot oë. “Wie is Theo?” vra sy.