Читать книгу Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux - Страница 15
Hoofstuk 12
ОглавлениеTheo het op universiteit laas so uitgesien na iets en soveel moeite gedoen met sy voorkoms. Hy het sy hare Saterdagoggend laat sny en toe die res van die dag gewonder of dit te kort is of dalk nie kort genoeg nie. Sy beste pak is droogskoonmaker toe geneem die dag ná hy Therese by die biblioteek gekry het. Sy skoene is gepoets. Hy laat sy motor was en binne-in stofsuig, hy spandeer baie minute aan die keuse van presies die regte das en halfvier op die kop hou hy voor haar woonstelgebou stil.
Soos gewoonlik haal sy die wind uit sy seile voor sy boot nog behoorlik op die water is, want sy wag vir hom op die sypaadjie. En sy is geklee in ’n uitrusting wat hom weer eens omknikker. ’n Eenvoudige swart rokkie, omgeboor en afgewerk in wit, en kort, net bokant die knie sodat haar bene in dun swart kouse bevestig wat hy daardie nag op die plaas reeds kon sien. Mooi bene en voete in eenvoudige, plat swart hofskoene. Op haar kop dra sy ’n swart wawielhoed, versier met bosse wit laprose.
Hy spring uit sy motor en kom haar tegemoet. “Therese,” sê hy. “Hoekom staan jy hier op die sypaadjie?”
“Jy lyk mooi,” merk sy op.
“Nee,” sê hy. “Jy lyk . . . pragtig. Heeltemal pragtig.”
Sy glimlag net.
“Waar is jou hare?” vra hy, want sy lyk soos ’n model. Al wat hy kan sien, is haar ovaalvormige gesig en die enorme hoed.
“Ja,” sê sy ernstig. “Dit was nogal ’n probleem. Dis alles in die bol van die hoed ingedruk. Jy weet nie wat ’n gesukkel dit was nie. As hierdie hoed ’n millimeter beweeg, gaan alles uitval.”
“Dan sal ons sorg dat dit nie uitval nie.” Hy maak die motordeur vir haar oop. “Maar hoekom het jy hier buite vir my gewag?” vra hy toe hulle sit. “Ek sou jou by jou voordeur kom haal het.”
“Ag,” sê sy argeloos. “Ek het gewonder of jy parkering sou kry en buitendien weet jy nie hoe dit daarbinne gaan nie. Ek drink nie eintlik nie, soos jy weet, maar ek het gevoel as ek ’n minuut langer daar bly, gaan ek die whiskybottel uithaal en my vergryp.” Haar hoed het skeef gestamp met die inklim en sy skik dit versigtig reg. “Nie dat ons whisky in die woonstel het nie. Riaan is ’n brandewynman en Sandra ’n wynvrou.”
“En jy?”
“Koffie,” sê sy ernstig. “Jy weet mos.”
Hy skakel nie die motor aan nie, sit nog net na haar en kyk. “Ek moet jou sê,” merk hy op, “soos jy nou lyk, vind ek dit moeilik om te glo jy is dieselfde mens wat in my arms geslaap het omdat jy bang was vir Hansie.”
“Ek noem dit vir niemand nie,” sê sy. “Hulle kan die verkeerde gevolgtrekking maak.”
“Sou jy omgee?”
“Theo,” sê sy. “Ons moet ry, want ons moet voor in die kerk sit. Al het Sandra nie ’n strooimeisie nie, moet ek haar ruiker vat as hulle die ringe of iets doen.” Sy sit nadenkend voor haar en kyk tot hulle ’n ent gery het. “Ek sal nie só trou nie.”
“Toe ek laas met jou gepraat het, was jy glad nie van plan om te trou nie.”
“Ek weet, maar sou ek van plan verander, doen ek dit anders. Sandra het histeries wakker geword en wou skielik niks weet van hom nie.”
“Die arme Riaan.”
“Nie Riaan nie,” sê sy betigtend. “Die rok.”
“Natuurlik,” sê hy, gesout ná soveel weke. “Hoekom wou sy niks van hom weet nie?”
“Omdat sy ’n vlekkie op haar bors ontwikkel het en die rok wys dit.”
“Ek sien,” sê hy. “’n Gewaagde man, hierdie rok, as hy haar bors blootlê.”
“Presies. Dis waarom ek sê dis ’n man.”
Hy is bewus van die spinnerakke, maar hy ignoreer dit dapper. “Jou opinie van mans is laag.”
“Nee, realisties.” Een hand is op die bol van haar hoed en speel afgetrokke met die rose. “Mag ek jou nou ’n persoonlike vraag vra?”
“O, aarde,” sê hy. “Hoekom vra jy eers my toestemming? Dit het nog nooit vantevore gebeur nie.”
“Het jy met haar geslaap?” vra sy. “Ek wil net graag weet.”
“Met wie?”
“Sandra.”
“Nee.”
Sy tob ’n oomblik hieroor. “’n Galante man, ’n heer, om ’n outydse term te gebruik, sal natuurlik nie praat oor so iets nie, maar ek wou graag weet.”
“Nee,” sê hy weer. “Ek het nie.”
“Mm.” Sy tob nog ’n sekonde of twee. “Hoekom nie?”
“Sy was . . . dit was net ná die eerste operasie, die . . . e . . . reduksie. Sy was bang iets kry seer.”
“Ja, natuurlik.” Maar hy kan sien sy is nog nie klaar met die onderwerp nie en hy wag. “Maar as dit nie daarvoor was nie, sou jy wou?”
“Dit ís ’n persoonlike vraag.”
“Ek weet.” Sy klink nou so ongelukkig soos sy geklink het toe sy vir hom gesê het alleen op die vloer is nie veilig genoeg nie.
“Therese,” sê hy. “Jy het my kort en kragtig vertel, meer as een keer, hoe sinloos dit is om iemand uit te vra na sy of haar agtergrond of verlede. Onthou jy dit? Jy het gesê as jy van iemand hou, kan jy nie sien hoe dit sal verander as hy vier broers het of op ’n sekere dorp grootgeword het nie. Iets in dier voege. Onthou jy dit?”
“Ja.”
“En jy het nogal sarkasties geraak oor die uitvraery.”
“Ja,” erken sy.
“Nou ja?” Hy kyk vinnig na haar. “Ek dink jy oorskat nog die hele tyd my sedes of my gedrag. Ek is bevrees ek was nie halfpad so wild soos jy gedink het ek is nie.”
“Jy het dan al met soveel meisies uitgegaan.”
“Dit het ek ook al vir jou verduidelik. Ek is kieskeurig en as dit ’n sonde is, moet jy dit so aanvaar. Ek het met baie meisies uitgegaan omdat hulle, in die eerste plek, meer as gewillig was, en ek, in die eerste plek, soek na die regte een. Die perfekte een. Die een wat my nie verveel of irriteer nie. Die een wat nie haglike kos kook of sotlikhede in my oor fluister nie.”
Sy draai haar kop om na hom te kyk en haar groot hoed stamp weer skeef sodat sy dit moet regskuif. “Dink jy jy sal haar ooit kry?”
“O ja,” sê hy, want dit is die een ding waarvan hy seker is. “Ek sal.”
Sy ontspan en begin in die motor rondkyk. “Sy’s gaaf,” sê sy.
Hy het sy oë op die vragmotor wat skielik na regs swaai om ’n onverklaarbare rede, wat blyk ’n leë kartonboks te wees. “Sandra? Ja, sy is gaaf, maar te veel ingestel op haarself.”
“Ek praat van jou motor.”
“My motor is nie vroulik nie!”
“Ja, sy is. Liggrys, baie vroulik. Bekleedsel ook ’n sagte grys, steeds vroulik. Aura gemoedelik.”
“Gemoedelik?”
“Ja,” sê sy beslis. “Simpatiek. Simpatie is nie ’n manlike eienskap nie.”
Hy gee die stryd gewonne; die spinnerakke is nou in sy vertroude, oorbekende motor. “Wat is jou hoed? Manlik of vroulik?”
“Vroulik,” sê sy dadelik. “Rose.”
“En jou rok?”
“Manlik. Strak.”
“My pak is darem seker manlik?”
“Ja, maar die das is vroulik.”
“Hoekom?” Hy kyk gesteurd af na sy das, met soveel sorg gekies.
“Ek weet nie, dis die aura.” Sy wys na die volgende hoek. “Daar is die kerk. Jy kan maar parkeerplek soek.”
Hulle is vroeg genoeg daar dat hulle in die voorste bank kan inskuif en onder die sagte orrelmusiek kry hy nog ’n vraag in.
“Gaan ek vandag jou ma ontmoet?” fluister hy. “Jy het gesê sy is Sandra se ma se oudste vriendin.”
“Nee,” fluister sy terug.
“Hoekom nie? Bly sy te ver weg?”
“Nee, sy’s dood.”
Hy is so verbaas dat hy vergeet om te fluister. “Maar jy het gesê hulle is sedert hulle skooldae vriendinne en is dit nog altyd!”
Sy kyk na hom met haar groot grys oë. “Die feit dat iemand dood is, beteken nie dat hulle verwantskap verbreek is nie.”
Hy swyg. Toe die bruid ingestap kom, staan hy op. Hy moet toegee dat sy baie mooi lyk en moet ook erken dat haar rok manlik is. Dis regaf, strak en – vir Sandra – onopgesmuk. Hy kan geen vlekke of letsels op haar bors sien nie en hy kyk ook nie so stip nie. Hy is hoofsaaklik bewus van die wawielhoed langs hom en die parfuum wat soos sy bank ruik. Op die gegewe oomblik staan Therese op en vat Sandra se ruiker, struikel op die gladde vloer en kom sit weer langs hom.
Hulle stap ná die bruidspaar uit en kry ’n mond vol konfetti op die trappe. Hy vang Kerneels en Janie se oog en stel Therese aan hulle voor. Kerneels is te goed opgevoed om enigiets oordadigs te sê, maar Theo lees die goedkeuring op sy vriend se gesig. Dit laat hom net gelukkiger voel.
Die onthaal is temerig soos onthale maar is en Theo kry die gevoel dat Therese moeg raak vir haar hoed. Elke mens wat verbystap of afbuk om met hulle te praat, stamp die hoed skeef. Toe sy vir Sandra soen en gelukwens, val dit amper af.
“Eintlik,” sê sy vir hom ná hulle ’n hele paar glase sjampanje inhet en genoeg vingereetgoed om hulle deur te sien tot die volgende oggend en ontbyt, “wil ek nou huis toe gaan. Ek keur hierdie gejol in beginsel al minder goed.”
Hy stem volmondig saam. Dis nog koel genoeg saans, maar in die kerksaal is dit te warm, die musiek te hard, die gedreun van stemme oorweldigend. “Reg,” sê hy en staan op. “Kom ons groet en verdwyn.”
“Ek wil nie Sandra se ruiker vang nie,” sê sy toe hulle uitstap.
“Nee,” stem hy saam.
“Ook nie haar kousband nie.”
“Nee.” Hy sluit die motor oop en kyk na haar. “Sal ons ’n rustige koppie tee gaan drink in jou woonstel of myne?”
Sy weeg hierdie voorstel op. “Joune. Myne is nog chaos.”
Hulle ry na sy woonstel, hy sluit oop en skakel sagte ligte aan en sy haal haar hoed af en gooi dit soos ’n diskus oor die kamer. Dit mis die glasappel rakelings en tol af op die vloer.
“Dis beter,” sug sy en skud haar hare los.
Die gebaar laat sy sinne duisel. “Jy laat my sinne duisel,” sê hy vir haar.
Sy lag, skop haar skoene uit en gaan lê op sy bank. “Nee, dis maar die sjampanje.”
“Dis nie die sjampanje nie, dis jy.”
“Niemand het my nog ooit met sjampanje vergelyk nie,” sê sy. “Maar sien jy nou wat ek teen die hele spul het?”
“Ja. Ek hou van jou plan om net ’n rugsak te pak en die deur agter jou toe te trek.” Hy maak sy das los. “Koffie of tee?”
“Koffie, dankie. Sal ek dit maak?”
“Nee,” sê hy beslis. “Ek sal dit bring.”
Toe hy met die skinkbord terugkom, hurk sy voor sy musiekstel en hou ’n CD in haar hand. “Kan ek enigiets speel?”
“Enigiets.”
Sy sit ’n donker simfonie op en gaan lê weer op die bank, waar hy haar koffie vir haar gee. “Wat ’n verligting,” sug sy. “Die hoed het my so gehinder.”
“Dit was nie nodig om dit te dra nie. Min vrouens het.”
“Ek wou reg lyk.”
“Jy het.”
Sy beduie na die hoed. “Gooi dit vir my.”
Hy tel die hoed op en bring dit na haar, onthou dan in dieselfde asem met hoe min grasie hy daardie eerste oggend haar bril op haar bors gegooi het. “Wat wil jy daarmee doen?”
“Ek wil net vir jou wys.” Sy vat haar hare in haar regterhand vas, begin dit draai en tol dit op tot dit ’n knoets op haar kop vorm. “Sien jy. Nou vat ek die hoed só en sorg dat alles binne-in die bol is. Maar heelaand het ek gevoel asof ek ’n kan water op my kop balanseer. My nek is absoluut gedaan.”
Hy kom sit langs haar op die bank. “Therese,” sê hy. “Ek het ’n oorweldigende drang om jou te soen. Dink jy ek mag maar?”
Sy knip haar oë agter die brilglase. “Met of sonder die hoed?”
“Ek is nie puntenerig nie,” sê hy. Hy leun versigtig oor, voel haar koel lippe onder syne en stamp die hoed af. “Miskien is dit beter sonder die hoed,” sê hy en sit die wawiel versigtig op die koffietafel neer.
“Hoekom wil jy my soen?” vra sy.
Hy tel ’n string hare op. Dit voel presies soos hy geweet het dit sal voel: dik sy. “Ek weet nie,” sê hy. “Moet ek ’n verklaring gee?”
“Ek stel net belang,” sê sy bedees.
Hy leun weer oor, vou sy hande om haar gesig en soen haar. Sy stribbel nie teë of lyk op enige manier asof dit haar nie geval nie, maar haar lippe bly koel en geslote onder syne.
“Wat is verkeerd?” vra hy en trek sy hande strelend deur die dik hare. “Wil jy my nie soen nie?”
Sy lyk nie net seergemaak nie, sy lyk afgehaal. “Hoekom vra jy dit? Ek soen jou dan.”
Dis sy beurt om onbegrypend na haar te kyk. “Noem jy dit soen?”
Dit was die verkeerde ding om te sê. Haar oë vlieg na syne en vul met trane. “Ek het dit geweet,” sê sy gesmoord en druk haar voorvingers teen haar lippe. “Loop. Hoekom loop jy nie net nie?”
“Dis my huis,” sê hy redelik genoeg. “Therese, wat is dit? Wat het ek verkeerd gedoen?”
“Ek het dit van die begin af geweet,” sê sy. “Ek het myself gewaarsku en ek het jou probeer waarsku. Jy is te . . . ervare vir my en jy dink ek is ook soos . . . al die ander.”
“Therese,” sê hy. “Liefste mens, ek het nog nooit gedink jy is soos . . . die ander nie en dis die laaste ding op aarde wat ek wil hê. Jy is heeltemal uniek en ek is baie jammer as ek jou gevoelens seergemaak het. Jy mag soen net soos jy wil.”
“Ek wil nie soen nie,” sê sy en tel haar koffiebeker op. “Ek is nie so oud soos jy dink ek is nie.”
Hy leun terug en kyk na haar. “As jy nou vir my sê jy is eintlik net vyftien en gaan my hof toe sleep omdat ek met ’n minderjarige gelol het, gaan ek iets oorkom.”
Dis die héél verkeerdste ding wat hy kon sê. Trane rol uit haar groot oë, soveel so dat sy haar bril moet afhaal en begin rondsoek na iets om dit mee op te dep.
“Hier,” sê hy ontstem en gee sy sakdoek vir haar. “Wat het ek nou gesê wat jou so ontstel het?”
“Jy dink ek is net ’n kind!”
“Jy verdraai my woorde. Ek het net ’n grap gemaak.”
Die seergemaakte kyk wat sy hom gee, wys vir hom wat sy dink van die grap.
“Therese,” sê hy moedeloos, want hy was nog nooit in sulke onbekende waters nie. “Kom ons vergeet hiervan. Ek moes jou nooit gesoen het nie.”
Dis nog steeds nie reg nie.
“Hoekom nie?” vra sy, die trane opgedroog.
“Ek gaan dit nie antwoord nie,” sê hy. “Maak nie saak wat ek sê nie, jy gaan dit verdraai om soos ’n belediging te klink.” Hy tel haar hand op. “So kom ons vergeet van alles. Ek sal net suutjies hier sit en jou hand vashou.”
“Mens het nie ervaring nodig daarvoor nie,” stem sy saam.
Hy lig een vinger en vee oor haar lippe. “Dink jy jou gebrek aan ervaring is ’n probleem?” vra hy sag.
Sy kyk net vinnig op na hom en weer weg. Vir die volgende vyftien minute of so hou hy hom besig met – vir hom – ’n unieke proses: hy leer haar soen. Toe sy uiteindelik wegbeur van hom is haar hare deurmekaar en haar oë verward.
“Therese,” sê hy en kyk haar vraend aan, want daar is iets in haar oë wat hom ontstel. ’n Verslaentheid, ’n emosie waaraan hy nie ’n naam kan gee nie. “Wat is dit? Weet jy dat ek . . . totaal versot geraak het op jou? Ek wil met jou trou.”
“Nee!” kryt sy en stryk haar hare plat. “Nee, dit moes nie só ver gegaan het nie. Moenie so iets sê nie. Ek wou jou net ’n les leer.”