Читать книгу Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux - Страница 16

Hoofstuk 13

Оглавление

Hy sit terug asof sy hom geklap het. “Jy wou my net ’n les leer,” herhaal hy stadig. “Wat sê jy nou vir my?”

Sy trek haar rok reg, druk die voorkant plat soos sy destyds met die kragie van die donkerblou rok gedoen het. “Ek wou kyk of ek dit ook kan regkry,” sê sy in ’n plat stem. “En ek het. Jy’t my by . . . e . . . jou laat slaap.”

Hy spring op, sy hande diep in sy sakke, ’n afskuwelike, koue krieweling teen sy rug af. “Doelbewus?” vra hy in ’n koue stem. “Wat was dit – nog ’n weddenskap? Seker met Sandra.”

Sy skud haar kop. “Sal jy my nou huis toe neem? Dis laat. Ek is vaak.”

“Jou elektriese kombersie wag tog nie,” sê hy snydend. “Dis nie meer só koud nie. Of was dít ook net ’n truuk? Ja, dit was seker. Jy wou kyk of ek sal kompeteer met ’n elektriese kombers. Is dit wat dit was?”

“Nee, ek hou van warm kombersies.”

Hy gaan sit in die stoel oorkant haar. “Miskien moet jy van voor af begin.”

“Ek wil liewers huis toe gaan,” sê sy koppig.

“Nie voor jy vertel het nie, Therese. Met wie was die weddenskap?”

“Met myself, behalwe dat dit nie ’n weddenskap was nie. Dit het begin toe ek jou ma . . . toe ek . . .”

“My ma?” vra hy ongelowig. “Waar kom my ma in die prentjie in? Het jy en sy saamgesweer? Ek was onder die indruk julle het mekaar op die plaas eers ontmoet.”

Sy skud haar kop. “Nee, sy was hier. Het by jou gekuier en jy’t vir Sandra gevra om haar vir middagete te neem. Sandra was besig en jy’t haar net gevra om te help omdat jy nog nie ’n nuwe meisie gehad het nie. Was nie lank ná ek begin werk het nie.”

“Dit moet twee jaar gelede gewees het!”

“Ja,” sug sy. “So iets.”

“En toe?” hits hy haar aan. “Moenie skaam wees nie, ons weet nou dit was alles aangeplak, jy kan net sowel die waarheid praat.”

“Ons het net gaan eet. Gesels.” Sy kyk op na hom. “Ek het dadelik van haar gehou.”

“Dis irrelevant. Was dit sy wat jou gevra het om haar stoute seun ’n les te leer?”

“Natuurlik nie,” sê sy gegrief. “Sy sal nie so iets doen nie, sy’s mos lief vir jou.”

“Ek weet. Ek het nog altyd gedink ek kan op haar staatmaak, sy speel nie speletjies nie. Het nie dubbele agendas nie.”

“Sy’t oor jou gepraat, al die meisies. Gesê jou leefwyse bekommer haar.”

“Wat jy toe indrink en wat jou toe laat besluit vir hierdie een sal ek ’n les leer?”

“Nee. Ek het eers die aand by Petro – toe jy en Jenny daar sit en gesels . . .” Sy lyk verontwaardig. “Ek kon nie help om te hoor nie! Toe besef ek jy’s jou ma se seun en Sandra se kêrel.”

“Ek was nog altyd my ma se seun en lankal nie meer Sandra se kêrel nie, maar gaan voort. Toe dring jy jou aan my op, want al het ek nie jou naam geken nie, het jy myne geken.”

Sy skud haar kop. “Nee, ek’s nie goed met name onthou nie.”

“Asseblief,” sê hy, spring op en begin heen en weer loop. “Jy het presies geweet wie ek is en wat ek doen. Gemaak asof jy nie weet nie, knaend gevra of ek ’n messelaar is.”

“Jy bou huise,” sê sy gekrenk. “As jy hulle kan teken, kan jy darem seker ook twee bakstene opmekaar messel. En as ek geweet het, was dit vir ’n . . . vir ’n ander rede.”

“Laat ek raai.” Sy stem is ysig en aanvallend. “Jy het geluister na wat my ma gesê het. En ongetwyfeld na wat Sandra gesê het. Die meisies is almal mooi en sexy en voor op die wa. Hoe kan jý my aandag trek? Ek weet, kom ons probeer onskuld. Ja, hy is al verveeld met die poppies, kom ons probeer hom wen met onskuld en eksentrisiteit. Hy gaan net belangstel as ons hom iets kan bied wat die ander nie gehad het nie. Ons tree dus so eksentriek op as wat ons kan, dit mag hom frustreer, maar hy kan onmoontlik verveeld raak. Ons trek anders aan, ons kam ons hare anders, ons – aarde, ja, kom ons gooi sommer ’n vrees vir spinnekoppe of luiperds ook in. Ja, dit sal werk, hy is tog ’n galante man, hoop ons.”

“Dis nie waar nie,” sê sy.

“Natuurlik is dit. Was die slaap in my arms die finale triomf of was dit die soen? Is jy teleurgesteld dat ek té galant was? Wou jy gehad het ek moet jou daar in die rondawel oorrompel? Sou dit die triomf wees wat jy vir Sandra kan vertel? Jy, die gewone bibliotekaresse, het die groot minnaar aan jou voete gehad!”

“Nee,” sê sy weer.

“Dis nie nodig om langer hierdie rol te speel nie,” sê hy bitsig en klap sy hand teen sy voorkop. “Hoe kan ek so dom wees? Dit was die huweliksaansoek. Vanselfsprekend, want kyk, dít is die finale triomf. Daarvan kan jy seker wees. Daar mag al baie meisies gewees het, maar ek het nog nóóit vir enigiemand gevra om met my te trou nie. Jy kan nou hier uitloop en vir almal sê hulle het jou nie geglo nie, maar ek het jou gevra om met my te trou.” Hy bestudeer haar lyf. “Dra jy ’n versteekte mikrofoon? Wie gaan jou glo sonder bewyse?”

“Ek dra nie ’n mikrofoon nie!” sê sy onstuimig. “En ek wil huis toe gaan. As jy my nie wil neem nie, sal ek ’n taxi bel.”

“’n Taxi? Kan jy nou skielik ’n taxi bel? Hoekom kon jy dit nie daardie aand doen nie? Tsk,” klik hy sy tong. “Ek bly maar stiksienig, nè? Jy moes hier bly. Op my bank slaap. Hier wees as ek wakker word. Eksentrieke gedrag, soos ek gesê het. Hoe lank het dit jou gevat om op hierdie spesifieke werkwyse te besluit – twee jaar? Ek kan dit sien. Mooi bene alleen gaan nie my aandag hou nie, ’n mooi lyf ook nie. Al die meisies was mooi gebou.”

“Ek sou nie so trots wees as ek jy was nie,” sê sy. “Jy is die een wat hulle as kommoditeite gesien het.”

“O, jy was briljant. En wat, sou ek graag wou weet, het jou die reg gegee om enigsins in te tree? Wat het my leefwyse met jou te doen? My ma wil al lankal hê ek moet gevestig raak en met een of ander standvastige meisiemens trou. Wat het jou laat besluit jy is die een om my ’n les te leer?”

Sy kyk af na haar voete. “Ek wou sien of ek dit kan doen.”

Hy staar na haar. “En jy het,” sê hy asof hy dit self nie kan glo nie. “Jy het.”

Sy kyk vinnig op. “Theo . . .”

Hy hou sy hand afwerend voor hom. “Ek wil regtig nie hoor nie. Ek het ten minste aan die begin . . . ek was ten minste bereid om jou ’n kans te gee. Jy was vreemd en jou gedrag raar en ek het die meeste van die tyd gevoel asof my kop vol spinnerakke was, maar ek het nie een of ander slinkse set gaan sit en uitdink om jou te vang nie. Jy in jou alleswetende meerderwaardigheid het besluit ek is gewetenloos en hardvogtig, maar . . .”

“Theo,” probeer sy weer. “Jy sê nou goed wat . . .”

“Die waarheid is,” voltooi hy die sin. “Ek het nooit ooit ’n meisie met voorbedagte rade probeer vastrek nie. Ek het met baie meisies uitgegaan, ja, maar net as hulle gewillig was, as hulle ook van my gehou het. Ek het niemand om die bos gelei of doelbewus seergemaak nie. Jou marknavorsing was nie so goed soos jy gedink het nie. As ek so sleg was, waarom is feitlik al die meisies nog goeie vriendinne? Het dit nooit by jou opgekom nie dat hulle ook besig was met ’n uitsoekproses? Dis wat mense doen, weet jy. Hulle gaan met baie uit sodat hulle uiteindelik die regte een kan herken. Hulle vernietig mekaar nie noodwendig in die proses nie en hulle het definitief nie so ’n vernietigende regter soos jy nodig nie.”

Sy staan wankelrig regop. “Ek gaan nou ’n taxi bel.”

“Ek is nog nie klaar gepraat nie.”

Sy maak ’n gebaar. “Ek wil nie verder luister nie.”

Hy dink skielik aan iets en sy gesig word selfs strakker. “Die naweek by my ma,” sê hy. “Dit was alles vooraf beplan. Jy wil nie saam met my gaan eet nie, het jy gesê, jy wil liewers wildtuin toe gaan.” Hy stamp weer teen sy voorkop, iets wat sy alreeds kloppende kop nie goed doen nie. “Want jy het geweet ons het ’n Bosveldplaas en een of ander tyd gaan ek sê jy moet saamkom. Is dit iets wat jy en my ma voor die tyd afgespreek het? Wat het my ma gedoen, jou opgebel en gesê: Jesebel, my kind, kyk of jy nie vir Theo kan kry om die langnaweek plaas toe te kom nie?”

Sy skiet hom ’n vinnige, hoopvolle blik asof sy dink hy het sy sin vir humor teruggekry. “Ek het niks geweet van die plaas nie,” sê sy dan.

“Ek glo jou natuurlik,” sê hy moeg en wys na haar hoed. “Kry jou hoed, ons moet ry.” Hy buk by die stoel en tel sy baadjie op. “En ek hoop uit die diepte van my hart dat ek jou nooit in my lewe weer op my bank sien sit nie.”

Hy klap die voordeur agter hom toe en stryk aan na sy motor, maar toe hy daar kom en aan sy sakke voel, besef hy met ’n sinkende gevoel sy sleutels is nou in sy huis toegesluit.

“My sleutels,” sê hy en kyk af op haar geboë hoof langs hom. “Of het jy ’n duplikaatstel in jou handsak? Dit sal my nie verbaas nie.”

“Nee,” sê sy gekrenk. “Natuurlik het ek nie.”

Hulle staan albei die motor swyend en aankyk.

“Is daar nie nog ’n stel in die tarentaal nie?” vra sy.

“Nee.”

Sy sit haar hoed en handsak op sy motor se neus neer en buk om haar skoene uit te trek. “Ek kan deur die kombuisvenster kom.”

Dis die laaste ding waarvoor hy nou lus is. Hoe gouer hy haar kan aflaai en begin vergeet, hoe beter, maar hy weet ook hy het nie eintlik ’n keuse nie. “In daardie rok?” vra hy.

Sy antwoord hom nie, loop net om die gebou en hou haar twee skoene woordeloos uit na hom om vas te hou.

“Jou kouse gaan skeur,” sê hy.

Sy beur versigtig deur die tropiese plante, trek haar rok op tot teen haar heupe en klim op die vensterbank. Hy kyk gou weg, want in sy huidige gemoedstoestand kan hy nie die skoonheid en elegansie van haar bene waardeer nie. Hy hoor haar steun soos sy aan die venster druk, dan verdwyn sy uit sy sig en hy stap om na die voordeur, wat oomblikke later oopgemaak word.

“Hier,” sê sy en hou die bos sleutels uit.

“Dankie.” Hy gee haar skoene vir haar terug en sy trek hulle aan oor haar kouse wat inderdaad nou geskeur is sodat lang, wit lere teen haar bene opkruip. “Ek skuld jou ’n paar kouse.”

Sy sê niks nie, stap net terug na die motor en klim in ná hy oopgesluit het.

“Ek sal ’n paar vir jou pos,” sê hy koud toe hulle ry. “En natuurlik die glasappel.” Nog iets tref hom. “Daar het jy seker jou inspirasie uit die Bybel gekry?”

“Waarvan praat jy?” vra sy.

“Eva het Adam verlei deur ’n appel. Jy was nie baie oorspronklik nie, maar nou ja.”

“Ek het nooit eers daaraan gedink nie,” sê sy gekrenk. “Ek wou dit net vir jou gee omdat ek gedink het jy sal daarvan hou.”

“En skuldig voel.”

“Ek het nie geweet jy gaan skuldig voel nie!”

Hy klik weer sy tong. “Hoe dom van my. ’n Psigopatiese Don Juan soos ek besit mos nie iets so ordentlik soos ’n skuldgevoel nie. Jy is reg.”

“Ek wil nie meer met jou praat nie,” sê sy in ’n klein stemmetjie.

“Dis ’n wedersydse wens.”

Hy hou voor haar woonstelgebou stil, is vir ’n oomblik lus om haar net daar te los, maar klim tog uit en begelei haar tot by haar voordeur. Terwyl sy oopsluit, kyk sy hom angstig aan, maar sê niks nie. Hy sê ook nie ’n woord nie, knik net en loop toe haar deur toeklik.

Die hele pad huis toe wens hy hy was ’n vrou, want wat hy nou meer as enigiets anders wil doen, is huil. Sy oë is kurkdroog, maar in sy binneste wil hy huil, voel dit asof ’n drukking opgebou het wat net deur trane verlig sal kan word. In sy woonstel word die gevoel erger toe hy instap en haar parfuum ruik.

Hy maak hulle koppies bymekaar en gooi hulle omtrent in die wasbak voor hy boontoe gaan en sy klere afruk, maar hy lê nog ure wakker. Hy kan nie glo dat sy hom so seergemaak het nie, hy kan nie glo dat hy hom blootgestel het daaraan nie. Hoe het dit in die eerste plek gebeur dat hy lief geword het vir haar? Toe hy laas gekyk het, het sy hom grensloos frustreer. Toe hy laas daaroor gedink het, was sy ’n irritasie. Hoe het hy dan so ongesiens verslaaf geraak aan haar unieke siening van die wêreld en al die voorwerpe daarin? Op watter punt het hy besluit die groot grys oë agter die nog groter bril is die middelpunt van sy wêreld en hy wil die res van sy lewe by haar wees en sorg dat geen spinnekop haar pad kruis nie?

Hy is vroeg die volgende oggend op, sy kop seer en swaar, sy oë gruiserig. Ná hy aangetrek het, bel hy die vriend saam met wie hy soms tennis speel en raak van baie aggressie ontslae op die baan. Hy kom huis toe, stort en raak opnuut radeloos toe hy haar parfuum steeds in die woonkamer kan ruik. Hy gryp sy gimnastieksak en spandeer die res van die middag met verdere uitputtende oefening. Dit het die gewenste uitwerking; toe hy teen skemeraand by die huis kom, voel hy lighoofdig van moegheid, eet iets en val in sy bed, waar hy uiteindelik droomloos slaap tot Maandagoggend.

Effens minder verslae maak hy reg om kantoor toe te gaan, maar kry eers die appel, soek na die boks waarin dit verpak was en neem dit met hom saam werk toe. Voor hy die eerste koppie koffie gedrink het, het hy die pakkie al opgemaak en toe die poskantoor oopmaak, stuur hy die bode daarmee.

Kerneels kom later by sy kantoor ingewals, so vrolik soos altyd. “Theo,” sê hy sommer dadelik. “Jy het my om die bos gelei. Soos jy die meisiekind beskryf het, het ek my iets voorgestel tussen ’n non en die direktrise van die Eksentrieke Vereniging. Jy is blind, my liewe vriend. Dis een pragtige meisiekind daardie.”

Theo antwoord nie, hou sy oë op die planne voor hom.

“Trek aan soos Racheltjie de Beer, het jy gesê. Kam haar hare soos jou agter-oumagrootjie hare gekam het. Is dit jý wat ’n bril nodig het?”

“Ek dink so,” sê Theo.

“Janie het gedink sy is ’n mannekyn,” gaan Kerneels voort. “Sy wou my nie glo toe ek sê dis die snaakse een nie.”

“Sy’s nie snaaks nie,” sê Theo bitter. “Glo my, dis die laaste ding wat sy is.”

Iets dring tot Kerneels deur en hy kyk sy vriend ernstiger aan. “Iets fout?”

“Nee, ek wil net nie oor haar praat nie. Dis verby.”

“Wat is verby? Daar was dan niks tussen julle nie.”

“En daardie niks is ook nou verby.”

Kerneels frons. “Dit was dan so ’n lekker troue? Ons het dit geniet en dit het gelyk asof julle dit selfs meer geniet het. Julle het nie eers gedans nie, net heeltyd koppe bymekaar met mekaar gesit en gesels.”

“Sy het vir my verduidelik waarom die ruiker op ons tafel vroulik is en die hoofruiker op die verhoog manlik.”

“Huh?” vra Kerneels.

“Iets te doen met die strelitzias in die grote,” sê Theo afgetrokke. “Kaviaar is ook manlik, maar die troukoek vroulik.”

“Nee, wag ’n bietjie,” protesteer Kerneels. “Kaviaar is dan die eiers van daardie visse wat hulle waar nou weer in hulle see het. Eiers,” herhaal hy, “kan net van iets vrouliks kom.”

“Logika het min met die argument te doen,” sê Theo en kry seer by die herinnering aan hoe ernstig sy kan lyk as sy een van haar rare verduidelikings gee.

“Is dit hoekom julle baklei het?”

“Nee.”

“Maar dis verby?”

“Ja.” Theo kyk vlugtig op. “Jy hoef my ook nie te glo nie, maar ek is klaar met meisies. Ek dink ek sal in masels uitslaan as een ooit weer naby my kom.”

“Dis ernstig,” sê Kerneels vir Lindie, wat inkom met Theo se pos. “Ons het ’n krisis op hande.”

Theo ignoreer sy vriend en kyk Lindie takserend op en af voor hy sy beursie uithaal en ’n noot te voorskyn bring. “Lindie,” vra hy. “Sal jy in jou etensuur ’n paar swart kouse koop? Die grootte wat jou pas, behoort reg te wees. Daardie dun, duur soort.”

“Ja, meneer,” sê sy verbaas en loop uit.

Kerneels se wenkbroue het opgeskiet. “Die dun, duur soort?” vra hy. “Ek dog jy’s klaar met hulle.”

“Ek is, maar ’n mens moet iets ordentlik afsluit.”

Christine le Roux Omnibus 6

Подняться наверх