Читать книгу Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux - Страница 11

Hoofstuk 8

Оглавление

Mevrou Senekal kyk onbegrypend van die een na die ander, gee ’n goedige laggie en wys Theo moet gou maak. Hy het nie haar aanhitsing nodig nie, hy stoot die meisie omtrent by die deur uit en in die rigting van die badkamer. Daar gekom, maak hy die deur oop, sy hand nog vas om haar arm, en klap dit agter hulle toe.

“Ek sit jou op die eerste vliegtuig huis toe!” sis hy deur sy tande. “Wat dink jy doen jy?”

“Ons het nie met die vliegtuig gekom nie,” sê sy.

“Hou op kibbel! Wil jy hê my ma moet dink ons is al twee die kluts kwyt? Dat jy van ’n ander dimensie gestuur is om my lewe bitter te maak, het ek aanvaar, maar is dit nodig om so voor my ma te wees?”

“Wat het ek gedoen?” vra sy.

Hy hou haar nog altyd aan die arm vas en skud haar asof sy ’n lappop is. “Wie is Theo? Wié dink jy is Theo?”

“Hoe moes ek weet wat jou naam is?” vra sy. “Ons is nog nooit voorgestel nie.”

“Moenie jou dom hou nie. Hoeveel mans was daar in die kombuis? Wie kon moontlik Theo wees behalwe ek?”

“Die kat.”

Hy los haar arm, vee oor sy voorkop en staan weg. “Die kat. Hoekom het ek nie daaraan gedink nie? My ma sal die kat vra om jou na die badkamer te neem.”

Sy kyk hom bedaard aan. “Jou naam is dus Theo. Theo Senekal.”

“Ja,” sê hy bitter. “En wat is joune, voor jy ons weer in die skande laat beland?”

“Therese,” sê sy.

Dit vang hom onkant, hoekom weet hy nie. Miskien omdat dit ’n mooi naam is, maar ook ’n gewone naam. “Jy is dus nie na jou planeet genoem nie.”

Sy kyk hom betekenisvol aan. “Mag ek nou die badkamer gebruik? Ons wil nie hê jou ma se kos moet koud word nie. Of wil jy saam met my ingaan?”

Hy draai om, loop uit en stap terug na die kombuis.

“Lieflike meisie,” sê sy ma vir hom toe hy gaan sit. “En ’n sin vir humor.”

“O ja,” sê hy. “Therese is ’n grapjas. Ek is gedurig aan die lag.” Haar naam voel nog vreemd op sy tong, vir een of ander rede is hy spyt dat hy dit nou ken.

Sy kom terug, hulle begin opskep en – asof sy geweet het dat haar gasvrou dink sy is snaaks – ontpop sy in ’n baie bekkige verteller van insidente, hoofsaaklik in die biblioteek. Theo kan sommer sien sy ma hou by die minuut meer van haar en dit stem hom beswaard. Therese se blink hare swaai soos sy beduie, haar mooi wit hande skets situasies in die lug bokant die tafel, sy moet net kort-kort haar bril terugdruk.

Ná hulle koffie gedrink het, gaap hy onwillekeurig en sy ma raak saaklik. “Jy is moeg,” sê sy. “Julle het nie net ver gery nie, maar ook ’n hele dag se harde werk agter die rug.”

“En die laat nagte,” prewel Therese, maar bly vinnig stil toe sy sy gesig sien.

“Ek het julle sommer al twee in die rondawel gesit,” sê mevrou Senekal. “Dan is julle lekker eenkant en kan julle so laat slaap as julle wil sonder dat ons gewoel julle steur.”

Therese kry ’n effense fronsie tussen haar wenkbroue, maak haar haarnaalde bymekaar, tel haar sak op en soen die slapende kat op sy kop voor sy vriendelik nag sê en agter Theo oor die donker grasperk aanstap.

“Ek hoop dis twee kamers,” sê sy toe hulle buite hoorafstand van sy ma is. “Anders is daar moeilikheid.”

“Nee, dis net een kamer,” sê hy oor sy skouer. “Jy wíl mos so goedertrou saam met ’n man weggaan. ’n Man wie se naam jy nie eers ken nie. Jy weet nie waarvoor jy jou ingelaat het nie. Nagte van wilde, onbeteuelde hartstog. Wrede passie.” Hy maak die rondaweldeur oop en kyk af na haar.

Sy lyk totaal onbeïndruk. Dis ’n groot rondawel, verdeel in twee kamers met ’n klein badkamertjie in die middel. “Watter een is joune?” vra sy kalm.

Hy wys na links. “Dis waar ek gewoonlik slaap. Jou tas is klaar in die ander kamer.”

“Dankie,” sê sy vriendelik.

“Het jy nie eens geskrik nie?” vra hy belangstellend.

Om haar een mondhoek krul ’n skewe glimlaggie. “Jy oorskat jouself,” sê sy droog. “En onderskat my. Ek wonder wie die grootste sou geskrik het?” Sy draai in die rigting van haar aangewese kamer. “Mag ek eerste die badkamer gebruik? Ek kry nou nogal koud.”

Hy knik, loop verby haar na haar kamer en buk by die bed. “Kyk net,” sê hy. “Elektriese komberse. Is jy nie gelukkig nie?”

“Ek is buitendien gelukkig.” Sy rits haar tas oop en begin klere en haar toiletsak uitgrawe. “Lekker slaap.”

“Lekker slaap.”

Heelwat later lê hy in die donker, sy arms onder sy kop gevou, sy oë onsiende in die donkerte. Wat sou sy met daardie dubbelsinnige opmerking bedoel het? Sy kon tog nie moontlik impliseer dat sy . . . en dat hy die een sou wees wat . . . Nee. Hy draai om, slaan die kussing met sy vuis om dit gemakliker te maak en maak net sy oë toe, toe sy gil.

In een sprong is hy op en op pad deur toe. Ongelukkig is sy oë nog nie gewoond aan die totale duisternis van die Bosveld nie en val hy eers oor sy tas voor hy die deur en ligskakelaar bereik.

“Wat is dit?” vra hy toe hy haar deur oopruk.

Sy staan teen die skeidsmuur gedruk, geklee in ’n nagrok wat deel kon uitmaak van sy ouma se bruidsuitset. Flennie, lank en allesbedekkend. Sy het nie haar bril op nie, maar haar oë is omtrent so groot soos die lense en met een bewende vinger wys sy na die muur bokant haar bed. “Kyk net daar.”

Hy volg haar vinger, maar weet klaar wat hy gaan sien. ’n Bobbejaanspinnekop en, moet hy bewonderend erken, een van die grootstes wat hy nog ooit gesien het. Saam met sy bene sou hy ’n piering gemaklik vol sit.

“O,” sê hy en stap nader. “Dis my troeteldier, Hansie.”

Sy ruk haar kop om, staar na hom met haar groot oë en begin huil. Dis nie die gewone snikkies wat sy meisies al gebruik het om hom te vermurwe nie, sy huil met die oorgawe van ’n kind.

“Therese,” sê hy spytig. “Ek het net ’n grap gemaak, man. En ’n bobbejaanspinnekop is onskadelik.”

Sy lig die soom van haar nagrok en druk dit teen haar mond, wat hom ’n interessante eerste blik gee op ’n paar welgevormde bene. “Hansie,” sê sy en probeer die huil insluk.

“Nie regtig nie, nee. Ek ken hierdie een nie persoonlik nie, maar ek sal hom vir jou doodmaak.”

Haar snikke droog op die plek op. “Doodmaak?”

“Wel, wat wil jy hê moet ek met hom doen?” Hy draai sy kop en kyk na haar.

“Waar woon hy?” vra sy en los die soom sodat haar nagrok weer terugval na waar hy moet wees.

Theo kyk op na die grasdak. “Daarbo êrens. Ek het al vir my ma gesê sy moet plafonne laat insit, die meeste gaste kry een of ander tyd hartaanvalle oor die spinnekoppe.”

Sy kyk op na die dak. “Woon hy alleen daar of het hy ’n gesin?”

Hy begin lag, al kry hy eintlik baie koud net in ’n T-hemp en kortbroek. “Ek het geen idee wat die opset is nie. Miskien is dit nie eers ’n hy nie. Jy is natuurlik die kenner, maar ek sal nie weet nie. Moet ek hom doodmaak, of wat? Ons kan nie heelaand na hom staan en kyk nie.”

Sy kou weifelend aan haar lip. “Kan jy hom nie optel en na jou kamer dra nie? Sal sy gesin hom volg?”

“Ek weet nie en ek wil hom ook nie in my kamer hê nie, dankie. Sy neefs is seker buitendien in my deel van die dak.”

Sy lyk baie ongelukkig, dan helder sy op. “Die badkamer het ’n plafon. Ek sal veilig wees daar.”

“Jy gaan nie in die badkamer slaap nie,” sê hy beslis. “Nie eers jy met jou voorliefde vir slaap in vreemde plekke kan in ’n storthokkie gerieflik wees nie. Ek dink ek dra net vir Hansie na buite. Jy sien, jou lig was aan en waar ’n lig is, is insekte en waar insekte is, is aandete vir Hansie. Ek dink dis waarom hy nader gekom het.”

“Hoe sal jy hom dra?”

Hy kyk in die kamer rond, sien ’n handdoek en tel dit op. Met die handdoek om sy bakhand gevou, loop hy nader, vou die spinnekop daarin toe en loop vinnig na buite waar hy hom afskud in die malvas.

“Hier,” sê hy toe hy klappertand terugkom. Hy gee die handdoek vir haar en sy kyk af na die materiaal en snak na asem.

“’n Stuk van sy been het agtergebly,” sê sy en kyk hom verwytend aan.

“Hy het agt, dit sal nie soveel pla nie.”

“Hoe weet jy? Hy kan nou in pyn wees.”

“Therese,” sê hy ferm. “Dis koud, jy is bang vir spinnekoppe – wat wil jy van my hê? Klim in jou bed, sit die lig af en slaap nou.”

Sy loop skrikkerig na haar bed en kruip in, haar oë nog soekend oor die mure. Hy kyk op na die dak, loop reg rondom die kamer en lyk tevrede.

“Ek dink dit is die enigste een. Jy kan ontspan.”

Sy lyk nie baie oortuig nie, maar glimlag dapper, wag tot hy by die deur is en skakel die lig af. Hy duik terug in sy bed, wat hom warm verwelkom, maar lê tog ’n hele ruk wakker. As een van sy ander meisies in so ’n situasie was, kon dit tot interessante verwikkelinge gelei het, dink hy. Hy kan aan ’n hele paar dink wat hom sou bespring het in hulle angs en ander wat dit summier as verskoning sou aanvoer om dadelik by hom in te kruip. As Therese so iets probeer het, sou hy grondeloos geskok gewees het. Sy is so vlekkeloos, so naïef, so . . . En dit bring hom weer by haar opmerking van vroeër. Wat kón sy daarmee bedoel het?

Toe hy ligdag wakker word, lui om sy oë oop te maak en vervul met die wete dat hy by die huis is, dat dit ’n langnaweek is, wonder hy hoe sy geslaap het.

Sy vraag word beantwoord toe hy regop sit en sy voete koulik uit die bed swaai. Sy lê toegerol in al haar beddegoed op die matjie voor sy bed. Net haar neus en ’n paar stringe donker hare steek bokant die kokon uit.

Hy staar na haar, stroop sy eie hare uit sy gesig en klim versigtig oor haar om by die badkamer te kom. Toe hy terugkom, slaap sy nog steeds en hy trek so saggies moontlik aan, trek die deur toe en hardloop na die kombuis, waar sy ma hom stralend begroet.

Oor die eerste koppie koffie gesels hulle familie en kom op datum met al hulle nuus.

“Wat van jou meisie?” vra sy. “Slaap sy nog?”

“Sy is nie my meisie nie, Ma. Ek dog ek het dit duidelik gemaak.”

“Wat ook al,” sê sy ongeërg en trek ’n skinkbord nader. “Hier, ek sit haar koffie en ’n bietjie beskuit vir haar hierop. Gaan gee vir haar en sê daar is geen haas nie, ons eet ontbyt nes almal wakker is.”

Toe hy in die rondawel kom met die skinkbord is dit doodstil. Haar kamerdeur staan oop, die bed is gestroop en in sy kamer lê sy nog en slaap. Hy sit die skinkbord neer en staan op haar en afkyk, iets wat tot haar moet deurdring, want sy maak haar oë vervaard oop en kyk om haar rond asof sy nie weet waar sy is nie.

“My slaapkamer,” sê hy behulpsaam en gaan sit op die riempiestoel. “Hansie. Jy het geskrik.”

Sy probeer regop kom, nie ’n maklike proses nie, so toegerol is sy in die beddegoed. “Is dit laat? Wag julle vir my?”

“Nee, dis nog baie vroeg. Wil jy nog slaap?”

“Nee.” Sy kom regop, kyk bysiende rond, vee haar wilde, verslaapte hare uit haar gesig en struikel oor die verfrommelde beddegoed sodat sy val, gelukkig op die komberse en nie die harde vloer nie.

Hy spring nader, trek haar op aan haar hand en raap sommer die beddegoed ook op, wat hy op sy bed gooi. “Sit,” sê hy en gee haar skouer ’n ligte drukkie. “Hier is jou koffie.” Hy sit die beker in haar hand, loop na die kamer langsaan en kom terug met haar bril wat hy met sorg op haar neus sit. “Daar, nou kan jy weer sien.”

Sy hou die beker met albei hande vas en drink gretig. “O,” sug sy tevrede. “Die koffie is lekker.”

“Ek het onthou dat jy gesê het sonder koffie kan geen mens ’n dag aanvat nie,” sê hy, weer op die stoel, maar sy oë geamuseerd op haar.

“Want dis waar.”

“En dié keer het ek darem jou naam geken.”

Sy frons. “Wat bedoel jy met dié keer?”

“Die eerste keer toe jy by my geslaap het, het ek nie jou naam geken nie. Nou, die tweede keer, het ek.”

Sy kyk na die beskuit, vat een en dompel dit in haar beker. “Mense gebruik die term saamslaap verkeerd,” sê sy streng. “Dis een van die terme wat sy oorspronklike betekenis heeltemal verloor het.”

“Dis so,” erken hy ernstig. “Dit kan lei tot probleme.”

“Soos?” vra sy, nou behoorlik wakker.

“Wel,” sê hy gemaklik. “Gestel jy nooi my eendag na jou troue. Om byvoorbeeld seremoniemeester te wees. Kan jy jou indink hoe die mense sal lag as ek hulle vertel hoeveel keer die bruid by my geslaap het?”

“Ek sal jou nie nooi om seremoniemeester te wees nie.”

“Dis ’n tegniese punt.”

“Dis waar reputasie inkom,” sê sy en hy verbeel hom daar is ’n glinstering in haar grys oë. “Jy sien, omdat my reputasie so ongeskonde is, sal niemand jou glo nie. Aan die ander kant, as ék nou seremoniemeester is op jóú troue, sal die mense my glo.”

“Ek sal jou nie nooi nie!” sê hy vererg.

“Moenie kwaad word nie,” maan sy. “Jy weet dis die waarheid. En ek weet nie of jy besef watse onguns jy jouself aangedoen het nie. Jy sal eenvoudig nooit kan trou nie.”

Hy lig sy wenkbroue. “Waarom nie?”

“Omdat vertroue die hoeksteen is van enige verhouding en nog meer van iets soos ’n huwelik.”

“En jy beskou my as onbetroubaar?”

“In die seksuele sin van die woord.”

Hy voel dadelik weer die onredelike gevoel van skok omdat sy selfs maar so ’n woord gebruik. “Waarvan praat jy?” vra hy kortaf.

“Jy het te veel meisies gehad,” sê sy en kyk skuldig om haar rond. “Ek weet ek het belowe, maar dis jy wat hierdie gesprek begin het. Jy sien, hoe kan iemand met jou trou en glo dat sy nou die enigste een is? Haar lewe sal ’n nagmerrie wees. Sy gaan nooit weet of jy nog van haar hou en of jou oog al klaar op iemand anders is nie.”

“Nooit!” ontplof hy. “Liewe vader, jy hét ’n lae opinie van my. As ek met baie meisies uitgegaan het, is dit juis omdat ek soek na iemand . . . na die één . . .”

“Ja?” moedig sy aan. “Die een wat?”

Hy soek na die regte woorde. “Wat rég is, wat . . . alles is waarna ek gesoek het of waarop ek gehoop het.”

“Ek sien.” Sy drink haar laaste koffie klaar, stik effens in die beskuitkrummels wat onderin was en sit dit neer. “Dan voel ek meer gerus en ek hoop jy kry haar eendag. Sy sal . . . uitsonderlik moet wees. Feitlik ’n godin as sy die beste aspek van elkeen van jou meisies moet hê.” Sy kyk na hom en druk haar vinger teen haar lippe. “Nie ’n verdere woord nie. Meisies is ’n verbode onderwerp. Wat doen ons nou?”

“Jy trek aan,” sê hy suur.

Sy kantel haar kop. “Ek wou jou nie kwaad gemaak het nie,” sê sy spytig. “Dit was so geweldig . . . e . . . troostend om hier op jou matjie te lê.” Sy glimlag komplimenterend. “Jy snork nie, jou asemhaling is net . . . gerusstellend. Ek het geweet Hansie of sy gesinslede sal nie naby my kom solank ek hier lê nie.”

Teen sy sin begin hy lag. “Dink jy ek sal jou nou vergewe?”

“Ek hoop so. Ek wil nie regtig met jou baklei nie.”

“Nou toe nou,” sê hy sardonies. “Dit sou ek nou nie kon raai nie.”

Sy kyk na die berge beddegoed. “Sal ek gou die beddens opmaak?”

Hy wys na die badkamerdeur en staan op. “Nee, trek aan, ek sal dit doen.”

“Kan jy?”

Moedeloos gooi hy eers haar beddegoed van sy bed af en begin syne opmaak. “Ek het my eie huis, wie dink jy maak my bed op – die voëltjies?”

Sy gee ’n laggie, stap tot by hom en sit een sagte hand op sy arm. “Kan ons miskien ’n ent gaan ry?” vra sy. “Miskien ’n paar diere sien?”

Hy kyk af na haar, knip sy oë hard en glimlag. “Dis presies wat ons gaan doen as jy net aangetrek kan kom.”

Christine le Roux Omnibus 6

Подняться наверх