Читать книгу Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Twee weke later stap Theo by sy geliefkoosde eetplek in vir middagete. Hy was die hele oggend op die perseel en hy is heeltemal verkluim. Die normale Hoëveldse winterson het nooit verskyn nie, dis al heeldag swaar bewolk, met ’n wind wat deur murg en been sny.

Gewoonlik is daar vir hom niks lekkerder as om so tussen die bakstene en sement van een van sy geboue te wees nie. Hy wil die konkrete bewys van die maande van papierwerk en skeppende frustrasie in die vlees sien. Hy wil deel wees van elke projek. Kerneels dink hy is laf, maar hy wat Theo is, het al dikwels sy moue opgerol en saam met steenlêers en loodgieters gewerk. Hy vind die fisieke arbeid diep bevredigend, maar nie op so ’n koue dag soos vandag nie, dink hy toe hy sy gewone kelner nader wink en hom vra vir ’n bier en sy gewone middagete van pasta met ’n vars tamatiesous.

Hy het net die eerste teug van sy bier gedrink en sy hand uitgesteek na die warm broodrolletjie wat langs hom neergesit is, toe iemand met hom praat.

“Ek het gedink ek sal jou hier kry,” sê ’n vriendelike stem.

Vir ’n sekonde is hy nie eers lus om op te kyk nie. Sedert sy onbevredigende laaste afspraak met Jenny het iets gebeur. Hy het sy entoesiasme vir meisies verloor.

“Dit moes een of ander tyd gebeur,” is Kerneels se filosofiese uitspraak. “Dis soos klein Neelsie. Drie weke lank wou hy net piesangs eet. Niks anders nie. Geen pap of vleis of groente nie. Nie eers koekies nie. Net piesangs. Janie het ingegee en piesangs gekoop dat die groenteman ons skeef aangekyk het. En wat het nou gebeur? Die kind word omtrent naar as hy net ’n prent van ’n piesang sien. Oordaad is die woord. As jy enigiets oordoen, raak jy teë daarvoor.”

“Dankie vir jou wysheid,” het Theo vir hom gesê. “Ek is seker dis net ’n tydelike toestand.”

“Ek hoop so. Sonder Lindie se weeklikse uitbetaling as ék wen en sy verloor, kan ’n man verarm.”

Maar onbeskof kan hy ook nie wees nie en hy kyk op.

Dis die meisie in die donkerblou rok. Haar hare is gekam in ’n styl wat niemand sedert die Anglo-Boereoorlog tot sy reg laat kom het nie. ’n Streng middelpaadjie en die hare aan beide kante opgerol oor die ore. Haar kleredrag dateer egter nie uit dieselfde periode nie. Sy dra ’n swart wyepyplangbroek en ’n dik wit kabeltrui.

“O,” sê hy en staan op. “Dis jy.”

Sy wys na die stoel oorkant hom. “Het sy nie opgedaag nie?”

“Wie?”

“Hoe moet ek weet wie dit hierdie week is?” vra sy redelik. “Seer sekerlik nie meer Jenny nie.”

“Niemand nie,” sê hy kortaf. “Ek eet alleen.”

“Mag ek dan maar sit?”

Hy haal sy skouers op, wag tot sy sit en gaan dan voort om sy broodrolletjie te breek en botter op te smeer. “Wil jy ook eet?” vra hy.

“Ja, maar nie saam met jou nie.”

Hy kyk vinnig op. “Dis ’n beledigende opmerking om te maak.”

Sy glimlag. “Ek is jammer. Wat ek bedoel, is dat ek wel sal eet, maar nie as jou gas nie.”

Hy is lus om vir haar te sê dit was ook nie wat hy bedoel het nie, maar sy basiese goeie maniere keer hom en hy sê liewer niks nie.

Sy kyk op na die kelner wat langs haar verskyn het. “Dit is twee aparte rekenings,” sê sy minsaam, gly haar oë oor die spyskaart en kom tot ’n vinnige besluit.

“Hoe het jy geweet ek sal hier wees?” vra hy.

Sy waai een van haar skraal wit hande deur die lug, ’n fyn, byna poëtiese beweging. “Toe ek nou-nou instap by die biblioteek het ek net meteens geweet ek sal jou hier kry, wat ’n goeie ding is omdat ek vir jou ’n geskenk het.”

“’n Geskenk?”

Sy knik. “Om dankie te sê vir die ander aand.”

“Is dit normaalweg hoe jy mense in die hande kry?” vra hy. “Jy kry net ’n gevoel? Ander mense doen sulke banale goed soos kyk in ’n telefoonboek vir ’n adres of telefoonnommer.”

“Dis onnodig as ’n mens bereid is om staat te maak op jou intuïsie.”

“Ek sien. Joune is baie sterk ontwikkel.”

“Ek weet,” sê sy en bedank die kelner vir die broodrolletjie wat hy vir haar gee. “Dat my sesde sintuig jou juis in ’n restaurant geplaas het, is goed, want ek is baie honger.”

“Ek ook,” erken hy. “Ek was heeloggend buite in die koue en het nou-nou bevrore hier ingeval.”

“Wat het jy buite gemaak?” vra sy belangstellend.

“Ek was op ’n bouperseel.”

Sy knip haar groot oë agter die nog groter brillense. “Is jy ’n messelaar?”

“Nee, ’n argitek.”

Sy knik en hy wonder of haar sesde sintuig ook reeds hierdie inligting oorgedra het. “En hoe gaan dit met Jenny?”

“Dit het niks met jou te maak nie,” antwoord hy koel.

“Daaruit kan ek dus net aflei dat dit nie goed gaan nie.” Sy kou nadenkend aan ’n mond vol brood. “Jy ontgin nie die potensiaal van daardie kuiltjies nie.”

Hy hoes om ontslae te raak van ’n krummel wat in sy lugpyp beland het. “Daardie kuiltjies?” vra hy toe hy weer kan praat. “Watse kuiltjies?”

“Jenny s’n.”

Hulle kos word voor hulle neergesit en terwyl hulle kaas oorstrooi en die pepermeul uitruil, beteken dit hy hoef nie dadelik iets te sê nie. Hy wil niks sê nie. Hy wil hoegenaamd nie hoor wat hierdie vreemde vroumens te sê het nie.

“Sjampanje,” sê sy na sy ’n ruk geëet en die kelner vir haar ’n glas rooiwyn gebring het.

Hy kyk gesteurd op. “Wat van sjampanje?”

“Jy moet dit gebruik. Gooi vingerhoedjies vol in haar kuiltjies en lek dit op.” Terwyl hy haar sprakeloos aanstaar, sy vurk halfpad na sy mond, dink sy na en skud dan haar kop. “Jy moet net versigtig wees hoe jy haar kop kantel, want jy wil nie hê die sjampanje moet in haar ore loop nie. Oorontsteking is ’n lelike ding. Pynlik.”

Hy vat na sy bierglas, sien dis leeg en drink ’n diep teug water. “Waar kom jy vandaan?” vra hy verstom, asof hy met homself praat. “’n Ander planeet, ’n ander dimensie? Waar op aarde kom jy aan so ’n idee?” Hy skud sy kop en eet verder. “Sjampanje,” sê hy dan. “Oorontsteking.”

“Mens moet prakties wees,” sê sy nugter. Sy wys na ’n mooi versierde, vierkantige pakkie wat sy op die tafelblad neergesit het. “Dis jou geskenk, maar jy mag dit eers later oopmaak.”

“Ek wil nie geskenke hê nie.”

“Ek is reg grootgemaak,” sê sy. “As ’n mens oorslaap, gee jy jou gasvrou – of in jou geval: gasheer – ’n geskenk.” Sy glimlag haar lieftallige glimlag. “Was nogal moeilik om die regte ding te kry. Ek kon nêrens ’n kerfstok kry nie en hier in die stad kan ’n mens ook nie sommer die eerste beste boom byloop en ’n tak afsny om self een te maak nie.”

Hy stoot sy leë bord eenkant toe sonder dat hy ’n mond vol geproe het. “Waarvan praat jy? Waarvoor wil jy ’n kerfstok hê?”

“Nie vir my nie, vir jóú.”

“En wat moet ek daarmee maak?”

“Gebruik,” sê sy pront. “Vir jou meisies.”

Hy maak sy oë toe, want as daar een ding is wat sy ouers hom geleer het, is dat jy nie aan ’n meisie slaan nie. Nie eers jou suster nie.

“Maar ek het besef jy sal binne ’n japtrap klaarspeel met so ’n stok tensy dit so lank is soos die stokke wat hoogspringers gebruik.”

Theo wink na die kelner. “Koffie,” sê hy hees.

“Vir my ook, dankie,” glimlag sy.

Theo vryf oor sy neusbrug, want hy voel weer ’n hoofpyn klop.

“Ek het toe jou advies gevolg,” verander sy die onderwerp. “Ek het nou ’n motor en is nie meer op ander mense aangewese nie. Dis nogal lekker.”

“Ek is bly,” sê hy.

“Geen toetse was nodig nie,” gaan sy voort. “En ek hoef nie te gewag het nie. Ek het die motor na werk gaan haal.”

“Dit ís vinnig,” stem hy saam. “Het jy toe teen die Rolls besluit?”

Sy lag asof hy baie snaaks is. “Dit was nooit ’n oorweging nie. Nee, ek het presies gekry wat ek wou hê. En die een wat hulle gehad het se kleur was reg.”

“Inderdaad,” sê hy sardonies. “Dit het nie met jou uitrusting gebots nie.”

“Dis nie belangrik nie,” sê sy streng. “Die gevoel moes net reg wees. Die aura.”

“Die aura?” vra hy flou. “Het motors auras?”

Sy knik. “Natuurlik. En myne s’n is vriendelik, veilig en oorkoepelend.”

Hy weet heeltemal nie wat om hierop te antwoord nie.

“Jy kon my gewaarsku het oor betaling,” sê sy en klink weer soos ’n onderwyseres wat wil weet waarom iemand nie sy huiswerk gedoen het nie. “Ek wou bank toe gaan om kontant te trek, maar hulle sê toe ’n tjek is goed genoeg.”

“Finansiering kan ingewikkeld wees,” sê hy oorstelp. “Ek het nie geweet . . . ek bedoel, jy het nie gesê wat jy in gedagte het en wat . . .”

“Dis in orde. Ek moet sê ek is baie gelukkig en wil nou net die hele tyd rondry. Jy moet net sê as ek jou na die tyd by jou kantoor kan aflaai.”

“Nee dankie, ek stap sommer. My kantoor is hier naby. Dis waarom ek altyd hier eet. Wel, gewoonlik.”

Sy leun effens vorentoe sodat sy deur die groot glasvenster van die restaurant kan kyk. “Daar staan sy,” en sy wys na buite. “Sien jy? Die witte.”

As hy vantevore sprakeloos was, is hy nou sy asem kwyt. Die motor wat daar staan, is die motor waarvan hy nog altyd droom. “Is dit . . .?” Hy wys na buite en dan na haar. “Is dít jou nuwe motor?”

Sy knik ingenome. “Vreedsaam, dink jy nie?”

Vreedsaam is nie die woord wat hy sou gebruik het nie, dink hy, heeltemal oorstelp. “En jy het dit . . . en jy wou dit kontant koop?”

“Wel,” sê sy onseker. “Ek het gedink miskien beskou hulle tjeks as sommer net stukkies papier. Ek bedoel, dis mos maklik om te maak asof jy wel die geld in die bank het en as hulle dit gaan inbetaal, gryp die klerk hulle en sê daar is niks in die rekening nie en wat dan?”

“Wat bedoel jy: en wat dan?”

“Dan is die handelaar sy geld kwyt.”

Theo begin voel hy is ook op ’n ander planeet en hy is baie bly toe die pot sterk swart koffie voor hulle neergesit word. “Die handelaar sal doodseker maak, glo my.”

“Presies,” glimlag sy, bly dat hy nou verstaan. “Ek het vir hom gesê ek is nie iemand wat hoogverraad pleeg nie, maar hy kan die bank bel en hy het.”

Sy brein voel asof ’n spinnekop daarin nesgemaak het en hy soek tussen die taai drade na iets werkliks. “Hoogverraad is iets heeltemal anders,” begin hy. “’n Mens noem dit geldverduistering.”

“Soos die son of maan?” vra sy.

Hy kreun en skink vinnig koffie. “Nie heeltemal nie, nee. Om geld te verduister, is nie dieselfde as ’n sonsverduistering nie.”

Sy lag. “Ek weet. Ek terg jou net.” Haar gesig word strenger. “En sy is nie ’n dit nie, sy is ’n sy.”

“Wie is ’n sy?” vra hy verward.

Sy beduie deur die venster na die motor wat sereen in haar aura langs die randsteen staan. “My kar.”

“Is ’n vrou?”

“Wel, vroulik, ja. Definitief nie manlik nie.”

“Ek het nie geweet motors het ’n geslag nie.”

Sy kantel haar kop skuins en kyk na hom oor die rand van haar koppie. “Ek weet, julle mans besin nie regtig oor die lewe nie.”

Theo kyk af in die diepte van sy koffie. Dis gerusstellend swart, dit ruik na koffie, dis bekend. Hy wil nie weer opkyk nie, want hy weet nie waar om te begin nie. Hoe kan ’n bibliotekaresse so ’n motor koop, kontant of andersins?

“Maar om terug te kom na Jenny,” sê sy.

“Ek wil nie terugkom na Jenny nie. Jenny is iets van die verlede.”

“So gou?” vra sy fronsend. “Hou jy hulle nie normaalweg langer nie?”

“Jy praat asof hulle . . . of meisies ’n kommoditeit is. Asof dit . . . hulle troeteldiere is wat ek vir ’n week of twee uitprobeer en dan . . .”

“Maar is dit nie hoe jy hulle beskou nie?” vra sy onskuldig.

“Nee!”

“O,” sê sy en kyk vroom af na haar koffie. “Is daar nog koffie? Dis regtig die lekkerste koffie. Ek kan sien waarom jy altyd hiernatoe kom.”

“Ja,” sê hy en skink hulle koppies ’n tweede keer vol.

“Het jy ’n kerfstok?” vra sy belangstellend. “Toe ek so daarna soek, het ek skielik gedink, maar jy het seker al so iets. Jy lyk na die man wat alles het. Of het jy net ’n klein swart boekie? Dit is mos swart, is dit nie? Of het ek dit verkeerd?” Sy frons ingedagte. “Rooi, miskien?”

Hy gee die stryd gewonne. “Tradisioneel swart, ja.”

“En hét jy so ’n boekie?”

“Nee.”

Sy kou haar lip. “Dan moes ek miskien daarvoor gesoek het. My ma het altyd gesê ’n skinkbordlappie is voldoende. Of iets soos ’n skinkbordlappie. Miskien ’n mooi handdoekie of waslappie.”

“Vir wat?” vra hy ongrammatikaal.

“As dankie-sê-geskenk.”

“Ek wil nie handdoeke hê nie. Ook nie waslappies nie. Aangesien jy nie ’n genooide gas was nie, is die hele kwessie van ’n geskenk nie van toepassing nie.”

“Dit is juis,” sê sy verontwaardig. “Dubbel soveel. Die ongenooide gas moet ’n groter geskenk gee.”

“Ek weet nie. Ek het nog nooit vantevore ’n ongenooide gas gehad nie.”

“Natuurlik nie. Die meisies wat oorbly, is daar op jou uitnodiging en met jou goedkeuring.”

“Ek het nog nooit . . .”

Sy roep die kelner nader. “Jy hoef nie vir my te jok nie,” fluister sy vir Theo. “Ek is nie een van hulle nie. Genooi of ongenooi.” Sy kyk op na die kelner en glimlag verblindend. Die man wankel ten spyte van haar oudmodiese haarstyl. “Die rekening, asseblief. Ons moet nou gaan.”

“Ek sal vir die rekening vra,” sê hy betigtend.

“Ek het dit nie geweet nie. Is dit etiket?”

“Ek weet nie wat dit is nie, dis bloot hoe ek dit verkies. As manlike chauvinis,” voeg hy by. “Jy sal dit begryp, ek is seker.”

“Maar ons betaal tog apart,” sê sy, nie seker of hy ernstig is of met haar spot nie.

Hy antwoord nie, wag tot die kelner die rekening voor hóm neersit en druk sy kredietkaart bo-op albei strokies neer. “Ek sal vir ons al twee betaal,” sê hy in die soort stem wat nie teenkanting duld nie. “Die hemel weet, jy het my deurmekaar genoeg. Laat my toe om iets normaals te doen. Dit kan ’n antidoot wees teen jou intuïsie of sesde of sewende sintuig. Hoeveel het jy?”

“’n Paar ekstra,” sê sy op haar vae manier. “Jy het hulle ook, jy gebruik hulle net nie.” Sy skuif die pakkie oor na sy helfte van die tafel. “Hier. Ek hoop jy hou daarvan.”

“Ek kan nie,” begin hy. “Dis regtig nie nodig dat jy . . .”

“Asseblief.” Sy kyk pleitend na hom. “Ek sal beter voel.”

Die kelner bring die rekening terug en hy teken die strokie, druk sy kredietkaart terug in sy sak en staan op, die mooi toegedraaide pakkie in sy hand. “Wel,” sê hy. “Dankie.”

“Dis ’n plesier.”

Sy staan ook op en loop voor hom uit na die deur. Toe hulle buite op die sypaadjie kom, kyk sy weer na hom. “Is jy seker ek kan jou nie gou kantoor toe neem nie?”

“Nee dankie, dis kwalik ’n blok weg.”

Sy haal haar motorsleutels uit haar handsak. “Dankie vir die ete,” sê sy skamerig.

“Dis ’n plesier,” eggo hy haar. Hy kyk hoe sy die motordeur oopsluit. “En luister, as jy in die vervolg met my wil kontak maak, doen iets so normaal soos kyk in die telefoonboek.”

Sy klim in, klap die deur toe en draai die venster ’n ent oop. “Hoe kan ek?” vra sy vrolik. “As ek nie weet wat jou naam of van is nie?” Sy lig haar hand, kyk in die truspieël en gly glad in die verkeer in.

“Wag!” roep hy agter haar aan. “Ek weet nog minder wat jóú naam is!”

Maar sy hoor hom lankal nie meer nie. Hy sien net hoe die pragtige wit motor om die volgende draai verdwyn.

Christine le Roux Omnibus 6

Подняться наверх