Читать книгу Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux - Страница 12

Hoofstuk 9

Оглавление

Teen die tyd dat die beddens opgemaak is, hoor Theo Therese nog sing in die badkamer, dus loop hy terug kombuis toe, waar sy ma net die fles koffie in ’n mandjie pak.

“Ek het gedink jy neem haar na die rivier,” sê sy. “Dis nog vroeg genoeg as julle by die watergat wil gaan sit, en as julle honger word, is ontbyt reg.”

Hy soen haar op haar kroontjie. “Jy’s ’n liewe ding, Ma, maar skeep ons jou nie af nie?”

“Ek het baie om te doen vanoggend en sy wil tog so graag die diere sien.”

“O, het sy vir Ma gesê?”

Sy kyk vinnig na hom en weer af na die mandjie. “Servette,” mymer sy en druk ’n hand vol in. “Is sy aangetrek?”

“Amper. Sy het ’n onrustige nag gehad. Spinnekoppe. Ons moet nou ’n plan maak en ’n plafon laat insit.”

“Ja, almal kla,” sê sy ingedagte.

“Ek gaan solank die bakkie uittrek,” sê Theo. “Ons kan nie in haar kar op daardie pad rivier toe ry nie. Sy gaan ontsteld raak van die gestamp.”

“Therese skrik tog nie vir ’n slegte pad nie?” vra sy ma.

“Ek praat nie van Therese nie,” sê hy en loop uit.

Hy het net die bakkie buite die kombuisstoep getrek toe hy Therese sien aankom oor die grasperk. Hy stap haar tegemoet en bly dronkgeslaan staan.

Sy dra ’n regte bosuitrusting: ’n nousluitende kakiebroek, bruin stewels en ’n kakiekleurige trui, maar nie groot en los soos die kabeltrui nie. Dis nousluitend en gerib, dit pas om haar lyf soos ’n tweede vel. Hy is nie net uit die veld geslaan deur die moderniteit van die uitrusting nie, hy is geskok om te sien sy het ’n figuur nes enige ander meisie, net beter.

“Jy gaan koud kry,” sê hy dadelik. “Jy sal iets bo-oor moet aantrek.”

Sy is nog besig om die gespe van ’n baie elegante leergordel vas te maak en kyk afgetrokke op. “Dink jy so?”

“Ja. In die kombuis is baie baadjies, jy kan sommer een daar vat.”

Sy loop inskiklik saam, groet sy ma en gesels eers ’n bietjie voor sy gedwee staan dat Theo ’n veels te groot kakiebaadjie om haar skouers hang.

“Dit word darem later warm,” sê sy ma.

“Onder by die rivier is dit nog koud.” Hy tel die piekniekmandjie op en stap aan na die bakkie.

“Ek weet nie hoekom jy altyd na my kyk asof ek mal is nie,” sê Therese toe hulle ’n ent weg is. Sy is besig om die stowwerige binnekant van die bakkie op te som. “Hierdie bakkie is so ooglopend manlik.”

“Ek sou so dink,” sê Theo. “Hy skrik vir niks.” Hy kyk na haar. “Gee jy om as ons eers ’n effense draai ry? Ek wil gaan kyk na die nuwe hut wat ons op die ver punt van die wildgedeelte bou.”

“Hoekom?” vra sy.

“Hoekom bou ons ’n hut of hoekom moet ons soontoe ry?”

“Hoekom bou julle dit?”

“Dit gebeur nogal baie deesdae dat mense my ma vra of sy nie verblyf het nie. Mense soek die bos, soos jy weet, en sy het al ’n keer of wat betalende gaste in die rondawel laat bly, maar sy hou nie daarvan nie. Te na aan haar, en die meeste mense wil ook eerder heeltemal op hulle eie wees.”

“Toe ontwerp jy vir haar ’n hut?”

“Ja.”

“Ek gee nie om nie.” Sy word nog blyer toe hulle om die eerste rant ’n groepie kameelperde teëkom en hy dadelik stilhou sodat sy kan kyk tot sy uitgekyk is. “Ek wens ek het oë soos hulle gehad,” sug sy afgunstig toe hy weer mag ry.

“Joune is omtrent so groot soos hulle s’n,” sê hy.

“Nie my wimpers nie. Hulle s’n lyk soos vlieëslaners.”

Hy moet vinnig stilhou toe hy skielik ’n renoster reg langs die pad sien.

“O,” sug sy, haar hande saamgeslaan onder haar ken. “Is hy nie wonderlik nie?”

“Sy,” sê hy droog. “Sy het verlede somer ’n kalfie gehad. Hy moet hier êrens wees.”

“Dan moet ons haar nie pla nie,” fluister sy en skuif effens nader aan hom. “Ek kan seker nie uitklim en met haar praat nie?”

“Onder geen omstandighede nie. Kerneels het uitdruklik gesê jy mag nie met die renosters speel nie.”

Sy gee ’n laggie. “Wie is Kerneels?”

Hy vertel haar.

“En hy weet van my?” vra sy.

Hy voel ongemaklik. “Wel, hy was by my toe ek die appel oopgemaak het.”

“Ek sien. Nou kan jy vir hom sê wat my naam is,” sê sy behulpsaam.

“Dis waar, maar miskien is hy ook teleurgesteld.”

Sy swaai haar kop om. “Teleurgesteld? Hoekom?”

Hy kriewel sy skouers, sien dat die renoster begin wegloop en skakel die enjin aan. “Daar was iets . . . geheimsinnigs omtrent ’n meisie sonder naam.”

“Ek is nie ’n meisie nie. Nie in daardie sin nie.”

“Therese,” sê hy. “Moenie onsin praat nie. Jy ís ’n meisie. Hoe oud is jy?”

Sy sit half omgedraai, haar oë nog op die renoster wat nou in die stof verdwyn. “Hoe oud wil jy hê ek moet wees?”

“Watse soort antwoord is dit?” vra hy onthuts.

“As ek sê een en twintig gaan jy dink: ja, nes jy gedink het, dis hoekom sy so dom en naïef is. As ek sê dertig gaan jy dink: ja, nes ek gedink het, onderontwikkel en naïef vir iemand van dertig.”

Hy voel weer styf vasgedraai in die spinnerakke van onwerklikheid. “Ek het nog nooit gedink jy’s dom nie. Naïef miskien, maar dan beskou ek dit nie noodwendig as ’n negatiewe eienskap nie. Hoe oud is jy?”

“Drie en twintig.”

Hy kyk haar vir ’n oomblik deurvorsend aan. “Regtig?”

“Sien,” lag sy. “Jy glo my nie. Hoe oud het jy gedink is ek?”

“Enigiets tussen sestien en sestig. Ek kan nie sien dat jy ooit jonger was nie en ek dink ook nie jy gaan ooit ouer word nie.” Hy ry deur ’n droë lopie, met ’n skuins sanderige pad op en onder groot bome in waar die bosse skoongemaak is en ’n kliphuis staan.

Dis duidelik dat dit baie nuut is, want die grasdak is nog liggeel en orals lê nog bakstene en bourommel rond.

“Dis nie ’n hut nie,” sê sy toe hulle uitklim. “Dis ’n huis.”

Hulle loop nader, klim op na die stoep en hy sluit die voordeur oop. Alles ruik nog nuut, nuwe verf, nuutgeskaafde hout. Daar is ’n woonkamer met rottangmeubels, twee slaapkamers, ’n klein oop kombuis en badkamer, alles baie mooi afgewerk.

“Dis pragtig,” sê sy ingenome.

Hy loop krities rond, klop aan kosyne, hurk af om na vloerlyste te kyk, maak elke kassie in die kombuis oop en toets die krane. Sy stap weer uit op die stoep en gaan sit op die boonste trap, haar hande om haar knieë. Toe hy tevrede is met alles binne-in kom sit hy langs haar.

“Dis lieflik,” sê sy. “Maar ek is honger.”

“Wil jy hier eet?”

Sy kyk om haar rond, sien ’n vlakvarkgesin en raak eers opgewonde oor hulle. “Sal dit nie lekkerder wees by die rivier nie?”

“Ja, dit sal. Kom.”

Vyftien minute later hou hy langs die rivier stil, vat die mandjie en stap voor haar uit tot hulle by die waterpoel kom. Sy kyk skrikkerig om haar rond en bly naby hom.

“Jy’s regtig veilig,” terg hy haar. “Kom ons sit hier op die droë rotse.”

Hulle sprei die tafeldoek oop, pak die kos uit, skink koffie en begin eet. Sy lyk bly oor die baadjie, want oorkant die rivier is ’n hoë krans wat alle son afskans sodat dit nog koud en skemerig is waar hulle sit.

Met ’n toebroodjie in haar hand sit sy en tuur na die ruwe klipformasie oorkant hulle. ’n Trop bobbejane is in donker reliëf afgeteken teen die lig agter die krans en sy hou hulle manewales dop.

“Wat is daardie ding met die kolle?” vra sy ná ’n ruk. “Hy is net so links van die bobbejane.”

Hy kyk na waar sy beduie en skrik. “’n Luiperd,” sê hy verbaas.

“Theo,” sê sy sy naam vir die tweede keer. “Jy het gesê hier is niks wat mens kan bespring nie.”

“Hy kan nie naby ons kom nie,” troos hy. “Hy kan nie van daardie krans oor die rivier spring nie.”

“Maar sy gesin kan aan ons kant wees.”

“Moenie weer begin nie,” waarsku hy. “Ek wil nie hoor van sy gesinslede nie.” Hy staan op, stap stadig terug na die bakkie en kom met ’n verkyker terug. Hy gee dit vir haar, sit weer en gaan voort met sy ontbyt.

“Ek dink hy’t klaar geëet,” kondig sy ná ’n ruk aan. “Hy lê vir die bobbejane en kyk asof hy ’n skoolopsigter is. As hy honger was, sou hy een gevang het.” Sy laat sak die verkyker en gee Theo ’n streng kyk. “Of een van ons.”

“Hy kan nie by ons kom nie,” sê hy, skink hulle koffie en gaan lê lankuit op die rots waar die eerste sonstrale nou oor die krans en af na die rivier begin kruip.

“Hy kan sy vrou aan hierdie kant laat weet.”

“Hoe?” vra Theo lui, sy oë toe. “Hy’t nie ’n selfoon nie.”

“Jy is regtig ’n produk van hierdie dekade,” sê sy vies. “Hoe dink jy kommunikeer diere? Hulle het vermoëns waarvan ons geen benul het nie. Hulle maak staat op intuïsie en instink en al hulle sintuie.”

Hy maak een oog oop en loer na haar. “En hy stuur nou boodskappe uit om vir sy familie aan dié kant te sê hier is twee sappige happies?”

“Een,” sê sy. “Dis net jy.”

“Is dit so?” Hy rol om en lig hom op sy elmboog. “Waarvan is jy gemaak dat hy jou nie sal eet nie?”

“Hy sal net nie,” sê sy koppig. “Hy sal my herken.”

“As ’n medeluiperd?”

“As iemand aan sy kant. Een van sy soort.”

Hy bestudeer haar ’n ruk, sug dan en lê weer plat. “Jy is heel waarskynlik reg, ja. Watse soort dit is, weet ek nie, maar hy sal jou herken.”

Sy lig weer die verkyker. “Hy’s nou weg.”

“Hy moet ook rus,” sê hy. “Dis ’n langnaweek, onthou.”

Sy sit die verkyker neer, tel haar koffie op, wat nou al redelik koud geword het, en drink dit. Die son is nou op hulle en sy trek die groot baadjie uit. Theo kyk vinnig na haar. Meisies met sulke mooi bolywe is een ding, Therese iets heeltemal anders. Maar hoekom? Wat ís sy dan?

“Ek dink nie jy weet watse diere alles op julle plaas is nie,” merk sy op, onbewus van sy spekulasie oor haar afkoms. “Jy dink dis net rustiges soos kameelperde en renosters, maar jy weet nie van die roofdiere nie.”

“Dis ’n deel van die wêreld waar wilde diere is,” protesteer hy. “Langs ons is ’n wildplaas vir besoekers. Die diere laat nie vir hulle voorskryf nie. Hulle loop waar hulle wil loop.”

“Kan ek vanaand in daardie huis gaan slaap?” verander sy die onderwerp. “Die hut.”

“Nee. Hoekom wil jy daar gaan slaap?”

“Dit lyk ongelooflik rustig. Ek dink mens sal heelnag op die stoep kan sit en luister na die geluide van die bos.”

“Hansie het jou verskrik. Hoe ver dink jy sal jy kom met die ander diere?”

“Hoe weet jy sy naam is Hansie?” vra sy en lag borrelend. “Dit kon Hanna gewees het.”

“Dis waar,” gee hy toe. “Die seksuele eienskappe van spinnekoppe was nooit deel van my studieveld nie.”

“Nie van spinnekoppe nie,” begin sy. “Wel van vroue.”

“Hou op,” waarsku hy en sit regop. “Jy kan regtig nie ’n belofte hou nie.”

“Ek is jammer,” sê sy.

Hy kyk haar fronsend op en af. “Waar kry jy daardie uitrusting vandaan?” vra hy. “Dis nie jou gewone soort klere nie.”

“Wat is my gewone soort klere?”

“Jy weet,” sê hy ongemaklik. “Meer . . . e . . . konserwatief.”

“Vormloos,” sê sy nugter en stoot die moue van die noupassende trui op tot teen haar elmboë.

“Wel, ja.”

“Ek het dié spesiaal gaan koop,” sê sy. “Vir die naweek. Hou jy nie daarvan nie?”

“Nee, nee,” sê hy haastig. “Dis baie mooi.”

Sy kyk af na haarself. “Dis wat die meisie in die winkel gesê het. Ek het regtig nie geweet wat om te koop nie, behalwe dat dit bruin of kakie of ten minste neutraal moes wees.” Sy kyk op na hom. “Ek het eenkeer gelees dis die beste as jy in die wildernis is. Helder kleure kan die diere steur.”

“Dis waar,” stem hy saam.

“Maar ek is nie gewoond aan dié soort ding nie,” sê sy en bekyk haarself weer krities. Sy lig haar twee slanke hande en gly hulle stadig oor haar borste op ’n manier wat Theo hoendervleis gee. “Toe kom die assistente in die aantrekhokkie in waar ek net in my onderklere staan en sy kyk my op en af en sê: Jinne, Juffrou, as ek jy was, het ek gegaan vir iets wat styf pas.”

“Ja,” sê Theo.

“Toe koop ek dit maar.”

Hy hou liewer sy oë op die bopunt van die krans waar die bobbejane steeds onvermoeid baljaar. “Solank jy gelukkig is.”

“Ek is nie so seker daarvan nie,” gaan sy introspektief voort. “As ’n mens jou lyf so lank weggesteek het, is dit ietwat onthutsend om dit so ontbloot te sien.”

“Dis darem nie ontbloot nie,” sê hy.

“Onthul,” sê sy en gly weer haar hande oor haar bors.

“Hou op,” sê hy en begin hulle piekniekgoed terugpak in die mandjie.

“Ek is jammer,” sê sy weer. “Nou-nou wens jy jy is terug in die stad by Jenny. Oeps, ek het al weer vergeet.”

Hy gooi die bekers onnodig ru in die mandjie. “Glo my, jy en Jenny het niks, absoluut níks gemeen nie.”

“Dis waar,” sê sy saaklik. “Sy is so plat soos ’n plank.”

Hy druk sy voorvinger teen sy voorkop. “Therese, skei uit.”

“Goed,” sê sy innemend. “Hoekom pak jy alles in? Moet ons nou ry?”

“Ja, tensy jy nou ophou praat. Ek lê lekker.”

“Ek ook,” sê sy en strek haar oor die rotse neer op ’n manier wat ook nie goed is vir sy sielerus nie. “Die son is nou heerlik. As ons lank genoeg hier lê, gaan dit warm genoeg word om te sonbrand. Ek is so wit.”

“Dis goed so, dis winter. Jy is veronderstel om wit te wees.”

Sy vat aan haar trui asof sy dit gaan uittrek. “Maar dit sal lekker wees om . . .”

“Nee!”

Sy gee ’n laggie. “Jy is geweldig konserwatief, Theo. Ek het nie geweet iemand soos jy . . . Ek sou nou dink ek kon kaal uittrek en jy sal nie ’n oog knip nie.”

“As jy kaal uittrek, ry ek weg sonder jou. Die luiperd mag jou met my seëning kom opvreet.”

Sy sit regop, skuif nader en haal haar beker weer uit die mandjie. “Ek wil nog koffie hê.”

Dis ’n lang ruk stil. Dan kyk hy na haar deur halfoop oë. “Mag ek jou een persoonlike vraag vra?”

“Ek veronderstel so. Wil jy weet wat my borsmaat . . .”

“Nee!” bulder hy. “Ek wil bitter graag weet waar ’n bibliotekaresse die geld vandaan kry om die kar te koop wat jy het of die klere wat jy vandag dra. Ek het ’n redelike kennis van sulke goed en as ék nog nie so ’n motor kon bekostig nie . . .”

Sy kyk in die verte. “Ek het dan vir jou gesê ek wou haar hê en sy het net vir my gewag.”

“Dis alles goed en wel, ja, maar al het sy vir jou gewag, kos sy ’n spul geld.”

“Jy kan mos sien ek is ’n spaarsamige soort mens,” sê sy vroom.

“Geen bibliotekaresse kan in – wat, twee jaar? – soveel geld spaar nie.”

“Ek is besónder spaarsamig.”

“Therese,” sê hy. “Jy praat nonsens en jy weet dit.”

“En jy vra al weer vrae,” sê sy en staan op. “Komaan, ons is ongeskik. Ons moet teruggaan huis toe, jou ma het verlang na jou.”

“Maar jy antwoord nie my vrae nie.”

“Omdat dit onnodig is. Ek het vir jou gesê hierdie uitvraery is deel van die begin van ’n verhouding. Ek en jy het nie so iets nie, dus is die vrae onnodig.”

“Hét jy al ooit ’n verhouding gehad?” vra hy skerp.

Sy lag. “En was jy liewer vir hom as vir my?” sê sy in ’n aansitterige stem. “Komaan, ons moet huis toe gaan. Jou ma wonder al waar ons is.”

Christine le Roux Omnibus 6

Подняться наверх