Читать книгу Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux - Страница 13

Hoofstuk 10

Оглавление

In die middag neem Theo Therese deur die boerderygedeelte van die plaas, wat sy ewe veel geniet en veiliger vind aangesien daar geen roofdiere in die krale of kampe is nie. En teen die laatmiddag kom vriende van ’n buurplaas oor en maak Theo ’n enorme houtvuur in die lapa, waar hulle later vleis braai en al nader sit soos die kole sak. Hy vind nie fout met die koue nie omdat dit beteken Therese dra nie net haar trui nie, maar ook die dik kakiebaadjie. Met haar hare in ’n vlegsel en die res van haar lyf weggesteek, lyk sy jonk en kuis.

Dis eers in die rondawel ná almal weg is dat hulle die geleentheid kry om met mekaar te praat en hy kom gou agter die luiperd is nou ’n groter bekommernis as die spinnekoppe.

“Sê nou hy het al omgestap en sit hier buite in die donker?” vra sy terwyl sy die baadjie en trui begin afstroop.

“Hy kan nie, hierdie deel van die plaas is stewig omhein.”

“Jy het self gesê ’n dier laat hom nie keer nie.”

“Maar ons is binne. Ons het mure en geslote deure om ons.”

“Dis waar,” erken sy verlig.

“Nou toe,” sê hy. “Dis laat. Sal jy kan slaap? Ek sien niks spinnekoppe nie.”

Sy kyk skepties teen die mure op. “Nee, maar ons het nou eers die ligte aangesit en jy het gesê . . .”

“Moet dan nie jou lig so lank aanhou nie.”

“Ek moet eers lees.”

“Lekker slaap,” sê hy en stoot haar in die rigting van haar kamerdeur. “Argumenteer net met die spinnekop, hy sal gou genoeg vlug.”

Maar hy het skaars sy eie lig afgesit en net begin wegdommel toe hy haar huiwerige kloppie aan sy deur hoor. “Wat is dit?” vra hy moedeloos.

Sy stoot die deur oop. “Dit help nie,” sê sy. “Nes my laken aan my gesig raak of ’n los haar oor my voorkop skuif, dink ek dis Hansie.”

Hy steek sy hand uit en skakel sy bedlamp aan. Sy staan in die deur met haar beddegoed onder haar arm en slepend op die vloer agter haar.

“Maar jy kan nie op die matjie slaap nie. Dis hard.”

“Ek gee nie om nie.”

Hy swaai sy voete grond toe, stap verby haar na haar kamer, ruk die matras van die bed af en sleep dit terug. Sy staan hom met groot oë en aankyk, maar toe die matras reg lê op die matjie, kniel sy en maak gou haar bed daar op.

“Kruip in,” gebied hy. “En slaap nou asseblief.”

Sy gehoorsaam, trek die beddegoed tot onder haar ken op en kyk na hom. “Nou het ek nie my elektriese kombersie nie,” sê sy.

“Dit kan nie verhelp word nie. Jy is tog warm genoeg.”

“Ja,” sê sy. “Dankie. Ek veronderstel jy wil nou die lig afskakel.”

“Jy veronderstel reg.”

“Ek kan nie nou nog lees nie.”

“Nee.” Hy steek sy hand uit en sit die lig af. “Kan jy nie slaap tensy jy eers lees nie?”

“Nie regtig nie, nee.”

“Maak jou oë toe en verbeel jou jy lees,” stel hy voor. “Dink ’n storie uit.”

“Dis nou nes ’n koshuis,” sê sy geamuseerd.

“Nee, dit is nie,” sê hy beslis. “Ek was op koshuis, ek weet. As ons so in die donker gelê en praat het, was ons in die moeilikheid. Ligte uit het beteken almal bly nou stil.”

“Ek was nooit in ’n koshuis nie,” bieg sy.

“Dis duidelik.”

“Ek het gedog nes die ligte uitgaan, begin die pret. Mens lees dan altyd daarvan. Hoe mense onder die komberse by die lig van ’n flits nog lees en dan hou hulle middernagfees of klim deur die venster om te gaan vrugte steel.”

“Dis winter, daar is geen vrugte nie en as jy deur die venster klim, gaan die luiperd jou opvreet.”

“Maar wat van die middernagfees?”

“Ons het nou net klaar geëet, ek is nie honger nie en jy ook nie.”

“Jy’s nie avontuurlik nie,” sug sy.

“Jy’s reg. Ek is net vaak.”

“Ek wed jy’s nie so streng met jou ander meisies wat oorslaap nie,” sê sy.

Hy tel versigtig tot tien. “Dis ’n totaal ander situasie.”

“’n Meisie is ’n meisie,” sê sy. “En al wat ék wil hê, is ’n middernagfees.”

“Therese,” sê hy. “Het jy al ooit geslaap met ’n kussing styf oor jou gesig gedruk?”

“Nee. Hoekom? Is dit wat jy gewoonlik doen?”

“Ek het dit nog nooit gedoen nie. Vanaand gaan die eerste keer wees.”

“Sal jy my seermaak?” vra sy verbaas.

Hy bal sy vuiste in die donker. “Nie as jy nou stilbly nie.”

Sy is ’n sekonde of twee stil, dan praat sy weer in ’n klein stemmetjie. “Is dit dan nie vir jou lekker om so in die donker te lê en gesels nie? Ek vind dit baie kameraadskaplik.”

Hy gee die stryd gewonne. “Waaroor wil jy praat? Vertel my van jouself. Waar kom jy vandaan, het jy ouers of familie of broers en susters? Waar het jy skoolgegaan en grootgeword? Waar werk jy presies?”

“Nee,” sê sy.

“Nee, wat?”

“Nee op al jou vrae.”

Hy tuur deur die donkerte, maar dis onmoontlik om haar gesig te sien. “Dis nie regverdig nie. Jy weet baie van my, ek het jou selfs huis toe gebring en aan my ma voorgestel, en al wat ek van jou weet, is dat jou ma en Sandra se ma vriendinne is.”

“En ek het al hoeveel keer vir jou gesê dis nie nodig om iets van my te weet nie.”

“Hoekom nie?”

“Ons is net . . .” Sy dink ’n lang oomblik. “Ek hou nie van anglisismes nie. Ons is net skepe wat in die nag verby mekaar vaar.”

“Dis wat ek daardie eerste nag gedink het,” stem hy saam. “Maar tensy dit ’n baie lang nag is, lê ons skepe nou reeds lank langs mekaar geanker. Ek dink nie ons val meer in die kategorie van verbyvarende skepe nie. Jy kan nie eers in jou eie kamer slaap nie.”

“Ek kan,” sê sy seergemaak. “Dis net dat ek bang is, maar as ek geweet het dis so onplesierig vir jou, het ek liewers daar gebly en doodgegaan van angs.”

Hy sit die lig vinnig aan en kyk af na haar. “Dis nie onplesierig nie,” sê hy in ’n sagter stem. “Al wat ek sê, is dat ons nie meer terloopse kennisse is nie.” Hy sit weer die lig af toe hy seker is sy lê nie suutjies en huil nie. “Jy kan my maar van jouself vertel.”

“Maak dit normaalweg ’n verskil?” vra sy.

“’n Verskil aan wat?”

“Wel,” sê sy en hy kan hoor sy is besig om entoesiasties te raak oor die onderwerp. “Jy ontmoet jou meisies gewoonlik op partytjies, sou ek sê, en wat vang jou oog in die eerste plek? Hoe sy lyk,” beantwoord sy haar eie vraag. “Jy val vir haar lyf of oë of hare of mooi bene. Of kuiltjies, en dan bel jy haar en begin haar uitneem. Sagmaak.”

“Sagmaak?” roep hy. “Waar kom jy aan so ’n uitdrukking?”

“Ek weet nie wat jy dit noem nie” sê sy, “maar dis waarop dit tog neerkom. Jy neem haar ’n sekere hoeveelheid kere uit en spandeer geld op haar en so maak jy haar sag en sy laat jou toe om haar te soen en ná nog ’n hoop blomme en bottels wyn en duur etes is sy joune.”

Hy besluit wyslik om nie kommentaar te lewer nie.

“Al wat ek sê,” gaan sy bedaard voort, “is dat haar agtergrond of die hoeveelheid broers en susters wat sy het dus glad nie saak maak nie. Gaan jy haar gouer soen net omdat sy vier broers het? Gaan jy weier om by haar te slaap net omdat sy op ’n onbekende dorpie skoolgegaan het?”

“Ek wens jy wil ophou insinueer dat ek by elke liewe meisie slaap,” sê hy kwaad. “Dit mag jou verbaas om te weet ek is nogal kieskeurig en ek is seker jy sal my nie glo as ek sê ek is trots op my moraliteit nie.”

“Regtig?” vra sy. “Ek sou jou graag wou glo, maar dis natuurlik nie iets wat bewys kan word nie.”

“Ek het jóú nog nie oorrompel nie, het ek?” vra hy.

“Dit tel nie,” sê sy. “Omdat ek nie ’n meisie . . .”

“Ja, jy is,” val hy haar in die rede. “Jy is ’n meisie, soos ek al vir jou gesê het. Jy is mooi én mooi gebou en boonop werp jy jou aand ná aand aan my voete. As ek so ’n gewetenlose vrouejagter was, as geen meisie in my teenwoordigheid veilig was nie – hoe verklaar jy dit dat jy nog ongeskonde is?”

“Ek werp my nie aan jou voete nie,” sê sy.

“Hoe sou jy jou huidige posisie beskryf?” vra hy.

“Maar ek het nie ’n keuse nie. Ek voel veiliger hier, maar daar is net een bed, dus . . .”

“Wil jy by my kom lê?” vra hy verbaas. “Dis buite die kwessie. Of wil jy hê ék moet op die vloer slaap?”

“Nee,” sê sy stug.

“Hou dan op met kla.”

Sy is weer ’n rukkie stil, maar hy is seker hy kan haar brein in die donkerte hoor woel. “Dis ’n kompliment,” sê sy, nog in ’n gekrenkte stemmetjie. “Jy’s te dom om dit raak te sien.”

“Wat is ’n kompliment?”

“Die feit dat ek hier langs jou veilig voel.”

Dis sy beurt om bietjie te dink. “Dis waar,” sê hy dan. “Ek voel gevlei.”

Daar is ’n tranerige stilte en hy vlieg weer regop en skakel die lig aan. “Huil jy weer?” vra hy en kyk af op haar.

“Nee,” sê sy. “En wat bedoel jy met ‘weer’?”

“Jy’t gisteraand gehuil.”

“Dit was van angs, nie omdat jy gemeen was met my nie.”

“En nou ís ek?” Hy trek hom regop en vou sy arms oor sy bors, maar die koue laat hom vinnig sy beddegoed soos ’n mantel oor sy skouers trek. “Ek is jammer. Ek wil nie gemeen wees met jou nie. Eintlik wou ek net slaap. Dis jy wat begin het om vir die hoeveelste keer my karakter te verflenter. Regtig, ek weet nie hoe ek nog staande bly nie.”

“Jy is nie staande nie, jy lê.”

Hy ignoreer hierdie opmerking. “En hoekom jy dit doen, weet ek nie. Waar kry jy jou inligting vandaan? En ken jou maar ’n paar weke en sover ek weet, dra jy net kennis van Sandra en Jenny. Dis twee meisies. Vir al wat jy weet, is dit die enigstes.”

“Nee, dit is nie.”

“Hoe weet jy?”

Sy draai op haar sy. “Ek dink ons moet nou slaap.”

“O, dis ’n oplossing,” sê hy selftevrede. “Nes jy nie hou van wat ék sê nie, wil jy slaap.”

“Omdat jy net wil baklei, en ek wil nie.”

“Is dit Sandra wat jou vertel het?” dring hy aan. “Dis ’n bietjie vermetel, sou ek reken, as ’n mens haar reputasie en gedrag in ag neem.”

“Ek bespreek nie vriendinne nie,” sê sy plegtig.

Hy skuif af en skakel die lig vir die hoeveelste keer af. “Jy moes nooit ’n woonstel met haar gedeel het nie. Dis julle ma’s se skuld.”

“Ek weet.”

“Jy en Sandra is die twee uiterste pole van dieselfde ding.”

“Ek weet. Glo my, maar dis nie meer vir lank nie.”

“O?” vra hy belangstellend. “Het jy ander planne?”

Sy gee ’n harde gaap. “Ons moet nou slaap. As jy die lig kort-kort aansit, gaan Hansie hiernatoe kom.”

“En ek hoop hy maak nes in jou hare,” sê hy ongevoelig, draai om en druk sy gesig in die kussing.

Hoeveel uur hy geslaap het voor hy sy woorde moet sluk, weet hy nie, maar hy word wakker toe die bedlamp aangeskakel word en in die proses van die tafeltjie afval.

“Wat?” vra hy vervaard en sit regop.

Sy staan op haar knieë tussen haar omgewoelde beddegoed, besig om die lamp weer op te tel, en traanstrepe loop oor haar wange.

“Wat is dit?” vra hy weer. “Wat het gebeur?”

“Ek kan nie slaap nie,” snik sy. “Ek kan dit nie help nie, dis jy wat die spinnekoppe op my gewens het.”

“Waar’s die spinnekoppe?” vra hy en kyk rond.

“Ek weet nie, maar hulle is hier. Jy moet hulle wegjaag.”

“Hoe?” vra hy moedeloos.

Sy wys na die onderpunt van sy bed. “As ek hier by jou voete lê, sal hulle wegbly.”

“Die bed is te nou,” sê hy. “Ons sal nooit geslaap kry nie. Ek sal jou skop.”

Sy staan net verwese na hom en kyk en hy kom tot ’n besluit.

“Staan soontoe,” sê hy en klim uit. Met sy voet stoot hy haar matras weg, pluk syne van sy bed af en stoot die twee mooi teen mekaar. “Kom hierso,” sê hy en sy gehoorsaam gedwee. Hy tel haar beddegoed op, rol haar daarin toe en wys sy moet lê. Dis nie maklik nie; terug in haar kokon moet sy min of meer omval om te lê, en hy woel hom in sy eie beddegoed toe voor hy op sy sy draai en haar nader trek.

Met sy arm om haar en haar hare kielierig onder sy ken, steek hy een hand uit en skakel die geteisterde lamp weer af. “Nou is jy veilig,” sê hy. “Van spinnekoppe én van my. Niemand kan deur hierdie dik rol beddegoed naby jou kom nie.”

Sy gee ’n sidderende sug en hy kan voel hoe sy teen hom ontspan. “Dankie.”

Sy raak byna oombliklik aan die slaap, maar hy lê lank en luister na haar rustige asemhaling. Dis sonder enige twyfel die gekste situasie waarin hy nog was. As hy dit vir Kerneels moet vertel – wat hy natuurlik nie sal doen nie – lag hy hom dood. Hierdie anderwêreldse meisie, wat sekerlik blou moord sal skree as hy haar probeer soen, het hom gedwing om met haar in sy arms te slaap. Wat nog vreemder is, is dat hy geen ander drang voel behalwe om haar te beskerm nie. Dis omdat sy so baie praat, sê hy vir homself. Sy sal heelnag argumenteer as hy haar nie aan die slaap kry nie en môreoggend – as dit nie klaar oggend is nie – gaan sy hom seker verwyt en sê dis sy skuld dat daar spinnekoppe is en dat sy haar tot hom moet wend bloot omdat sy bang is.

Maar sy verwyt hom nie. As gevolg van die onderbroke nag slaap hulle albei baie laat die volgende oggend en hy word eers wakker toe hy ’n geklop aan die buitedeur hoor. Hy maak sy arms los om Therese en loop val-val na die deur ná hy vinnig Therese se deur toegetrek het.

“Môre,” sê sy ma en soen hom liefdevol op sy verkreukelde wang. Sy hou ’n skinkbord uit waarop koffie en beskuit is. “Lyk my julle slaap laat vandag.”

“Ja, ons . . .” stamel hy en vat die skinkbord. “Dankie, Ma.”

“Ek maak ’n lekker groot ontbyt,” sê sy en draai weg. “Kom maar as julle reg is. Geen haas.”

Hy loop terug met die skinkbord, sit dit op die tafeltjie in sy kamer neer en begin skink. Therese word wakker, haar gesig rosig.

“Ek het baie lekker geslaap,” sê sy en sit regop om die beker by hom te vat. “Dankie. Het jy ook lekker geslaap?”

“Ja.”

“Ek het jou nie gepla nie?”

“Nee.”

Sy kyk na haar pols, knipper haar oë en besef alles lê nog in die ander kamer. “Hoe laat is dit?”

“Halfnege. Het jy dit nog nie oorweeg om kontaklense te kry nie?”

“Dit maak my seer en ék hoef mos nie mooi te lyk nie.”

“Hoekom nie?” vra hy. “Wil jy nie eendag verlief raak of trou of ten minste kêrels hê nie?”

“Nee.” Sy kyk na die beskuit. “Kan ek ’n stukkie kry?” vra sy vriendelik.

Hy gee die beskuit aan. “Hoekom nie? Jy is kennelik nie bang vir mans nie, anders sal jy nie in ’n wildvreemde man se arms wil slaap nie.”

“Jy’s nie wildvreemd nie.”

“Nee,” gee hy toe. “Veral nie ná hierdie naweek nie, maar jy beantwoord nie my vraag nie.”

“As iemand nie van my hou nie omdat ek ’n bril dra, kan hy mos nie regtig van my hou nie, kan hy?” Sy drink haar koffie klaar, woel haar los uit die beddegoed en staan op. Met haar hande saamgevou, kyk sy na hom met blink oë. “Kan ons weer gaan ry en kyk na die renoster en die luiperd?”

Hy vryf hard oor sy voorkop. “Ja,” sê hy gelate. “Ons kan ná ontbyt ry.”

Christine le Roux Omnibus 6

Подняться наверх