Читать книгу Christine le Roux Omnibus 6 - Christine le Roux - Страница 14

Hoofstuk 11

Оглавление

In die weke hierna werp Theo al sy energie in sy werk. Die groot huis met sy min kamers lê soos ’n deurgesnyde piering teen die effense rantjie waarop dit gebou is en dikwels as hy daar is, hou mense stil om te kyk. Die halfmaanronding van die huis bestaan feitlik net uit glas en hierdeur sien hy hoe die winter stadig verbygaan en die eerste groen blare aan die bome oopmaak. Een van sy opdragte was om nie die natuurlike bome op die perseel uit te kap of te beskadig nie – iets waarmee hy volmondig saamstem – en soos die huis sy finale afronding bereik, lyk dit al hoe meer asof dit maar altyd daar was, nog iets wat aansluit by sy filosofie.

Wat wel aan hom krap, noudat dit te laat is vir ’n vitterige eienaar om eise te stel, is die feit dat daar niemand is wat goedkeur of opgewonde is nie. Die gereelde oproepe of briewe van die trustmaatskappy verseker hom die huis is presies wat hulle wou hê en daarmee moet hy genoeë neem. Maar hy sou tog daarvan gehou het as ’n individu, die mense wat in die huis gaan woon, vir hom sê dis vir hulle mooi, dis wat hulle wou hê.

Van Therese hoor hy nie en as hy bel, is sy onbereikbaar. Ná hulle die middag by die huis gekom, hy sy tas uitgehaal en die motorsleutels vir haar gegee het, het hy haar nie weer gesien nie.

“Dankie,” het sy daardie middag vir hom gesê, “dat jy haar so mooi bestuur het en vir die naweek.”

“Was dit regtig vir jou lekker?” het hy gevra. “Ten spyte van Hansie?”

Sy het lank na hom gekyk, gelyk asof sy iets wou sê en daarteen besluit.

Hulle het nie weer die luiperd gesien nie, maar genoeg bokke, sebras en kameelperde om haar gelukkig te hou. Sy het ook groot gedeeltes van die dag by sy ma gesit en gesels of saam met sy ma eiers uitgehaal, hoenders kosgegee of etes gemaak. Hy het lankuit in die son op die stoep gelê en homself wysgemaak dis baie lekker dat hy haar nie heeldag moet amuseer nie.

En die derde nag het hulle nie eers daaroor gepraat nie. Hy het sy matras langs hare op die vloer gegooi, die mure, vloerlyste en dak bekyk vir tekens van Hansie of sy gesinslede en geslaap met sy arm om ’n toegerolde Therese. Sy het blykbaar klaar gesê wat sy wou sê, óf oor sy liefdeslewe óf oor die gevaar van grillerige spinnekoppe, want sy was nie spraaksaam nie en het rustig geslaap lank voor hy sy gedagtes genoegsaam hokgeslaan het om self te slaap.

“Mag ek jou soms bel?” het hy haar gevra voor sy gery het.

“Ag, dis nie nodig nie,” was haar minsame antwoord.

Om te bel en Sandra op die lyn te kry, was ook nie sy idee van pret nie. Sy het hom onophoudelik vertel van hulle vakansie in die Seychelle, die trouplanne wat nou vorm aanneem, wat ’n gelukkige mens sy is om iemand so standvastig soos Riaan te gekry het.

“Is Therese daar?” vra hy elke keer nes hy ’n woord kan inkry.

Die antwoord is altyd dieselfde. “Nee.”

En sy is die een wat vir hom gesê het sy wil nie saans uitgaan nie, dink hy wrokkig. Sy wil vroeg in die bed klim met ’n boek en hou meer van haar elektriese kombersie as enigiets anders.

“Waar is sy?” vra hy elke keer vir Sandra. “Wanneer kan ek haar in die hande kry?”

“Ek vra nie uit nie,” sê Sandra geskok. “Weet jy nie dat dit die hoeksteen van ’n goeie verhouding is tussen woonstelmaats nie? Ons moet mekaar se privaatheid respekteer.”

Wat hom selfs meer kriewelrig maak, is wanneer Sandra vertel van die huis waarin sy en Riaan gaan bly. Dit klink vir hom baie oninteressant, maar sy beskryf elke kamer en plant in die tuin met ’n entoesiasme wat sy vantevore net vir haar liggaamsdele gehad het.

“Bly Therese dan alleen agter in die woonstel?” vra hy.

“O nee, sy het haar eie planne.”

“Watse planne?”

“Theo, moenie so inmengerig wees nie. Dis nie vir my om dit vir jou te sê nie. As sy wil hê jy moet weet waarheen sy gaan, sal sy mos self vir jou sê.”

Hy raak knorrig en Kerneels kom dit agter.

“Iets is fout,” sê hy een middagete in Figaro. “Ons ken nie ons Theo só nie. ’n Nuwe meisie laat jou huppel en ’n ou een laat jou bokspring, want dit beteken jy is weer vry en kan begin soek na die volgende een.”

“Onsin,” sê Theo somber.

“Jenny is verlede tyd – of is ek verkeerd?”

“Sy was nooit enigiets nie, maar ja, dis verby.”

Hy het dit so taktvol moontlik gedoen, maar daar was geen manier waarop hy langer by Jenny kon gaan kuier nie. Tydens hulle laaste ete – in ’n restaurant, nié weer deur haar gekook nie – wou hy lag elke keer dat hy haar kuiltjies gesien het. Om vir ’n meisie se bates te lag, is ’n seker teken dat daar geen romanse kan wees nie.

“Dis die naamlose een,” raai Kerneels nou.

“Therese. Ek het jou gesê haar naam is Therese.”

“Dis reg. Mooi naam. Is sy die rede vir die wroeging?”

“Ek wroeg nie.”

Kerneels eet sy broodrolletjie omdat hy twee kilogram verloor het noudat dit warm genoeg is om soggens vroeg te gaan draf. “Dis ’n tegniese punt. Iets is verkeerd, en aangesien ek weet jy is baie gelukkig met al jou bouprojekte, kán dit net ’n meisie wees. Jy’s al so van jy ná die langnaweek teruggekom het. Is jy verlief op haar?”

“Nee!”

“Pes jy haar?”

“Nee!”

Kerneels gee op. “Vergeet dan van haar en word weer jou ou, sonnige self.”

“Ek kan nie van haar vergeet nie. Sy is te onskuldig. Ek moet weet of sy veilig is, of sy . . . of sy . . .”

Kerneels se oë rek effens, maar hy besluit wyslik om die onderwerp te los. “Dit het uiteindelik gebeur,” sê hy daardie aand vir sy vrou. “Ons het geglo dis onmoontlik en ons was verkeerd. Theo het sy Moses teëgekom. Theo het geval.”

“Seker ’n meisie wat niks met hom te doen wil hê nie,” sê Janie wys.

“Absoluut,” sê Kerneels en soen haar hand, wat na gerasperde wortels ruik. “Julle vrouens is so slim.”

Theo het nou ’n nuwe selfopgelegde taak. Elke etenstyd ry hy na ’n ander biblioteek, maak asof hy na ’n besondere boek soek en bekyk al die personeel. Dat dit onnosel is, besef hy gou. Therese het self gesê sy ry etenstye rond; dit is dus baie moontlik dat hy al by die regte biblioteek was, maar dat sy uit was. Hy wissel dus sy besoektye en konsentreer net op die biblioteke binne ’n sekere radius van Sandra se woonstel. Tot Therese die motor gekoop het, het sy per bus gery en hy kan nie sien dat sy onnodig ver sou ry nie.

“Dis mos die ideale opset,” kan hy haar ma hoor sê. “As jy Sandra se woonstel deel, is jy lekker naby jou werk.”

Toe hy inderdaad een oggend so teen elfuur in die stil biblioteek instap en Therese tjoepstil op haar hoë stoeltjie agter die toonbank sien sit, verdiep in ’n boek, wil hy begin huil van pure blydskap.

“Therese!” sê hy toe hy by haar kom.

“Sjj,” sê sy waarskuwend en kyk na ’n paar bejaarde mense wat langs die lang tafel sit en lees. “Ons praat sag hier.”

“Ek het jou gekry,” sê hy.

Sy lyk verbaas. “Jy weet mos ek werk hier.”

“Nee, ek het nie geweet nie. Ek was al by al die takke. Dié een ook, maar dit was etenstyd, jy was nie hier nie.”

Sy glimlag behulpsaam. “En noudat jy my gekry het, kan ek jou help met iets? Wil jy graag aansluit?”

“Nee, ek is lid. Nie hier nie, by die tak naby my huis.”

“Dit maak nie saak nie, jy kan hier ook boeke uitneem as jy wil. Hulle moet natuurlik net terugkom hierheen.”

“Ek wil nie boeke uitneem nie.”

Sy lyk strenger. “Dis ’n gewoonte wat jy moet aanleer, Theo. Jy moet saans lees.”

“Ek lees genoeg.”

“Is nie, jy klim net in die bed en skakel die lig af.”

Hy kry ’n glinstering in sy oë. “Jy is natuurlik ’n ekspert as dit kom by my slaapgewoontes.”

Sy kry ’n kleurtjie en vat-vat aan haar bril. “Wat wou jy hê?” vra sy sag, maar voor hy kan antwoord, moet sy eers iemand se boeke skandeer en hulle ’n prettige leesavontuur toewens.

“Ek het jou gesoek,” sê hy toe hulle weer alleen is. “Sandra laat my glad nie toe om met jou te praat nie.”

“Sy is nogal beskermend op haar manier,” sê sy peinsend.

“En jy het vir my gejok. Jy’t gesê jy klim agtuur in die bed. Jy gaan nooit uit nie. As ek bel, sê Sandra jy is uit.”

“Sy jok,” sê sy kalm. “Ek is in die bed en ek lees.”

Dis ’n kwetsende waarheid. “Ek sien,” sê hy. “Jy wil nie met my praat nie.”

“Dis nie persoonlik nie, ek praat met niemand nie,” troos sy. “Telefone is so verspot. Jy kan mos nie die ander mens se gesig sien nie.”

Hy drink haar gesig in. Dis natuurlik waar wat sy sê, hy wil veel eerder haar gesig sien as haar stem oor ’n telefoon hoor. “Wil jy middagete saam met my gaan eet?” vra hy.

“Nee dankie.” Sy beduie onder die toonbank in. “Ek het toebroodjies saamgebring.”

“Bêre dit en kom eet saam met my?”

Sy skud haar kop. “Nee dankie. Dis buitendien my beurt vir die etensuurstorie.”

“Die wat?”

Sy lyk weer streng. “Storietyd vir die kleintjies.”

“En vanaand?”

“Ek het baie om te doen. Sandra trou mos Saterdag en ek trek een van die dae en . . .”

“Waarheen?” vra hy desperaat. “Ek kan sien wat gaan gebeur, jy gaan net verdwyn. Dis erg genoeg dat Sandra so afwysend is, maar as jy eers weg is, sal ek geen manier hê om jou in die hande te kry nie.”

“Hoekom wil jy my in die hande kry?” vra sy besorg. “Het ek iets op die plaas vergeet? Ek is seker ek het . . .”

“Jy’t niks vergeet nie, ek wil jou net graag sien!” roep hy.

“Sjj,” sê sy en druk haar vinger teen haar lippe.

Hy voel moeg. Hy wil met sy kop op die toonbank gaan lê, maar hy moet eers weer opsy staan sodat sy iemand kan help.

“Ons mag nie eintlik in die biblioteek sosialiseer nie,” sê sy toe sy klaar is.

“Ek wil ook nie. Om hier te staan en fluister, is nie my idee van pret nie. Ek doen my bes om jou sover te kry om buite die biblioteek te sosialiseer.”

Sy kantel haar kop en hy voel hoe sy maag draai by die aanskoue van iets so bekend en geliefd. “Gaan jy na Sandra se troue? Ek dink sy het al haar ou kêrels genooi,” vra sy.

“Ja, ek is genooi,” sug hy. “Jy is seker blommemeisie.”

Sy lag. “Blommemeisies is klein dogtertjies.”

“Jy is al weer letterlik. Strooimeisie dan.”

“Nee, Sandra het nie so iets nie. Sy wil die ster wees.”

“Vanselfsprekend. En jou neus is mooier as haar nuwe een.”

Sy bloos. “Haai, Theo, jy . . .” Dan verskerp haar blik, word haar oë wys. “Jenny het jou afgesê.”

Hy klem sy kakebene opmekaar. “Nee, sy het nie. Ek het haar afgesê, as jy dit so wil noem.”

“Kuiltjies hulle aantrekkingskrag verloor?”

“Haar kuiltjies was jou obsessie, nie myne nie.”

“Maar dit verklaar dan hoekom jy so op my spoor is.”

“Dit het niks met haar te doen nie! Niks. Dis al ses weke van ons op die plaas was en ek wou . . . ek wil . . .”

“Ek sal saam met jou na die troue gaan,” val sy hom bedaard in die rede. “Dis vieruur Saterdagmiddag. Wil jy my kom oplaai of sal ek na jou huis kom?”

Hy is so verras dat hy nie dadelik kan antwoord nie. “Sal jy saam met my gaan? Sal jy regtig?” vra hy.

“Ek sê mos so.”

“Dankie. Ja. Dit sal . . . wonderlik wees. Ek sal jou kom oplaai. Vieruur, sê jy. Is halfvier reg?”

“Ja,” sê sy.

“Goed,” sê hy verbouereerd. “Reg. Uitstekend. Jy sal nie vergeet nie?”

“Hoe kan ek?” Sy haal haar skouers op. “Die hele woonstel is vol trourokke en sluiers en linte en goed.”

Hy voel nou so vrolik dat hy kan grappe maak. “Trourokke? Hoeveel het sy?”

“Jy is nou letterlik,” maan sy. “Jy weet wat ek bedoel. Ek sal dit nooit doen nie.”

“Wat doen nie – letterlik wees?”

“Só trou nie. Dis ’n moegmakende gewoel. Ek is verbaas jy kom deur as jy bel, want sy praat dag en nag met spyseniers en bloemiste en goed. Baie uitputtend. Ek sal dit nie so doen nie.”

“Hoe sal jy dit doen?”

“Ek sal net my rugsak pak en die deur agter my toesluit en loop trou.”

“Sonder blomme en rokke?”

“Ja.” Sy speel met die pen wat sy heen en weer tussen haar vingers rol. “En sy trou in ’n manlike trourok. Dis vir my so vreemd. Aan die begin het ek saamgegaan as sy aanpas en daar was na my mening pragtige rokke, maar sy het aanhou sukkel en verander tot sy op hierdie een besluit het. Onteenseglik ’n man.”

“Hoe kan ’n rok manlik wees?” vra hy en sien die spinnerakke nader kom. “Dis per definisie vroulik.”

“Nie dié een nie. Dis hard, streng en regaf. Jy sal sien.”

“Ek twyfel. Die geslag van voorwerpe is jou terrein en as dit kom by die geslag van rokke is ek in die duisternis.”

“Dis gepas,” sê sy nugter. “Sy hou meer van mans as van vroue. Sy sal dus liewer iets teen haar vel wil hê wat manlik is en nie vroulik nie.”

“Ja, ja,” sê hy haastig.

“Daar gaan baie meisies wees op die troue,” sê sy in haar onderwyseresstem. “Sandra het al haar ongetroude vriendinne genooi. En vriende soos jy. Sy wil vir die mans wys dis te laat, hulle het hulle kanse verspeel, en vir die meisies dat sy iemand gekry het.”

“Jy het nie ’n baie hoë dunk van haar nie, het jy?”

“Net omdat sy my vriendin is, beteken nie ek is blind vir haar foute nie. Dis die hele probleem met die samelewing. Mense wil nie die waarheid erken nie. Ek weet wat haar swakhede is, maar ek hou desnieteenstaande van haar. Dis my uitgangspunt met alle mense.”

“Soos ek al ondervind het,” stem hy saam. “Ek kan net hoop dat jy van my hou ten spyte van al my foute wat jy so dikwels en kategories en in alfabetiese volgorde onder my aandag bring.”

“Wat ek besig was om te sê,” gaan sy voort asof sy hom nie gehoor het nie, “is dat daar baie meisies gaan wees en as jy hulle met jou oë gaan verslind, kom ek huis toe. Miskien moet ons in twee motors ry sodat ek kan ontsnap wanneer ek wil.”

“Nee,” sê hy. “Nee! Hoe kan jy dit van my dink? Glo jy regtig as ek saam met jóú is, is dit moontlik om na enigiemand anders . . .”

Die bejaarde egpaar wat by die tafel gesit en lees het, kom nader. Dis duidelik dat hulle hulp nodig het en Therese kyk hom ferm in die oog.

“Halfvier,” sê sy en draai weg om te help.

Kerneels hoor hom terugkom in sy kantoor en kom vyf minute later in. “Het ek my verbeel of was die huppel terug in jou stap?” vra hy en loer om die deur.

“Ek het haar gekry,” sê Theo en ruk sy das los om meer asem te kry. “Ons gaan Saterdag na ’n troue.”

“Nie julle eie nie?”

“Dit is so ’n onmoontlike gedagte dat ek my nie sal verwerdig om te antwoord nie. Sandra s’n.”

“Uitstekend,” sê Kerneels tevrede. “Dan kan ons uiteindelik sien hoe sy lyk.”

“Ek dog jy’t gesê jy gaan liewer gholf speel?”

“Nie meer nie. Janie was suur omdat sy van troues hou, so almal sal gelukkig wees.”

Hy weet nie van almal nie, dink Theo toe hy weer begin werk, maar hý is.

Christine le Roux Omnibus 6

Подняться наверх