Читать книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux - Страница 10

Hoofstuk 7

Оглавление

Maandagoggend groet Annemie vir Pieter met ’n stokstywe gesig. Sy bring vir hom sy gebruiklike koppie koffie en sit dit met besondere sorg voor hom neer, maar haar gesig beweeg nie en sy sê niks nie.

“Dankie,” sê hy afgetrokke en kyk dan op. “Lekker naweek gehad?”

“Ja dankie.” Sy swaai om en stap uit.

Normaalweg sou sy hom ook uitgevra het, maar hy is te besig om regtig oor die saak te wonder. Sy is geneig tot buierigheid en regeer sy hele kantoor met so ’n ysterhand dat almal lig loop vir haar. Dis eers teen die middag toe alles rustiger gaan dat hy regtig besef daar is fout.

“Is iets verkeerd?” vra hy vir haar.

Sy kyk hom uit die hoogte aan, meerderwaardig, maar nie parmantig nie. “Nee, waarom dink jy so?”

“Jy lyk nie baie tevrede nie.”

Sy rol haar skouers, tik ’n denkbeeldige stoffie van haar lapel af en fladder die papiere in haar hand. “Ek verneem dat gelukwensinge aan die orde van die dag is.”

“Gelukwensinge?” vra hy onbegrypend. “Vir wat?”

“Jou huwelik,” sê sy stroef. “Jy het Vrydag vir Kerneels vertel. Ek sou reken as jou persoonlike sekretaresse kon jy my …”

Sy eerste reaksie is om uit te bars van die lag, nie oor haar ongelukkigheid nie, maar oor die rede daarvoor. Sy tweede reaksie – heeltemal onverklaarbaar – is om niks te sê nie. Hy sluk die verduideliking, die weerlegging, net so in en kyk na haar.

“Wel,” sê sy. “Geluk.” Sy swaai om dat haar kort rompie om haar bene swiep en loop uit.

Hy leun terug in sy stoel en tik sy pen teen sy voortande. Die vorige Kersfees, ’n jaar of meer gelede, het hy die firma se Kersfeespartytjie by sy huis gehou. Dit was net na die huis voltooi is en hy ingetrek het, en die idee was om twee geleenthede saam te vier: Kersfees en sy nuwe huis. Hy het spyseniers gekry en Anna het die aand oorgekom om te help. Die partytjie was ’n sukses, is op Oukersaand gehou en later was almal baie jolig en uitgelate soos dit maar op kantoorpartytjies gaan, en agterna het hy besef dat Annemie nie meer … dat sy nie heeltemal so onbetrokke is soos hy …

Hy haal sy skouers op. Annemie is in alle opsigte die perfekte sekretaresse, altyd voorbereid, altyd professioneel. Sy bring vir hom wat hy nodig het voor hy nog besef hy het dit nodig. Sy behoort van beter te weet. Werk en liefde kan nie oorvleuel nie.

Toe hy huis toe gaan, is sy nog in haar kantoor besig en kyk nie op toe hy verbystap nie.

“Tot siens,” sê hy.

Sy bly besig met die dokumente voor haar. “Haastig, nè?”

Hy bly staan. “Wat bedoel jy?”

Sy druk net haar lippe opmekaar. “Sê groete vir … vir … jou vrou.”

“Maja,” sê hy. “Haar naam is Maja.”

Sy beweeg haar kop. “As ons meer waarskuwing gehad het, het ons … was ons voorbereid, maar ons het gekollekteer en … Is daar iets besonders wat julle nodig het?”

“Waarvan praat jy?”

“’n Trougeskenk. Jy het tog seker alles.”

“Dis vriendelik van julle,” sê hy. “Nee, ek kan nie aan iets dink nie.”

“Ek sal maar my eie oordeel gebruik.”

“Seker ’n valbyl,” sê hy later ná hy die storie vir Maja vertel het. Hulle stap in die tuin waar die tuinier die gras gesny het en alles vars ruik al is die gras kol-kol geel gebrand.

“Jy moes haar die waarheid vertel het,” sê Maja betigtend. “Weyers is die enigste een wat moet dink ons is getroud. Die res van die mense hoef nie so te dink nie. Veral nie jou personeel nie.”

“Ek weet,” sê hy. Hy dra sy baadjie aan sy duim gehaak en hulle gaan sit op die tuinstoele wat onder die eikebome staan. “Ek kan dit self nie verklaar nie. Miskien soek ek al lankal na ’n verskoning, ’n rede om haar …”

“Van jou lyf af te hou,” sê sy behulpsaam.

“Dis bietjie kru gestel.”

“Maar waar.”

“Ja,” sug hy. “Helaas.”

“Hoe lank werk sy al vir jou?” vra sy en kyk met blink oë hoe Lappies op die gras baljaar en hom onderstebo skrik toe ’n voël naby hom opvlieg.

“Vier jaar.”

“En is sy die hele tyd al verlief op jou?”

“Hoe sal ek weet? Haar werk en gedrag was nog altyd foutloos, absoluut onverbeterlik. Niks om te kritiseer nie. Dis net sedert voorverlede Kersfees dat sy …”

Sy draai haar kop en kyk na hom. “Wat het voorverlede Kersfees gebeur?”

“Wel …” sê hy ongemaklik. “Was jy al op kantoorpartytjies?”

“O ja,” sê sy. “Dis waar ek Hugo ontmoet het. Hy is ’n kunstenaar en het al die skilderye vir die gastehuis gedoen. Die ding met so ’n partytjie is dat mense altyd beter lyk as in helder daglig. En almal gedra hulle anders as wat hulle sou doen in helder daglig.”

“Presies,” sê hy. “Jy het dit reg opgesom.”

Sy buk, tel ’n droë akker op en gooi dit vir Lappies, wat daarop duik asof dit ’n muis is. “So wat het voorverlede Kersfees gebeur?”

Hy lyk ongemaklik. “Toe dit middernag word, het almal natuurlik mekaar gelukgewens en ek weet nie of dit toevallig was nie, maar Annemie was langs my en ons het … wel, natuurlik het ek haar gesoen.”

Sy sit penorent. “Jy het haar gesoen!” sê sy geskok.

“Almal het vir almal gesoen. Sy was maar net toevallig …”

“Toevallig se voet,” sê sy kwaad. “’n Mens sorg altyd op Oujaarsaand of Oukersaand dat jy naby die man staan deur wie jy graag gesoen wil word. Regtig, Pieter, jy kan nie net links en regs meisies soen nie. Dis baie onverantwoordelik. Geen wonder sy het idees begin kry nie.”

“Onsin,” sê hy. “Jy raak nie verlief op almal wat jy soen nie.”

“Ek is ’n uitsondering,” sê sy. “En kieskeurig.”

“Wel,” sê hy. “Soos my ouma sou gesê het: gedane sake het geen keer nie en die koeël is deur die kerk. Ek het haar gesoen, ek het al die meisies daardie aand gesoen en nou glo Annemie ek en jy is regtig getroud. Sy kollekteer vir ’n troupresent.”

“Regtig?” vra sy, haar besware vergete. “Die huis het dan alles. Jy’t nie ketels of broodroosters nodig nie. Ek het wel ’n nuwe rugsak nodig. Sê vir haar.”

“Nee,” sê hy kwaai. “Ek wil nie troupresente hê nie. Ek is nie getroud nie. Jy ook nie.”

“Weyers het vanoggend gebel,” onthou sy skielik. “Hy wou weet van ons wittebrood.”

Hy staar haar oorstelp aan. “Ons wittebrood? Wat wou hy weet?”

“Hoekom ons nie daarop is nie. Hy sê pasgetroudes bly nie net in hulle huise nie.”

“Wat het dit met hom te doen? Ons kan dit hier in die tuin hou as ons so voel.”

Sy kyk om haar rond en korrel op na die dubbelverdiepinghuis agter syne waarvan ’n hele paar vensters afkyk op sy tuin. “Ek dink nie so nie. Jou buurman sal ons sien.”

“Moenie my so letterlik opneem nie.”

Sy maak ’n beweging met haar kop. “Grappies tersyde. Dit lyk asof Weyers die boodskap het. Hy het nog nie weer opgedaag nie en ek dink nie dis regverdig teenoor Annemie nie. Vertel haar die waarheid. Sy kan nie regtig begin kollekteer vir ’n present nie.”

“Ek weet,” stem hy saam.

Toe Annemie die volgende oggend voor hom staan, haar lippe nog altyd dun en styf, is dit nie heeltemal so maklik om met die waarheid uit te kom nie. Hy is nie die soort man wat ooit grappe maak of poetse bak nie; om nou te erken dat hy dit wel gedoen het, sit in sy keel vas. Hy drink eers ’n slukkie van die koffie wat sy voor hom neergesit het en trek ’n gesig.

“Dis bitter.”

“Ag,” sê sy, glad nie spyt nie. “Het ek die suiker vergeet?”

Hy stoot die koppie weg. “Luister, dis alles net ’n … e … grap. Ek is nie regtig getroud nie. Moet asseblief nie begin kollekteer vir ’n geskenk nie.”

Haar lippe word dunner. “Jy is nie regtig getroud nie? Is dit Maja se idee van ’n grap?”

“Hoegenaamd nie. Dit was myne en dit was nie regtig ’n grap nie. Sy het ’n gewese kêrel wat … wat moeilikheid veroorsaak en ek het voorgestel sy noem dit vir hom.”

“Ek sien. En het dit gewerk?”

“O ja. Wel, dit lyk so.”

Sy ontspan en kry dit selfs reg om te glimlag, ’n neerbuigende glimlag, maar tog. “’n Mens moet seker toegewings maak teenoor die jeug. Hulle is so voortvarend, dink nog nie aan die gevolge van hulle onverantwoordelike optrede nie.”

“Ek het dan nou net gesê dit was my idee,” sê hy.

Sy glimlag breër en waai haar vinger in die lug. “Jy is baie lojaal, maar ek kon van die eerste dag af sien hoe sy jou beïnvloed. So ’n kind kan ’n mens maklik om haar vinger draai. Ek weet. My niggietjie kuier mos dikwels by my en jy weet ek is nie die soort wat ooit my standaarde laat sak nie – persoonlik of professioneel. En tog kry sy dit elke keer reg om my goed te laat doen wat ek nooit andersins sal doen nie. Kinders is net so. ’n Mens sou kon sê hulle is gewetenloos, maar …” Sy lag goediglik. “Dis maar soos hulle is. Mens moet dit net aanvaar. Dink net aan hulleself en wat vir hulle goed en lekker is. Die selfsugtigheid van die jeug. Daar is al verhandelings oor geskryf.”

“Werklik,” sê hy.

“Maar ek is bly jy het die saak reggestel. Toe Kerneels my nou die middag vertel, het ek dadelik gedink dit kán net ’n grap wees. Jy is nie die soort man wat halsoorkop besluit of optree nie. Indien dit so was, was jy nie die suksesvolle sakeman wat jy wel is nie.”

“Regtig?” vra hy.

Sy tel die suikerpot van die skinkbord op, gooi een lepel in sy koffie en roer dit. “As iemand wat jou goed ken en jou welsyn op die hart dra, moet ek jou dalk waarsku. Wat weet jy van hierdie Maja? Om sommer ’n totale vreemdeling in jou huis te neem, kan nie net tot onvoorsiene gevolge lei nie, maar gevaarlik wees.”

“Maja is nie ’n vreemdeling nie en sy kan nie gevaarlik wees vir ’n mier nie,” sê hy, sý stem waarskuwend.

Sy gee ’n simpatieke laggie. “Sulke tieners kan baie bekoorlik wees, Pieter. Ek waarsku jou maar net. Jy is ’n volwasse man met ’n sekere reputasie. Ek wil net nie hê jy moet jou vingers verbrand nie.”

Hy leun agteroor in sy stoel en bekyk haar. “Ek waardeer jou besorgdheid, maar soos jy gesê het, ek is volwasse en regtig oud genoeg om te weet wat ek doen. Jy hoef jou nie oor my te kwel nie. Kan jy nou daardie oproepe gaan maak waarvoor ek gevra het?” Hy wys na die koffie wat ongedrink voor hom staan. “En vat dié met jou saam. Ek is nie dors nie.”

Hy is die hele dag knorrig tot hy daardie aand oorkant Maja sit en eet. Sy sit hom en vertel hoe sy sy rekenaar in sy studeerkamer ontdek het en hoe lekker dit vir haar was om e-posboodskappe aan al haar vriende te stuur.

“Jy gee mos nie om nie?” vra sy met haar groot oë op hom.

“Glad nie.”

“Want ek raak baie verveeld by die huis.”

“Ek kan dit glo.” Hy wys na die veelkleurige slaai voor hom. “Ek weet nie wat jy alles hierin het nie, maar dis wonderlik.”

“Ek is bly. Jy merk natuurlik op dat ek jou gesondheid op die hart dra en niks ryks voorsit nie.”

“Mm,” sê hy.

Sy bestudeer sy gesig sonder om iets wys te word. “Jy het toe vir Annemie vertel,” sê sy.

“Ja.”

“En sy was verlig.”

“Hoe sal ek weet? Dit het min met haar te doen.”

Maja drink haar yswater en besluit dit sal taktvol wees om liewer oor iets anders te praat. “Ek gaan môre na die kommune kyk. Hulle het gebel en dit lyk nou asof ’n kamer gouer beskikbaar kan wees.”

Hy is dadelik weer kwaad. “Dis nie wat daardie mannetjie vir my gesê het nie.”

“Almiskie,” sê sy.

Die volgende oggend haal sy ’n bus, maar toe sy voor die huis staan, sug sy. Dis oud, die tuin het duidelik jare laas aandag gehad, die dak is geroes en afgeskilfer en op die stoep lê fietse, modderbesmeerde stewels, gebreekte branderplanke en ander rommel. Die hele huis vibreer van die geluid van harde rockmusiek wat uit een van die kamers kom.

Maja klop, maar niemand hoor haar nie en as ’n meisie nie toevallig in die gang verskyn het, het niemand haar tot hulp gekom nie. Die meisie blyk Jolandie te wees en sy wys Maja deur die huis.

Dis alles baie bedrukkend. Die kombuis word op ’n raap-en-skraap-basis deur al die inwoners en hulle aanhangsels gebruik. Die stoof lyk antiek, is lank laas behoorlik skoongemaak en het net twee plate wat werk. Die kastrolle het ronde bodems en ’n jong man wat vir hom melk warm maak, moet die kastrol met albei hande teen die plaat vasdruk sodat bietjie hitte darem kan deurkom.

“Ek is ’n kok,” verduidelik Maja toe sy sien Jolandie word ongeduldig omdat sy soveel tyd in die kombuis bestee.

“Hier gaan nie veel aan nie,” sê Jolandie. “Ons maak maar blikkies oop of gebruik die mikrogolf.”

“Ek sien, ja.”

Die slaapkamer wat Maja gaan kry, is baie ruim omdat dit ’n ou huis is wat nog so gebou was. Meer as dit kan sy nie dadelik sien nie, want die kamer lê begrawe onder klere, bedlinne, tasse, kartonbokse vol boeke en papiere. Nat swemklere hang aan die kas se knop en drup ’n klam poeletjie op ’n stapel tydskrifte. ’n Bont strandhanddoek is aan die vensterknip gehaak en verdonker die reeds donker kamer nog meer.

“Dit sal beter lyk as my gemors uit is,” verseker Jolandie haar. “Ek is besig om uit te sorteer. As daar iets is wat jy wil hê, moet jy sê, want ek gaan omtrent alles verkoop. Ek vat net my rugsak Londen toe.”

Toe Maja terugkom in Pieter se glas-en-beton-huis, is sy baie bedruk. Sy sit op haar bed en kyk om haar rond. Die blink vloer en die groen-en-blou mat. Die spierwit mure en die blougroen gordyne. Die wit ingeboude kaste en die groot bed met sy fyn linne. Die bedrukking word net erger toe sy die middag in die kombuis staan en werk met kastrolle wat waterpas op hulle swaar bodems staan. ’n Stoof wat blink en werk, laaie vol alles wat sy moontlik nodig kan kry. Teen die tyd dat Pieter by die huis kom, is sy omtrent in trane.

“Wat makeer?” vra hy dadelik.

Sy kyk hom tragies aan. “Ek weet nie wat om te doen nie,” sê sy en begin huil omdat dit is wat sy al heeldag wil doen.

“Ag nee,” sê hy en sit sy arm om haar skouers. “Wat het gebeur?”

Sy maak haar los, skeur ’n stuk kombuispapier af en vee haar gesig droog. “Ek het na die kommune gaan kyk.”

“En dis nie wat jy wil hê nie?”

Sy druk die opgefrommelde papier teen haar neus. “Jy moet die kastrolle sien. Hulle dans rond. Die messe is stomp. Daar is nie eens ’n ordentlike spaan nie.”

“Ek kan dit dink,” sê hy. “So ’n klomp jongmense spandeer seker nie baie tyd in die kombuis nie.”

“Alles is vuil en afgetakel. Die stoep lê vol fietse en die lawaai is vreeslik. Radio’s en goed.”

“Wel,” sê hy. “Ek het dit verwag.”

“Dis jou skuld.”

“Myne? Ek het nie gesê jy moet soontoe gaan nie.”

“Maar jy het my hiernatoe gebring. As ek nie jou huis geken het nie, was daardie een dalk beter. Ek sou nie so krities gewees het nie. Ek sou net te bly gewees het om ’n dak oor my kop te hê.”

“Jy het ’n dak oor jou kop. Ek sê dit ten minste een keer per dag vir jou. Is jy ongelukkig hier?”

“Nee!”

“Nou ja. Vergeet van die kommune.” Hy loop na die stoof en lig ’n deksel op. “Dit ruik fantasties. Weet jy dat ek nou nooit meer in die middel van die dag eet nie? Selfs as dit ’n sake-ete is, eet ek net ’n slaai. Ek bêre my aptyt nou vir saans en …

“Dis nie ordentlik nie,” val sy hom in die rede.

“’n Slaai? Ek sien nie hoekom nie.”

Sy gee hom ’n kwaai kyk. “Daar’s nie regtig ’n vrou en drie kinders nie. Mense gaan dit uitvind. My tante-hulle sal.”

“Ek was van die begin af gekant teen hierdie stories,” sê hy vroom. “Ek het geweet een of ander tyd word jy uitgevang.”

“Ek is nie uitgevang nie. Ek sê net.” Haar oë dam weer op. “Ek kan nie net jaar ná jaar by jou bly oor jy skerp messe en goeie kastrolle het nie.”

“Jaar ná jaar – my liewe Maja, jy is nog skaars ’n maand hier.”

Sy draai weg van die houtplank waarop die groente lê en snuit haar neus so hard dat Lappies skrik en om die toonbank hol na Pieter se veters. “Jy kloof hare.”

Hy gaan sit op een van die hoë stoeltjies en trek sy das los. “Hoekom trou ons dan nie maar regtig nie?”

Sy gee hom ’n gekrenkte blik en was haar hande voor sy ’n huisie knoffel begin afdop. “Nee dankie.”

“Hoekom sê jy so? Dit sal al jou probleme oplos.”

Sy sit die platkant van die mes bo-op die knoffel neer en slaan dit met haar vuis. “Mens trou nie omdat iemand ’n lekker kombuis het nie.”

Sy oë blink. “Ek sien nie koekom nie. Jy het van die begin af vir my gesê al wat jy uit die lewe wil hê, is ’n bed, ’n kombuis en ’n kruietuin by die agterdeur.”

“Ja, maar dit was voor ek …”

“Voor jy wat?”

Sy maak die verpletterde knoffel bymekaar en meng dit saam met suurlemoenskil in ’n bakkie. “Dit was sommer net praat. En my arm is in gips.”

“Wat het dit met die saak te doen?”

“Mens kan nie trou as jou arm in gips is nie.”

Hy haal diep asem om die ongelooflike geure in die kombuis in te neem. “Dan wag ons tot die gips afkom. Dis nog net twee weke.”

Sy laat sak haar hande en kyk hom moedeloos aan. “Jy het nou net die saak reggestel op kantoor en hier begin jy al weer.”

“Dié keer sal ek vir hulle sê dis die waarheid. Dié keer kan hulle maar regtig begin kollekteer vir ’n present.”

“Hulle sal jou nie glo nie. Jy weet wat gebeur as mens wolf-wolf skree.”

Hy rol sy oë, staan op om sy das aan die deurknop te haak en skink vir homself ’n whisky. “Wil jy wyn hê?”

“Nee dankie.” Sy lig een van die deksels en gooi die mengsel by. “Het jy ’n cholesterol-probleem?”

“Nee, ek het nie. Moenie die onderwerp verander nie.”

“Dis belangrik,” sê sy. “Ek moes ongelukkig room gebruik vir hierdie dis en ek wil nie jou gesondheid benadeel nie. Jy weet ek let daarop.”

“Ja, ja. Antwoord my nou, Maja. Dink jy nie dit sal ’n baie goeie plan wees nie en al jou probleme oplos?”

Sy kyk op na hom, ’n vraende blik in haar oë, maar toe sy sy oog vang, kyk sy weer af. “Wat van my tante-hulle?”

“Hulle gaan die waarheid hoor,” sê hy ferm. “Ek sal daarvoor sorg. Ek sal hulle bel en vertel en sommer al die ander stories kanselleer. Vrou en drie kinders uitgooi. Ons sal hulle nooi om te kom as hulle wil.”

“Anna sal bly wees,” gee sy toe. “Ek sal nooit sê sy moet pers uniforms dra nie.”

“Anna se goedkeuring, alhoewel belangrik, is nie my eerste prioriteit nie.”

“Annemie sal kwaad wees. Weyers ook.”

Hy byt op sy tande. “Weyers se opinie laat my koud. Hy dink buitendien ons is getroud, dit sal aan hom min verskil maak.”

“Wat van jou ouers?”

“Jy’t gesien hulle hou van jou. Hulle kan net bly wees.”

Sy begin skille bymekaar maak. “Ek weet nie.”

Hy leun oor die toonbank en gryp haar gesonde hand vas. “Maja, hou jy van my huis?”

“Natuurlik,” sê sy. “Ná ek die snaakse vorms gewoond geraak het, dink ek dis pragtig. Ek hou van alles hier, die tuin ook.”

“En hou jy van my?”

Sy kyk weer vinnig op en kry ’n rooierige gloed in haar nek. “Ja, natuurlik.”

“Sal ons dan trou? Nes jou gips af is.”

“Ek veronderstel so,” sê sy. “En los nou my hand, ek moet die sous maak voor dit klont.”

Christine le Roux Omnibus 7

Подняться наверх