Читать книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux - Страница 11

Hoofstuk 8

Оглавление

Annemie knip nie ’n oog toe Pieter haar ’n week later van sy planne vertel nie. Sy dra ’n smaakvolle groen pakkie wat mooi pas by haar nuut gekleurde donkerrooi hare en haar oë is waterpas toe hy met haar praat.

“Weer met Maja?” vra sy.

“Wat bedoel jy met ‘weer’?” Hy tel die kalender op en kyk daarna.

Sy gly gladweg oor haar fout. “Met Maja?”

“Vanselfsprekend.”

“Dis goed,” sê sy. “Verlang jy dat ek dit aan die res van die personeel oordra of hou ons dit maar stil?”

“Ek gee nie vreeslik om nie.”

“Dis net dat Kerneels dit nog altyd glo.”

“Uitstekend,” sê hy. “Dan is daar niks te sê nie.” Hy wys na die kalender. “Kanselleer alles vir hierdie week. Ek sal weg wees.”

Sy kyk na die kalender. “Ek sien. Wat sal ek as rede gee?”

“Ek sal op verlof wees. Ek gaan bietjie weg.”

“Dis lekker,” sê sy en hy kan sweer haar linkerwimper het vir ’n sekonde speels oor haar oog gesak. “Jy het ’n vakansie nodig.”

“Ek weet.”

“Dis dan al koeler,” sê sy. “Lekker om weg te gaan.”

Hy sit die kalender terug op sy plek. “Dankie, dis al. Het jy al vir Parkins in die hande gekry?”

“Hy sal jou tienuur bel.” Sy stap na die deur en bly staan. “Jy’s ’n goeie man, Pieter. Ek het dit nog altyd geweet en dis raar. In my ervaring kan mans, veral mans in jou posisie, nogal harteloos wees, maar jy is nie so nie. Jy is bereid om ’n medemens te help.”

Hy kyk na haar deur nougetrekte oë, nie seker waarheen sy mik nie. “Dankie.”

Maja se oom en tante kom twee dae voor die troue. Hulle lyk beïndruk met Pieter se huis, maar nie met hom nie, al is hulle vriendelik genoeg. Hy verwag enige oomblik dat die oom hom eenkant toe gaan roep en dit gebeur ook nie. Hulle sê min, Maja doen die meeste van die praatwerk en hy is bly toe die seremonie verby is en hy en Maja na hulle bestemming ry teen die kus af. Sy dra haar tante se trourok, ’n roomkleurige kantrok wat voor opwip en agter op die grond hang. Sy lyk vir hom erbarmlik fraai daarin, soos ’n kind wat op die solder gespeel en uit ou koffers klere aangepas het.

Sy is nie spraaksaam terwyl hulle ry nie, sy kyk net kort-kort na haar linkerarm wat wit afsteek teen die ander een en vryf ingedagte oor die pols. By die deftige gastehuis waar hy vir hulle bespreek het, word hulle na hulle suite geneem en hy druk die deur toe en kyk na haar. Sy gly haar handsak van haar skouer af en sit haar ruiker oranje rosies versigtig op die koffietafel neer voor sy opkyk na hom.

“Wat nou?” vra sy.

Hy stap nader. “Ek sal jou wys.”

Vir die volgende week is Maja ’n fontein van wie se borrelende verkwikking hy hom nie kan wegskeur nie. Die mengsel van wêreldwysheid en naïwiteit, haar praktiese aanslag teenoor haar verstrooidheid is ’n verslawing waaraan hy hom heelhartig oorgee. Hy kan nie genoeg van haar kry nie. As hy in die oggende wakker word en haar slapende, verkreukelde gesig langs hom op die kussings sien, moet hy sy hande uitsteek en aan haar raak of sy gesig in haar nek druk net om van voor af seker te maak dis regtig sy en nie net ’n skim nie.

“Jy’s my Lappies,” sê hy een middag vir haar ná hulle geswem en hulle koue liggame in mekaar se arms verhit het. “Jy’s my speelding.”

“Ek dink nie so nie,” sê sy. “Ek hap nie na jou veters nie.”

Hy lê op sy rug en kyk hoe sy opstaan, haar dik hare borsel. “Jy sit altyd en kyk na Lappies se manewales, hoe hy sy eie stert probeer vang of ’n vlieg agternasit. Ek sien jou gesig as jy na hom kyk. Dis wat ek bedoel.”

“Wil jy net op ’n stoel sit en na my kyk?”

“Onder andere, ja. Ek kry daar ewe veel genot uit.”

Sy kry ’n veraf uitdrukking in haar oë. “Ek verlang na hom. Anna sal hom goed opgepas het, dink ek. Miskien moes ons hom saamgebring het.”

“Nee, ek dink nie so nie. Hy sou vreeslik afgeskeep word.” Hy pak teësinnig in toe die week verby is en dié keer is dit hy wat stil is toe hulle terugry.

“Wat makeer?” vra sy versigtig.

Hy sug. “Ons ry weg uit die towerbos en ek is nie lus daarvoor nie. Daar lê groot en belangrike werk vir my en wag en ek gaan baie besig wees.” Hy kyk af na haar en glimlag. “In die bos het jy my getoor, ek het van alles vergeet. By die huis is dit nie moontlik nie.”

“Ek sal nog daar wees.”

“Ek weet.” Hy tel haar hand op en soen dit.

Maar sy sien die verskil toe hulle by die huis instap. Op die antwoordmasjien wag ’n rits boodskappe vir hom, onder die e-pos is daar twee briewe vir haar en ’n dosyn vir hom. Hy dra net hulle tasse boontoe en sit alles in sy kamer neer.

“Jy slaap nou hier,” sê hy. “Sal jy regkom? Ek het oproepe om te maak.”

Sy pak hulle tasse uit, dra die wasgoed na die waskamer en speel met Lappies wat al agter haar aan tuimel. Selfs toe hulle later aandete eet, is hy afgetrokke, sy aandag elders.

In die weke wat volg, voel sy al hoe meer eenkant geskuif. Sy spreek haar hieroor aan. Niks het eintlik verander nie, sy bly waar sy gebly het, haar daaglikse doen en late is dieselfde behalwe dat sy meer bewegingsvryheid het met die arm uit gips. En Pieter is nie onvriendelik nie, dis net dat sy elke dag meer voel na ’n speelding. Sy het vir Lappies om mee te speel, Pieter het vir haar. ’n Liewe ondeug. Dis ’n frase uit haar kindertyd, ’n rympie, die titel van ’n kinderboek – sy kan nie onthou nie. Soos Lappies in die spens slaap en eet, in sekere kamers mag speel en in ander nie, het sy wat Maja is ook haar afgebakende plek en rol.

Sy moet daar wees as Pieter by die huis kom, of dit sesuur in die middag of elfuur in die aand is. Hy hou daarvan, hy gooi altyd sy tassie neer en omhels haar, speel ’n rukkie met haar tot hy hom weer wend na sy eintlike werk of belangstelling. Saterdae en Sondae speel hy gholf, sy ry maar op haar eie rond. Hy het haar in die straat opgetel en huis toe gebring, agtergekom dit pas hom en besluit om haar permanent te hou. Sy amuseer hom, sy verskaf afleiding wanneer en indien hy dit nodig het.

Selfbejammering is ’n nare emosie, weet sy. Dit takel af en verdraai die werklikheid. Pieter is ’n besige mens, hy het ’n veeleisende en stresvolle werk. Die laaste ding wat hy nodig het, is ’n onvolwasse vrou wat teem omdat sy afgeskeep voel. Hy moet selfs vir drie dae Johannesburg toe gaan en in hierdie eensame dae wip Annemie een oggend onverwags in. Sy het ’n bos blomme in haar arms en groet Maja baie vriendelik.

“Ek is skuldig,” lag sy en gee die blomme vir Maja. “Ek wou jou al lankal kom sien om darem my persoonlike gelukwensinge oor te dra, maar Pieter hou my so besig …”

“Dankie. Dis pragtig.” Maja vat die blomme en loop kombuis toe om hulle in water te sit. Sy is so moeg vir haar eie gedagtes dat sy bly is om Annemie te sien. “Kan ek vir jou tee maak?”

Anna, wat besig is om vadoeke uit te spoel, draai haar rug op Annemie, vat die blomme by Maja en sê sy sal die tee bring.

“Luister,” sê Annemie toe hulle sit en sy grawe deur haar volstruisleer-handsak. Sy hou ’n knipsel uit. “Pieter het my gevra om uit te kyk na ’n werk vir jou en ek dink ek het die ideale ding gekry. Dis ’n klein restaurantjie, nie te ver van die kantoor af nie, maar met fantastiese kos. Enige tyd so goed soos die beste Europese plek.”

Maja sê niks nie, vat net die knipsel en lees dit.

“Ek dink nie Pieter sal daarvan hou dat jy saans werk nie,” gaan Annemie voort. “Dis waarom die plek so ideaal is. Dis net oop vir ontbyt en middagete. Party mense het al gekla, maar Vernon, die eienaar, hou voet by stuk. Hy is daar vir die mense wat in die middestad werk en eet, maar saans is hy toe.”

“Ek sien hy soek ’n assistent-chef,” sê Maja.

“Juis. Ek hoop nie jy gee om nie, maar ek het hom klaar gebel en hy is baie opgewonde.” Sy knipoog vir Maja. “Ek het nog nie self die voorreg gehad om van jou kos te proe nie, maar Pieter raak liries daaroor en hy is ’n fynproewer.” Sy kyk op toe Anna inkom met die tee. “Môre, Anna.”

“Jip,” groet Anna sonder om na haar te kyk en loop weer uit.

“Ek het my bes met haar gedoen,” sug Annemie. “Die hemel hoor my, ek het probeer. Waarom Pieter haar aanhou, weet ek nie. Hy is nou net eenvoudig die soort man …”

“Ja?” vra Maja en begin skink.

“Wel, jy weet. Kan dit nie oor sy hart kry om iemand die deur te wys nie.” Sy gee ’n laggie. “Is seker maar tipies mansmens, te lui om iets te doen wat sy gemak kan bedreig.”

“Ek kom baie goed reg met Anna,” sê Maja.

“Nou ja, wie is ek dan om iets te sê?” vra Annemie. “Ek het aangebied om te adverteer en ander huishulpe te woord te staan as hy vir Anna in die pad wil steek, maar hy … Dis nie meer ter sake nie, is dit? Jy is nou hier om na alles te kyk.”

“Ja,” sê Maja en gee haar tee aan.

“Wat dink jy van die advertensie?” vra Annemie ná sy ’n fyn slukkie gedrink het. “Stem jy nie saam dis net wat hy in gedagte het nie?”

“Wie?” vra Maja. “Vernon?”

“Nee, Pieter.”

“Ek het nie geweet hy soek vir my werk nie.”

Annemie se oë vernou effens, maar haar glimlag bly breed. “Dis nie dat hy … maar jy ken hom tog. Hy kan ’n hulpelose vrou nie verdra nie. Aarde, nee, hy is nie die soort man wat ooit met ’n ou huishennetjie gelukkig kan wees nie. Hy stel hoë eise aan ’n vrou. As ek jou moet vertel watse stelle ek al afgetrap het met van die junior personeel, sal jy weet wat ek bedoel. Daar was een so ’n dingetjie, knap genoeg op papier, maar nes jy skeef na haar gekyk het, was sy in trane. ’n Regte hulpelose ou meisietjie, kon niks self besluit, nooit uit eie inisiatief iets aanpak nie. Ons het so gou doenlik van haar ontslae geraak en Pieter het my kwaai gemaan om meer selektief te wees.”

“Ek sien,” sê Maja.

“Ek vertel natuurlik vir jou goed wat jy weet,” lag Annemie. “Jy moet my maar vergewe. Jy, beter as ek, weet dat hy intelligente geselskap vereis. By hoeveel sosiale geleenthede moes ek uit my pad gaan om te sorg dat hy nie vasgevang word tussen ’n klomp gades wat net huisvrouens is nie. Kan dit nie vat as hulle net oor hulle huise en huishulpe en kinders praat nie. Ek meen, jy weet hoe hy oor kinders voel!”

Maja sit stokstyf in haar stoel, die koppie roerloos in haar hand.

Annemie se gesig verander. Sy sit effens vorentoe, haar oë sag. “Ek bewonder jou eintlik,” sê sy. “Ek self stel nie daarin belang om kinders te kry nie, al daardie doeke en bottels en gemors, maar die meeste vroue wil tog. Ek het lankal vir Pieter gesê hy sal maar oujongkêrel moet bly.” Sy lag oordadiglik. “Ek wens jy kon sy gesig gesien het toe ’n klomp van ons eenkeer by meneer Kriel gaan braai het. Hulle het ’n swetterjoel kinders en die kleintjie was van die sous en vet tot by haar kroontjie toe sy sommer op Pieter se skoot klouter. Ek dag hy kom iets oor! Die volgende dag moes ek natuurlik al sy klere droogskoonmaker toe neem.”

“Ek kan dink,” sê Maja.

“Haai.” Annemie kyk op haar horlosie. “Ek kan ook nie heeldag hier sit en klets nie. Ek was by die haarkapper en dag toe ek kom sommer gou vir jou dagsê. Jy weet, as die kat weg is, is die muis baas.” Sy staan op en kyk met onverborge afkeer na Lappies wat baljarend inkom. “En dié kat?”

“Dis ons s’n,” sê Maja en tel vir Lappies op.

Annemie trek ’n sakdoek uit haar handsak en nies saggies. “Ek is allergies vir diere.”

“Foei tog,” sê Maja en hou vir Lappies stywer vas.

Annemie stap na die voordeur. “Dankie vir die tee. O, amper vergeet ek. Ek het vir Vernon gesê jy sal so halfvier vanmiddag daar wees. Dan is hy gewoonlik klaar met middagete. Jy kan vir hom sê ek het jou gestuur. Hy ken my, ons eet dikwels daar.”

“Baie dankie,” sê Maja. “Ook vir die blomme.”

Ná sy die voordeur toegedruk het, staan sy lank met haar rug daarteen en staar in die niet. Sy beweeg net toe Lappies ongeduldig uit haar arms probeer wriemel.

“Blomme,” sê Anna toe Maja die skinkbord kombuis toe neem. “Is seker een of ander gifkruid.”

“Dis gaaf van haar,” sê Maja en stap uit in die tuin.

Halfvier daardie middag stap sy by die restaurant in. Sy hou van wat sy sien. Die plek is nie te groot nie, maar ruim genoeg. Dis smaakvol en gesellig, maar nie in een of ander pretensieuse styl opgedoen nie en toe sy vir Vernon in die kombuis kry, hou sy dadelik van hom.

Sy skat hom omtrent veertig jaar oud, alhoewel sy woeste grys krullebol hom jonger laat lyk en binne vyf minute ná hulle begin praat het, weet sy sy wil baie graag saam met hom werk. Hulle voel dieselfde oor kos, hy lag maklik en die rede waarom hy saans toe is, staan haar aan.

“Ek het ’n vrou op wie ek dol is en drie seuntjies oor wie ek selfs maller is. Met ontbyt en middagetes maak ek meer as genoeg geld dat ek my aande by my gesin kan deurbring. My seuns is net een keer klein, ek wil niks mis nie.”

Hy maak vir haar koffie en hulle sit dit tussen stapels ongewaste kastrolle en drink. Toe sy ’n halfuur later uitstap, is die werk hare en het hulle afgespreek dat sy die volgende oggend sal inval. Die salaris is nie groot nie, maar Maja gee nie om nie. Haar behoeftes is min.

Toe Pieter terugkom uit Gauteng is hy baie moeg en selfs meer afgetrokke as normaalweg. Hy luister na haar opgewonde vertelling, vryf haar hare deurmekaar en soen haar op haar kroontjie voor hy na sy studeerkamer gaan om te werk.

“Annemie het dit vir my gekry,” sê sy later die aand vir hom toe sy styf teen sy bors opgekrul lê. “Sy het die advertensie in die koerant gesien en alles gereël.”

“Dis vriendelik van haar,” sê hy. “Ek is bly om te sien sy probeer jou help.” Hy gaap, draai weg van haar en raak aan die slaap.

Sy lê nog ’n ruk wakker, maar dwing haarself om te slaap omdat sy nou baie vroeg soggens moet opstaan.

Dit is die enigste aspek van haar werk wat Pieter hinder, kom sy agter soos die weke verbygaan. Sy staan op as dit nog donker is, want sy moet in die restaurant wees as die eerste mense instap vir ontbyt. Dit beteken sy kan nie vir Pieter koffie maak of hom eers sien voor hy werk toe gaan nie. Hy is nie ’n groot ontbyteter nie, dus voel sy nie sy skeep hom af nie en voor sy ry, skakel sy die koffiemasjien aan sodat hy net vir homself hoef te skink.

“Jy moet nou maar by die restaurant kom eet,” terg sy hom toe hy daaroor mor. “Ek maak nou vir ander mense veerligte omelette.”

’n Paar dae later is sy in die kombuis toe een van die kelners haar kom sê daar is iemand wat haar wil sien. Sy kan nie dadelik gaan nie omdat sy besig is met ’n delikate portwynsous, maar toe sy ’n paar minute vry het, vee sy oor haar warm voorkop en stap uit in die restaurant.

By een van die groter tafels sit Pieter, Annemie en vier vreemde mans. Daar is ’n snaakse uitdrukking in Pieter se oë toe sy nader stap en haar hande aan die groot wit voorskoot afvee. Hy lyk bly genoeg om haar te sien, maar dis Annemie wat opspring en haar omtrent omhels.

“Sien,” sê sy triomfantlik vir die vier mans. “Was ek reg? Meneer Louw se vrou is ’n kok hier, dis sy wat hierdie wonderlike geregte gemaak het.”

Die vier mans is vol komplimente en tog voel Maja ongemaklik. Iets is nie reg nie. Sy vat aan haar hare, maar die wit pet wat sy dra, hou dit uit haar gesig uit. Sy weet haar gesig is warm en besweet, haar voorskoot lankal nie meer kraakwit nie, maar sy glimlag vir almal, bedank hulle vir die lof en retireer stadig.

“Ek kan nie nou gesels nie,” sê sy. “Dis ons besigste tyd.” Pieter soen haar nie, hy knik net en sit weer.

“Jy’t nie daarvan gehou nie,” sê sy later die aand vir hom. “Ek kon dit sien.”

“Dis nie waar nie,” sê hy dadelik. “Ek was baie trots op jou en my kollegas het my beny. Hulle dink ek is ’n gelukkige man met ’n vrou wat so ’n uitstekende kok is. Ek sou jou nie uit die kombuis geroep het nie omdat ek weet hoe besig julle is, maar Annemie was so gaande oor jou.”

“A,” sê sy. “Dit was haar idee.”

Hy kyk haar nadenkend aan. “Dis ’n verligting, hoor. Die eerste keer toe ons getroud was, toe ons gemaak het asof ons getroud is …was sy baie … e … koel. Jy weet tog hoe sy …” Hy maak keelskoon en lyk ongemaklik.

“Hoe sy agter jou aan was,” sê Maja. “Ja, ek weet. Sy het dit kwalik weggesteek.”

“Nou ja,” sê hy. “Ons moet haar krediet gee. Ek kry die indruk sy gaan nou uit haar pad om vriendelik te wees en jou te help waar sy kan.”

“Ja,” sê Maja. “Sy’s baie behulpsaam. Sy maak my touwys.” Sy blik verskerp, maar uit haar gesig word hy niks wys nie.

“Nou toe, patroon,” sê hy en staan op. “Ek moet gaan werk.”

Haar oë word sag by die aanspreekvorm. Daardie week wat hulle by die see was, het hulle hulle eindeloos vermaak met name uitdink, van die vergesogste tot die verspotste. Hy het vasgesteek by “patroon” en sy noem hom op sy naam. Dat sy hom eenkeer, al was dit ’n grap, “patat” genoem het, lyk nou vir haar onmoontlik.

“Ek wil gaan brame pluk,” sê sy.

“Is dit nie te donker nie?”

“Ek vat die flits, dan vang ek sommer die slakke ook. Ek wil ’n braamsous maak by die wildsvleis en die brame wat ons kan kry, is maar treurig.”

Sy is gelukkig met haar werk, dink sy terwyl sy pluk en tussen die nat lote koes. Dis nou al koud in die aande en dit reën kort-kort. Ja, sy is gelukkig en dis veel, veel beter om heeldag besig te wees en nie net by die huis te sit en dink nie, maar aan die ander kant is dit nie lekker om in die aande so moeg te wees, so vroeg te moet gaan slaap en so vroeg te moet opstaan nie. Ten minste is sy nie nou ’n huishen nie.

Sy trap sommer twee slakke dood toe sy die woord hardop sê. Wat Annemie daardie dag gesê het, is miskien waar, maar geld nie vir almal nie. Tant Miems werk nie buitenshuis nie, maar sy kan oor enigiets gesels, enigeen aanvat oor politieke kwessies. Sy lees baie en wyd, sy is glad nie ’n vervelige of oningeligte vrou nie.

Dis daardie sakke sout, dink sy toe sy later die brame afwas en in ’n verseëlde houer pak. Tant Miems sê dit al van sy haar ken. Mens trou nie haastig nie, dis ’n lang pad wat jy saam moet stap. Julle moet mekaar goed ken. Sakke sout opeet. Maja moet glimlag toe sy hieraan dink. Een ou klein pakkie sout hou baie lank, selfs vir ’n kok. Om ’n hele sak sout saam op te eet, sal inderdaad ’n leeftyd vat.

Nie ses weke nie. Ses weke was te kort. Jy leer nie ’n mens ken in ses weke nie. Jy kan van hom hou, jy kan selfs vir hom lief word, maar jy ken hom nie.

Sy loer by die studeerkamer in ná sy die kombuis opgeruim het. “Ek gaan maar slaap,” sê sy.

Hy kyk op en glimlag. “Al weer pootuit?”

“Ja, ek is bevrees so.”

“Ek het nog soveel werk,” sug hy. “In die somer was almal weg en dit was stil. Nou sit ons boonop met hierdie moontlike samesmelting en ek is so toegegooi dat ek nie lig kan sien nie.”

“Ek weet,” sê sy en waai met haar vingers. “Lekker slaap.”

Alleen in die bed lê sy maar weer en dink. Die ding wat so aan haar krap, krap harder. Hy het nog nooit vir haar gesê hy is lief vir haar nie. Nog nooit, nie eers in daardie salige week by die see nie. Hy vertel haar hoe oulik sy is, hy vergelyk haar oë met alles van rotspoele tot spieëls, hy dink sy is mooi en kan liries raak oor elke afsonderlike liggaamsdeel, hy vind haar oorspronklik en snaaks, maar hy sê nie hy is lief vir haar nie.

“Mans is nie so nie,” onthou sy nóg een van haar tante se sêgoed. “Hulle sê dit nie heeldag nie, mens kan dit nie verwag nie. Maar hulle wys dit op honderde maniere.”

Sy probeer aan ’n paar dink, sonder veel sukses, en druk liewer die gedagtes dood. Dis alles deel van die gewoond raak, maan sy haarself. Hulle is besig om mekaar te leer ken en sy kan nie kla nie, hy is nooit naar met haar nie. En hy is nou baie besig. Dis waarom sy aand ná aand alleen kom slaap en hy nog moet werk.

Christine le Roux Omnibus 7

Подняться наверх