Читать книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

Maja kyk na haarself in die spieël en voel bedruk. Sy lyk nie net snaaks nie, sy voel ook nie lekker nie. Ten spyte van die lekker bed en mooi slaapkamer het sy nie goed geslaap nie; dit was kompleet asof sy in die bed lê met ’n stomp hout aan haar vasgegespe. Die gips was te hard, te ongewoon – sy kon nie haar lê kry nie en daarby het sy benoud gevoel. Dit was ’n warm, windlose nag en sy het die slim geplaaste vensters wyd oopgemaak sonder dat dit noemenswaardige verbetering gebring het.

Sy was baie bly toe dit skemerig word in die kamer en lank voor Pieter wakker was, was sy al in die kombuis doenig. Die koffiemasjien wat sy in een van die kaste gekry het, was so nuut dit kan ’n trougeskenk wees, maar in ’n kassie was koffie en sy het die filtreerproses aan die gang gesit en ontbyt gemaak.

“Genugtig,” het hy verras gesê toe hy in die kombuis kom, sy das nog los oor sy skouers en sy baadjie oor sy arm. “Dit ruik wonderlik. Ek is gewoond aan poeierkoffie en ’n stuk winkelbeskuit.”

“Nee, dis onwys. ’n Ordentlike ontbyt is die hoeksteen van jou dag en my omelette is lig genoeg om weg te waai.”

Hy het dit met smaak opgeëet en twee koppies koffie gedrink. “Sal jy regkom op jou eie?” het hy gevra toe hy sy das voor die spieël in die voorportaal knoop.

“Ja, maar ek dink ek moet vandag koers kry.”

“Nee.”

“Ek kan nie hier bly nie,” het sy geprotesteer. “Jy ken my van geen kant af nie en ek het Kaap toe gekom om werk te soek en blyplek te kry en …”

“’n Jeugherberg is buite die kwessie met die arm in gips.”

“Wat van daardie backpackers-plekke?”

“Ewe onmoontlik.”

“Maar ek moet aan die gang kom! Die eienaar van die herberg in Mpumalanga waar ek gewerk het, het my ’n brief gegee vir sy vriend hier in die Kaap en hulle het gesê ek moet hulle kom sien en as ek nie opdaag nie, gaan hulle dink ek stel nie langer belang in die werk nie en dit vir iemand anders gee. En wat dan?”

Hy het haar op en af gekyk, die verkreukelde hempie en kortbroek, die beseerde arm. “Maja … Mag ek jou maar Maja noem? Jy kan nie werk soek met net een werkende arm nie.”

Sy het na die tafel gewys. “Ek het vanoggend reggekom. Was daar fout met jou kos?”

“Nee,” het hy dadelik gesê. “Dit was voortreflik, maar ek weet nie of ’n restauranteienaar so sal dink nie. Ek bedoel, dat jy in die kombuis kan regstaan met net een arm nie. Ek neem aan dis die soort werk waarna jy verwys?”

“Ja, Cyril het glo ’n restaurant en dis baie hoog aangeskryf.” Sy het die naam van die plek genoem en sy oë het gerek.

“Ek ken dit, ja.” Hy het haar gesig bestudeer. “Waar het jy so in die son gesit? Weet jy dat jou gesig bloedrooi is?”

“Seker gister,” het sy gesê.

“Kyk.” Hy het op sy horlosie gekyk en vinnig sy sleutels opgetel. “Soos ek gister gesê het, voel ek verantwoordelik en skuldig. Bly nou maar hier tot jou arm gesond is. Sal ek die restaurant bel en vertel wat gebeur het en vra dat hulle net geduldig moet wees?”

Sy het die stryd gewonne gegee en nou sit sy hier en kyk na haar opgeswelde gesig en sy voel miserabel. As kind het sy nooit iets gebreek nie, miskien voel ’n mens so sleg as jy ’n ledemaat gebreek het, wie sal weet?

Sy sit nog so toe die agterdeur oopgaan en ’n netjiese vrou inkom en haar verbaas aankyk.

“Haai,” sê Maja verleë. “Ek is Maja en jy is seker Anna.”

“Is so,” sê Anna, sit haar handsak neer en haal ’n voorskoot uit wat sy om haar lyf bind. Sy kyk na die tafel en vuil borde. “Het juffrou vir meneer Pieter brekfis gemaak?”

“Ja. Ek is jammer, ek wou nou net begin opruim.”

“Nee, ek sal dit doen.” Sy kyk na die gips. “Met darie arm?”

“Ek kom reg.” Maja staan op, sit die handspieël neer wat sy in die onderste kleedkamer gekry het en maak die botteltjie pille oop. “Dis tyd vir die volgende pil.”

Anna dra vuil borde weg, maar haar wakker oë bly nuuskierig op Maja wat ’n glas water skink en die pil afsluk. “Is juffrou familie?”

“Nee.”

“Juffrou kuier net hier by meneer?”

“Nie regtig nie, nee. Jy sien, hy’t my omgery en …”

Anna laat die rasper met ’n geklater in die wasbak val en haar oë word groot. “Hygend hert,” snak sy. “Wat sê juffrou daar?”

Maja wys na die arm. “Dis hoe die arm gebreek het. Wel, die pols eintlik, en toe wil hy my nie by die jeugherberg aflaai nie en sê hy voel skuldig en bring my hiernatoe.” Maja gee ’n droë hoesie en druk haar hand teen haar bors. “Moet mens so sleg voel as jy jou arm gebreek het?”

“Is dit seer?”

“Nee, glad nie. Ek voel net sleg en kyk hoe lyk my gesig, soos ’n granaat.”

“Ek ken nie van nie,” sê Anna. “My boetie het kleintyd sy arm gebreek, maar hy was g’n siek nie. Ons ma moes hom wiks of hy was die volgende dag weer die boom in.”

Maja gaan sit weer by die tafel en rus haar kop op haar hand. “Ek voel dronk en benoud.”

Anna kyk na die botteltjie op die toonbank. “En dit so vinnig ná juffrou die pille gedrink het. Hoort eintlik andersom te wees.”

Maja kyk vinnig op, iets wat haar kop laat swem. “Gee dit vir my aan, asseblief.” Haar tong voel dik en geswel en sy sukkel om die fyn skrif te lees. “Dis penisillien,” sê sy. “Vir die inflammasie. Ek kan nie onthou of hulle my gevra het of ek allergies is nie. Dink jy ek is?”

Anna haal haar skouers op; dis nie iets waarvan sy kennis dra nie. “Mens kan tog nie dood van medisyne nie?” vra sy.

“Miskien moet ek teruggaan na daardie dokter. Hy sal weet.” Maja staan op. “Nee,” sê sy moedeloos. “Ek het nie genoeg geld vir ’n taxi nie. Jy sien, ek was op pad om geld te trek toe hy my omgery het en toe was alles so deurmekaar.”

“Hy moes juffrou nie omgery het nie,” sê Anna beslis en vee die tafel hard af om te wys wat sy dink van mense wat dit doen.

“Ek beter hom maar bel. Weet jy wat sy nommer is?”

Anna bring dit vir haar en sy skakel. Terwyl sy wag, tik haar gesonde vingers senuagtig teen die gips. “Hallo,” sê sy toe sy skeptiese sekretaresse haar deurgeskakel het. “E … luister, ek lyk soos ’n ballon en my tong is dik en ek dink ek is allergies vir die pille.”

“Wat?” vra Pieter.

Sy beskryf haar simptome. “As jy my toegelaat het om gister geld te trek, was dit nie nou nodig om jou lastig te val nie. Ek het net genoeg geld by my vir ’n bus. Loop ’n bus hier verby? Waar is jou naaste dokter?”

Pieter maan haar om net daar te bly, sit die telefoon neer en bel die hospitaal. Hy moet gedwee luister hoe die suster hom kwaai vertel hoe belangrik dit is dat pasiënte inligting en veral mediese agtergrond korrek neerskryf en sê toe hy moet Maja terugbring.

“Jy rits lekker rond,” sê sy sekretaresse toe hy weer uit sy kantoor gehardloop kom. Haar stem is vyandig, want sy het een en een bymekaar getel: dis ’n meisie wat agter sy vreemde optrede sit en sy hou nie daarvan nie. Sy het al vier jaar lank haar oog op hom en haar hand op sy sosiale afsprake. Meisies speel nie ’n rol in sy lewe nie en sy staan ’n kans solank sy dit so hou.

“Ek weet nie wanneer ek terug sal wees nie,” sê hy oor sy skouer.

By die huis wag Maja vir hom, dié keer darem in jeans en ’n bloes omdat die dag wat so sonnig begin het nou bewolk en winderig is.

“Hoekom het jy nie vir hulle gesê jy’s allergies vir penisillien nie?” vra hy toe hulle wegtrek.

“Ek het nie die vorms ingevul nie, jy het.”

“Maar ek ken jou nie! Ek het net jou ID-boekie gehad en dit staan nie daarin nie. Jy behoort een van daardie armbande te dra.”

Sy lyk gekrenk. “Ek het dit ook nie geweet nie. Ek is nooit siek nie, hoe moes ek dit weet? Ek kan nie onthou wanneer ek laas medisyne gedrink het nie en as jy my nie gister so weggeboender het nie, het ek geld getrek en self by ’n dokter gekom.”

Pieter antwoord liewers nie en by die hospitaal moet hulle weer luister na ’n lesing oor die belangrikheid van korrekte inligting voor hulle vir Maja ander pille gee en ’n inspuiting wat die allergiese reaksie sal teenwerk. Hy voel gedaan toe hulle weer in die motor sit.

“Eintlik dood ek nou vir ’n koppie tee,” sê sy vir hom. “Die dokter het my moeg gemaak.”

Hy ry na ’n klein restaurantjie op pad na sy huis en hulle gaan in en bestel tee.

“Ek weet jy’s seker haastig,” sê sy en kyk hoe hy sy verwaaide hare platstryk met sy hande. “Terug na jou groot kantoor met sy lugversorging.”

“Hoe weet jy ek het ’n groot kantoor?”

“Mens kan dit sien.”

“Hoe?”

Sy wys na sy pak en sydas. “Jy lyk só en dan is daar jou huis.”

“Ek het dit laat bou as ’n belegging.”

Sy knik. “’n Goeie een, al daardie beton. ’n Orkaan sal dit nie omwaai nie.”

“Dis nie wat ek bedoel nie.”

Sy gaap en druk haar hand teen haar mond. “Regtig, ek is nou so vol gif gespuit my kop draai. Ek weet nie hoe ek in hierdie situasies beland nie. Al wat ek uit die lewe wil hê, is ’n mooi kombuis en ’n bed en ’n kruietuin by die agterdeur. Dis mos nie moeilik nie? Ek wil nie die wêreld verower of reis of enigiets doen wat vir ander meisies so belangrik is nie. Ná my ouers se dood het ek by my tante-hulle gaan bly en dit was vir my die wonderlikste ding. Tant Miems het so ’n groot, outydse kombuis met ’n Aga en sy maak net heeldag kos en bak en ek het haar gehelp.”

“Is dit waar jy leer kook het?”

“Nee, ek het ’n kursus geloop ná matriek en toe ek in die Laeveld begin werk, het ek gedink dis waar ek die res van my lewe sal bly, maar aikôna, toe ek weer sien, word die plek so groot en hulle bou chalets en dit word verander na selfversorging en die restaurant word toegemaak en ek besluit om Kaap toe te kom en kyk waar sit ek nou.”

“Hoe oud is jy?”

“Drie-en-twintig.”

“’n Kind,” sê hy en drink sy tee. “Het jy jou tante gebel om te sê waar jy is?”

“Nee, ek gebruik nie sommer ander mense se telefone vir langafstandoproepe nie.”

Hy klik sy tong. “My liewe Maja, natuurlik mag jy bel! Kwel hulle hulle nie?”

“Nee, ek dink nie so nie. Ek het gesê ek sal bel as ek hier gevestig is en ek is nog nie.” Sy knip haar groot oë en vee die dik kuif uit haar gesig. “Buitendien sal dit mos nie werk nie. Ek sal hulle moet vertel wat gebeur het en hulle sal baie kwaad wees. Veral my oom.” Sy weeg hom op. “Hy is ’n groot man. Ek dink hy slaan jou met een hou plat.”

Hy stik in sy tee. “Is hy die soort wat mense slaan?”

“Nee, glad nie, maar hy is nogal beskermend teenoor my. Hulle het nie self kinders gehad nie, sien.”

“Vader tog,” sê Pieter. “Maar ek kan verduidelik. Ek kan …”

“Ek dink dis beter om stil te bly,” stel sy voor. “Jy weet, die bose stad en alles. Hulle wou nie hê ek moet alleen hiernatoe kom nie, en daar loop bewys ek hulle reg in my eerste paar uur hier.” Sy stoot haar koppie eenkant. “Ek hou jou op. Jy moet terug na jou werk.” Sy gaap. “Ek is al weer so vaak, seker omdat ek so min geslaap het gisteraand. Nie die bed of kamer nie, dit was maar die ongemak van die arm en my rou knieë en so.”

“Nou toe, kom,” sê hy en betaal. “My ouma het altyd gesê rampe en ongelukke is drievoudig. Jy kry drie op ’n ry, maar ek hoop van ganser harte ons is nou klaar. Ek weet dis alles my skuld, maar ek hoop dis nou verby.”

“Ons kan my aankoms op die stasie as die eerste ramp beskou,” sê behulpsaam. “Dan is ons by drie en kan ons ontspan.”

“Hoekom was dit ’n ramp?”

Sy gaap dat hy haar kakebeen hoor klik. “Weet nie.” Sy draai haar skeef op die voorste sitplek en raak aan die slaap asof iemand ’n knoppie gedruk het, haar afgeskakel het.

Toe hy voor die huis stilhou, kyk hy na haar. “Ons is hier, Maja. Word wakker.”

Sy roer nie. Selfs toe hy haar aan die skouer vat, beweeg sy nie, sy slaap vas. Hy klim uit, maak die deur aan haar kant oop en stoot sy arms onder haar slap liggaam in. Gelukkig moet Anna hom deur een van die glasgleuwe gesien het, want sy maak die voordeur vir hom oop; iets wat onmoontlik sou gewees het met sy arms vol Maja.

“En nou?” vra sy.

“Sy wil nie wakker word nie,” sê hy kortaf. “Ek dink dis die goed wat hulle haar ingespuit het.”

“Haai, shame,” sê sy en draf voor hom die trappe uit sodat sy die beddegoed kan ooptrek en hy Maja kan neersit.

Pieter haal sy sakdoek uit en vee oor sy voorkop. Dis nie asof Maja swaar is nie, maar hy is tog nie gewoond daaraan om meisies met die trappe op te dra nie.

“Sy lyk darem nou witter,” merk Anna krities op. “Daai rooi vlekke wat sy uitgeslaan het, is weg, lyk dit my.”

“Ja. Ek is seker sy gaan beter voel as sy wakker word. Hou maar ’n ogie oor haar, ek moet teruggaan kantoor toe.”

Sy volg hom met die trappe af. “Meneer moes haar darem nie omgery het nie.”

“Ek het dit nie aspris gedoen nie!”

“Almiskie.”

Hy is nog knorrig toe hy terugkom in sy kantoor en Annemie, sy sekretaresse, bring koerend tee toe sy sy gesig sien.

“Is alles in orde?” vra sy.

“Ek hoop van harte so.”

“Is dit iets waarmee ek kan help?”

“Nee.”

Sy bekyk sy gesig, die bruin hare met die effense grys spikkels in, die diep frons tussen sy wenkbroue, die mond – ten beste van tye streng en die lippe nou hard opmekaar gepers. “Goed,” sê sy. “Jy sal nie vergeet van vanaand nie?”

Hy kyk op. “Wat is vanaand?”

“Die skemerkelk by die Mount Nelson. Van ses tot agt en daarna gaan jy eet saam met die mense van …”

“Kanselleer dit,” val hy haar in die rede. “Ek moet huis toe gaan ná werk, ek kan nie in die stad rondlê nie.”

Haar dun geplukte wenkbroue skiet die hoogte in. “En wat sal ek sê is die rede?”

“Onvermydelike omstandighede. Persoonlike sake.”

“Mm.” Sy tik die potlood teen haar voortande. “Is jou ouers …?”

“My ouers makeer niks nie.”

“Ek sien.” Sy draai weg toe hy sy rekenaar aanskakel.

“Wat weet jy van jeugherberge?” vra hy skielik.

Sy bly staan. “Jeugherberge? Dis tog nie die soort plek waar jy wil bly nie?”

“Natuurlik nie. Ek wil net weet. Is hulle gerieflik?”

“Ek weet regtig nie. Ek dra geen kennis daarvan nie. Dis waar hippies oorslaap, is dit nie?”

“Hippies! My liewe Annemie, hippies het uitgesterf voor jy gebore is.”

“Jy weet wat ek bedoel. Jongmense met rugsakke.”

Sy oë flits gevaarlik. “En wat is verkeerd met jongmense met rugsakke?”

“Niks nie, niks nie. Ek bedoel maar net. Dis nie vyfsterhotelle nie. Skoon en gerieflik, maar basies. Ek weet nie van hier nie, maar ’n niggie van my het oorsee in sulke plekke geslaap en dis glo maar ’n deurmekaar slapery.”

“Wat beteken dit?”

“Mans en meisies saam.”

Hy frons dieper. “Oor my dooie liggaam.”

“Ekskuus tog?” Sy leun effens vooroor en wankel onverhoeds op haar hoë hakke.

“Niks nie, ek het net hardop gedink. Dankie.”

Sy loop ingedagte terug na haar kantoor en gaan sit agter haar lessenaar. Met haar lang pienk naels skik sy die bos rose wat voor haar staan en elke tweede dag vervang word. Wat voer hy in die mou? Waarom hol hy skielik uit die kantoor en bly ure weg en vanwaar die skielike belangstelling in jeugherberge? Sy trek een verlepte blaar af, frommel dit op en gooi dit in die snippermandjie alvorens sy die telefoon optel en die aand se afsprake kanselleer. Toe sy daarmee klaar is, kyk sy na die instrument. Sy huishulp kry elke week ’n lys van sy sosiale verpligtinge sodat sy weet wanneer hy tuis sal wees vir etes, dis nie minder as reg nie en inderdaad die plig van ’n goeie sekretaresse om Anna te laat weet van die verandering in Pieter se planne. Sy tel die gehoorstuk op en skakel.

“Meneer Louw se huis,” sê Anna soos sy geleer is.

“Hallo, Anna,” sê Annemie vriendelik. “Hoe gaan dit daar?”

Anna se stem word drie grade kouer. Sy hou nie van Pieter se sekretaresse nie, die vrou matig haar aan. Sy het eenkeer werk huis toe gebring, besluit Anna lyk nie netjies genoeg nie en uniforms gaan koop in lilapers en wit. Lilapers rokke met wit voorskote vol pers valletjies. Anna hou nie van pers nie. Sy sal geel of blou of pienk dra, maar nie lilapers nie. Annemie het ook gesê om die telefoon te antwoord deur “Jip?” te sê, is nie goed genoeg nie; die korrekte manier is: “Meneer Louw se residensie.” Hier het Anna haar voet neergesit. Sy sal huis sê, maar nie residensie nie.

“Dis okay,” sê sy nou behoedsaam.

“Ek bel net om te sê meneer Louw sal wel vanaand tuis wees vir ete. Hy gaan nie meer uit nie.”

“Okay,” sê Anna.

“Nie okay nie, Anna. Jy moet sê: dis in orde.”

“Okay,” sê Anna.

Annemie kners versigtig op haar gekroonde tande. “Ek hoor julle het huisgaste?” sê sy vriendelik.

“Huisgaste?”

“Kuiermense.”

“Ek weet nie daarvan nie,” sê Anna.

Annemie voel verlig. “O, ek het hom seker misverstaan. Ek was onder die indruk hy moet huis toe gaan omdat daar mense is.”

“Nie mense nie, net een en sy slaap.”

Annemie skop onder die lessenaar teen die dwarsbalk vas en trek ’n gesig toe die pyn haar reeds verdrukte tone tref. “’n Meisie? Slaap sy daar?”

“Natuurlik, waar anders?”

“’n Familielid?”

“Nie wat ek van weet nie,” sê Anna. “Is daar nog iets? Meneer het gemaan ek moet my oog op haar hou, ek kan nie heeldag op die foun lê nie.”

“Is sy siek?”

“Nie eintlik nie.”

“Dankie,” sê Annemie. Sy besef dis onbetaamlik om so uit te vis. “Jy sal dus onthou dat meneer Louw vanaand by die huis sal wees en sorg dat daar aandete is.”

“Ek sorg altyd vir die kos,” sê Anna. “Maar as sy betyds wakker word, sal sý seker sorg. Sy ken van kos. Meneer sê die omelet wat sy vanoggend gemaak het, was so lig jy kon hom wegblaas.”

“Dankie,” sê Annemie en sit die telefoon neer. Sy staar na die oorkantste muur.

Vier jaar gelede toe sy Pieter die eerste keer gesien het, het sy besluit hy is die man vir haar. Lank, aantreklik en ryk, maar veel beter: ongetroud. Sy het vantevore ’n stel afgetrap met ’n man wat getroud was, maar haar probeer oortuig het die huwelik is oor die muur. Van toe af loop sy lig en met Pieter was sy veilig. Hy het nóg vrou nóg verloofde en sover sy kon agterkom nie eers ’n vaste meisie nie. Hoekom dit is, kon sy nog nooit vasstel nie. Hy hou van meisies en die kere dat sy hom na een of ander sosiale geleentheid vergesel het, was hy baie hoflik en korrek. Sy het hom al ’n paar keer na haar woonstel genooi vir ete, maar altyd gesorg dat daar ander mense by is. Sy wil nie die werksverhouding in die gedrang bring of hom verskrik nie. Hy het elke keer ’n bottel wyn en blomme gebring, maar nooit lank gebly nie, al het sy baie moeite gedoen om die regte kos by die regte spysenier te bestel.

Na ’n jaar het sy agtergekom hy is ’n anderster man. Sover sy kan sien, het hy nie juis voor- of afkere wat meisies betref nie, hy sien hulle net nie raak nie. As hy saam met een is, geniet hy haar geselskap, maar dis al. Uit sy eie stel hy niks voor nie en het hy haar nog nooit saamgenooi nie. Dis altyd sy wat moet voorstel as hy byvoorbeeld na ’n ete genooi word waar ’n gesel vereis word en hy nie een het nie. Hy lyk bly genoeg dat sy saamgaan, sal haar komplimenteer met haar uitrusting, maar dis al. Die volgende dag is hy maar weer net haar baas.

Sy tel die potlood op en tik dit hard teen die lessenaarblad. En nou is daar ’n meisie wat in sy huis bly. Sy sal moet uitvind wat hier aangaan. Sy sal moet lig loop. Die onbekende meisie sal moet oppas, sy wat Annemie is, gaan nie toelaat dat haar planne omvergegooi word nie.

Christine le Roux Omnibus 7

Подняться наверх