Читать книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

“Pers,” sê Anna dramaties. “Ek belowe. Dit lê nog in die kas in die waskamer. Ek verwerdig my nie eens om stoflappe daarvan te maak nie.”

Maja se ken rus op haar hand. Sy sit by die kombuistoonbank en luister. Vroeër het sy haar handsak gevat en bergaf gestap; ’n verrykende ervaring. Pieter se huis, het sy gou gesien, is die enigste moderne een, die ander huise in die buurt is ouer, het gevestigde tuine en groot bome, al moet sy toegee dat hy of sy bouer moeite gedoen het om nie die bestaande bome op sy erf te beskadig toe die iglo gebou is nie. ’n Beter ontdekking was egter die groepering winkeltjies ’n paar blokke van die huis af. Hier kon sy uiteindelik geld trek by ’n outomaat en het sommer ook ’n koppie koffie gekry by die Italiaanse restaurant wat nie streng gesproke oop was nie, maar haar verlangend deur die ruit sien staar en tog koffie aangebied het. Met die eienaar, Rinaldo, het sy oombliklik ’n gesprek aangeknoop en dit was nie lank voor hy haar hele storie geken het nie.

Hy was simpatiek, het sy oë gerol by die blote gedagte dat sy met een arm in gips moet sit en het gesê as sy die dag gesond is, kan sy gerus weer kom gesels. Hy het ’n leerjonge in die kombuis, maar die jong man kort die toewyding wat Rinaldo as absolute vereiste stel. Op die oomblik hou hy nog uit, maar dis nie onmoontlik dat hy die jong man in die pad gaan steek nie. Die feit dat Maja met groot knippende oë na hom gesit en luister het en met gesag oor die gebruik van kruie kon praat, het dalk meegehelp om hom so te laat dink.

Sy het met meer veerkrag teruggestap. Die vorige aand het sy lank gelê en dink. Sy is ’n onafhanklike soort mens, sy lê nie op mense se nek nie, sy doen haar eie ding. Sy het weliswaar nog nie vantevore haar arm gebreek in ’n vreemde stad nie, maar dis nie voldoende verskoning om misbruik van iemand se gasvryheid te maak nie. Aan die ander kant het sy nie eintlik veel van ’n keuse nie. Sy is werkloos, moet vir ’n paar weke so bly en – die belangrikste – sy bly baie lekker waar sy nou is. ’n Dak oor haar kop en ’n heerlike kombuis om in te woel. Met ’n kruietuin by die agterdeur en ’n lappie groente teen die agterste muur.

Voor sy aan die slaap geraak het, het sy haar vroom voorgeneem om uit Pieter se pad te bly. Solank sy dit doen, kan sy hom nie irriteer nie. As hy haar nooit sien nie, kan hy nie wens hy het haar nooit raak gery nie.

Ongelukkig was hierdie voorneme in skerwe voor sy haar eerste koppie tee gedrink het. Sy het vroeg opgestaan omdat sy so vroeg gaan lê het, was doodseker hy slaap nog en het met die boonste gang af gehardloop om by die trappe te kom. Om die eerste suil het sy teen hom vasgeloop, so hardhandig dat hy moes gryp na sy handdoek wat die enigste kleding aan sy lyf was. Waar hy vandaan gekom het, weet sy nie. Sy hare was nat, druppels water het aan sy borshare en op sy skouers gesit en net die handdoek was om sy onderlyf gedraai.

“Oeps!” het sy gesê. “Jammer.”

“Eina,” het hy gesê, want die gips het hom teen sy maag getref.

Nie ’n goeie begin nie. Hy sit seker nou in sy kantoor en wonder hoe hy van haar ontslae kan raak.

“En agter sy lyf aan,” breek Anna deur haar mymering. “Dit kon ek van die eerste dag af sien.”

“Dis wat Roelof gesê het.”

Anna se gesig verteder. “Was hy gisteraand hier? Ek is lief vir daai kind of hy my eie is.”

“Hy lyk nogal gaaf, ja.”

“Meer jou size,” verklaar Anna.

“Nee, hy is nie! Hy het verlede jaar eers matriek geskryf.”

“Dis ook waar.”

Maja tel ’n wortel op en begin daaraan kou. “Nou hoekom trou hy nie met Annemie nie? Wat is sy probleem?”

“Hy’s nie trouerig nie.”

“Hoekom nie?”

Anna haal haar skouers op. “Hy leef maar so eenkant. Dis soos hy is en kyk, hy weet ook, as hy daai vrou hier inbring, is ek uit. Ek meen, dis ek of sy.”

“Net oor die pers rokke?”

“Sy sal alles aan my verander. Ek sal ’n keps moet dra en praat soos sy wil hê ek moet. Meneer Louw se residensie. Gmf.”

“Ja,” moet Maja saamstem. “Ek sou dit nie ’n residensie noem nie. Dis net ’n huis. ’n Snaakse huis, maar ’n huis.” Sy sit die wortel neer, staan op en gaan buk by die spensdeur. “Ag, my moeder, hy slaap nog.”

“Oorlat jy hom moeg gespeel het,” sê Anna.

Op pad terug van die Italiaanse restaurant het sy ’n ander roete gestap en dis toe sy die handgeskrewe kennisgewing op ’n hek gesien het: “Klein katjies binne.” Sy is summier in en is deur ’n vriendelike vrou met ’n kleuter op die arm ontvang. In die kombuis was ’n kartonboks vol spelende katjies en Maja het dadelik op die vloer langs hulle gaan sit.

Mens moet versigtig wees; ’n katjie wat krap en sis as hy klein is, gaan dit doen as hy groot is. Sy het een ná die ander uitgelig en met hulle gespeel. ’n Bonte mengelmoes; die ma-kat moes haar net wyd gegooi het en die enetjie waarmee Maja huis toe gekom het, lyk na ’n lappieskombers. Sy basiese agtergrond is wit, die res bestaan uit rooi, grys en swart kolle. Hy is rustig, hy het haar nie gekrap nie en al die pad huis toe het hy in haar arms gelê.

“’n Kat?” het Anna gevra toe sy instap.

Nou slaap hy en Maja is vol voornemens van hoe sy hom in haar kamer gaan versteek. Ongelukkig hou hierdie voorneme ook nie lank nie, want teen die laatmiddag rol sy vir hom ’n leë garingtolletjie wat sy by Anna gekry het en die katjie is so holderstebolder agter dit aan dat dit met die trap afrol. Net toe Pieter die voordeur oopmaak, vang die katjie die tol en kom Maja uitasem in die portaal.

Pieter bly staan, ’n gepynigde uitdrukking op sy gesig.

“Wat is dit?” vra hy.

Sy raap die diertjie op. “Dis Lappies. ’n Kat.”

“Ek kan sien dis ’n kat.”

“Beter as ’n trapsuutjies,” sê sy vinnig.

“Moontlik.”

“Hy kan muise vang,” verdedig sy. “En ’n kat wat muise vang, sorg dat jy nie slange kry nie.” Sy kyk na sy gesig en voel hoe haar selfvertroue wegsypel. “Slange kom agter die muise aan.”

“Ek het nog nooit ’n slang of ’n muis hier gesien nie.”

“Jy was net gelukkig.”

Sy onthou wat haar tante altyd gesê het. ’n Man wat van die werk af kom, wil nie gekonfronteer word nie. Sy tel die katjie op en stap kombuis toe. “Sal ek vir ons tee maak?”

Hy sug effens en volg haar. “Ja dankie.” Hy gooi sy tassie op die toonbank neer, trek sy das af, hang dit aan die deurknop en gaan sit. Dit was nie ’n maklike dag nie. Vir die eerste keer van sy vir hom werk, was Annemie regtig moeilik. Hy moes twee keer vra as hy iets wou hê, sy was nalatig met boodskappe en vanmiddag het hy glad nie sy gebruiklike koppie tee gekry nie.

“Lieflike dag vandag, nè,” sê Maja diplomaties. “Ek het vanoggend ver gaan stap.” Sy vertel hom van Rinaldo terwyl sy die tee maak.

Lappies, wat glad nie gediend is dat sy speeltyd so kortgeknip word nie, skarrel heen en weer oor die kombuisvloer, stamp teen die deur en veroorsaak dat Pieter se das stadig laer afgly. Dis presies wat die katjie wil hê, hy staan op sy agterpootjies en klap na die swaaiende punt van die das.

“Nee,” sê Pieter en tel die diertjie op. “Dis ’n sydas en jou naels is skerp.”

Maja hou hom benoud dop, seker dat hy haar troeteldier nou in die braambos gaan smyt, maar hy hou die katjie in sy hand tot hy weer sit en met sy ander vinger krap hy tussen Lappies se ore en onder sy kennetjie sodat die katjie begin spin van plesier en binne minute teen Pieter se bors aan die slaap raak.

“E …” sê sy senuagtig. “Ek kan hom …”

Met sy vry hand trek Pieter sy koppie nader. “Mag ek vra waar jy die kat gekry het?”

Sy vertel hom van die kennisgewing. “En dit het niks gekos nie, die vrou gee hulle weg.”

“Hoeveel was daar?”

“Vyf.”

“Ek veronderstel ek moet dankbaar wees jy het nie al vyf gevat nie.”

“Nee, ek sou nie. Twee was humeurig en het my probeer krap.” Sy gaan sit ook en drink ’n versigtige slukkie tee. “Luister, ek is jammer oor vanoggend. Ek wou juis uit jou pad bly en ek het nie verwag om jou …”

“Dis my eie skuld,” sê hy. “Ek hou nie van die stort in my badkamer nie. Die een op die punt van die gang is veel sterker. Ek het gedink jy slaap nog.”

“Maar het die gips jou nie seergemaak nie?”

“Nee. So pieperig is ek darem nie.”

Sy moet hiermee saamstem al sê sy niks nie. Wat sy vanoggend van sy kaal lyf gesien het, lyk allermins pieperig.

“Het jy ’n groot middagete geëet?” vra sy om die onderwerp te verander.

“Biefstuk, ja. Dit was ’n sake-ete.”

“Dan maak ek vanaand net ’n soufflé.”

Hy kyk af na die slapende katjie, sien die boksie wat sy uitgevoer het met sagte lappe en gaan sit die diertjie daarin neer. Terwyl hy sy hande was, kyk hy na haar. “Dis nie jou plig om vir my kos te maak nie, Maja.”

“Ek weet, maar jy moet toegee dit help.”

“Help waarvoor?”

“Die situasie waarin ek my bevind. Ek het nog nooit op iemand se nek gelê nie en nou doen ek dit. Ek het nie werk, blyplek of vervoer nie, en as jy ’n familielid was, sou dit meer aanvaarbaar gewees het. Maar jy’s ’n wildvreemde.”

“Nie ná die afgelope drie dae nie,” sê hy redelik. “En aangesien jou situasie in die eerste plek my skuld is, het jy nie rede om sleg te voel nie.”

Sy antwoord nie, maak net die agterdeur oop en bly ’n ruk weg. Toe sy terugkom, het sy ’n hand vol groen goed wat sy op ’n plank begin fynkap. “Die ding is,” sê sy terwyl sy werk, “ek voel nie so skuldig soos ek moet nie. Ek hou daarvan om hier te bly. Ek het jou mos gesê: al wat ek soek, is ’n bed, ’n kombuis en ’n kruietuin by die agterdeur.”

“Nou ja,” sê hy. “Daar is ons dan. Saak afgehandel.”

“Behalwe dat ek voel ek is in jou pad. Gooi ek nie jou lewe omver nie?” Sy hou op kap en kyk op na hom, ’n ligte fronsie tussen haar groot oë. Met die agterkant van haar hand vee sy die dik hare weg van haar voorkop. “Jy moet jou ding doen. Bring jou meisies huis toe, ek kook graag vir hulle.”

“Watse meisies?” vra hy en staan op om die vorige aand se bottel wyn uit die yskas te haal.

“Gisteraand se ene was nie gelukkig om my hier te sien nie.”

“Sy’s my sekretaresse!”

“Almiskie.”

Hy ruk ’n kassie oop en haal ’n glas uit. Hy weet sy is reg, hy weet dis waarom Annemie vandag in so ’n bui was, maar hy weet ewe min hoe om die saak te beredder. Annemie het haar oog op hom, dit weet hy, al probeer sy baie hard om professioneel te wees en nooit te wys hoe sy voel nie. Dis ’n saak wat hy nie kan hanteer nie. As sekretaresse is sy vir hom goud werd, hy wil haar nie verloor nie, dus probeer hy bloot sorg dat intieme situasies nooit opduik nie. Sy het hom al vir ete genooi, maar daar was altyd ander mense teenwoordig en behalwe wanneer sy, soos die vorige aand, werk vir hom bring, neem hy haar nie uit of nooi haar oor nie.

“Kyk,” sê Maja vir hom. “Jy kan vir mense die waarheid vertel. Jy doen net jou Samaritaanse ding. Dis tydelik. Wel, dit is. Ek hoop jy het dit so vir Roelof verduidelik.”

“Natuurlik het ek,” sê hy. “Maar jy ken nie vir Roelof nie.”

Sy woorde is skaars koud of hulle hoor die deurklokkie lui.

“Wie is dit nou weer?” vra hy vies. “Ek het die kind ’n tjek gegee.”

Hy bly lank weg en toe hy weer verskyn, is daar ’n gelate uitdrukking op sy gesig en hy is vergesel van ’n middeljarige egpaar. “Maja,” sê hy. “My ouers wil jou graag ontmoet.”

Maja vee haar hande aan ’n vadoek af en tree vorentoe om hulle hand te skud. Pieter se pa lyk nes hy, net ouer. Hy is ’n lang, nog goed geboude man met ’n dik bos silwer hare en oë wat ondeund flonker. Pieter se ma is kort en geset, haar grys gestreepte hare mooi gedoen en albei is fyn uitgevat.

“Ons is op pad na die simfonie,” verduidelik die ou man. “Ons het net ingewip om … om vir Pieter te sien.”

Pieter se ma loer nuuskierig na die bestanddele voor Maja op die toonbank. “Waarmee is jy besig, kind?”

“’n Kruie-soufflé.”

Pieter trap rond. “Kom ons gaan sit in die sitkamer. Kan ek vir julle iets gee om te drink?”

Maja bly agter toe hulle uitstap, maar Pieter se ma kyk terug oor haar skouer en hou haar hand uit. “Kom, jy’t mos nog nie begin klits nie.”

“E …” sê Maja. “Nee.”

“Nou toe kom. Ons kan nie lank bly nie, die oom neem my eers uit vir ete.”

Toe sy in die sitkamer sit, is sy hoofsaaklik bewus van haar kaal voete, die ontoereikendheid van haar kortbroek en hempie. Pieter sit ’n glas wyn langs haar neer en sy is so verbouereerd dat sy nie eers teëstribbel nie.

Mevrou Louw kyk na haar arm. “Roelof het ons die vreemdste stories vertel,” sê sy. “Iets van ’n trapsuutjies in ’n boom. Hoe het jy dan jou arm gebreek?”

Maja haal diep asem. “Dit is ’n vreemde storie, ja. Ek was in die dieretuin, sien, en het gestaan en kyk na die olifant toe …”

“Maja,” sê Pieter met ’n gevaarlike stem.

Sy kyk op na hom. “Jou sokkie het vasgesit in die was- …”

“Ek het haar omgery,” sê Pieter saaklik.

“Raak gery,” korrigeer Maja vinnig.

Sy ouers kyk stom van die een na die ander. “Jy het wát gedoen, boet?” vra sy ma.

“Dit was my eie skuld,” spring Maja in. “Ek het nie gekyk waar ek loop nie en Pieter was besig om uit die parkeerplek te ry. Hy het sy oog op die truspieëltjie gehad.”

“Dis die soort ding wat Roelof sou doen,” sê Pieter se pa. “Dis hoekom ek nie ten gunste daarvan is dat hy ’n motor kry nie.”

“Dis glad nie ernstig nie,” sê Maja. “Kwalik ’n ou krakie.”

Albei ouers gee Pieter ’n kyk wat wys hulle stem glad nie saam nie en begin Maja uitvra oor haar herkoms en planne. Dis vir haar ’n verligting, sy voel haar op veiliger terrein as sy oor haar oom en tante of die gastehuis in die Laeveld kan praat en Pieter sê nie ’n woord terwyl sy praat nie. Hulle bly ook nie lank nie en ná die oom op sy horlosie gekyk het, staan hulle op en begin groet.

“Ek is baie bly jy is veilig hier,” sê mev. Louw vir haar. “Moenie huiwer om ons te laat weet as jy nog iets nodig het nie.”

Pieter vergesel hulle na hulle motor en Maja sit benoud en wag tot hy terugkom. Hy sê niks nie, tel net sy glas op en lyk stroef.

Sy blaas haar asem uit. “Nou’s die vet in die vuur,” sê sy. “Ek pak my goedjies vanaand in. Môre is ek weg.”

“Moenie laf wees nie.”

“Maar nou het jou goeie daad moeilikheid veroorsaak in jou familie.”

“Dit het niks van die aard gedoen nie. My ouers hou van jou en dink dis nie minder as reg dat ek na jou omsien nie.” Hy tel sy leë glas op. “Gaan ons nog vanaand eet?”

Sy spring op en draf kombuis toe waar Lappies wakker geword het en honger is. Na die katjie geëet het, speel Pieter met hom en bak Maja die soufflé. Toe hulle na ete met hulle koffie sit, kyk hy haar ondersoekend aan.

“Jy is so begaan oor my reputasie. Wat van joune? Wat dink jou oom en tante daarvan dat jy by ’n vreemdeling ingetrek het?”

Sy kyk op, vang sy oog en kyk vinnig weer weg. “Ek het nie vir hulle … ek bedoel, hulle is outydse soort mense en …”

Hy sug. “Wat het jy vir hulle vertel, Maja? Dat ’n olifant jou getrap het en nou woon jy in die dieretuin?”

“Natuurlik nie,” sê sy verontwaardig. “Ek jok nie.”

Hy gooi sy kop agteroor en lag. “Nee, nee, ek weet nie hoekom ek dit gevra het nie.”

“Wel,” sê sy. “Ek het net bietjie borduur. Die situasie meer … hoe sal ek sê, aanvaarbaar gemaak.”

“Soos in?”

“Soos in dat jy ’n dierbare vrou het en drie kinders en dis jou vrou wat so geskok was toe sy hoor wat jy aangevang het en dis sy wat gesê het ek moet hier bly en nou …”

“Wag,” keer hy. “Laat ek raai. Jy help nou om die kinders op te pas. Of is hulle al groot?”

“Nee, die jongste is ’n baba, die middelste enetjie, ’n dogtertjie, is vier en die oudste, jou seun en naamgenoot, is agt.”

“Ek sien,” sê hy ernstig. “Pas jy die jongste twee op?”

“Ja. Jy sien, jou vrou is ’n besige argitek en sy het regtig al soveel sonde gehad met oppassers dat ek soos ’n geskenk uit die hemel is.”

“Mens sou daaroor kon stry,” sê hy. “Maar goed, ek is bly jy het my ten minste ’n intelligente, professionele vrou gegee. Op jou verbeelding kan ’n mens nie staatmaak nie. Jy kon gesê het sy is ’n dranksugtige, hopelose vrou en moeder en dis ek wat jou gevra het om tog asseblief na my drie bloedjies om te sien.”

“Ek sou nooit so iets doen nie,” sê sy geskok.

“Waarom drie?” vra hy belangstellend. “Waarom nie ses nie?”

“Jy’s te jonk vir so ’n spul kinders.”

“Ek is amper veertig. As ek jonk genoeg begin het …”

“Hoe amper?” vra sy.

“Agt-en-dertig. Amper oud genoeg om jou pa te wees. Jy kon net dit vir hulle gesê het.”

“As jy my pa was, was jy baie voor op die wa,” sê sy. “Jy sou maar vyftien gewees het. Dis skokkend jonk om al met ’n gesin te begin het.”

“Jy’s reg,” gee hy toe. “Solank ons logies dink, maar ek kry nie die indruk dis jou sterk punt nie.”

Sy lig haar ken en antwoord nie, want sy is besig om die vadoek heen en weer te sleep sodat Lappies dit kan probeer vang.

“En aangesien jy net drie-en-twintig is,” sê hy, “is daar nie ’n geliefde wat wonder waar jy is of wat ontsteld gaan wees as hy hoor waar jy bly nie?”

“O ja,” sê sy argeloos.

Hy sit regop en kyk haar skerper aan. “Is daar ’n geliefde wat vir jou wag?”

“Ja, soort van.”

“Hoe soort van?”

“Ag,” sê sy en raap die katjie op om hom op haar skoot te hou. “Frans dood oor my. Jy weet.”

“Ek weet niks van die aard nie. Wie is Frans?”

“Hy boer daar in die Laeveld. Vrugte. Jy weet hoe hulle is. Raak so verlief jy kan nie met hulle huishou nie. Toe ek weer sien, hou hy stil en druk ’n fluweeldosie voor my neus. Diamant so groot soos ’n ertjie. Ek is dan nou net wat hy gesoek het. Kan nie sonder my lewe nie. Ek is die ma van sy ongebore kinders, ek is die vrou wat die plaas nodig het.”

“Ja?” sê hy en wonder waarom Frans hom klaar irriteer. “En jy het nie saamgestem nie?”

“Nee, jissie, ek is so vinnig daar weg. Dis te warm daar. Ek sal doodgaan op daardie plaas. Kyk, daar is mense wat hou van hitte en dan is daar mense soos ek. Ons hou nie daarvan nie. En …”

“Ja?” vra hy weer toe sy stilbly.

“Hy het nou net nie die leeu in my laat skreeu nie. Weet jy wat ek bedoel?”

“Nee,” sê hy koel.

“Hy’s ’n goeie man, moenie ’n fout maak nie. ’n Liewe man en glad nie lelik nie. Allesbehalwe. Baie aantreklik eintlik. Donker en so. Maar … As hy my gesoen het – ek kon net sowel die vadoek gesoen het. Niks. Geen sterre wat verskiet, niks nie. Dan moet ’n mens weet. Dit kan nooit deug nie.”

“Ek sien,” sê hy. “Ek het nog nooit ’n vadoek gesoen nie, maar ek weet wat jy bedoel. Toe gee jy hom die trekpas.”

“Nee, dit sou wreed wees. Ek is net weg.”

Hy staar na haar. “Jy’t hom nie gesê wat jou planne is nie?”

“Nee. Ek haat sulke konfrontasies.”

“Maar dis onregverdig,” protesteer hy en voel weer jammer vir die onbekende Frans. “Die arme man.”

“Ek het vir hom gesê ek is nie lief vir hom nie en ek wil nie die diamant hê nie. Wat meer kan hy verwag? Dis nie my skuld dat hy my nie wou glo nie. Dit gebeur altyd. Mans raak so verlief en as jy vir hulle sê jy voel nie dieselfde nie, raak hulle grootmoedig en vertel jou dis net ’n kwessie van tyd, een oggend sal jy net wakker word en weet jy is ook verlief. Ek het nie krag vir sulke onsin nie. En ek wou buitendien Kaap toe kom.” Sy kyk in die verte. “Dis net jammer van die apie. Ek het hom mak gemaak – wel, grootgemaak ná sy ma deur iemand doodgeskiet is, en hy het op Frans se plaas gebly. Ek mis hom. As ek hom kon saambring, het ek.”

“Wys jou net,” sê hy voor hy opstaan. “Hier het ek gedink daar is niks om voor dankbaar te wees nie. ’n Apie. Genugtig.”

Christine le Roux Omnibus 7

Подняться наверх