Читать книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux - Страница 12

Hoofstuk 9

Оглавление

Maandagoggende het Maja vry en doen sy gewoonlik haar inkope vir die huis. Sy werk versigtig met geld, soos haar tante haar geleer het, maar dis ’n probleem. Pieter dink nie aan geld nie. Voor hulle getroud is, het hy elke week vir Anna geld gegee om kos mee te koop, nou gee hy dit vir Maja en dis nie genoeg nie. Sy gebruik haar salaris vir die huishouding al weet sy sy moet met Pieter hieroor praat. Hy dink eenvoudig nie daaraan nie; in haar somberder oomblikke skryf sy dit toe aan die feit dat hy nog altyd nie aan homself dink as ’n getroude man nie. Dit was nie nodig om vir haar geld te gee in daardie eerste ses weke nie en in sy lewe het niks verander nie. Sy weet hy is nie suinig nie en sal seker ontstem wees as hy moet weet sy het nie genoeg nie, maar haar trots weerhou haar daarvan om iets te sê. Sy het nog nooit vir iemand vir geld gevra nie en sy gaan nie nou begin nie.

Ná ’n week van wind en reën is dit vanoggend nie net sonnig en windloos nie, maar behoorlik warm en sy slenter in die middestad rond, geniet die son op haar kaal arms en bene. Ná sy haar kruideniersware in die motor gebêre het, loop sy verder, koop nog hier en daar iets en besluit om vir Pieter te gaan hallo sê. Sy dink nie twee keer aan hoe sy lyk nie, hy het nog nooit kapsie gemaak teen haar uitgerafelde kortbroek en tekkies nie, maar die sekuriteitsbeampte by die deur van sy gebou dink anders.

“Ek is mevrou Louw,” sê sy vir hom en laat rus haar pakkies op sy toonbank. “Ek is hier om meneer Louw te sien.”

Dit word ’n lang argument. Hy kan nie sommer enigeen van die straat af toelaat nie, sê hy. Hy kan sy werk verloor en watse bewys het sy dat sy mevrou Louw is?

Daar is sy vas; sy het geen bewys nie. Haar ID-boekie is nog in haar eie naam, sy dra nie hulle huweliksertifikaat met haar saam nie.

“Bel hom,” stel sy voor. “Hy sal jou sê.”

Hy bel boontoe, maar soos te verwagte, is Pieter nie beskikbaar nie, soos Maja wel deeglik al agtergekom het. Sy kom nooit deur na Pieter as sy bel nie. Annemie tel altyd eerste op en sy het ’n dosyn verskonings. Pieter is in ’n vergadering, hy is nie in die gebou nie, hy is besig met ’n belangrike kliënt. Sy is altyd meer as gewillig om boodskappe te neem of vir Pieter te sê Maja het gebel.

Dis ook sy wat nou ondertoe kom om Maja te kry. Soos altyd kan sy model speel, so keurig is sy aangetrek en gegrimeer en langs haar voel Maja vuil, slordig en besweet.

“Hy wou my eenvoudig nie glo nie,” sê sy vir Annemie toe hulle in die hysbak boontoe ry. “Ek het mos nie ’n sertifikaat by my nie.”

“Ag, moet jou nie aan hom steur nie,” sê Annemie.

Maar toe hulle op Pieter se verdieping kom, is dit ’n ander storie. “Kan jy glo,” sê sy hard vir die eerste mens wat sy teëkom. “Die wag wou nie vir mevrou Louw inlaat nie. Dink sy is ’n boemelaar!”

Meer mense steek hulle kop uit of loer nuuskierig na die twee meisies.

“’n Boemelaar,” sê Annemie verontwaardig sodat nog ’n paar mense haar kan hoor. “Ek dink ons moet vra dat die man vervang word. Liewe aarde, hoe kan hy haar so beledig?”

Maja voel miserabel en verwens haarself dat sy ooit so ’n onsinnige plan bedink het. Almal wat noodgedwonge na Annemie se uitbarsting moet luister, kyk haar krities op en af, van haar verweerde kakiegroen tekkies tot haar rooi gesig.

“Wat gaan hier aan?” vra Pieter en kom uit iemand se kantoor uit. “Maja!” sê hy verras.

“Die wag wou haar nie inlaat nie,” sê Annemie vir die hoeveelste keer. “Kan jy meer? Wil vir my vertel hy kan nie sommer enigeen van die straat af toelaat nie. Dink sy is een of ander bedelaar of iets!”

Maja wil deur die mat sink en verdwyn. Enigeen met oë in sy of haar kop moet kan sien waarom die wag so gedink het. Sy lyk na ’n bedelaar of boemelaar, veral langs die mannekynagtige Annemie.

“Watse nonsens is dit?” grom Pieter, vat Maja aan die arm en neem haar na sy kantoor.

“Ek is so jammer,” sê sy oor en oor, haar gesig bloedrooi en nou eers besweet. “Ek weet nie wat in my gevaar het nie. Ek wou sommer kom hallo sê en ek het nie gedink … Ek meen, ek is nie reg aangetrek en … moet asseblief nie iets doen aan die wag nie. Hy het net sy plig gedoen.”

“Jy’t ’n koppie tee nodig,” sê hy en tel die telefoon op.

Dis natuurlik Annemie wat dit bring, al behoort dit nie deel van haar pligte te wees nie.

“Ai tog, man,” sê sy simpatiek toe sy die koppie voor Maja neersit. “Ek is so jammer dat dit gebeur het. Voel jy nou beter?”

“Ja dankie,” fluister Maja. Sy sluk haar tee so haastig dat sy byna stik, gryp haar pakkies bymekaar en staan op. “Ek moet gaan. Jammer vir die onderbreking. Ek weet nie … ek sal nie …”

“Wag,” keer Pieter, maar sy is al by die deur uit en hardloop omtrent gangaf, verby al die nuuskierige of geamuseerde blikke van sy personeel.

Maar ’n veel erger insident gebeur ’n week later toe Pieter haar die middag bel, net toe sy by die huis kom, gedaan na die dag se staan op haar voete.

“Jy het nie van vanaand vergeet nie?” vra hy.

Haar kop spin soos sy probeer onthou. “Vanaand?” vra sy om tyd te wen.

“Die ete by die Van Schoors,” sê hy ongeduldig. “Ek het die uitnodiging twee weke gelede vir jou gewys. Dit lê op die portaaltafel.”

“E … ja,” sê sy, want sy onthou vaagweg so iets.

“Dis baie belangrik, Maja,” sê hy streng. “Hy gaan heel moontlik my nuwe vennoot word. Hoekom ek bel, behalwe om jou te herinner, is om te sê jy moet maar ’n taxi haal. Die adres is op die uitnodiging. Ek sit vas hier, daar gaan geen tyd wees om eers huis toe te kom nie. My klere was by die droogskoonmakers en is nou hier, dus verklee ek sommer op kantoor en ontmoet jou by die Van Schoors. Is dit reg so?”

“Ja,” sê sy en vryf een kaal voet teen die ander been. Sy is lus en huil toe sy die telefoon neersit. Haar voete is seer, sy wou nou gaan bad en dan lê, dis al waarvoor sy vanaand lus voel.

Sy loop na die portaal, tel die kaartjie op en lees dit. “Formeel” staan daar en sy kou aan haar lip. Wat presies beteken dit? In die Laeveld sou dit miskien oopnekhemde maar langbroeke beteken het. En sy kan nie vir Pieter bel nie, hy sal dink sy is dom. Sy huiwer ’n minuut of twee, stap terug na die foon en bel vir Annemie.

“Ek wil net weet presies wat bedoel word met formeel,” sê sy. “Dit wissel van plek tot plek.”

“Praat jy van die ete vanaand?” vra Annemie.

“Ja.”

“Nee wat, hulle is so informeel soos kan kom.” Sy lag. “Formeel in hulle geval, beteken maar net dat jy nie kaalvoet daar moet aankom nie. Nee, hulle is gemaklike mense. Trek gemaklik aan, dis soos hulle daarvan hou.”

Maja is nie veel wyser toe sy die telefoon neersit nie en bowendien het sy nie ’n groot keuse van klere nie. Sy leef nou al maande lank met die klere wat tant Miems vir haar gestuur het en omdat sy heeldag in die restaurant onder voorskote bedek is, is klere nie ’n kwessie nie. Jeans is te informeel, weet sy toe sy deur haar skamele voorraad kyk. Sy trek ’n swart-en-wit rok van sy hanger af en bekyk dit. Baie eenvoudig en kreukel maklik, maar dis die deftigste rok wat sy besit.

Sy krap deur haar laaie en kry ’n paar kouse. Dit behoort te werk, besluit sy. Sy besit darem een paar hoëhakskoene. Eers gaan sy bad. Sy tap die bad so vol dat dit amper oorloop en sink daarin weg, so moeg dat sy byna aan die slaap raak en skrik toe haar kop onder die water gly. Toe sy uitklim en haar hare begin droogvryf, jaag sy. Dis laat en sy moet nog die rok stryk.

Sy hardloop na die waskamer, stryk en bel die taxi om haar kwart oor sewe op te laai. Toe spring sy die trappe twee-twee op en begin aantrek. Omdat sy laat is, trek sy oorhaastig aan en toe sy die kouse oor haar voete ruk, skeur dit en voor sy kan keer, loop ’n drie sentimeter breë leer teen die kous op.

“Nee!” kryt sy, want dis haar enigste paar kouse. Sy dra nooit kouse nie, dis nie iets waaraan sy eers dink nie.

Sy rem die rok oor haar skouers en bekyk haarself in die lang spieël. Die rok is eenvoudig en goedkoop en dit lyk daarna. Sy trek die skoene aan, maar dit lyk vreeslik met kaal bene en sy skop hulle weer uit en kyk onderin haar kas. Behalwe haar strandsandale, stewels en tekkies het sy net een paar wat in die middel van die somer as deftig genoeg kan deurgaan. Hulle is plat en silwer en het beter dae geken, maar sy het nie ’n keuse nie, sy sal hulle moet dra. Die koue wind wat deur die oop venster kom, bewys hoe onprakties die sandale is.

Sy besit nie ’n aandjas of baadjie of stola nie en met kaal arms kan sy nie uitgaan nie, daarvoor is die nagte al te koud. Haar kas lewer nie veel op nie, sy gooi maar haar enigste toeknooptrui, ’n lemmetjiegroen een, oor haar skouers, borsel haar hare glad en grimeer haar oë – die enigste grimering wat sy besit. Juwele het sy nog nooit gehad nie, net ’n paar groot silweroorringe wat sy verwerp as te sportief.

Toe die taxi sy toeter in die straat blaas, is sy so warm en moeg gejaag dat sy nie meer verskriklik omgee hoe sy lyk nie. Sy gryp net die uitnodiging en haar verslete ou handsak en hardloop uit. Teen die tyd dat hy ry, kan sy klaar sien hoe die rok kreukel.

Die mense is informeel, maan sy haarself en lê terug teen die agterste sitplek van die taxi. Maar toe hy haar voor die groot huis met sy verligte tuin aflaai, weet sy die aand is gedoem. Ná die dag se inkope het sy nie genoeg geld by haar om die taxi te betaal nie.

“Wag hier,” sê sy vir hom. “Ek sal geld kry by my man.”

Sy draf met die tuinpaadjie op en word ontvang deur ’n vrou in ’n wit gestyselde voorskootjie en valletjieskappie. Die vrou groet en kyk haar krities aan.

“Is my man al hier?” vra sy. “Meneer Louw.”

“Ja,” sê die vrou en kyk verby Maja na die wagtende taxi, maar voor sy iets kan sê, verskyn ’n baie elegante middeljarige dame.

“Goeienaand,” sê sy vraend.

“Ek het nie genoeg geld om die taxi te betaal nie,” sê Maja. “My man, Pieter …”

Die vrou trek die laatjie van ’n antieke kas langs haar oop en gee ’n paar note aan. “Hier,” sê sy.

Maja hardloop terug, betaal die taxibestuurder en stap weer na die wagtende vrou. Waar sy in die oop deur wag, skitter die juwele om haar nek en aan haar ore.

Maja steek haar hand uit en gee die kleingeld aan. “Ek is so jammer,” sê sy. “Ek is Maja Louw, Pieter se vrou.”

“Aangename kennis. Ek is Rhonda van Schoor. Kom binne.” Sy glimlag en wys dat Maja moet instap. “Ek sal jou voorstel.”

Voor Maja is ’n see gesigte. Mense wat rondstaan met glase in hulle hande. Die vroue dra fluweel en satyn en sy. Almal dra juwele, fyn kouse, hoëhakskoene, die mans is almal in aandpakke met gestyselde wit hemde en strikdassies. Die kamer self lyk ryk. Vloere is ou glimmende hout; ryk Oosterse matte gee kleur aan alles, kroonkandelare weerkaats die glas, die antieke silwer, die vroue se juwele. Maja stryk met haar plathand oor die gekreukelde rok, klou aan die band van haar handsak vas wat dreig om die truitjie van haar skouers af te rem.

Pieter kom na haar, sy gesig sonder enige uitdrukking. Hy lyk pragtiger as wat sy hom nog ooit sien lyk het. Sy aandpak lyk swarter, sy hemp witter. Hy dra ’n glas in sy hand en buk om haar op die wang te soen. Sy voel hoe glad sy gesig is; hy het nog tyd gehad om te skeer. Waar? wonder sy. In Annemie se woonstel?

“Luister,” sê sy vir hom. “Ek het nie genoeg geld gehad om die taxi te betaal nie. Mevrou Van Schoor het. Sal jy met haar regmaak?”

“Ja, Maja.” Hy vat haar aan die elmboog vas en lei haar rond, stel haar voor, sorg dat sy ’n glas wit wyn in die hand kry.

Sy voel of haar sandale aan die dik mat vashaak, asof almal na haar kaal bene en goedkoop klere kyk. Haar hare val oor haar oë en sy het nie ’n hand om dit mee weg te stoot nie. Mense praat met haar of praat met Pieter en probeer haar insluit. Vir haar is dit net ’n dreuning, niksseggende frases wat verby haar spoel.

Om aan tafel te gaan sit, is ’n verligting. Sy kan haar bene en voete onder die gestyselde tafeldoek instoot en ten minste hou die ete self geen gevare in nie, sy ken kos en eetgerei en die reëls wat hier geld. Pieter sit nie naby haar nie; as sy na sy punt van die lang tafel kyk, sien sy hoe hy lag en gesels met sy sjarmante gasvrou. Die mans wat aan weerskante van Maja sit, doen hulle bes om haar in die geselskap in te sluit, maar dit irriteer haar eintlik meer omdat die een middeljarige man haar van sy kinders vertel en haar kennelik by hulle skaar. Hy wil weet van watter klubs sy hou, of sy ook heeldag branderry, wie haar geliefkoosde popgroep is. Hy ly swaar onder die harde musiek in sy huis, vertel hy haar. Sy jongste seun is nog in die huis en hou van vreeslik raserige musiek.

Maja voel sy word al jonger, sy behoort oor die trapreling te hang met ’n pop in haar arms. Sy glimlag maar, drink eintlik meer wyn as wat sy gewoond is en gil nie op hulle dat sy koerante lees en nuus luister en weet wat in die wêreld aangaan nie.

En die hele tyd dink sy aan Annemie. Sy het nooit van haar gehou nie, reg van die begin af. Sy het gedink sy is vals. Uit eensaamheid of domheid het sy begin glo Annemie wil haar regtig help en dit was ’n fout. Annemie het geweet presies hoe formeel die aand gaan wees. Maja dink aan die klere in haar kas. Sou dit regtig ’n verskil gemaak het as sy geweet het? Haar enigste aandrok hang by haar tante in die kas. Haar enigste paar kouse het geskeur. Sy trek nie aan soos hierdie mense aantrek nie en sy het nie geweet dis hoe sy veronderstel is om aan te trek nie. En sou dít ’n verskil gemaak het? Nee, moet sy erken. Sy het al na die klere in die winkels gekyk en die pryse is ver bo haar vermoë. Sy kan hoogstens ’n nuwe hemp of stukkie onderklere bekostig en eintlik, om die waarheid te sê, verkies sy dit om geld op iets vir die kombuis te spandeer eerder as op klere.

Ná ete staan almal rond met koppies koffie of glase brandewyn en sy voel sy gaan omval van vermoeienis. Sy span haar kake om nie hardop te gaap nie. Boonop het sy ’n kloppende hoofpyn, iets wat sy selde kry. Toe Pieter haar aan die arm vat en voorstel dat hulle begin groet, kan sy huil van blydskap.

In die motor hoef sy net na sy gesig te kyk om te weet wat hy van die aand dink. Sy gee nie eintlik meer om nie, sy is te miserabel.

“Hoekom het jy so aangetrek?” vra hy vir haar. “Het jy nie die kaartjie gelees nie? Daar het tog duidelik gestaan dis formeel.”

Sy antwoord nie.

“Om by so ’n geleentheid aan te kom in ’n … ’n sonrokkie en sandale,” sê hy. “Jy het tog genoeg tyd gehad om vir jou iets te koop. En dan nie eers genoeg geld om vir die taxi te betaal nie. Dit was regtig ’n verleentheid dat mevrou Van Schoor …”

Sy lig haar vingerpunte en vryf sirkeltjies teen haar slape. Hy byt op sy lippe en sy kan sien dis ’n inspanning vir hom om nie meer te sê nie.

By die huis gekom, stap sy voor hom uit en reguit na die trappe.

“Gaan ons nie eers tee drink nie?” vra hy.

Sy bly staan. “Nee dankie. Ek het ’n slegte hoofpyn. Ek sal in my ou kamer slaap as jy nie omgee nie. Ek wil jou nie hinder nie.”

“Maja,” begin hy, maar sy stap aan, kry haar nagklere in sy kamer en loop na haar kamer waar sy die deur sluit.

Sy slaap nie veel nie en toe sy wakker word, voel sy slegter as vantevore. Sy wag tot Pieter weg is en bel vir Vernon om te sê sy kan regtig nie inkom nie, sy is siek. Hy is so simpatiek dat sy byna begin huil.

“En nou?” vra Anna toe Maja die kombuis inkom en die ketel aanskakel. Sy kyk na die opgefrommelde rok wat Maja in haar hand het.

“Die rok!” sê sy woedend en smyt dit in die hoek van die kamer. “Ek wil dit nooit weer sien nie.”

Anna kyk van die rok na Maja. “Jy beter maar vertel wat hier aangaan.”

“Gisteraand se ete,” sê Maja en gaan sit by die toonbank, haar kop in haar hande. “Ek het vir Annemie gebel om te vra hoe formeel is formeel hier en sy het gesê dis min of meer ’n braai.”

“Sy!” sê Anna minagtend. Sy het nog nooit ’n wag voor haar mond gehad nie en is nie van plan om nou te begin nie.

“Toe trek ek maar sommerso aan en my enigste kouse skeur en ek dra sandale en daar is dit …” Maja waai haar hand. “So deftig jy kan daarvan …”

“Silks and satins,” sê Anna.

“Presies. Jy kan dink. Ek het gelyk soos ’n pot sop.”

“Nee,” sê Anna lojaal. “Mevrou lyk altyd pragtig.”

“Nie gisteraand nie. En meneer Louw was kwaad.”

“Maar mevrou het seker nie tyd gehad vir shopping nie.”

“Ek het nie geld gehad nie,” sê Maja moeg en vat die koffie wat Anna gemaak het.

“Het meneer dan nie …?” Anna bly liewer stil.

Maja skud net haar kop al weet sy sy behoort miskien nie so te praat nie. “Ek kon nie uit die kosgeld afknyp nie.”

Anna hou haar by die wasbak besig. Toe meneer Louw die meisiekind so uit die bloute by die huis aangebring het, het sy ook gedink hy raak nou kinds, maar ’n dag of twee later het sy gedink dis die beste ding wat hy nog ooit gedoen het. Die groot dooie huis was skielik lewendig en ingekleur, meneer Louw was skielik ’n heel ander mens, knaend in die kombuis, altyd aan die gesels met die meisiekind. Toe hulle trou, het sy besluit daar is iets soos bewaarengele wat oor alleenlopers waak. En sy het ook gesien hoe Maja haar sprankel verloor. Hoekom dit was, kon Anna nie sê nie. Sy het net gesien die kind begin verlep.

“Tja,” is al wat sy nou sê.

Maja drink haar koffie klaar, skud haar kop toe Anna ontbyt wil maak en gaan sleepvoetend weer boontoe. In die medisynekassie in Pieter se badkamer kry sy hoofpynpille en drink een. Toe klim sy op ’n stoel, trek haar koffer bo uit die kas uit en pak haar besittings in. Sy hoor nie die deurklokkie lui nie en stap eers uit toe Anna na haar roep.

“Weyers,” sê sy stom toe sy in die portaal kom. Teen haar sin is sy verlig om hom te sien.

“Maja,” sê hy en sit sy arms om haar.

Sy ruk los. “Moenie aan my vat nie. Wat maak jy hier?”

“Ek het kom kyk hoe dit gaan.”

“Kan jy my oplaai?” vra sy en kyk verby hom deur die oop voordeur na die straat. “Waar’s jou bakkie? Jy is tog nie al die maande hier in die Kaap nie, is jy? Wat van jou werk?”

“Ek bly by my suster,” sê hy ongemaklik. “Ek help haar man in sy besigheid. Hy’t ook ’n garage.”

“Hoekom?”

Hy vryf oor sy ken. “Die plek staan my aan.”

“My tas,” sê sy. “Kan jy dit vir my ondertoe bring? Kan jy my na die jeugherberg neem of na ’n hotel of na … nee, nie ’n hotel nie, dis te duur.” Sy vee oor haar oë, wat branderig voel.

“Ek het met die bus gekom,” sê hy. “My bakkie …”

“Ek het ’n motor,” sê sy asof sy dit nou eers onthou. “Kry net my tas vir my.”

Hy volg haar boontoe en dra die swaar tas af. Die hele tyd kyk hy nuuskierig om hom rond. “Jis, dis ghrênd,” sê hy. “Ek kan sien hoekom jy my gelos het.”

“Ek het jou nie gelos nie!” sê sy kwaad. “Jy’t my nooit gehad nie.”

“Ek het dit geweet,” sê hy slim. “Ek het geweet dis net ’n bedrogspul dié. Niemand trou so vinnig nie. Moet ek hom vir jou bykom?”

“Nee!” gil sy. “Los hom uit. Dit was net ’n fout en nou moet ek wegkom.” Sy haal haar motorsleutels uit die laai en beduie vir hom om haar tas na die motor te neem. “Ek moet net ’n briefie los en vir Anna groet.”

Anna, wat alles gehoor het, maak asof sy baie besig is met die stoflap en kyk net op toe Maja haar aanspreek.

“Ek gaan ’n bietjie weg,” sê Maja vir haar. “Ek is jammer, maar dis op die oomblik die beste.” Sy sluk, want sy wil weer huil. “Ek sal vir meneer Louw ’n brief los.”

“Haai, mevrou,” sê Anna.

“Ek moet,” sê Maja beslis. “Ek moet. Baie dankie vir alles. Ek gaan jou baie mis.” Sy draai vinnig weg.

“Dan het sy gewen,” roep Anna agter haar aan. “Dis wat die feeks wou gehad het.”

Sy huil te veel om te kan bestuur en Weyers skuif taktvol agter die stuurwiel in. “Waarnatoe nou?” vra hy. “Ek kan jou na my suster vat, sy sal nie omgee nie.”

“Nee,” sê Maja. “Ry na jou garage. Ek sal jou daar aflaai. Die feit dat ek hier weg is, beteken nie dat ek en jy …” Sy haal ’n hand vol papiersakdoekies uit haar handsak en snuit haar neus. “Al is ek baie dankbaar vir jou hulp, Weyers.”

Christine le Roux Omnibus 7

Подняться наверх