Читать книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux - Страница 6
Hoofstuk 3
ОглавлениеToe Pieter die volgende dag in sy rylaan stilhou en die wind aan sy motordeur ruk, bly hy ’n ruk sit om sy gevoelens te ontleed. Wil hy weer in sy huis stap en volkome stilte daar kry – geen ander asem, niemand wat praat, ’n briefie om hom in kennis te stel dat Maja na die jeugherberg vertrek het en daar nie verdere eise aan hom gestel gaan word nie? ’n Aanloklike gedagte. Rustig soos hy dit gewoond was. ’n Lewe wat hy ken, waaraan hy verknog was, wat hy deur die jare opgebou het om hom te pas.
Hy tel sy tassie op, klim uit en sluit die motor voor hy na die agterdeur stap.
Hy was verkeerd. Sy sit op een van die hoë stoeltjies, haar linkerhand se vingers dommerig geklem om die pers skil van ’n eiervrug, haar regterhand besig om dit in dik skywe te sny.
“Middag,” sê hy en sit sy tassie neer.
“Haai.” Sy druk die gips teen die koerant waarop sy werk en wat dreig om, skille en al, deur die wind uitgesuig te word. “Maak die deur toe.”
“Wat doen jy?” vra hy.
“Ek maak kos. Noudat ek die arm gewoond is, het ek gesien my linkerhand is nie heeltemal nutteloos nie. Ek kom reg. Hou jy van eiervrug?”
“Ja. Dis hoekom ek dit geplant het.” Hy maak die yskas oop en haal ’n glas uit en skink vir hom water. “Dis warm vandag.”
“Ek weet.” Sy lig die arm. “Ek wens ek kan koue water hier ingooi. Dis so ongemaklik.”
“Mm,” sê hy. “Maar moenie.”
Sy bestudeer sy gesig. “Jy het gehoop ek is al weg,” merk sy op. “Jy’t gehoop jy kom by die huis en daar’s niemand hier nie. Dis ’n probleem. Ek het rondgebel, maar alles is vol. Buitelanders. Vlug vir hulle winter. Hulle sê ek moet maar elke dag bel, dit verander van dag tot dag.”
“Wat het ek gesê wat jou laat dink ek wil jou hier wegjaag?” vra hy en maak sy das los.
“Woorde is onnodig.” Sy trek ’n bottergesmeerde bak nader en pak lae tamaties en uie daarin. Dan gly sy van die stoeltjie af en begin kassies oopmaak.
Hy wys na die regte kas en kyk hoe sy die eiervrug vol sout sprinkel.
“Nou kan ek gou vir ons tee maak,” sê sy. “Terwyl dit lê. Wil jy tee hê?”
“Nee dankie. Ek is lus vir wyn. Wil jy hê?”
Sy skud haar kop en skakel die ketel aan. “Liewer nie. Nie ná gister se skrik nie. Ek wil nie weer opswel en rooi word nie.”
“Maar ek lei af jy het die allergie afgeslaap. Ek het jou nooit gisteraand gesien nie.”
“Soos ’n dooie. Was natuurlik douvoordag vanoggend wakker, want toe was ek darem voos geslaap. Nou is ek reg.” Sy bengel ’n teesakkie aan sy toutjie oor haar beker kookwater. “Maar daar is nog slegte nuus. Ek het die restaurant gebel en hulle sê vanselfsprekend dat ’n eenarmige kok van min nut is, veral noudat hulle so besig is. Ek sal ’n ander plan moet maak. Het jy dalk ’n koerant huis toe gebring?”
“Ja,” sê hy, sy aandag by die bottel wyn wat hy uit die yskas gehaal het. “Maar ek sou reken dieselfde probleem sal geld. Met net een werkende arm …”
“Dis nie waar nie, ek kom goed reg. Jy sien mos.”
“Ja, maar ek is nie ’n werkgewer nie. Wel, restauranteienaar nie. Ek stel geen eise nie. Belangriker is, het jy jou familie gebel? Weet hulle waar jy is?”
Sy knik, gooi melk by haar tee en gaan sit weer om dit te drink. “Ek het en ek was baie taktvol. Nie ’n woord gesê oor jou wat my om- … ek bedoel … raak gery het nie. Net gesê ek het geval en my pols gebreek.”
“Ek waardeer dit, maar wat het hulle voorgestel?”
“Dat ek huis toe kom, natuurlik. Ek het nee gesê.”
Hy drink ’n sluk wyn en kyk na haar oor die glas terwyl hy dink wat om te sê. Voor hy egter die regte woorde kan kry, sien hy hoe ’n deel van die koerant voor haar oplig en ’n kirtsgeluid maak. “Maja!” roep hy. “Daar is iets onder die papier! Waar is die vlieëslaner?”
“Nee!” gil sy en hou haar hand oor die papier. Sy stoot die skille eenkant en lig die papier op. “Stoute ding,” sê sy. “Hy was heeltyd op my skouer.”
Hy kyk ontsenu hoe ’n skurwe grysgroen stertjie, gevolg deur ’n boggelrug en ’n kop met rollende oë te voorskyn kom. “Wat is dit?”
“Trapsuutjies,” sê sy, tel die diertjie op en sit hom op haar skouer neer. “Kry hom daar agter in jou tuin, waar die brame so half wild groei oor die komposhoop.”
“Wel, sit hom terug!”
“Ek sal, ja, maar hy hou my eers geselskap. As jy muskiete het, kan hy hulle vir jou opeet.”
“Ek het nie muskiete nie.”
“Vlieë?”
“Nee.”
Sy kyk Pieter streng aan. “Jy’s tog nie bang vir hom nie, is jy? Hulle is skadeloos.”
“Natuurlik is ek nie bang nie. ’n Kombuis is net nie die plek vir so ’n dier nie.”
Die trapsuutjies het nou van kleur verwissel en klou grys gespikkel aan haar hemp vas. Sy klik haar tong, sit haar tee neer en loop by die agterdeur uit. Toe sy terugkom, is dit sonder die diertjie.
“Hy’s nou in die prieel,” kondig sy aan.
“Dankie.” Hy trek sy das heeltemal los en hang dit aan die deurknop voor hy ook op een van die hoë stoeltjies gaan sit en kyk hoe sy haar dis voorberei. “Jy het dus nie veel uitgerig gekry nie.”
Sy kyk op, byt aan haar onderlip en sukkel om die pepermeule met een hand te draai.
“Gee dat ek help.” Hy leun oor en doen dit vir haar.
Sy sit die skottel in die oond en begin opruim. “Ek weet dis ’n verleentheid,” sê sy, haar oë neergeslaan. “Moenie dink ek is simpel nie. My tante het my vertel van iemand wat sy ken wie se kind hier in die stad êrens in ’n huis woon, ’n soort kommune. Klomp jongmense saam. Ek het soontoe gebel en hulle het oor twee weke plek vir my. Een van die meisies gaan die einde van die maand Londen toe en ek kan haar kamer kry. Dis alles gereël. Dis net nou … dis net die kort termyn wat ’n probleem is en ek …”
“Maja,” sê hy. “Jy is welkom om te bly so lank as wat jy onderdak nodig het. Jy weet dit. Dis my skuld dat jy in ’n penarie is en die minste wat ek kan doen, is om jou te versorg.”
“Hoe hinderlik dit ook al is,” sê sy wrang.
“Ek het dit nie gesê nie.”
Sy haal haar skouers op, vee al die skille bymekaar en gooi dit weg. “Daar is darem goeie nuus ook. My oom stuur oormôre my motor. Dit gaan baie help.”
“Hoe stuur hy dit?”
“Een van die boere daar moet sy nuwe bakkie kom haal. Hy sou gevlieg het, nou bring hy my motor. Daar was ’n ding wat reggemaak moes word, anders het ek self gery.”
“Sal jy kan bestuur met die arm in gips?” vra hy skepties. “In ’n wildvreemde stad?”
“Ja wat, ek het mos nou gesien hoe ry die mense.”
Hy kyk haar skerp aan, onseker of sy spot of nie. “Ek is nie so seker daarvan nie.”
“Wat is die alternatief? Ek moet kan beweeg, ek het nog steeds nie eers geld getrek nie.”
“Ek sal jou neem,” bied hy skuldig aan. “Ek hou aan vergeet. Het jy geld nodig? Ek kan solank vir jou leen.”
Sy skud haar kop en die dik hare skuif oor haar gesig. “Die kos sal nie lank vat nie,” sê sy. “Is jy al honger?”
“Nogal, ja. Hoekom het Anna nie gekook nie?”
“Omdat ek mos nou hier is. As ek al my motor gehad het, het ek vanaand gaan fliek.”
Hy glimlag skewerig. “Is dit ’n skimp? Ek kan jou ongelukkig nie vanaand neem nie, my sekretaresse bring werk hiernatoe. So aan die begin van die nuwe jaar is ek altyd oorlaai en …”
Sy begin borde en messegoed uithaal. “Wil jy in die eetkamer eet of hier?”
“Hier is goed. Dit ruik baie lekker.”
“Natuurlik,” sê sy. “Ek het jou gesê ek is ’n kok van formaat.”
Ná ete maak hy vir hulle koffie en dra dit na die sitkamer waar sy sit en uitkyk deur die glas tussen die betonsuile. Sy vat die koffie by hom en knik haar kop in die rigting van die glaspaneel.
“Is dit waar jou Krismisboom gestaan het?”
“Nee. Ek het nie ’n boom gehad nie.”
Sy kyk verbaas na hom. “Hoekom nie? Dis die ideale plek daarvoor.”
“Mag wees, maar ek doen nie sulke goed nie.”
“Wat het jy dan gedoen?” vra sy streng.
“Niks nie. Ek was vir die dag na my broer. Ons het almal daar geëet.”
“Het jy darem presente gekry?”
Hy begin lag. “Een of twee. Waarheen mik jy, Maja?”
“Ek probeer vasstel hoe jy leef, Pieter. Mag ek jou maar so noem?”
“Natuurlik. Ek noem jou nog die hele tyd op jou naam. En ek leef baie stil. Wat sou ek nou op my eie met ’n versierde boom gedoen het?”
“Jy kon dit geniet het.”
Hy bekyk haar waar sy op die stoel sit, die kaal bruin bene onder haar ingetrek, die beseerde arm rustend op die leuning en die ander een in die lug met haar koffiekoppie. Sy lyk soos ’n dogtertjie. “Ek veronderstel jy het baie presente gekry wat almal onder ’n mooi versierde boom gelê het?”
“Die meeste, ja, behalwe natuurlik die motor. Hy kon nie in die sitkamer kom nie.”
“O, dit was ’n Kersgeskenk? Dan verbaas ek my dat jy dit agtergelaat het.”
“Ek wou nie,” erken sy. “Regtig nie, maar aan die ander kant was ek nog nie seker of ek werk en blyplek sou kry nie.”
“En nou weet jy daar is moontlikhede.”
“Nee, nou is ek aangewese op ander mense se genade.”
Hy maak sy mond oop om iets te sê toe die deurklokkie lui. Sy bly sit waar sy is, hoor stemme by die voordeur en kyk op toe hy terugkom, nou vergesel van ’n baie goed versorgde meisie.
“Dis Annemie Miller,” stel hy voor. “Maja Henning.”
Annemie steek haar hand uit. “Aangename kennis.” Sy dra ’n pak lêers onder een arm en gaan sit oorkant Maja, haar bene netjies by die enkels gekruis sodat haar duur skoene parallel met mekaar lê. Haar romp het net genoeg opgeskuif om ’n redelike stuk been te wys.
“Sal jy koffie drink?” vra Pieter vir haar.
“Dit sal lekker wees.”
Hy loop kombuis toe en sy bekyk vir Maja. “Jy is seker familie van meneer Louw,” merk sy vriendelik op. Haar wit tande blink tussen haar donkerrooi lippe. “Kuier jy bietjie hier?”
“Nee,” sê Maja. “Ek is nie familie nie.”
Annemie kreukel haar neus delikaat. “Iets ruik baie lekker.”
“Dit was ons aandete,” verduidelik Maja. “Bietjie sterk gegeur, ongelukkig. Kosreuke behoort nie na die sitkamer te waai nie.”
“Is dit iets wat jy gemaak het?”
“Ja,” sê Maja.
“Nou toe nou.” Annemie tik een lang rooi nael teen die lêer op haar skoot “Foei tog, en jou arm, wat het gebeur?” Haar brein klik soos ’n rekenaar, sy onthou hoe Pieter lang tye uit die kantoor was die afgelope paar dae.
“Dis nie ernstig nie.” Maja kyk op en vang Pieter se oog wat terugkom met die koffie. “’n Klein ongelukkie. Kon met enigeen gebeur het.”
Die glimlag om Annemie se lippe word dunner. “Maar wat presies het gebeur?”
Maja kyk weer na Pieter, kry geen hulp van hom nie en sit haar koppie neer. “Jy sal my nie glo nie. Pieter het mos een van hierdie groot wasmasjiene en een van sy sokkies het onder vasgedraai. Ek het my boeglam gesukkel om dit onder die skroef uit te kry en was omtrent halflyf in die masjien in toe twee dinge gelyk gebeur. Die deksel van die masjien klap toe, ek skrik en omdat die vloer papnat was, gly ek skeef en met dié dat my linkerhand vassit, hoor ek net klieks en daar breek dit.”
Pieter se mond hang oop. Hy bly in die middel van die vloer staan, Annemie se koffie vergete in sy hand.
“Goeiste,” sê Annemie.
Hy kry lewe en gee die koffie vir haar voor hy in doodse stilte gaan sit.
“Ja, ’n regte fratsongeluk,” sê Maja.
“Baie gevaarlik,” sê Annemie. “Hoekom was die vloer onder water? Jy kon jou doodgeskok het.”
“E …” begin Maja en kyk na Pieter vir hulp, maar hy kyk haar sonder enige uitdrukking aan. “Wel,” improviseer sy glad. “Ek moes die masjien met die hand uitskep toe ek besef iets is fout, die skroef wil nie draai nie. Ek het seker maar gemors op die vloer.”
“Liewe aarde.” Annemie kyk na Pieter. “Jy moet die masjien laat nasien. Ek kan môre iemand bel.”
“Nee, die probleem is opgelos. Maja het iemand gekry.”
Pieter wend hom tot sy sekretaresse. “Jy wil seker ook nie heelaand hier sit en luister na huishoudelike stories nie. Het jy al die papierwerk gebring?”
Sy gee dit vir hom en tel haar koppie op. “Ag, ek is nie haastig nie.”
“Nee,” sê hy ferm. “Jy werk hard genoeg bedags. Ek is nie die soort werkgewer wat sy mense saans ook besig hou nie. Jy het jou eie lewe.”
Sy kyk liefdevol na hom. “Jy weet ek gee nie om nie.” Sy draai na Maja. “Hy is so bedagsaam. Min mense is so gelukkig met hulle base.”
“Mm,” is al wat Maja sê.
“En wat doen jy?” vra Annemie. “Dis nou as jy nie met gebreekte arms sit nie.”
“Ek is ’n kernfisikus.”
Pieter proes. “Jy is nie!”
Maja kyk na hom uit die hoogte. “Wys hoe goed jy my ken. Ek het twee jaar lank chemiese ingenieurswese gestudeer omdat dit is wat ek wou word.”
Annemie kyk van die een na die ander. “Wat … wat doen jy dan regtig?”
“Ek is ’n kok. Ek het besef dis wat ek die graagste wil doen.”
“O, ek sien. Vandaar die lekker geure in die huis.” Annemie kyk na Pieter. “Jy is ’n gelukkige man.”
“Ek veronderstel so,” sê hy en sy grys oë skitter gevaarlik. Hy staan op en hou sy hand uit na Annemie. “Maar ek kan jou nie langer ophou nie. Baie dankie dat jy die lêers gebring het. Dit was pure haastigheid wat gemaak het dat ek dit op kantoor vergeet het. Gelukkig dat jy nog daar was.”
“Jy weet ek gee nie om nie.” Sy kyk na Maja. “Dit was aangenaam om jou te ontmoet het.”
“Absoluut,” sê Maja.
Pieter vergesel Annemie na die deur en toe hy terugkom, bly hy in die deur staan. “Die wasmasjien!” sê hy deur geklemde kake. “My sokkies wat verstrengel raak in die skroef.”
“Dis beter as die waarheid,” sê sy kalm. “Wou jy hê ek moet vir haar vertel haar baas het my omgery?”
“Ek gee nie om nie. Die waarheid het my nog nooit gepla nie.” Hy druk sy hande in sy sakke. “En ’n kernfisikus. Wat het in jou gevaar?”
“Sulke soort meisies doen dit altyd aan my,” sê sy. “As ek vir een van hulle moes kosmaak, was ek altyd lus en sit ’n kakkerlak in hulle broodrolletjie.”
“Watse soort meisie?” vra hy kwaai.
Sy lig haar hand om te begin verduidelik, maar die deurklokkie lui weer. “Sy’s terug,” sê sy. “En dié keer los ek julle alleen. Ek gaan nou slaap.”
Sy het net opgestaan en haar koppie op die skinkbord gesit toe Pieter terugkom met ’n man wat sy dadelik herken as sy broer. Dis ’n jonger weergawe van Pieter, effens korter en veel fyner van bou asof hy nog nie uitgegroei is nie. Hy lag oor iets wat Pieter vir hom sê, maar sy gesig vries toe hy vir Maja sien.
“Maja, dis my broer Roelof,” stel Pieter voor.
Roelof skud haar hand en kyk verstom van die een na die ander.
“Ek bly hier,” sê sy vir hom.
Hy slaan vir Pieter teen sy arm en staar bewonderend na Maja. “Praat van stille waters diepe grond,” sê hy. “Jou ou skelm.”
Pieter sug. “Roelof is nou net klaar met matriek,” sê hy ter verduideliking. “Hy gaan vanjaar universiteit toe.”
“Bababoetie,” sê Maja.
“Laatlammetjie,” beaam hy. “Ek het gedink ek kom kyk wat doen my sobere, ernstige, gevestigde ouer broer, maar nooit in my wildste drome het ek gedink …”
“Dis glad nie wat jy dink nie,” sê Pieter ferm. “Moenie op hol raak nie. Nie almal se lewe bestaan uit mooi meisies en krieketkolwe nie.”
“Ha!” sê Roelof en gaan sit. “Is daar bier in die huis?”
Maja se oë blink. Sy hou van hierdie jonger weergawe. “Ek sal gaan haal.”
“Sit,” sê Pieter. “Ek sal.”
Roelof drink sommer uit die blikkie en haal sy oë nie vir ’n oomblik van Maja weg nie. “Maar jou arm,” sê hy. “Wat het gebeur? Ek hoop nie dit was Pieter se skuld nie?”
“Nee,” sê Maja. “Dit was ’n fratsongeluk gewees.”
Pieter kreun en staan op om vir hom ’n whisky te skink. “Vertel,” sê hy gelate. “Ek kan dit nog een keer aanhoor.”
Sy ignoreer hom en kyk Roelof ernstig aan. “Ek het ’n trapsuutjies, sien. My troeteldier, behalwe dat Pieter nie van hom hou nie. Hy mag nie in die huis kom nie. Ek hou hom dus maar buite in die tuin, maar soos jy weet, bly hulle nie op een plek nie. Toe ek weer sien, is hy hoog in daardie eikeboom agter in die tuin. Ek was bang iemand vang hom en klim toe agter hom aan, maar …”
“Haar voet gly toe,” neem Pieter die storie oor. “Sy het nie gekyk waar sy trap nie en val uit die boom met ’n vreeslike gedruis.”
Maja se oë skitter. “Jy het van die kruisbande vergeet.”
“Die kruisbande? O. Ja. Sy het kruisbande gedra en dit het aan ’n tak gehaak en haar val gebreek.”
Maja kyk hom goedkeurend aan. “Anders was my nek af.”
“Moenie spot nie,” sê Pieter skielik weer ernstig.
“Haai, boet,” sê Roelof. “Weet Ma-hulle?”
“Nee.”
“Dis dié wat ek sê: stille waters …” Hy wend hom na Maja. “Ons ouers is doodoortuig Pieter gaan ’n verstokte oujongkêrel word. Marnus, wat vyf jaar jonger is, het al twee kinders en hier sit Pieter nog droëbek. Wag tot hulle hiervan hoor.”
“Daar’s niks om te hoor nie,” sê Pieter kwaai.
“Is jy verstok?” vra Maja. “Wat beteken dit?”
Pieter begin moeg lyk. “Is julle klaar? Wat wil jy hê, Roelf? Seker geld, soos ek jou ken.”
“My branderplank het gebreek. Kan jy dit glo en Pa sê hy verseg om nog ’n sent uit te gee op …”
“Ja, ja,” sê Pieter. “Ek ken die storie. Jy moet een van die dae begin studeer, dan sal daar hopelik minder tyd wees vir sulke speletjies.”
“Dis die nadeel van laatlam wees,” verduidelik Roelof vir Maja. “Jou ouers is afgetree en geld skraps. Wat kan ’n mens anders doen as om jou na jou ouer broer te wend? Marnus is te suinig, maar Pieter het meer as wat hy ooit sal kan gebruik.”
“Regtig?” vra Maja. “Ja, dis seker so. Kyk net na hierdie enorme iglo en sy groot motor.”
“Hou op,” sê Pieter.
“Ek swyg oor die motor,” sê sy vinnig. “Nie ’n woord nie. Wasmasjiene en trapsuutjies, ja, maar nie die motor nie.”
“Hè?” vra Roelof onbegrypend en draai sy kop heen en weer.
“Dis niks nie,” sê Maja en staan op. “Ek gaan julle nou alleen los dat julle broederlike dinge kan bespreek. Lekker slaap en dit was aangenaam om jou te ontmoet, Roelof. Aansienlik aangenamer as ons vorige besoeker.”
Roelof lyk net meer verward. “Wie?” vra hy. “Wat?” Maar die belangrikste vraag wen. “Lekker slaap,” herhaal hy. “Bedoel jy … slááp jy hier?”
“Ja,” sê sy. Sy lig haar hand in ’n groet en stap na die trappe.
“Pieter,” hoor sy Roelof agter haar uitroep. “Jou ou doring. Diepe grond is heeltemal onvoldoende om jou te beskryf. Waar kom jy op jou oudag aan hierdie meisiekind? Waar het jy haar gekry? Wat sien sy in jou? Hoe het jy dit reggekry om Annemie lank genoeg van jou lyf weg te hou om …”
Sy kan nie die res hoor nie. Sy skud haar kop effens en stap na haar kamer waar sy die deur ferm toemaak.