Читать книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

Binne die volgende paar dae gebeur drie dinge wat – soos domino’s – mekaar beïnvloed en tot onvoorsiene resultate lei. In die eerste plek bring oom Boetie Maja se motor in die oggend toe Pieter by die werk is en Anna weg na die slaghuis. Die motor self is nie ’n probleem nie, al klik Maja haar tong spytig omdat sy dit nog nie kan bestuur nie. Pieter het gesê die tweede motorhuis is leeg, die motor kan solank daar in veiligheid bewaar word tot haar arm weer bruikbaar is op ’n rathefboom. Wat oom Boetie óók van Maja se tante bring, is ’n enorme koffer met die res van haar klere. Hy dra dit tot in die portaal, maar hy is haastig. Sy plaasvoorman wag buite op hom en hulle is klaar laat vir hulle afspraak by die motorhandelaar.

“Ek sal regkom,” verseker Maja hom. “Baie, baie dankie dat oom my kar gebring het. En sê baie liefde vir oom Daan-hulle as oom terug is.”

Ná hy weg is, kyk sy na die koffer en raak al hoe meer gefrustreerd. Sy wil dit bo in haar kamer hê sodat sy kan uitpak, want vir die hand vol klere in haar rugsak is sy nou al moeg. Sy kyk na die tas en korrel na die trappe en neem ’n besluit. As sy op die trappe sit en die koffer stukkie vir stukkie boontoe sleep, maak sy nie haar rug seer nie. Sy trek mos net.

Teen die tyd dat die koffer op haar mat staan, loop sweet in straaltjies teen haar nek af en hyg sy so na asem dat sy eers ’n rukkie moet sit en ’n hele paar glase koue water drink. Toe pak sy uit en dis pure plesier. Sy skud rokke en bloesies uit en hang hulle op en toe die tas leeg is, stort sy en trek een van die kort geblomde rokkies aan met ’n paar plat silwer sandale. Sy sou wonderlik gevoel het as dit nie was dat haar gebreekte arm pynlik klop nie. Hoekom dit is, verstaan sy nie, sy het haar linkerhand net gebruik om die tas te steun; die regterhand het die harde werk gedoen.

Toe Pieter so teen halfses in die kombuis instap, sit sy met haar kop op haar hand gestut en sy voel bewerig.

“Middag,” sê hy en kyk haar goedkeurend op en af. “Jy lyk anders.”

“Rok,” sê sy. “Jy’t my nog nie in ’n rok gesien nie.”

“Dit moet dit wees, ja,” stem hy saam en bestudeer haar gesig met meer aandag. “Hoekom lyk jy dan so bedremmeld?”

“My arm is verskriklik seer. Dit klop asof ’n lewende ding hier onder die gips sit.”

Hy frons. “Wat het jy gedoen?” vra hy skerp.

“Niks nie. Oom Boetie het vanoggend my motor gebring.”

“Ek sien so, ja, en ek is bly om te sien dit staan langs myne. Jy het nie dalk ’n gier gekry om daarmee te gaan ry nie?”

“Nee, natuurlik nie. Ek sal nie die ratte kan werk nie.”

“Juis,” stem hy saam. “Wat is dit dan?”

Sy kou aan haar onderlip en trek die toutjie waaraan die garingtolletjie vasgemaak is halfhartig rond sodat Lappies dit kan probeer vang. “Miskien was dit tog die tas.”

Hy skakel die ketel aan aangesien dit nie lyk asof sy van plan is om tee te maak nie. “Watse tas?”

“My tante het my groot koffer met klere ook saamgestuur.” Sy wys weer na die rok wat sy dra. “Soos jy kan sien.”

“En waar’s die tas? Ek het niks gesien nie.”

“Uitgepak,” sê sy swaar.

Hy leun teen die toonbank en vou sy arms. “Dink jy dis die uitpakkery wat jou arm seergemaak het?”

“Nee … e …” antwoord sy huiwerig. “Ek dink dis die dra.”

“Watse dra? Wie het die tas boontoe gedra? Tog seker nie jyself nie?”

“Wel, ja,” moet sy erken. “Maar ek het op die trappe gesit en so trap vir trap boontoe versit. Die tas was baie swaar.”

Hy slaan met sy plathand teen die toonbank. “Hoekom het jý dit gedoen? Kon die oom jou nie help nie? Waar was Anna?”

“Winkels toe en oom Boetie was haastig. Ek wou hom nie langer ophou nie, hy het my klaar ’n groot guns gedoen en hy was laat vir sy afspraak.”

“Liewe vader, Maja,” sê hy kwaad. “Hoe kan jy so dom wees? Jy is in die eerste plek veronderstel om die arm in sy stut te dra, maar dit het ek nog nie van die eerste dag af gesien nie. Nou dra jy swaar tasse!”

Trane begin oor haar wange rol. “Ek weet,” erken sy miserabel. “Maar dis nou te laat om dit ongedaan te maak en my arm is baie seer.”

Hy haak sy das van die deurknop af en knoop dit weer om sy nek. “Is daar kos in die oond? Iets wat afgeskakel moet word?”

“Nee, my arm was te seer om kos te maak.”

“Kom dan,” sê hy. “Het die kat kos?”

Sy knik en staan op om hom na die garage te volg. “Die dokter gaan met ons raas,” sê sy toe hulle ry.

“Nee, nee, nee,” keer hy vinnig. “Nie met óns nie, met jou. Ek het hierdie keer niks verkeerds gedoen nie. Ek is onskuldig en ek gaan dit vir hom sê ook.”

Dis baie laat voor hulle weer by die huis kom en teen daardie tyd is Maja gedaan gehuil en moeg om mee geraas te word. Die arm moes van voor af gespalk word, die aanvanklike kraak is groter en die dokter het haar onomwonde vertel wat hy dink van mense met gebreekte arms wat swaar tasse dra.

“Gaan klim nou dadelik in die bed,” gebied Pieter haar toe hulle in die huis kom.

“Maar …”

“Dadelik,” sê hy en wys na die trappe.

“Maar ek is so honger! Ek het nie eers middagete geëet nie.”

“Ek sal kyk wat ek vir ons kan maak.” sê hy. “Loop klim in die bed of ek sit jou in die bed.” Hy swets onderlangs toe die telefoon lui en terwyl sy bekaf boontoe loop, raap hy die gehoorstuk op.

“Is juffrou Henning daar?” vra ’n manstem.

“Nee,” antwoord Pieter. “Kan ek ’n boodskap neem?”

“Wel,” sê die man huiwerig. “Is u haar oom?”

Pieter het geen idee watse storie Maja vir hierdie onbekende man versin het nie en maak dus net ’n gromgeluid. “Sy bly hier, as dit is wat u wil weet.”

“O. As u net vir haar kan sê daar is ’n probleem by die huis. Die kommune. Sy sou die einde van die maand hiernatoe gekom het.”

“Ja,” sê Pieter kortaf, nie lus vir lang stories nie, want hy is ook moeg en honger.

“Jolandie wat Londen toe sou gegaan het, kan nou eers die einde van Mei vertrek. Ek is bevrees daar is dus nie gou ’n opening nie. Miskien gaan Hein na ’n woonstel, maar dis ook nog glad nie seker nie en …”

“Ek sal vir haar sê,” sluit Pieter die gesprek af. “Dis nie ’n probleem nie.”

“Sy kan my weer kom sien en ons kan kyk wat …”

“Sekerlik,” sê Pieter. “Dankie dat jy gebel het. Totsiens.”

Hy sit die gehoorstuk neer en loop kombuis toe waar Lappies uit sy vel van plesier nader storm om Pieter se skoenveters aan te val. “Wag,” sê hy. “Ek het nie nou tyd vir speel nie. Ek is honger.”

Hy maak vir hulle toebroodjies van koue vleis en tamatie en neem dit saam met ’n glas melk boontoe. Maja lê al in die bed en sy lyk baie klein. Sy het die laken tot onder haar ken getrek en die komberse afgeskop.

“Dis baie warm,” sê sy en trek haar regop en begin gulsig eet.

Hy sit sy eie bord neer, loop terug na die deur en skakel iets aan. Oombliklik stroom koue lug in die kamer in.

“Haai,” sê sy en hou op met kou. “Hoe het jy dit reggekry?”

“Ek het die lugversorger aangeskakel.” Hy gaan sit in een van die twee leunstoele en begin eet.

“En hier dood ek al ’n week lank van die hitte,” sê sy.

“Dis nie my skuld nie.”

Sy eet in stilte klaar, sit haar bord neer en drink die melk. “Baie dankie, dit was wonderlik. Ek dink ek sal nou kan slaap, want al het hulle my pynpille gegee, is ek seker ek sou nie kon slaap solank ek so honger was nie.”

“Dis ’n plesier.” Hy tel haar bord op en kyk af op haar, sy uitdrukking skielik minder kwaai. “Jou arm is nie die enigste terugslag van die dag nie. Jou kommune het pas gebel om te sê die vakature is nie meer daar nie. Iemand genaamd Jolandie kan nou eers in Mei oorsee vertrek. Daar is ’n vae moontlikheid dat iemand genaamd Hein na ’n woonstel trek, maar dis alles báie vaag.”

“Wie is Hein?”

Sy wenkbroue skiet op. “Hoe met ék weet?”

Haar vingers frommel die rand van die laken en haar gesig is somber. “Dan weet ek nie. Wat gaan ek doen? Miskien moet ek maar huis toe gaan. Ek dink mens moet die tekens kan lees en al die tekens sê: gaan huis toe. Van ek hier geland het, is dit een terugslag op die ander. Ek is seker nie veronderstel om hier te wees nie.”

“Onsin,” sê hy. “Wat jou arm betref, is ek verantwoordelik vir die eerste terugslag, maar nie die tweede nie. Wat die kommune betref – daar moet tog ander wees. Slaap nou eers, vandag het genoeg van sy eie kwaad gehad. Môre kan jy plekke bel en intussen is daar geen probleem nie. Jy het ’n dak oor jou kop en jy weet jy is welkom om hier te bly solank as wat jy wil.”

“Ha!” sê sy bitter.

“Wat is dit veronderstel om te beteken? Het ek jou onwelkom laat voel?”

“Nee … e,” sê sy. “Maar ek kan mos sien. Jou lewe sal veel rustiger wees as ek weg is.”

“Dit betwyfel ek vir geen oomblik nie,” sê hy. “Maar aan die ander kant kan rustig ook vervelig wees. Van jy voor my motor beland het, is my lewe nie vervelig nie. Inteendeel.” Hy tel haar leë glas op en beweeg na die deur. “Sou jy vir Lappies en die trapsuutjies in die kommune of die jeugherberg kon aanhou?”

“Ek weet nie. Miskien nie.”

“Nou toe. Daar het jy dit. Elke donker wolk het ’n silwer rand.”

Sy gluur na hom en gly weer teen die kussing af, haar oë al halftoe. “Asof jy omgee.”

Hy grinnik en stap na die deur, maar bly dan staan. “Terloops, wat het jy vir die man van die kommune gesê? Hy wou weet of ek jou oom is. Ek was skigtig om iets te sê omdat ek teen hierdie tyd kennis dra van jou versinsels.”

Sy gaap en druk haar hand teen haar mond. “Ek het net gesê ek bly op die oomblik by my oom wat ook my peetpa is en wat ek laas gesien het toe ek ses jaar oud was.”

“Ja?” vra hy. “Is dit die hele storie?”

“Nee,” gee sy toe. “Ek het vir hom gesê jy is ’n oujongkêrel en ’n kluisenaar en jy haat dit om jou ou huisie met iemand te deel. Dis hoekom ek dringend ander blyplek …”

“Ou huisie?” val hy haar in die rede. “Ou huisie?”

“Kluisenaars bly nie in sulke modernistiese glas-en-beton-konstruksies nie,” sê sy heftig. “Hulle bly in donker, afgetakelde ou gehuggies teen die berg. Onder hoë home.”

“Waar hulle stilletjies jong meisies vermoor of in kelders opsluit?” vra hy.

“Soort van, ja.”

Hy rol sy oë. “Geen wonder die jong man het so onseker geklink nie. Die hemel weet, Maja, jy skilder my darem in die vreeslikste rolle in. Ek hoop jy gee nie my regte naam nie.”

Sy gaap weer, dié keer erger. “Nee, natuurlik nie. Ek het gesê jou naam is Hieronimus Blok.”

Hy laat byna die borde val. “Hieronimus Blok! Waar kom jy dááraan?”

“Ek het dit net uitgedink,” sê sy trots. “Dit klink na ’n swaarmoedige ou kluisenaar, dink jy nie so nie?”

“Ek sal nie weet nie. En vir jou oom en tante – wat het jy vir hulle gesê?”

“Jy is Jan Jooste. Dit klink vir my solied. Die soort man wat ’n vrou en drie kinders het.”

Hy is vir ’n hele paar minute sprakeloos. “En gestel hulle bel en ek antwoord en gee my naam, wat gaan hulle dink?”

“Ek sal sê jy is ’n vriend van Jan wat net vir die aand hier kuier.”

“Slaap,” sê hy. “Ek dink dis onder die omstandighede die beste. Ek weet nie van jou nie, maar ek kan nie meer van hierdie dag vat nie. My kwota is vol.”

“Lekker slaap,” sê sy gemoedelik, rol om en skakel die bedlampie af. “En dankie vir alles.”

“Dis ’n plesier,” sê hy bitter.

Hy pak die vuil skottelgoed in die wasbak, tel Lappies op en sit hom in die spens waar sy mandjie en sandboks is en staan ’n ruk na die katjie en kyk. “Jy weet ten minste wat jou naam is,” sê hy. “En jy’s net ’n kat. Ek is Hieronimus en Jan, ek is ’n oom en ’n kluisenaar en die vader van drie kinders. As dit nie ’n waarskuwing teen onverskillige padgebruik is nie …”

Lappies het niks hieroor te sê nie en Pieter skakel die lig af, maak seker dat al die deure gesluit is en stap boontoe.

Vir die volgende dag of twee is Maja baie bedees. Sy hou haar stil, sy dra haar arm in sy stut, sy doen niks veeleisenders as om groente op te kap en in die tuin te loop nie. Dit is ook baie vervelig, maar sy kry in Pieter se studeerkamer boeke waarvan enkeles haar genoeg interesseer dat sy hulle lees, en vir die res van die tyd kyk sy televisie tot Anna se blydskap. Anna is ’n aanhanger van sepies en huiswerk kom tot ’n stilstand in daardie tydgleuf. Maja se smalende opmerkings oor slaappoppe en kunsmatige situasies, onrealistiese romanses en verregaande misverstande spoel oor Anna se dowe ore.

Pieter voel ná die derde dag meer gerus om Maja alleen by die huis te los. Dit wil vir hom lyk asof sy nou meer verantwoordelik optree, al het sy hom die aand vantevore gevra of hy nie sy vinger in die deur wil vasknyp nie.

“Hoekom?” het hy gevra. “Wat op aarde laat jou dink ek wil so iets doen?”

“Ongelukke gebeur altyd drievoudig. Slegte goed. Ons wag nog vir die derde een. Jy’t dit self gesê, of het jy vergeet?”

“Jy het net een arm gebreek. Wat is die tweede ongeluk?”

Sy het op die bank gelê en staar na die growwe beton. “Die slegte nuus van die kommune. Die feit dat daar nie vir my huisvesting is in hierdie stad nie.”

“Jy is ondankbaar,” het hy gesê. “Ek sou my verstout om te sê jy het huisvesting van ’n besonder hoë gehalte. Kompleet met verkoeling in hierdie warm Februarie-dae.”

“Dit mag wees en ek is nie ondankbaar nie. Ek dink net as jy gou jou vinger vasknyp, kan ons ontspan. Ek sal vir jou ys bring.”

“Dankie,” het hy wrang gesê. “Dis bedagsaam van jou, maar ek kan nie sê ek is lus om my vinger doelbewus seer te maak nie. Hoekom is jy so bygelowig? Loop jy ook nie onder lere deur nie en gooi jy sout oor jou linkerskouer en is jy bang vir swart katte?”

“Glad nie. Ek hou van swart katte. My tante het een. Baie oud maar skadeloos.” Sy het ’n rukkie nagedink. “Ek sal nie sommer onder ’n leer loop nie, maar dis meer omdat ek bang is iets val op my kop.” Sy het haar kop gedraai en streng na hom gekyk. “En jy weet ek mors nie met kos nie.” Sy het gegaap. “Ek is net baie verveeld, Pieter. Ek weet die huis is verkoel, maar jy moet toegee dis vreeslik onregverdig dat ek hier moet sit met hierdie simpel gips aan my arm terwyl daar om my twee oseane spoel. Dink net, die warmste maand in die Kaap en hier sit ek, kan skaars bad.”

Hy het skuldig gevoel. “Ek sal jou Saterdag strand toe neem.”

“Sal jy?”

“Ja. Jy sal nie kan swem nie, nie met daardie arm nie, maar jy kan bietjie in die son lê en ten minste na die see kyk.”

Waar Pieter nou in sy kantoor sit en dink aan die gesprek voel hy van voor af skuldig. Hy het haar verbied om enigiets te doen en dit is ’n feit dat hy die oorsaak is van haar gekluisterde lewe; hy moes lankal daaraan gedink het dat sy verveeld moet wees. Sy was so opgewonde by die vooruitsig aan ’n uitstappie. Die arme kind het ook net van die trein geklim toe hy haar omgery het, sy het nog niks gesien behalwe die hospitaal en sy huis nie. Hy was baie stiksienig. Selfs die vorige naweek het hy gaan gholf speel en was hy uit vir ete terwyl sy stoksielalleen by die huis moes bly. Selfsugtig, spreek hy homself aan. Het net aan sy eie plesier gedink.

Die telefoon lui en sonder om sy oë van die rekenaarskerm voor hom te neem, tel hy die gehoorstuk op.

“Ja?” vra hy afgetrokke.

“Pieter,” sê Maja en sy klink benoud. “Hoor gou hier.”

“Wat het jy nou weer gedoen?” vra hy, al sy goeie voornemens op die plek na die maan.

“Sal jy maak asof ons getroud is?” vra sy in dieselfde angstige stem. “Weyers is veglustig.”

Hy hou die gehoorstuk ’n ent van hom weg en kyk daarna asof die oplossing daarin lê. “Weyers? Ek dag sy naam is Frans?”

“Nee, nee, Frans is glad nie veglustig nie. Hy het ’n baie sagter geaardheid eintlik. Ek het jou mos gesê. Dis waarom ek so jammer gevoel het dat ek nie vir hom kan lief wees nie. Weyers is iets heeltemal anders. Hy is verskriklik jaloers.”

“Maja,” maan hy. “Begin van die begin.”

“Dit sal net vir ’n paar dae wees,” soebat sy. “Net as hy bel of by die huis aankom. Hy is hier in die stad! Hy het my tante gebel en sy’t hom vertel waar ek is en hy glo glad nie die storie van jou vrou en drie kinders nie.”

“Maar dit ís ’n struikelblok,” sê hy. “Ek kan nie met jou getroud wees as ek klaar ’n vrou en drie kinders het nie. Dis poligamie en laas toe ek gekyk het, onwettig. Bowendien sal my vrou nie daarvan hou nie.”

“Man,” sê sy ergerlik. “Moenie laf wees nie. Anna het opgetel toe hy gebel het, want ek was agter in die tuin om te sien of die brame al ryp is en hy’t haar omtrent onder kruisverhoor gehad en vanselfsprekend het sy vir hom gesê jy het nie ’n vrou en drie kinders nie. Dis toe hy ontplof het, sien.”

“Nee, ek sien niks nie.”

“Ek het tant Miems gebel en sy sê hy was sommer aggressief toe hy met haar gepraat het, en toe hy hoor ek bly by jou het hy die eerste keer ontplof. Hy’t toe al niks geglo nie en vir haar gesê hy weet presies wat gebeur het. Ek het van die trein afgeklim en ’n gewetenlose man het my met slim stories na sy huis gelok en omdat ek so naïef is, het ek hom geglo en nou hou hy my gevange en dis presies wat Weyers verwag het met my sal gebeur as ek na ’n groot en onbekende stad kom. So kan jy sien, hy is op die oorlogspad en dit sal veel, veel beter wees as ek vir hom sê ons is getroud. Dan bly hy sommer van my lyf af.” Sy hou op praat om net asem te skep. “Wel, ek het klaar vir hom gesê, maar dit lyk my nie hy glo dit nie.”

“Jy’t klaar vir hom wát gesê?” vra Pieter.

“Dat ons getroud is.”

Pieter haal diep asem en stoot ’n hopie skuifspelde heen en weer op sy lessenaarblad, asof dit sal help om die saak op te klaar. “Maar wie is hy? Wie is Weyers dat hy so besitlik optree?”

“Ag,” sê sy. “Nog een van die mans wat so verlief geraak het. Hy besit die motorhawe op die dorp waar ek was.”

“Het hy ook ’n diamant in ’n fluweeldosie aangebied?”

“Nee, hy is nie daardie soort nie. Hy is net besitlik. Hy haat Frans net omdat Frans ook by my gekuier het en regtig, niemand kan vir Frans haat nie. Hy is ’n skattebol en dis nie sy skuld dat ek nie lief was vir hom nie.”

“Nee,” sê Pieter. “Ek veronderstel nie. Wat nou?”

“Jy moet sê ons is getroud, dis al. Dan sal hy weggaan.”

“Maar as jy dit klaar vir hom gesê het, is hy seker op pad terug na Mpumalanga.”

“Jy ken nie vir Weyers nie,” sê sy bitter. “Hy sal tog so maklik kopgee.”

“Nee, jy’s reg, ek ken hom nie,” sug hy. “Maar dink jy hy sal so ’n storie glo? Dat jy binne twee weke getroud geraak het?”

“Ek het vir hom gesê dit was nes in die boeke,” verduidelik sy. “Ons het mekaar ontmoet net ná ek van die trein geklim het – en dis waar!”

“Die enigste deel wat waar is,” stem Pieter saam.

“En ons het net dadelik geweet ons is vir mekaar bestem. Jy is klaar so oud – wel, oud genoeg – dat jy weet wat jy wil hê en jy het gedink ek is ’n geskenk uit die hemel en ons is getroud. Dis mos nie vergesog nie?”

Pieter hou sy hand oor die mondstuk dat hy kan klaar lag. “Nee,” sê hy toe hy bedaar het. “Seker nie. Wat is nou die volgende stap?”

“Hy gaan na die huis kom, dis seker. Jy moet net saamspeel.”

“Ek is glad nie veglustig nie,” sê hy. “Ek gaan met niemand baklei nie.”

“Nee, nee,” verseker sy hom. “Dis nie nodig nie. Dankie, hoor. Ek sien jou later.”

Pieter sit die gehoorstuk stadig neer en kyk op na sy kollega wat in die deur staan met ’n klomp papiere in sy hand. “Ek is getroud,” sê hy. “Net so.”

Sy kollega, ’n ou getroude, glimlag breed. “Baie geluk. Hoe het dit gebeur?”

“Dit sal ek jou nie kan sê nie. Dit het baie skielik gebeur. Báie skielik.”

“Nou toe nou.” Die man kyk na die papiere. “Ek het gewonder of ek jou kan lastig val. Daar is ’n probleem met die …”

“Kom sit,” sê Pieter en wys na ’n stoel. “Ek het ’n groot dosis nugterheid nodig.”

Christine le Roux Omnibus 7

Подняться наверх