Читать книгу Christine le Roux Omnibus 7 - Christine le Roux - Страница 13
Hoofstuk 10
ОглавлениеPieter het ’n haglike dag op kantoor gehad. Hy het nie rustig geslaap nie; elke keer dat hy omgedraai het, het hy sy hand uitgesteek na Maja en net ’n stuk leë bed gevoel. Op een tydstip het hy opgestaan en na haar kamer gegaan, maar die deur was gesluit. Dit het hom geskok al was hy eerlik genoeg om te erken sy het rede om ongelukkig te wees. Hy moes haar nie so uitgetrap het nie, sy het klaar sleg gevoel. Dis net gebrek aan ondervinding, het hy hom wysgemaak, hy kan haar nie blameer dat sy verkeerd geklee was nie.
Annemie was die ene simpatie toe sy sien hy voel nie lekker nie, het glase yswater, koppies tee en koffie aangedra.
“Los my tog uit,” het hy geïrriteerd gesê. “Ek makeer niks nie.”
“Sekerlik,” het sy gesê. “Hoe was gisteraand se ete toe? Het jy en Van Schoor kon praat?”
“Nee, dit was ’n sosiale geleentheid.”
“Het Maja dit darem geniet?”
Hy het opgekyk, getref deur iets in haar stem. “Hoekom sou sy nie?”
“Nee, ek het net gewonder. Sy is nog jonk, en …”
“Het jy gister met haar gepraat?”
“Ja,” het sy erken. “Sy wou maar oor dit en dat raad vra.”
Hy het nie verder uitgevra nie. Hy weier om Maja met Annemie te bespreek. En hy is bly toe hy by die huis kom en in die garage inry. Dinge moet uitgepraat word, hy kan dit nie verduur dat Maja so ongelukkig is nie. Hy sal haar in die toekoms help, sorg dat sy weet wat van haar verwag word. Hy is teleurgesteld toe hy sien haar motor is weg en stap sleepvoetend die kombuis binne waar Anna tot sy verrassing by die toonbank sit en blaai deur ’n tydskrif.
“Anna,” sê hy. “Wat maak jy so laat nog hier?”
“Ek wag vir meneer,” sê sy met ’n gevaarlike stem.
“Het iets gebeur? Waar is Maja?”
“Weg,” sê sy met ’n plat stem.
“Weg? Wat bedoel jy met weg? Sy kom mos lank voor my by die huis en …”
“Sy’t ’n brief gelos,” sê sy en wys na ’n koevert teen die ketel.
“Wanneer?” vra hy oorstuur. “Wat? Wat bedoel jy …? Het sy sommer net gery?”
“Nee, daai man het haar kom haal.”
“Watse man?”
“Ek ken hom nie. Lyk bietjie wild as meneer my vra. Rooi hare en ’n baard.”
“Weyers,” sê hy en bal sy vuiste.
“Ek sal nie daaroor op hol raak nie,” sê sy en staan op. “Sy was klaar gepak voor hy gekom het.” Sy wys na die swart-en-wit rokkie wat – gestryk – teen die spensdeur hang. “Oor daai rok nie ghrênd genoeg was nie.”
“Wat weet jy van die rok?”
“Ek sê maar net.” Sy haal haar baadjie en handsak van die haak agter die kombuisdeur af en trek die baadjie aan. “Asof sy iets anders gehad het om aan te trek.”
“Wat bedoel jy daarmee?” vra hy kwaad.
Sy leun vorentoe. “Daai kosgeld was genoeg vir meneer en vir die bietjie lunch wat ek geëet het. Dis mos nog dieselfde en dit met mevrou wat al hierdie … hierdie anderste kos maak. Sy betaal maar uit haar eie sak, sien ek. Waarmee moet sy die silks en satins koop, wonder ek?”
Hy maak sy mond oop en weer toe.
“Ek groet maar,” sê sy. “Nou-nou mis ek die laaste bus en Klaas sal wonder waar ek bly. Dit kan ek nou eerlik sê, hy is ’n man wat sy vrou waardeer. Ja-nee, ek kan nie kla nie. Dra altyd vir my ietsie moois aan, sôre dat ek ordentlik lyk as dit moet.” Sy vat aan haar oorbelle en die versameling armbande om haar pols. “Dis alles van hom. Verjaarsdae, anniversaries, ek kry elke keer ’n blinkding. Nee, ek kan nie kla nie.” Sy kyk na hom en haar hart vermurwe effens. “Dan groet ek maar. Ek sal môre weer soos oustryk iets kook sodat meneer darem kos het vir die aand.”
“Gee vir my die koevert aan,” sê hy dof.
Sy gee dit vir hom, kyk hom ’n oomblik lank aan en loop. Pieter skeur die koevert oop en rem aan sy das sonder om dit af te haal.
“Liewe Pieter,” het sy geskryf. “Ek dink jy sal saamstem dat ek nie langer hier kan bly nie. My tante het altyd gesê mense wat trou, moet eers ’n sak sout saam opeet. Sy was reg. Ek moes nooit gebly het nie, nie van die begin af nie. Jy het my in die straat opgetel en huis toe gebring en ek was te lamsakkig om te weier. Ek blameer jou nie dat jy my omgery het nie, maar jy moes my daar gelos het. Toe ek eers jou huis gesien het en so lekker in jou kombuis begin werk het, was dit te moeilik om my tas te vat en te loop. Dit was te lekker hier by jou.
“Ek weet jy wou nooit regtig met my getrou het nie. Dis my eie skuld dat ek die idee in jou kop gepraat het toe ek van Weyers ontslae wou raak. Dis alles my skuld, ek blameer jou nie hiervoor nie. Jy het my nie lief nie en mense moet vir mekaar lief wees as hulle wil trou. Ek is te jonk vir jou. My oom-hulle het vir my gesê ons is oorhaastig en hulle was reg. Ek wou hier bly en om te trou, het na die oplossing gelyk. Ons moes dit nie gedoen het nie, al sal ek altyd, altyd daardie week by die see onthou.”
Pieter kreun hardop en slaan die tafelblad so hard dat hy sy vuis seermaak. Hy suig sy kneukels voor hy verder lees.
“Gisteraand was nie my skuld nie. Ek hét nie aandrokke of diamante nie. Daardie rok wat ek gedra het, was die ordentlikste rok wat ek besit. Annemie het vir my gesê formeel beteken niks nie, die mense is baie informeel. En my enigste paar kouse het geskeur. Ek kon nie anders as om sandale te dra nie.
“Dis nie jou skuld nie. Ek verdien nie genoeg om sulke duur klere te koop nie en ek het nie geweet dit is nodig nie. Dis wat ek aan die begin geskryf het: ek is te jonk vir jou.
“Ek hou nie van Annemie nie, maar as jy by haar gelukkig sal wees, is ek tevrede. Ek het gedink sy is ’n vriendin, maar sy is nie. Desnieteenstaande dink ek sy is die vrou wat jy wil hê. Sy sal altyd weet wat om te doen. Die regte ding.
“Maja.
“Ns. Wees asseblief goed vir Lappies. Dit breek my hart om hom te los, maar ek kan nie rondry met ’n kat nie.
“Nss. Baie dankie vir alles. Ek is jammer ek was so ’n teleurstelling.”
Pieter lees die brief vier keer deur en elke keer voel hy slegter. Hy staan op, skink vir hom ’n glas water en gooi ’n hand vol ysblokkies in voor hy die brief die vyfde keer lees. Sy oë brand en hy skiet regop toe die deurklokkie lui.
Dis sy, dink hy. Sy het teruggekom. In sy haas skop hy die chroomstoeltjie om en dit klater oor die vloer sodat Lappies, wat teen sy enkels geskuur het, vervaard die hasepad kies.
“Roelof,” sê hy toe hy die deur oopstoot. Hy voel siek.
“Jis, jy kan darem blyer lyk om my te sien,” sê sy broer.
“Ek het gedog jy’s …”
“Nee, ek is nie,” sê Roelof ongeërg en skuur verby hom. “Het jy ’n bier vir my?”
“Wat maak jy hier?” vra Pieter. “Moet jy nie in die koshuis wees nie?”
“Nee.” Roelof loop kombuis toe en maak die yskas oop. “Waar’s my goeie vriendin? Hoe’s dit so stil hier rond?”
“As jy van Maja praat – sy is nie hier nie.”
Roelof trek die blikkie oop en suig vinnig aan die skuim. “Wie anders in jou huis is my goeie vriendin? Hou jy meer as een vrou aan?”
Pieter antwoord nie en skink vir hom ’n whisky.
“Werk Maja nou in die aande?” vra Roelof en tel vir Lappies op. “Jis, jy word swaar. Voer hulle jou nie te veel nie?”
“Sy’s weg,” sê Pieter.
Roelof kyk op, getref deur sy broer se stemtoon. “Weg soos in weg?”
“Ja.”
“Piet,” sê Roelof kwaai. “Wat het jy met haar gemaak? Jý weet sy is die oulikste ding op twee bene. Jý weet dit en ons almal weet dit. Hoekom iemand soos jy geseënd genoeg was om haar te kry, is iets wat nie vir die res van die familie duidelik is nie, maar nou ja, dis ’n ander storie. Waar is sy? Sy was Saterdag nog hier. Terwyl jy op die gholfbaan rondlê, het ek en sy piekniek gehou in die berg. As ék met iemand soos Maja getroud was, het jy my nie op die gholfbaan gesien nie, want ék sou …”
“Bly tog net stil,” sê Pieter. “Ek hou nie eens besonder van gholf nie.”
“Wat vertel jy my nou?” vra Roelof. “Jy spandeer jou hele naweek op die baan net om weg te kom van Maja?”
“Nee!”
“Nou wat dan?”
Pieter tel die stoeltjie op en gaan sit. Met sy hande vee hy oor Maja se brief. “Ek het gisteraand met haar geraas omdat ons by ’n deftige ding was en sy totaal onvanpas aangetrek het.” Hy wys na die brief. “Dis al wat sy gehad het. Sy het nie geld vir nuwe klere nie.”
“Hoekom nie?” vra Roelof en klink al hoe meer asof hy die ouer broer is.
“Ek gee haar niks nie.”
Roelof is so verbaas dat hy ook gaan sit en vir Lappies toelaat om heen en weer oor die toonbank te stap. “Jy gee dan altyd vir mý geld. Wat is jou probleem?”
“Ek het nie daaraan gedink nie. Wel, ek het, maar in die geharwar van … ek was so besig die afgelope weke …”
“Strooi,” sê Roelof kalm.
“Ek het! Ek het weke gelede al vir Annemie gevra om tog die vorms by die bank te kry dat ek ’n gesamentlike rekening kan open en ek vir Maja …”
“En sy’t natuurlik gehardloop om dit te doen,” sê Roelof. “Jis, jy’s blind.”
Lappies stap oor Maja se brief en frommel dit sodat Pieter die kat op die grond sit en net die brief wil opvou toe hy sien daar is iets agterop geskryf.
“Pieter,” is haar laaste byvoegsel. “Die ding van kinders is een voorbeeld van wat ek bedoel as ek sê ons het mekaar nie geken nie. Ek wil nie nou al kinders hê nie, maar ek het gedink as jy lief is vir my sal ons ná ’n paar jaar daaraan dink en ’n regte gesin wees. As Annemie nie vir my gesê het hoe jy kinders haat nie, sou ek dit nooit geweet het nie. En dis nie reg nie, ek kan jou nie deur haar leer ken nie.”
Pieter voel hy kan nie asemhaal nie. Hy staan op, stap heen en weer. “Kinders!” sê hy. “Ek haat nie kinders nie!”
“Ek weet,” sê Roelof. “Toe Marnus laas in die land was, was jy baie erg oor sy olyftakkies. Dit was ek wat gedink het hulle is maar bietjie temerig.”
“Annemie,” is al wat Pieter kan uitkry.
“O, ek is seker sý pes kinders. Sy lyk na die soort. Maar jy verander die onderwerp. Jy’t nie vir jou eie vrou geld gegee nie en toe raas jy met haar oor sy nie deftig genoeg gelyk het nie. Ek sou my skaam. Dis nie hoe Pa-hulle ons grootgemaak het nie.”
“Roelof,” sê Pieter dreigend. “Druk daardie blikkie in jou mond voor ek dit vir jou doen.”
Roelof lyk onbeïndruk. “En Maja lyk altyd mooi, maak nie saak wat sy dra nie. Om die waarheid te sê, dink ek sy sal simpel lyk opgetooi soos ’n Krismisboom. Sy’s net nie die tipe nie.”
Pieter lyk asof hy sy broer gaan verpletter. “Dis nie snaaks nie! Hou op grappe maak! Ek weet sy is pragtig, ek weet sy lyk altyd mooi, maak nie saak wat sy dra nie. Dink jy ek is blind? Dink jy ek is …”
“Ja,” val Roelof hom in die rede. “Ek dink jy is.”
Pieter trek sy gekromde vingers deur sy hare. “Wat gaan ek doen? Jy kan my nie meer uitskel as wat ek myself wil verguis nie. Natuurlik was ek blind en stiksienig en alles wat verkeerd was en nou is sy weg! Wat gaan ek doen?”
“Jy beter haar gaan haal,” meen Roelof. “Ek dink nie ons moet vir Pa-hulle vertel nie. Jy kan sê sy het bietjie by haar tante gaan kuier.”
Pieter helder op. “Dink jy sy is soontoe? Sy is seker, is sy nie? Sy sou huis toe gaan. Eenkeer het sy gesê ek sal nooit die land platry agter ’n meisie aan soos …” Hy slaan homself teen die voorkop en kreun. “Weyers. Anna sê Weyers het haar kom haal.”
“En wie is Weyers?”
“Die vent wat agter haar aan was, ’n gewese kêrel. Dis hoekom ons die eerste keer gemaak het asof ons getroud is.”
Roelof drink nog ’n sluk bier en kyk sy broer kopskuddend aan. “Ek kan nie glo jy is agt-en-dertig nie. Die speletjies wat jy darem speel … Is sy lief vir hierdie Weyers?”
“Nee. Ek weet nie. Sy’t gesê sy was nooit lief vir hom nie, maar as sy …”
“Ongelukkig genoeg was, het hy dalk nie meer so sleg gelyk nie,” voltooi Roelof die sin namens hom.
“Is jy hier om my te help of wat?”
“Ek sê maar net.”
Pieter skud sy glas heen en weer sodat die ys rinkel. “Nee, haar motor is weg,” onthou hy. “Sy is op haar eie stoom hier weg. Ek weet nie hoe Weyers … hy kon tog nie tussen gisternag en vanoggend al die pad van Mpumalanga hiernatoe gery het nie. Nee, sy is seker na haar tante-hulle.”
“Sal ek jou help inpak?” vra Roelof. “Miskien is dit wyser om eers te bel.”
“En sê nou sy is nog nie daar nie of glad nie daar nie?” Hy begin weer heen en weer stap. “Sy kan nie so ver alleen ry nie. Dis gevaarlik.”
“Bel en gesels sommer net,” sê Roelof. “Noem dat julle daaraan dink om een van die dae te kom kuier. As sy klaar daar is, sal hulle so sê.”
“En dink ek is onnosel,” sê Pieter kwaad.
“As jy aan ’n beter plan kan dink …”
Pieter ruk sy selfoon uit en skakel. Roelof sit en luister hoe hy uitvra na almal se welstand en die weer en toe noem dat hulle tentatief dink aan ’n kuier. Toe hy later die foon afsit, skud hy sy kop. “Sy is nie daar nie. Hulle stuur baie liefde vir haar. Waar is sy dan?” Hy boor met sy duime in sy oogholtes. “Sy is te eerlik, ek kan nie glo dat sy êrens saam met Weyers is nie. Sy’t nie … sy is nie lief vir hom nie!”
Roelof moet hiermee saamstem. “Ek dink ook nie so nie. Sy is hopeloos te lief vir jou.”
“Hoe weet jy dit?”
Roelof kyk op na die plafon. “En ék is die kleinboetie. Omdat enige aap dit kan sien! En jy’s reg, sy is te eerlik. Sy sal nie saam met ’n ander man weggaan as sy weet hoe lief jy vir haar is nie. Ek is seker dis alles net ’n klein misverstandjie.”
“Maar sy dink nie ek is lief vir haar nie.”
“Hoekom sal sy so dink?” vra Roelof nugter.
Pieter kan nie antwoord nie. Maja moet dit weet, wil hy homself regverdig. Hoekom anders het hy met haar getrou? Sy weet tog hoeveel plesier sy hom gee, sy weet … Hy kan nie verder dink nie. Hy was meer op kantoor as by haar, naweke liewer op die gholfbaan as by haar, hy het haar afgeskeep, nie finansieel vir haar gesorg nie, hom blind gestaar teen alles wat onbelangrik is en nou is sy weg. “Ek kan nie sonder haar leef nie,” kreun hy.
“Ek ook nie,” sê Roelof. “Sy’s die kleinsus wat ek altyd wou gehad het. Sy’s pret.”
“Kleinsus – sy is ouer as jy!”
“Jy weet wat ek bedoel.”
“Wat gaan ek doen?” vra Pieter radeloos. “Wat moet ek nou doen?”
Roelof drink sy bier klaar en frommel die blikkie. “Eers moet ons eet. Ek weet nie van jou nie, maar ek is honger. Dan kan ons koppe bymekaarsit.”
Kos help nie, niks help nie. Ná Roelof weg is, loop Pieter boontoe, sien die oop kasdeure, laaie haastig oopgeruk en nie behoorlik toegemaak nie. Op die mat lê een sokkie wat sy laat val het, ’n ordinêre witte met ’n pienk randjie. Hy tel dit op en druk dit teen sy wang en wil huil behalwe dat Lappies teen sy enkels skuur en hom herinner dat hy nog nie kos gekry het nie.
“Wat het ek gedoen?” vra hy vir die kat. “Hoekom dink sy ek is nie lief vir haar nie?”
Lappies spin net en bondel voor Pieter die trappe af na die spens en die sak katkos.
Toe Pieter die volgende oggend op kantoor kom ná ’n nag van baie min slaap, is Annemie die ene besorgdheid.
“Voel jy nie lekker nie?” vra sy. “Kan ek vir jou iets bring?”
“Nee dankie.” Hy sit na haar en kyk, haar perfek gekapte hare, die smaakvolle uitrusting, die pêrelagtige naels. “Waar is die bankvorms wat ek weke gelede voor gevra het?”
“Haai, het ek dit nie vir jou gegee nie?”
“Nee.”
Sy skarrel weg en kom terug daarmee. “Hier. Hoe vergeetagtig van my. Dinge was ook so dol …”
Hy vat dit en sit dit voor hom neer. “Wat het jy vir Maja gesê oor kinders?”
“Kinders?” vra sy verbaas. “Ek weet nie of ek …”
“Jy het vir haar gesê ek haat hulle,” sê hy. “Jy’t vir haar gesê ek wil nie kinders hê nie.”
Annemie se oë flikker, maar sy bly onverstoord. “Ek sal dit nie so sterk stel nie. Ons het maar so in die algemeen gepraat en ek … Onthou jy nie die aand toe daardie kind op jou geklim het met sy vetterige hande en stroop oor sy …”
“Dit was ’n tydelike ergernis,” sê hy koud. “Dit het niks te doen met my gevoel oor die saak nie. Ek vind dit aanmatigend van jou om mý vrou in te lig oor so iets. Dit het niks met jou te doen nie.”
Haar lippe word effens stywer. “Ek is jammer. Ek het dit glad nie so bedoel nie.”
“Jy is my sekretaresse, Annemie,” gaan hy voort. “Niks meer en niks minder nie. Jou werk is hier op kantoor.”
“Ek het my bes gedoen,” sê sy seergemaak. “Ek het gedink ek kan haar help aangesien sy nog so jonk en onvervare is.”
“Dis ook nie jou domein nie. Het jy met haar gepraat oor die ete by die Van Schoors?”
Vir die eerste keer verloor sy haar selfversekerdheid. “Sy het my gebel, ja. Wou raad hê.”
“Watse soort raad?”
Sy kyk na haar naels en stof iets van haar lapel af. “Sy was nie seker wat formeel beteken nie. Dis wat ek bedoel met onervarenheid.”
“En wat het jy vir haar gesê?”
“Wat dit beteken. Dis al. Regtig, Pieter, ek het jou nog nooit rede gegee om my so uit te trap nie. Ek is nie ’n skoolkind nie en ek het nog altyd my bes gedoen om jou tevrede te stel.”
“Ek weet,” erken hy. “Maar ek voel ek moet jou dalk net inlig dat as ek ooit moet agterkom dat jy moeilikheid gemaak het of iets gedoen het om my vrou ongelukkig te maak, jy nie langer hier ’n werk sal hê nie. Ek waarsku jou betyds. My privaat lewe het niks met jou te maak nie, hoe behulpsaam jy ook al is.”
“Ek het net probeer help,” sê sy weer. “En dis nie asof dit ’n regte huwelik …”
Hy leun vorentoe, ’n gevaarlike blik in sy oë. “Wát het jy gesê? Wie is jy om oor so iets te oordeel?”
“Ag, kom nou, Pieter,” sê sy smalend. “Ek was deel van die eerste grap sowel as die tweede. Wat verwag jy?”
“Dit was nie ’n grap nie!”
Haar oë vlam. “Wil jy vir my vertel ’n man soos jy, iemand in jou posisie, iemand van jou statuur, sal sommer val vir enige rylopertjie wat voor jou kar instap? Moenie verwag ek moet dit glo nie. Jy sal iemand kies wat pas by jou status, wat jou kan bystaan in jou werk.”
“Hoe weet jy sy het voor my motor ingeloop?”
“Honderde mense het dit gesien! Dink jy ek is onnosel?”
Hy sit na haar en kyk, sy woede skielik weg. “Weet jy,” sê hy geselserig. “Maja weet nie eers wat ek doen nie. Sy stel nie belang nie. Status en statuur en posisie en al hierdie woorde wat jy so rondgooi, beteken vir haar net mooi niks nie.”
“Dis duidelik,” sê sy snydend.
Hy kyk af na die papiere voor hom en tel sy pen op. “Ek dink jy moet maar jou bedanking instuur,” sê hy sonder om weer op te kyk. “As jy ’n getuigskrif nodig het, moet jy sê, ek sal vir jou een gee. Met jou werk kon ek nog nooit fout vind nie en ek is bereid om dit te sê.”
“Pieter!” sê sy. “Wat van vier jaar se …”
“Dit sal handig te pas kom in jou volgende pos,” sê hy. “As jy my nou sal verskoon, ek het werk om te doen. Ek sal jou aanraai om in jou volgende werk versigtiger te wees. Om in te meng in jou werkgewer se persoonlike lewe is gevaarlik.”