Читать книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux - Страница 10

Hoofstuk 7

Оглавление

Na die week in Praag vlieg hulle Londen toe en dit geniet Victoria net soveel. Daar is nie weer etes waar sy moet by wees nie en in Londen sien Roland haar feitlik net soggens vroeg wanneer hulle ontbyt eet. Hy dring daarop aan dat sy hier vir haar klere koop, en vermoedelik doen sy dit, alhoewel hy nooit sien wat sy gekoop het nie. Terug in Suid-Afrika is sy daaglikse roetine van so ’n aard dat hy haar ook nie veel sien nie.

Die somer is aan die verbygaan en dit word koeler. In die huis sien Roland klein dingetjies wat verander. ’n Nuwe groepering van meubels in die sitkamer, ’n mooi lamp wat ’n oue vervang, nuwe gordyne op die sonstoep, nuwe kussings op die banke. Dis nie dramatiese veranderinge nie, maar dit laat die huis mooier lyk. Wanneer hy dit vir Victoria noem, lyk sy ingenome en verseker hom dat dit nie baie kos nie.

“Ek gee nie om wat dit kos nie,” sê hy vir haar. “As jy iets wil koop, moet jy dit doen. Jy maak my lewe soveel makliker.”

“Ja, maar wat help dit?” vra sy.

“Wat bedoel jy? Natuurlik help dit! Ek hoef nooit meer aan die huis of tuin of kos of enigiets te dink nie.”

“Ja, maar dis nie asof jy tyd gewen het nie,” verduidelik sy. “Dis nie asof jy nou langer by die huis kan ontspan of swem of gaan fliek nie, jy werk net meer.”

“Maar dis wat ek wil doen!”

Sy haal haar skouers op. “Dis wat ek bedoel.”

Hiermee moet hy tevrede wees, want sy wei nie verder uit nie.

’n Week of twee later word hy tot sy sinne geruk toe Peter besorg vra hoe dit nou met Victoria gaan.

Roland kyk op van sy rekenaarskerm. “Hoekom vra jy?”

“Toe ek gister daar was met haar nuwe identiteitsdokument was sy regtig koorsig.”

“Koorsig?” vra Roland verbaas. “Jy bedoel siek?”

Peter kyk hom kwaai aan. “Regtig, Roland, ek weet jy’s besig en sien haar maar min, maar jy behoort darem te weet wanneer sy siek is.”

Daardie middag trek Roland vir die eerste keer in ’n lang ruk vyfuur sy kantoordeur agter hom toe. Toe hy Victoria nie in die kombuis kry nie, gaan soek hy haar in haar kamer. Sy lê opgekrul in haar bed, skynbaar aan die slaap, maar toe hy nader kom en oor haar buk, vlieg haar oë oop.

“Is dit al so laat?” vra sy verward. “Ek moes langer geslaap het as wat ek … Ek sal nou begin met aandete.”

“Victoria,” sê hy moedeloos en skuldig. “Hoekom het jy nie vir my gesê jy is siek nie? Los die kos, moet jou nie bekommer oor aandete nie.”

“Ek’s nie siek nie,” sê sy en sukkel regop. Haar wange gloei en haar oë het ’n onnatuurlike glans. “Dis net ’n verkoue. Die skielike koue van nou die dag – ek was in die tuin en het bietjie nat geword van die tuinslang en …”

“Was jy al by ’n dokter?”

“Nee, nee,” protesteer sy. “Dis niks nie.”

“Ons sal hoor wat die dokter sê.” Hy draai om.

“Roland,” protesteer sy. “Nee. Dokters doen nie meer huisbesoeke nie en ek …”

“Myne sal,” sê hy kortaf en loop in die gang uit.

Hy is reg, sien sy ’n halfuur later toe hy inkom, vergesel van ’n vriendelike, middeljarige man met ’n tassie in sy hand. Die dokter ondersoek haar, bevestig dat dit inderdaad net ’n slegte griep is en gee vir haar medisyne wat die simptome sal verlig.

“Sien jy,” sê sy verwytend toe Roland later weer alleen terugkom. “Dit was net ’n mors van geld.”

“Victoria,” sê hy streng. “Hou op om jou oor my geld te kwel. Ek sal besluit wat ’n vermorsing is en wat nie.” Hy gaan staan voor die venster, sy hande in sy sakke. “Ek voel baie sleg,” gaan hy voort. “Ek pas jou nie goed genoeg op nie.”

“Dis nie jou werk om my op te pas nie,” sê sy redelik.

Hy is op die plek kwaad. “Natuurlik is dit! Ek het nie eens geweet jy voel siek nie, maar Peter het.”

“Ag, Peter is ’n liewe ding,” sê sy.

Hy het nie geweet hy is in staat tot jaloesie nie. Dit sny soos ’n lem deur hom. Vir ’n oomblik voel hy wrewelrig teenoor sy heel beste vriend, maar hy hou hom in. “Ja, hy is,” sê hy kortaf.

“Jy moet liewer nie hier staan nie,” sê sy. “Nou-nou steek ek jou aan.”

“Onsin. Ek word nooit siek nie.”

“Ek ook nie.”

Hy haal sy hande uit sy sakke. “Jy is seker dors. Wat kan ek vir jou bring?”

Sy wil eers bedank, maar sien hoe seergemaak hy lyk. “Tee sal lekker wees, dankie.”

“En om te eet?”

“Ek is nie eintlik honger nie.”

“Maar het jy al vandag geëet?”

Sy skud haar kop. “Ek het biefstuk uitgehaal vir vanaand. Ek sal dit vir jou kom braai.”

“Jy sal niks van die aard doen nie. Ek is nie hulpeloos nie.” Hy verdwyn weer en bly so lank weg dat sy begin wonder of hy weet hoe om die ketel aan te skakel, maar toe hy weer inkom, dra hy ’n swaar skinkbord. Hy dra nie meer sy pak nie, maar ’n langbroek en trui.

“Ek het vir jou roosterbrood gemaak,” sê hy ongemaklik.

“Dis vriendelik van jou.” Sy sit regop, skik die kussings agter haar rug en eet dapper die effens verbrande roosterbrood en kaas wat hy vir haar gee. Die tee is baie lekker en hy drink ’n koppie saam met haar, al is sy seker hy sou liewer nou ’n glas wyn wou gehad het.

“Dankie,” sê sy toe sy klaar is en hy die skinkbord aanvat. Sy lê moeg agteroor. “Ek gaan nou weer slaap, as jy nie omgee nie.”

Net voordat hy die deur agter hom toetrek, praat sy weer. “Jy’s ook ’n liewe ding, Roland.”

Hy kyk verras om na haar, maar haar oë is toe en sy het skuins gedraai teen die kussing.

As hy egter gedink het hy gaan nou minder skuldig voel, is hy verkeerd. Hy is pas in die kombuis toe die telefoon lui. Dis ’n onbekende vrouestem.

“Goeienaand,” sê sy. “Is dit moontlik om met Victoria te praat?”

“Sy slaap,” sê hy. “Ek wil haar nie nou wakker maak nie. Kan ek ’n boodskap neem?”

“Dis Marlise. Haar suster. Jy is seker Roland? Ek wou net hoor hoe dit met Vicky gaan.”

Roland staar na die gehoorbuis. Weet almal behalwe hy dat Victoria siek is? “Die dokter was netnou hier,” sê hy. “Dis net griep, maar hy het medisyne gegee.”

“Ek is bly,” sê sy. “Ek het gewonder hoekom jy haar nog nie by ’n dokter gehad het nie. Al word sy nie dikwels siek nie, het sy ’n geneigdheid om ’n verkoue te kry wat net so omsit in longontsteking. Die laaste keer was sy tien dae in die hospitaal en ons het op ’n tydstip gedink … wel …”

Roland weet glad nie wat om te sê nie. Hy voel net weer van voor af verlam deur skuldgevoelens. “Ja,” sê hy uiteindelik. “Ek hou haar dop.”

Marlise se stem klink vriendeliker. “Dis darem hoog tyd dat ons mekaar ontmoet. Ek moet Woensdag by die ginekoloog wees en Eric, my man, het gesê hy sal my neem. Dis eintlik ook wat ek met Vicky wou bespreek het, want …”

“Ons wil julle baie graag sien,” sê hy. “Wil julle nie Woensdagaand hier oorslaap nie?”

“Wel, ja,” sê sy verras. “Dankie, maar net as Vicky beter is.”

“Ek sal sorg dat sy haar nie ooreis nie,” belowe hy en bedoel dit. “Ek en … e … Sara kan sorg dat alles reg is vir julle koms.”

Toe hy so teen tienuur weer by Victoria gaan inloer, kom sy net uit die badkamer. Haar wange is nog onnatuurlik rooi, maar dit lyk asof die slapie gehelp het.

“Het jy iets nodig?” vra hy. “Water? Lemoensap?”

“Nee, dankie.” Sy stap terug bed toe, sien nie haar pantoffels op die mat lê nie en struikel daaroor. Sy probeer haar balans herwin, maar miskien omdat die medisyne haar reaksie vertraag, slaag sy nie daarin nie en val half teen die bed.

“Victoria!” Roland is in een beweging by haar. Hy steek sy hande onder haar in en lig haar op. Sy is glad nie swaar nie, dink hy deurmekaar, en sy ruik na babapoeier of … of so iets.

“Jinne,” sê sy dronkerig en skud haar kop. “Wat het jou dokter my ingegee?”

Hy lê haar op die bed neer en trek die beddegoed oor haar. “Moenie opstaan nie,” sê hy ru. “Roep my.” Haar hare het oor haar gesig geval en hy vee dit versigtig weg.

“Ek wens jy wil dit vasmaak,” sê sy klaend. “Dis al in my nek.” Sy beduie na die spieëltafel, waar hy ’n borsel en ’n soort rekkie sien lê.

Dis vir hom ’n totaal nuwe ervaring om ’n vrou se hare te borsel en hy is nie baie handig nie. Sy lag, neem die borsel by hom en trek die hare vas om dit in ’n poniestert te bind.

Roland is totaal ontsenu. Hy weet nie waar die vreemde begeertes vandaan kom nie, want hy wil haar optel en op sy skoot hou en oor haar hare streel en …

“Marlise het jou gebel,” sê hy in ’n poging om sy gedagtes by die alledaagse te bepaal. “Jou suster. Sy en haar man kom Woensdagaand hier slaap. Ek en Sara sal sorg dat alles reg is vir hulle. Jy mag nie …”

“Teen Woensdag is ek lankal gesond,” sê sy vaak.

“Ek hoop so.”

“Was Marlise kwaai met jou?” vra sy en gee ’n slaperige glimlag.

“Ja, nogal, maar sy het goeie rede. Sy sê jy kry maklik longontsteking.”

“Ag,” klik sy haar tong. “Dit was lank terug.”

Die volgende oggend lyk sy beter, maar Roland maak ’n punt daarvan om vir Peter te noem dat die dokter by Victoria was en dat dit net griep is. Peter sê niks nie, maar die kyk wat hy Roland gee, spreek boekdele. Daardie middag en die volgende gaan Roland vroeg huis toe.

Victoria kyk hom tergend aan toe sy hom weer so vroeg by die huis sien. Sy het nog ’n effense hoesie en loopneus, maar origens is sy haar gewone bekwame self. “Het iemand jou laat skuldig voel?” vra sy waar sy in die kombuis staan en werk.

“Hoekom?” skerm hy.

“Dis die derde dag dat jy so vroeg huis toe kom.”

“Ek wou vroeg huis toe kom.”

“Moenie dat hulle dit aan jou doen nie,” sê sy simpatiek. “Ek en jy weet tog wat die situasie is en dit pla ons nie. Wat ander mense dink, maak nie regtig saak nie.”

Hy dink aan haar woorde toe hy Woensdagaand by die huis kom en vir Marlise en Eric ontmoet. Hy en Eric kom dadelik goed oor die weg en alhoewel Roland niks van boerdery af weet nie, stel hulle al twee belang in finansies en ekonomiese tendense. Marlise is ’n ander saak. Sy lyk asof sy eers sy vingerafdrukke wil neem voordat sy met hom praat. Sy luister aandagtig as hy iets sê en hou hom en Victoria met valkoë dop. Dit inhibeer hom so dat hy te bang is om met Victoria te praat, doodseker dat haar suster dit verkeerd sal vertolk.

Selfs Victoria kom dit agter. Toe sy en haar suster na ete in die kombuis staan en koffie maak, kyk sy Marlise kopskuddend aan. “Jy kan maar ontspan, sus,” maan sy. “Roland is nie ’n ontsnapte misdadiger nie.”

“Ek wil weet hoekom hy met jou getrou het.”

Victoria sug. “Ek het jou mos gesê. Ek wou hê wat hý my kon aanbied en omgekeerd, en dit werk uitstekend.”

“Behalwe as jy siek word of so iets.”

“Nee, dan ook,” sê Victoria ferm. “Hy het die dokter laat kom, al was dit glad nie nodig nie. Ek kom niks kort nie. Ontspan gerus.” Om die onderwerp te verander, begin sy haar suster uitvra na haar toestand en wat die ginekoloog gesê het.

Marlise verseker haar dat alles doodnormaal is en dat die dokter baie tevrede is. En dit bring haar dadelik terug by haar oorspronklike onderwerp. “Sê nou jy wil kinders hê?” vra sy vir Victoria.

Haar suster kry ’n kleurtjie en hou haar besig met die koppies. “Nee wat, dis nie nou … e … ter sake nie.”

“En oor ’n jaar? Of twee jaar? Jy’t jou in so ’n onnatuurlike situasie ingedompel, en wat gaan jy doen as jy eendag van plan verander, of iets meer normaals wil hê?”

“Roland sal my nooit dwing om by hom te bly nie.”

“O nee? Solank jy net vir hom ’n ander huishoudster kry?”

Victoria kyk haar kwaai aan. “Moenie jou oor ons kwel nie, sus. Ek weet wat ek doen en ek is nie sy huishoudster nie. Gaan gesels liewer met Roland en leer hom ken.”

Maar haar hart voel swaar toe sy met die skinkbord sitkamer toe stap. Sy moes nooit vir Marlise vertel het nie, dan was sy nie nou so vyandig nie.

Hulp kom egter uit ’n onverwagse oord. Sy het skaars die skinkbord neergesit toe die deurklokkie lui en die volgende oomblik kom Karien, hul jongste suster, letterlik ingewarrel.

“Ek het geweet julle is almal vanaand hier,” jubel sy op haar gewone uitbundige, impulsiewe manier. “En ek besluit toe net om oor te ry.” Sy soen haar susters en swaer, knip haar mooi blou oë en staar bewonderend na Roland. “Vicky,” sê sy. “Maar hy’s pragtig! Hoekom het jy my nie gesê nie?”

Marlise spreek haar streng aan en Victoria glimlag net verleë, maar Roland bars uit van die lag en soen Karien op haar wang.

“Wat ’n verrassing,” sê hy. “In een aand ontmoet ek al Victoria se susters. Nou ken ek die hele familie.”

Marlise kyk vraend na Victoria. “Roland het vir Pa in die Kaap gaan opsoek,” verduidelik sy vinnig, en Marlise lyk vir die eerste keer minder krities.

Victoria gaan kombuis toe om nog ’n koppie te kry en toe sy terugkom, is daar nog ’n nuwe gas. Peter, onbewus daarvan dat dit ’n familiebyeenkoms is, het net ’n belangrike dokument vir Roland gebring.

In haar hart sê Victoria ’n dankgebedjie op. Wat eers ’n stywe geleentheid was, is nou skielik ’n baie vrolike aand. Karien kan nie stram wees nie, al betaal jy haar, en sy terg en lag en vertel universiteitstories, flankeer openlik met haar goedige swaer Eric en meer subtiel met Roland, en skiet belangstellende blikke in Peter se rigting. Hy was eers nie van plan om te sit nie, maar na vyf minute in Karien se geselskap aanvaar hy Victoria se uitnodiging vir koffie en maak hom tuis. Marlise lyk vir hom heeltemal anders as Victoria, maar Karien lyk na ’n jonger weergawe van haar. Sy het dieselfde steil donker hare, maar haar oë is blou.

Roland gaan help vir Victoria om nog koffie te maak en hy kan nie help om te sien hoe verlig en ontspanne sy skielik lyk nie.

“Jy moet jou nie kwel nie,” sê hy half ongemaklik. “As mense … as familie mekaar vir die eerste keer ontmoet …”

Sy swaai om en kyk na hom met haar groot grys oë. “Ek wil hê hulle moet van jou hou.”

“Ag,” sê hy. “Dis nie belangrik nie.”

“Ja, dit is. Ek hou nie daarvan dat Marlise na jou kyk asof jy my ontvoer het of teen my sin gevange hou of … so iets nie.”

“Karien hou darem van my,” sê hy tergend.

“Sy hou van mooi mans,” antwoord sy nugter.

Hy voel buite verhouding gevlei. “Mooi? Jy dink tog nie ek is mooi nie?”

“Nee, dis nie die woord wat ek sou gebruik nie,” sê sy. “Maar jy’s nie lelik nie. Ek kan sien Karien kyk met nuwe oë na my – ek is nie meer haar outydse suster nie.”

Hy lag. “Ek hou van outydse susters.”

Sy word bloedrooi en draai gou om na die koffiemasjien. “Ek sal e … die koffie bring.”

Maar hy loop nie. Hy vou sy arms en leun teen die kombuiskas. “Sy en Peter kom nogal goed oor die weg. Hoe oud is Karien?”

Sy lag. “Sy’s twee-en-twintig en in haar finale jaar, maar sy het nog nooit vir langer as ses maande van een man gehou nie. Peter sal uitsonderlik moet wees as hy haar aandag vir langer as ’n paar weke kan hou.”

Sy oë vernou effens. “Dink jy nie hy is uitsonderlik nie?”

Sy hou haar rug na hom gekeer. “Ek dink hy is baie gaaf. Ek sal liewer nie uitspraak lewer oor sy vermoë om ’n meisie se aandag te hou nie.”

“En wat hou jou aandag?” vra hy.

Sy mors ’n bietjie koffie op die toonbank en soek na ’n lap om dit op te vee. “Ek weet nie wat jy bedoel nie.”

“Presies wat ek vra. Waarna soek jy in ’n man?”

Sy lag senuagtig. “Dis ’n vreemde vraag – jy’s dan met my getroud! Maar as jy regtig wil weet: ek hou nie van wreedheid en ongevoeligheid nie. Ek hou nie daarvan dat iemand vir my jok nie. Ek wil nie seergemaak word nie.”

Hy staan effens nader asof hy aan haar sou wou raak. “Hoe kan iemand jou seermaak, Victoria?”

Sy kyk vlugtig na hom, ontmoet sy blik ’n oomblik lank voordat sy die koffiepot optel en deur toe begin loop. “Jy sal jou verbaas hoe maklik dit is.”

Christine le Roux Keur 2

Подняться наверх