Читать книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux - Страница 4

Hoofstuk 1

Оглавление

Roland Meyer stap uit op die stoep van sy gasheer se huis. Hy vee oor sy klam voorkop en haal diep asem. Agter hom hoor hy die sagte dreuning van stemme en nou en dan die fyner geluid van ’n vrou wat lag. Hy stap weg van die oop glasdeur na die punt van die stoep, waar rankplante voor die buitelig die stoep in relatiewe donkerte hul.

Hy is nie nou lus om verder te gesels nie. Hy is moeg. Dit was ’n lang dag. Maar die kos was uitstekend; hy het nie geweet Esmie kan so lekker kook nie.

Hy struikel skielik oor ’n paar uitgestrekte bene.

“Ekskuus tog,” sê hy. Hy herwin sy balans en tuur in die donkerte om te sien oor wie hy geval het. Al wat hy kan sien, is ’n wit, hartvormige gesig, omraam deur die omringende duisternis.

“Dis oukei,” sê ’n meisiestem gerusstellend. “My been is darem nie gebreek nie.”

Sy oë is nou gewoond aan die skemerte en hy kyk fronsend na die meisie wat op die stoepmuurtjie sit, haar bene voor haar uitgestrek. Hy kan nie onthou dat hy haar in die huis gesien het nie. Haar hare is in ’n poniestert vasgevang, maar daar het ’n paar haartjies losgekom wat nou los om haar gesig hang. Sy lyk moeg en warm.

“Ek het net bietjie koelte kom soek,” sê sy verskonend. “Dis onmoontlik warm in die kombuis.”

Nou verstaan hy. ’n Kelnerin. “Ja, dis warm,” sê hy beleef.

“Het julle lekker geëet?” vra sy gesellig.

“Onverbeterlik,” sê hy, nie regtig lus om met die kombuispersoneel te staan en praat nie. “Esmie het haarself oortref.”

“Ek het die kos gemaak,” sê sy.

Hy kyk met verskerpte belangstelling na haar. “Het jy? Esmie het al die komplimente aanvaar asof dit haar handewerk was.”

“Ja, hulle doen dit gewoonlik. Ek gee nie om nie. Dis hoekom hulle my kry.”

“Is jy die spysenier?”

“Jy kan dit so noem. Dis my stokperdjie en groot liefde.”

“Om ander mense se etes vir hulle te kook?”

“Ja.”

“Jy’t talent,” sê hy.

“Ek weet,” antwoord sy onverstoord. Sy steek haar hand uit. “My naam is Victoria Malan.”

Hy skud haar hand. “Roland Meyer.”

Sy draai haar kop weg en kyk uit oor die tuin wat subtiel belig word deur die versteekte lamp. “Jy hoef nie met my te praat nie,” sê sy. “As jy alleen hier kom staan het, beteken dit jy’s lus om op jou eie te wees. Ek kan dit verstaan. Julle klets so ongelooflik terwyl julle eet, mens kan jouself nie hoor dink nie.”

“Ek klets nie!”

“Maar ek wed jy’t aanmekaar gepraat.”

“’n Mens moet,” sê hy verontwaardig. “Jy’s dit aan jou gasheer verskuldig. Jy kan nie met ’n mond vol tande daar sit nie, en buitendien is almal sakekennisse en ek wil …”

“Toemaar,” val sy hom in die rede. “Jy hoef jou nie te verdedig nie.”

“Ek verdedig my nie.” Hy kom tot verhaal. “Ek dink ek moet teruggaan. Jy seker ook.”

“Nee,” sê sy saaklik. “My assistent ruim op. Jy dink tog nie ek gaan al die skottelgoed ook was nie?”

“Ek dink niks nie,” verseker hy haar.

Sy staan op. “Ek moet seker ingaan. Ek het vir mevrou Beyers gesê ek loop halftwaalf. Sy moet my net betaal, dan is ek weg.”

Hy bekyk haar. Hy kan nie presies sien wat sy aanhet nie, maar dis ’n donker, totaal vormlose kledingstuk wat haar van haar nek tot haar enkels bedek. Al wat van haar sigbaar is, is haar gesig en hande.

“Net ’n oomblik,” sê hy. “Ek soek al lankal na ’n spysenier, want ek moet ook een of ander tyd ’n ete gee. Is jy baie vol bespreek, of …”

Sy vroetel in haar sak en haal ’n effens verfrommelde kaartjie uit. “Hier. Dis my naam en telefoonnommer. Bel as jy op ’n datum besluit het, dan kan ons die spyskaart bespreek.” Dan verdwyn sy om die hoek en die donkerte sluk haar in.

Effens geamuseer draai hy om en stap terug na die benoude eetkamer, waar die mense dadelik op hom toesak en sy aandag opeis.

Dis ’n hele paar weke later toe hy weer die kaartjie in sy baadjiesak ontdek en sy sekretaresse inroep.

“Mevrou Steyn,” sê hy. “Hoe lyk my program vir die volgende paar weke? Ek wil ’n ete gee.”

Sy slaan haar dagboek oop en begin deurblaai. “Volgende week gaan u China toe en kom eers die vyftiende terug. Die eerste geleentheid daarna …” Sy blaai weer om. “Die naweek van die dertigste is oop.”

“H’m,” sê hy. “Dis oor vier weke. As ons die uitnodigings vinnig kan uitstuur …” Hy gee Victoria se kaartjie vir haar. “Dit is die naam en nommer van ’n spysenier. Sy kook wonderlike kos.”

Die oomblik toe mevrou Steyn weg is, buk hy oor die werk voor hom en vergeet van alles. Dan lui die telefoon.

“Ja?” vra hy geïrriteerd.

Dis mevrou Steyn. “Ek het juffrou Malan op lyn twee. Sy wil met u persoonlik praat.”

Hy druk ’n knoppie op sy instrument, ’n diep frons tussen sy wenkbroue. “Juffrou Malan? My sekretaresse sal …”

“Gaan sy saam eet?” vra sy saaklik.

“Wel, nee, maar …”

“Dis jý wat moet besluit wat julle gaan eet,” sê sy. “Ek kook nie sommer net ’n spul kos en sit dit op die tafel nie. ’n Mens moet mense se voorkeure in ag neem. Wie is jou ander gaste? Het iemand dalk ’n allergie vir iets? ’n Voorkeur of afkeur?”

Hy sug en wens vir die honderdste maal hy het ’n vrou gehad om hierdie soort ding te hanteer, maar hy bedwing hom en spreek af om haar die volgende dag vir middagete te ontmoet.

Toe Roland die volgende dag op die terras van die restaurant naby sy kantoor vir Victoria sit en wag, wonder hy of hy haar sal herken. Maar hy wonder verniet, want sy lyk presies soos sy daardie aand gelyk het. Ten spyte van die hitte dra sy nie soos die ander meisies ’n bont somersrokkie nie, maar ’n lang donkerbruin rok wat tot op haar enkels hang. Sy dra ook geen grimering nie en haar hare is weer eens in ’n poniestert gebind. Die enigste tooisel is ’n paar enorme goue oorringe wat tot byna op haar skouers hang.

“Haai,” sê sy, steek haar hand formeel uit en sak dan in die stoel oorkant hom neer. “Net ’n slaai en sodawater vir my, dankie.”

“Is jy seker?”

“Ek het vanoggend baie geëet,” sê sy. “Normaalweg hou die gasvrou al die kos wat oorbly, maar gisteraand s’n het met vakansie vertrek en ek moes alles huis toe neem. Die salmmousse het gesmelt, maar Catharina het nie omgegee nie.”

“Wie’s Catharina?” vra hy nadat hy hul bestelling geplaas het.

“My kat. Sy leef van oorskiet en flops.”

“Maak jy dan soms … e … flops?”

“Nie dikwels nie,” sê sy. “Maar met hierdie hitte is dit ’n gesukkel. ’n Koue sop om mee te begin, dink ek. Komkommer.”

Hy lyk onthuts. “Jy’t dan nou net gesê jy wil slaai hê?”

“Ek praat nie van nou nie, ek praat van jou ete. Al is daar ’n donderstorm, gaan dit nie sommer koud word nie.”

“Nee,” sê hy verward.

“En vir die hoofgereg?” Sy rammel ’n paar moontlikhede af nadat sy ’n effens gehawende notaboek uit haar groot skouersak gehaal het en iets daarin neergeskryf het.

Hy kies ’n hoofgereg en sy skryf dit ook neer. Die kelner het intussen haar sodawater voor haar neergesit en sy drink dorstig ’n paar slukke voordat hulle op die nagereg besluit.

“En jou adres?” vra sy en kyk vraend op.

Sy het baie mooi oë, besef hy. Iets tussen grys en groen. Vreemd saam met die donker hare. “E … ja,” sê hy en gee dit vir haar.

“Ek verkies om die kos in jou kombuis te kom maak,” sê sy saaklik. “Behalwe nou vir die goed wat ek voor die tyd kan regkry. Om alles in my ou kombuisie te maak en dan te vervoer, lei tot die vreeslikste gemors. Ek hou ook nie daarvan om byvoorbeeld vleis weer te moet opwarm nie, en die gefoeter met bakke en potte in die kar is iets ysliks. My kar ruik nou nog na tamatiepuree.” Sy begin eet aan haar slaai. “Dit was nie my skuld nie en ek het dit ook vir die verkeerskonstabel gesê. Die vroumens het net eenvoudig stilgehou en ek kon nie uitswaai nie, anders het ek die seun op die fiets getref. Maar jy kan dink wat gebeur het toe ek teen haar buffer vasry. Hulle het gedink dis bloed.”

“Wat?” vra hy gefassineer.

“Die tamatie. Dit was orals, glo my, want ek het die bak op die agtersitplek neergesit en dit skiet toe natuurlik vorentoe.”

“Liewe aarde,” sê hy.

“Daarom verkies ek om jou kombuis te gebruik. Dit maak dit ook makliker as ek jou bakke en skottels kan gebruik – minder skottelgoed om mee te begin.”

“Natuurlik. Ek vertrek volgende week China toe, maar ek sal die week voor die ete terug wees. Ek het ’n huishulp wat voltyds daar is. Jy kan met haar afspreek.”

“H’m,” sê sy deur ’n mond vol slaai. “Lekker slaai. As mens jou besig hou met kos, smaak ander mense se kos altyd lekker.”

“Ek sou dink jy sal baie krities wees.”

“Nee wat.”

Hy eet sy omelet in stilte. “Jy sal seker vroeg die oggend al begin?”

“Ha!” sê sy. “Net omdat dit op ’n Saterdag is, ja.”

Hy draai sy kop skuins. “Wat is dit veronderstel om te beteken?”

“Ek werk; ek kan nie sommer dae afvat nie. Ek probeer altyd vroeg loop as ek ’n ete het, maar die groot werk doen ek soggens vroeg of in my etenstyd.”

“Jy werk,” herhaal hy. “Watse werk?”

“Verskriklik vervelige werk,” sê sy. “In ’n kantoor, maar mens kan nie kieskeurig wees nie. Water en ligte en goed moet betaal word.”

“Maak jy nie genoeg uit jou spyseniering nie?” Hy dink aan die kwotasie wat sy gegee het. Sy is nie goedkoop nie.

“Dis te wisselvallig. Mens werk vir ’n hele klomp weke jou e … as af, en dan is daar skielik niks nie. Wie gaan die huur betaal as die mense ophou etes gee?”

“Dis seker waar.”

“Ek meen,” gaan sy voort, “gaan jy elke maand ’n ete gee?”

“Nie as ek dit kan verhelp nie.”

“Presies. Dis wat ek bedoel. Mense werk op skuldgevoel. Hulle word ’n klomp kere uitgenooi en op ’n dag besef hulle dis hulle beurt, as hulle nie nou iets doen nie verloor hulle al hul vriende.”

“Ek veronderstel so, ja.”

“Dit ís so,” sê sy beslis. “Dan doen hulle wat jy nou doen. Hulle nooi gou almal vir wie hulle etes skuld, en as dit verby is, slaak hulle ’n sug van verligting dat dit verby is en dink nie weer daaraan voor oor ’n jaar nie. En intussen moet ek aan die lewe bly.”

“Jy het my oortuig,” sê hy geamuseer en kyk op sy horlosie. “Wil jy koffie hê?”

“Ja, dankie.” Sy kyk skeef op deur haar dik wimpers. “Al wens jy seker ek wil nee sê omdat jy haastig is.”

“Ek het dit nie gesê nie!” protesteer hy.

“Jy hoef nie.” Sy vee die los hare van haar voorkop af. “Dis oukei, jy kan maar gaan, solank jy net nie die rekening vir my los nie.”

“Ek was nie van plan om dit te doen nie,” sê hy ontstoke. “Watse soort man dink jy is ek?” Hy roep die kelner nader en bestel twee koffies net om haar te wys.

Sy kyk af na haar notaboek. “So. Agtien mense. As die getal verander, moet jy my dadelik laat weet. Die nagereg word in individuele bakkies gemaak en as daar te min is, gaan jy simpel lyk.”

Hy byt op sy tande. “My sekretaresse sal jou laat weet.”

“En is die blomme ingesluit, of kry jy iemand anders om dit te doen?”

“Blomme?” Hy voel moedeloos.

Sy skryf iets neer. “Oukei, ek doen dit. Een groot rangskikking vir die portaal, een in die sitkamer en een op die tafel self. Is dit reg, of wil jy meer hê?”

“Nee, dit klink reg.”

“Het jy blomme in die tuin?”

“Ja,” sê hy verras. “Ek het nogal. Daar’s baie rose, weet ek.”

“Jy’s nie die tuinier nie,” merk sy op.

“Nee, ek is te min by die huis, maar ek het ’n tuinier.”

“Ek sal die dag voor die ete ’n draai daar kom maak,” sê sy en gooi twee lepels suiker in haar koffie. “Ek verkies dit buitendien so. Dan kan ek die tafel klaar dek en miskien die blomme doen. En ten minste sien wat nodig is en wat nie. Het jy genoeg borde en messegoed?”

“Ja.”

“En is die tafel groot genoeg, of moet ek las?”

“Las?”

“Twee of meer tafels teen mekaar stoot. Of aparte tafels dek,” verduidelik sy geduldig.

“O, nee, daar is een tafel wat kan vergroot.”

“Uitstekend. En hoeveel kelners wil jy hê?”

“Twee is seker genoeg?”

“Oukei.” Sy skryf dit neer. “Hulle is studente,” sê sy. “Maar ek het hulle goed opgelei en hulle’t die sakgeld nodig.” Sy kyk hom goedig aan. “Jy kan my met ’n tjek betaal, want soos ek netnou gesê het, ek het darem werk en sal nie vergaan as jou tjek hop of so iets nie.”

“My tjeks hop nie!”

“Ek noem dit maar net,” sê sy onverstoord. “Maar die kelners wil graag kontant betaal word. Jy weet hoe gaan dit met studente, altyd platsak.”

“Reël dit met mevrou Steyn,” sê hy. “Ek het regtig te veel om aan te dink met die besoek aan China op hande.”

“Natuurlik,” sê sy vriendelik en drink haar koffie klaar. “En ons is almal sober.”

“Sober?”

“Ons drink nie,” verduidelik sy asof hy ’n kind is. “Ek het al ’n stel afgetrap met ’n kelner wat elke halfvol glas in die kombuis leeggedrink het. Man, hy kon nie eens die skinkbord met koffie indra nie.” Sy lag by die herinnering. “Het alles op die vloer laat afgly. Gelukkig nie op die mat nie! Daar was ’n stuk vloer net voor die mat begin, maar al die koppies was stukkend.” Sy skud haar kop en sug. “Ek moes die helfte van my fooi inboet, want die gasvrou wou my vermoor.”

“Jy lei ’n interessante lewe,” sê hy droog en beduie vir die kelner hy kan maar die rekening bring. “Tamatiesous oor jou motor en koffie op die vloer.”

“O, ek kan baie stories vertel,” sê sy. “Die beste een was toe ’n man skielik gestik het. Ek weet nou nog nie hoe dit gebeur het nie, ek het elke liewe stukkie been uit daardie hoender gehaal. Gelukkig het ek net buite die deur gestaan en wag, want almal het net geskree en rondgehardloop.”

“Laat ek raai,” sê hy. “Jy het sy lewe gered.”

“Natuurlik. En hy was nogal geset. Dit was nie maklik om my arms om sy lyf te kry en te druk nie.”

Roland sit sy kredietkaart bo-op die rekening neer en wys vir die kelner hy moet gou maak. “En hy was jou ewig dankbaar?”

“Wel, hy’t ’n bos rose gestuur wat my hele kamer vol gemaak het,” sê sy. “En die gasvrou het ’n groot fooitjie bygesit.” Sy kyk Roland streng aan. “Mense wil ongesteurd eet, hulle hou nie van sulke dramas nie. Toe daardie stukkie vleis uit sy keel spring, het ek almal tot bedaring gebring. ’n Glas water, ’n vermaning om stadiger te eet en alles was verby. Rustig, asof niks gebeur het nie.”

Roland teken die strokie, sit sy kredietkaart in sy sak en staan op. “Dis gerusstellend om te weet jy gaan nie net na die kos omsien nie, maar ook na die welsyn van my gaste. As daar nog iets is, bespreek dit met mevrou Steyn.”

“Dankie vir die slaai,” sê sy. “En geniet China.”

Hy kyk met opgetrekte wenkbroue na haar. “Geniet? Dis nie die doel van die besoek nie.”

“Oppas vir die kos,” sê sy vermanend. “Hulle eet snaakse goed. Slange en drake en honde en ape.”

Maar hy hoor haar nie meer nie. Na ’n vinnige blik op sy horlosie verdwyn hy tussen die mense en stap haastig na sy kantoor toe vir sy volgende afspraak.

Christine le Roux Keur 2

Подняться наверх