Читать книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

Roland dink nie weer aan die ete nie. Dit is, soos Victoria gesê het, iets wat hy net doen omdat hy skuldig genoeg voel oor al die uitnodigings wat hy aanvaar. Normaalweg neem hy mense na ’n restaurant en hy weet ook daar word nie veel meer van ’n alleenloper verwag nie. Maar aan die ander kant, as hy iemand kan kry wat ’n ordentlike ete kan voorsit, hou mense tog meer daarvan. Hy kwel hom in elk geval nie langer daaroor nie en laat alles aan mevrou Steyn oor terwyl hy voorbereidings tref vir sy besoek aan China.

Hierdie taak word egter in die wiele gery deur sowel sy huishulp as sy tuinier. Om mee te begin, breek die tuinier sy arm en Roland moet hom hospitaal toe neem, reëlings tref vir sy versorging en iemand anders probeer kry om die tuin te versorg. En die oggend voor sy vertrek staan hy sommer by die kombuistoonbank en sluk ’n koppie koffie af toe Eva, sy huishulp, met ’n droewige gesig en die strykyster in haar hand na hom toe stap.

“Dis stukkend,” sê sy. “Hy wil nie warm word nie.”

Hy rol sy oë. “Eva, ek kan regtig nie nou iets daaromtrent doen nie. Bel vir mevrou Steyn.”

Sy lyk nie tevrede nie en sleep die stofsuier uit sy kas. “Hy’s ook nie reg nie,” sê sy somber. “Hy suig so tjie-tjie, asof hy iets in sy keel het.”

“Miskien het hy,” sê hy moedeloos. “Het jy al die pype uitmekaar gehaal en gekyk? Dalk sit daar iets vas, ’n papiertjie of so iets?”

Sy skud net haar kop en haal ’n stuk papier uit haar sak. “Die kos is ook klaar.”

Hy haal sy beursie uit en druk ’n klomp note in haar hand. “Gaan koop asseblief. Ek moet ry, anders verpas ek die vliegtuig.”

Vir die eerste paar uur op die vliegtuig tob hy bitter hieroor. Hy kán nie langer sy bedrywige sakelewe en die behoeftes van die huis hanteer nie. Om alles op mevrou Steyn se skouers af te skuif, is ook nie regverdig nie. Sy het haar hande vol met sy skedule en die hoë eise wat hy aan haar stel. Sy kan nie boonop sorg dat daar suiker in sy spenskas is nie.

Hy kyk op toe die sjarmante lugwaardin oor hom buig, haar blonde kapsel perfek, haar grimering foutloos, haar eweredige wit tande glinsterend tussen rooi lippe. Miskien moet hy haar vra of sy nie met hom wil trou nie. Vir ’n hofmakery het hy eenvoudig nie tyd nie, maar hy het ’n vrou nodig. Hy onderdruk die impuls, bestel iets om te drink en maak sy aktetas oop om voor te berei.

Vir die volgende twee weke vergeet hy van sy huis, maar toe hy moeg en vlugvoos by die voordeur instap, wag alles net so vir hom. Die lys goed wat verkeerd gegaan het, is so lank soos sy arm. Eva se gesig is een afkeurende frons. Dit het een nag verskriklik gereën en water het by die kombuisdeur ingestroom. Dit het gelukkig niks aan die teëlvloer gedoen nie, maar die gangmat is beskadig. Die warmwatertenk vir die kombuis het ’n defekte klep gehad, was vir vier dae buite werking en is pas eers herstel. Eva moes water in die ketel kook vir die skottelgoed. Josef, die tuinier, se neef sou in die tuin kom help het, maar het nooit opgedaag nie en die tuin was ’n oerwoud tot die vorige dag, toe ’n ander familielid ingespring het. Die mieliemeel is op, want die geld wat Roland gelos het, was nie genoeg nie. Die klagtes hou net aan en aan, en alhoewel Roland op sy kalender sien dat die ete al nader kom, word hy so besig gehou op kantoor dat hy saans laat eers by die huis kom en dan by Eva moet hoor wat alles kortkom.

“Ag tog,” sug hy toe hy die middag voor die ete by die huis kom en na Eva roep om te help om die kruideniersware uit sy motor se bak te haal. Hy kon kwalik die tyd afknyp, maar hy het tog supermark toe gegaan. Dit was ’n enorme irritasie. Blykbaar het die hele werkende bevolking van die stad dieselfde idee gehad, want die toue was ellelank. Om ’n supermarktrollie rond te stoot, is ten beste van tye nie sy idee van pret nie, maar op hierdie besondere Vrydagmiddag was dit ’n totale nagmerrie.

Hy loop reguit kamer toe, ruk sy das af en skop sy skoene uit. Dis broeiend warm en hy besluit om eers te gaan swem voordat hy enigiets anders doen of na verdere klagtes luister. Hy trek sy swembroek aan, vat sy handdoek en stap na die swembad, waar hy induik en heen en weer begin swem. Die water is koud en soos hy afkoel, begin hy meer mens voel. Moeg geswem, gryp hy na die rand van die swembad en wil net uitklim toe hy op ooghoogte ’n paar wit tekkies sien.

Hy skrik so dat hy weer onder die water ingly en proesend opkom.

Met een hand vee hy die water uit sy gesig en kyk op.

Dis die meisiekind wat die ete gaan kook. Sy dra ’n lang donkerrooi rok van een of ander baie ligte materiaal, want dit beweeg liggies heen en weer in die briesie. Op haar kop het sy ’n effens gehawende strooihoed. Die rand is geskeur en strooispriete hang af oor haar gesig. Sy het ’n enorme bos blomme in haar arms en kyk belangstellend af na hom.

“Hallo,” sê sy vriendelik.

Hy vee oor sy mond en klim uit. “Goeiemiddag.”

“Victoria,” sê sy behulpsaam. “Die ete môreaand.”

“Ek weet, ek weet.” Hy tel sy handdoek op en draai dit om sy middellyf. “Het jy toe blomme gepluk?”

“Ja. Jy was reg, jy het pragtige blomme. Ek wil net dié in ’n emmer gaan sit, dan gaan ek nog pluk. Loof ook. Dis nie nodig om blomme te gaan koop nie.” Sy stap by hom verby en verdwyn in die rigting van die kombuis.

Hy skud sy kop, veronderstel sy en Eva het al kennis gemaak en gaan haal ’n bottel koue witwyn uit die yskas. Toe hy terugkom by die swembad is sy ook weer in die tuin. Sy loop gebukkend van een roosboom na die ander.

“Wil jy ’n glas wyn hê?” roep hy.

Sy kyk op, snoeiskêr in die hand. “As jy die ander emmer vir my sal kry, ja. Dit staan net buite die agterdeur. Die een vol ys.”

Hy wil eers protesteer, nie gewoond daaraan dat iemand vir hom bevele gee nie, maar hy is ook nie lus vir baklei nie. Toe hy die emmer op die plaveisel neersit, kom sy nader, sit die bos rose versigtig in die koue water, vee haar hande aan haar rok af en kom sit by hom op die patio.

“Gesondheid,” sê hy en lig sy glas.

“Hoe was China?” vra sy.

“Baie besig.”

“Was jy in die Verbode Stad?”

“Ek was nêrens nie. Ek het niks gesien nie behalwe hotelkamers, kantore en konferensiesale.”

“Wat ’n vermorsing,” sê sy.

“Dis hoekom ek daar was,” sê hy half ergerlik. “Nie om toerisme te bevorder nie.”

“Bly ’n vermorsing,” sê sy gelykmatig. “Ek en Eva het na jou breekgoed en silwerware gekyk. Die silwer is alles pikswart en sy sê daar’s niks om dit mee skoon te maak nie.”

Hy is op die plek kwaad. “Hoekom het sy dit nie op die lysie geskryf nie? Ek het nou net ure lank in die ellendige supermarktou gestaan om alles te kry. Vandat ek teruggekom het, is dit al wat ek doen. Alles het gebreek terwyl ek weg was, alles het aandag nodig.”

“Mm,” sê sy.

“Ek het ’n koördineerder nodig,” sê hy bitter. “Ek het nie tyd vir hierdie onbenullighede nie. Ek is elke tweede week op reis en wanneer ek terugkom, is dit net klagtes van die môre tot die aand. Ek het nie tyd om in supermarkte te staan of strykysters reg te maak of enige sulke onsin nie. Normaalweg kom ek eers agtuur saans by die huis. Ek was seker ses jaar laas met vakansie.”

“Jy’t ’n vrou nodig,” sê sy.

“O, ja,” sê hy sarkasties en drink sy glas leeg voordat hy die bottel oplig en die glas weer volskink. “Maar dis makliker gesê as gedaan. Om ’n vrou te kry, moet jy iemand leer ken en haar uitneem en baie aandag aan haar bestee – en selfs al sê sy ja, gaan sy gou suur word as sy agterkom ek het net met haar getrou sodat ek my nie meer aan die huis hoef te steur nie. Ek het nie tyd om iemand die hof te maak nie.”

Die glas wyn laat hom effens lighoofdig voel omdat hy dit so vinnig gedrink het, maar hy gee nie om nie. Dis die eerste keer in weke dat hy stilsit en hy voel hy verdien dit. “Ek het dit ook al oorweeg om te adverteer: ‘Vrygesel soek eggenote om frustrasies van huishouding te hanteer. Goeie salaris, gratis inwoning, eie motor.’ ” Hy gee ’n onplesierige laggie. “O, en natuurlik die versekering dat sy geen emosionele eise mag stel nie.”

“Hoekom nie?” vra sy kalm.

“Ek het nie tyd daarvoor nie,” sê hy saaklik. “Ek wil nie een stel irritasies verruil vir ’n ander nie. Dis al erg genoeg dat Eva my inwag met stories van die suiker wat op is, of die stofsuier wat verstop is. Ek wil nie boonop ’n vrou hê wat my staan en verwyt dat ek haar afskeep nie.”

Sy sê niks nie, drink net ’n klein slukkie wyn.

“Dink jy dit sal werk?” vra hy en drink sy tweede glas leeg.

“Ek sou so reken,” sê sy kalm. “Ek het geadverteer in die koerant; dis waar ek my eerste kliënte vandaan gekry het. Nou is dit nie meer nodig nie, want mense vertel vir mekaar van my. Of hulle maak soos jy; iemand is ’n gas by ’n ete wat ek gekook het en hulle hou van my kos en vra my om hul ete ook te doen. ’n Kettingreaksie.”

“Maar nie op my van toepassing nie,” sê hy. “Ek wil nie ’n string vrouens hê nie, net een.”

“Kry ’n goeie huishoudster,” stel sy voor. “Sy sal mos alles doen en ’n oog oor die huis hou.”

“Ja, maar ek het meer as dit nodig,” sê hy moedeloos.

Sy draai haar kop skuins. “Jy’t dan nou net gesê juis nie. Geen emosionele eise nie.”

“O ja,” stem hy saam, sy tong glad te los na die tweede glas. “Dis ook nie wat ek bedoel nie. Ek het ’n metgesel nodig. Miskien moet ek dit ook in die advertensie noem?”

“Ken jy dan nie meisies wat saam met jou kan uitgaan nie?”

“Ja, maar hulle word een of ander tyd suur. Ek blameer hulle nie. Elke keer as ek na ’n geleentheid genooi word waar ’n metgesel benodig word, bel ek een van my vriendinne, maar hulle wil nie net gebruik word as dit my pas nie. Jy moet saamstem, dis onregverdig. Hulle weet ek gebruik hulle net en geen meisie hou daarvan nie.”

“Stel dit so in jou advertensie,” stel sy behulpsaam voor. “Sê: ‘Applikante moet bereid wees om reg te staan as ek hulle nodig het, maar die res van die tyd moet hulle uit my pad bly.’ ”

Hy lag. “En ek sal seker oorval word deur aansoeke, nè?”

“Ek is seker jy sal,” sê sy ernstig. “Maar ek dink dit sal moontlik die verkeerde soort meisie wees – fortuinsoekers. Ek het self aan die begin ’n stel of twee afgetrap.”

“Ja?” vra hy. “Soos wat?”

“Mans wat my gebel het en kwansuis wou hê ek moet vir hulle ’n ete kook, en as ek daar kom, vind ek uit hulle het iets heeltemal anders in gedagte en daar is geen ander gaste nie. Dis eintlik hoekom ek nie meer adverteer nie. Tensy ek die persoon ken, vra ek deesdae ’n verwysing. Hulle moet vir my sê waar hulle van my gehoor het, of by watter ete hulle teenwoordig was, en ek bel daardie gasvrou om te hoor watse soort mens die persoon is.”

“As ek my dus swak gedra, sal jy vir Esmie opskroef?” vra hy.

“Soort van, ja.”

Hy strek sy lang bene voor hom uit en kyk somber oor die tuin, wat nou versag in die skemerte. “Ja,” sug hy. “Ek weet dit sal nie werk nie. Dis net dat ek aan geen ander oplossing kan dink nie. Jy is natuurlik reg, die soort meisie wat sal reageer op so ’n advertensie sal glad nie die soort meisie wees wat ek wil hê nie.”

“Dit sal mý pas,” sê sy kalm.

Hy stik effens en vee oor sy mond met die agterkant van sy hand. “Wat sal jou pas?”

“So ’n pos.”

“Hoekom?” vra hy belangstellend, asof hy regtig wil weet. “Jy kan tog regtig trou, ek bedoel …”

“Ek weet wat jy bedoel,” sê sy rustig. “Maar ek het ook al my vingers verbrand, by wyse van spreke. Ek dink jou advertensie is eerliker. Die maanskyn en rose wat die ander mans aanbied, kom tog neer op dieselfde ding. Hulle soek iemand om hulle wasgoed te was en te sorg dat daar kos op die tafel is.”

“Jy’s sinies.”

Sy haal haar skouers op en drink haar wyn klaar. Hy gooi dadelik weer haar glas vol en syne vir die derde keer. “Soos ek sê,” herhaal sy, “ek het al ’n stel of twee afgetrap. Daai mooi woorde hou nie lank nie, dan begin hulle vir jou jok, of hulle begin vatterig raak, of hulle probeer jou verander, of …”

“Ek sal dit nie doen nie,” sê hy. “Ek is nooit lank genoeg by die huis om dit te doen nie.”

“Dis goed,” sê sy. “Dis hoekom ek sê jou advertensie sal eerliker wees. Jy sê reg van die begin af wat jy soek. Jy verdoesel dit nie onder valse woorde en beloftes nie. Sentimentele praatjies wat niks beteken nie.” Haar stem het ’n bitter klankie.

Hy bekyk haar meer intens, maar hy kan nie goed sien nie. Die buiteligte is nog nie aan nie en die derde glas wyn het beslis sy sig aangetas. “Sou jy dus reageer op so ’n advertensie?”

“Miskien.” Sy gee ’n laggie. “Nie dat ek koerantadvertensies lees nie. Ek sal dit nie raaksien nie.”

“Ja,” sê hy koppig. “Maar ás jy dit nou sou raaksien?”

“H’m,” sê sy. “Mits ek kan ophou werk.”

“Dit spreek vanself. Wil jy dan ophou werk?”

“Ek het jou mos gesê, ek vind dit baie vervelig. Ek wil by die huis bly en nes ek genoeg geld kan maak uit die spyseniering, los ek die ander werk.”

Sy besef blykbaar nou eers dat die son nie meer skyn nie en haal die verflenterde hoed af. Haar hare is platgedruk, behalwe ’n paar slierte wat teen haar voorkop vasgesweet het waar die hoed haar gedruk het. “Ek is nie die soort mens wat daarvan hou om elke dag in die verkeer uit te gaan nie. Ek wil by die huis bly. Ek hou van kosmaak en in die tuin werk en naaldwerk doen en …’n outydse meisie.”

Hy knip sy oë ’n slag en is bly toe die buiteligte skielik outomaties aanskakel, want hy voel beslis ’n bietjie dof in sy kop. “As jy met my trou, hoef jy nie meer te werk nie.”

“Oukei,” sê sy en lig haar pols om bysiende na haar horlosie te tuur. “Haai, dis laat. Ek gaan die blomme hier los, maar ek wil vanaand al die komkommersop maak. Dis altyd beter as dit behoorlik koud geword het en die geure van die knoffeluitjies deur die mengsel getrek het. Dan hoef ek net die room by te gooi voor ek dit opdien.”

“Oukei?” herhaal hy asof hy nie die laaste deel van die gesprek gehoor het nie. “Wat beteken dit? Sal jy op hierdie voorwaardes met my trou?”

Sy staan op. “Jy’t nog nie die advertensie geplaas nie.”

“Maar as jy gewillig is, hoef ek dit nie te doen nie. As jy die pos aanvaar …” Hy maak keel skoon. “Want dit is wat dit is, ’n pos. Jy moet die leisels in die huis oorneem, jy moet die kruideniersware koop en sorg dat loodgieters of tuiniers of wie ook al doen wat hulle veronderstel is om te doen. Ek wil van die huis niks weet nie. As jy nie self ’n gloeilampie kan omruil nie, moet jy iemand kry om dit te doen. As die grassnyer petrol nodig het, moet jy dit gaan koop.”

Sy speel met die rand van haar hoed. “Hoekom bly jy nie in ’n hotel nie?” stel sy voor. “Dis ook ’n oplossing.”

“Ek bly vir ten minste twee weke uit elke maand in ’n hotel. Dit irriteer my selfs meer. Ek het die huis nodig; ek hou van die stilte, die swembad, die tuin. Dis net dat ek nie gemoeid wil wees met die onderhoud daarvan nie.”

“Ek sien. Soos as die suiker op is.”

“Ja, maar ek het mos verduidelik dit behels ook meer as dit. Jy sal my moet vergesel na geleenthede. Soms selfs saam met my oorsee gaan.”

Haar oë skitter. “Regtig? En ek sal na die Verbode Stad toe kan gaan?”

“As jy wil, ja.”

“Oukei,” sê sy. “Dis ’n ooreenkoms, maar ek dink jy moet ’n kontrak opstel. Dis altyd die beste, dan kan niemand later verwyte rondslinger nie. Ek sal met vreugde die beheer van jou huis oorneem, maar jy mag nie met my lol nie. Dit moet neergeskryf word.”

“Lol?” herhaal hy. “Ek kan jou verseker …”

“Ja, maar ek wil dit nietemin swart op wit hê. Mens weet nooit nie. Vir vatterige mans is ek lankal moeg.”

“Ek kan jou verseker,” val hy haar gesteurd in die rede, “ek is nie die soort man wat …”

“Skryf dit in die kontrak,” sê sy gelykmatig. “Ek sal môreoggend redelik vroeg hier wees om die blomme te doen en die tafel te dek, maar ek sal jou nie hinder nie. Tot siens.”

Hy loop effens onseker na die rand van die swembad en spring weer in. Die derde glas wyn op sy nugter maag was ’n fout. Sy kop voel glad nie baie helder nie, maar as hy lank genoeg in die koue water bly, kom hy dalk weer tot sy sinne.

Christine le Roux Keur 2

Подняться наверх