Читать книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux - Страница 13

Hoofstuk 10

Оглавление

Sonder om te dink, roep Roland vir Peter in en gee hom opdrag om ’n eiendomsagent op Duinebaai in die hande te kry en uit te vind hoeveel en watter huise te koop is. Hy moes iemand anders gevra het, besef hy spytig toe hy Peter se entoesiasme sien.

“Wat ’n uitstekende idee!” sê Peter. “Ek sal dadelik werk maak daarvan.”

Hoekom dink Peter dis so ’n goeie plan? wonder Roland suur. Wil hy hê Victoria moet daar gaan bly en vir hom, Roland, los?

Peter laat ook geen gras onder sy voete groei nie. Teen die namiddag kom hy by Roland se kantoor in met ’n hand vol papiere met foto’s.

“Ek het sommer gevra dat die vrou dit vir my stuur,” sê hy en sit die papiere voor Roland neer. “Daar is net drie huise te koop. Kyk, dis dié twee en dan dié een. Dis nie vreeslik duidelik nie, maar ’n mens kan tog uitmaak hoe hulle lyk.”

Roland bestudeer die drie huise. Die een lyk nie vir hom na Victoria se soort huis nie – dis net betonpilare en glasvlakke. Die ander twee is meer gewoon: standaard-dubbelverdiepinghuise met stoepe en terrasse.

“Waar’s die beskrywings?” vra hy en trek die papier nader. “Kyk hierdie huise oor die see uit?”

“Ja,” sê Peter. “Al drie.”

Roland begin die beskrywings lees: hoeveel slaapkamers, hoeveel badkamers. Terwyl hy lees, word hy bewus van ’n onbekende gevoel. Opwinding? Nee, dit kan nie wees nie. Onder sy talryke beleggings is daar baie eiendomme en hy het nog nooit in sy lewe opgewonde geraak daaroor nie. Die geboue wat hy besit, is – soos hy vir Victoria gesê het – net bakstene en beton en hulle enigste waarde lê daarin dat hulle goed geleë is, ’n goeie inkomste lewer of een van sy kleiner maatskappye huisves. Waarom kry hy dan hierdie vreemde gevoel wanneer hy die agent se liriese beskrywing lees? Slaapkamervensters wat uitkyk oor die berge, stoep wat uitkyk oor die see. Atlantiese Oseaan, dink hy, hy moet vir Victoria sê. Duinebaai lê om die draai, en alhoewel die twee oseane seker daar nog meng, is dit streng gesproke die Indiese Oseaan.

“Dié twee huise klink albei goed,” sê Peter. Dan druk hy met sy vinger op een. “Maar hierdie een is nuwer. Klink vir my oor die algemeen na ’n beter proposisie. Meer prakties ook, as jy na die beskrywing van die binnekant kyk.”

Roland hoor hom nie regtig nie. Dis asof iets in sy doodgedrukte verlede wakker word. Vae herinneringe aan ’n tyd toe hy ’n ma en pa gehad het, toe hy net ’n skoolseun was wat saam met sy gesin vakansie gehou het. Maar toe is hulle dood en die lewe het totaal verander. Hy moes oornag grootword, self leer besluite neem. Die erfporsie was nie baie groot nie en moes hom deur sy universiteitsopleiding help. En êrens in die proses het hy besluit om nooit weer aan die verlies te dink nie, maar net vorentoe te kyk en sy een talent te gebruik: die vermoë om geld te maak. Solank hy nooit gaan stilstaan nie, sou hy nie probleme hê nie. Dis waarom hy vakansies vermy het. Hy moes werk en aanhou werk.

Hy skud sy kop. “Dankie,” sê hy vir Peter. “Ek sal hieroor dink.”

“’n Strandhuis is nie regtig ’n belegging nie,” waarsku sy vriend. “Dit staan feitlik heeljaar leeg, tensy jy dit wil verhuur.”

“Ek wil dit nie koop omdat dit ’n belegging is nie,” sê Roland en verwonder hom oor sy eie woorde. Hy doen níks tensy dit ’n belegging is nie.

Die aand neem hy die foto’s en papiere huis toe en wys dit vir Victoria. Sy voel dadelik verleë en skuldig.

“Ek het dit nie regtig bedoel nie,” stamel sy. “Ek wil nie hê jy moet ’n huis koop net omdat ek …”

“Ek wíl dit koop,” sê hy ferm. “Jy moet net sê watter een.”

Sy bestudeer die foto’s en herken die huise. Roland, wat haar gesig dophou, sien die verlange, die hunkering wat sy nie kan keer nie.

“Ek het elke dag na hierdie een gekyk,” sê sy oplaas en wys na die een wat Peter as die beste kopie beskou het. “Die mense het elke middag op die stoep gesit en dan het ek …” Sy skud haar kop. “Hoe kan hulle dit verkoop? Dit moet hulle harte breek.”

Roland kan nie dink hoe dit menslik moontlik is dat jou hart oor ’n hoop bakstene breek nie, maar hy sê dit nie. “Volgens die agent is die bejaarde eienaar ouetehuis toe omdat sy vrou oorlede is. Die kinders verkies die Natalse kus.”

“Ek sal lief wees vir die huis,” sê sy.

Hy glimlag, sy oë sag as hy na haar kyk. “Dan is dit afgehandel. Ek sal dit koop en as ek volgende maand Amerika toe gaan, kan jy afvlieg en gaan kyk wat gedoen moet word. Meubels koop en sulke soort goed.” Hy sien sy lyk verbouereerd. “Ek is jammer. Wou jy liewer saamgegaan het Amerika toe?”

“Nee, nee,” sê sy. “Ek wil see toe gaan, dis net dat jy dit so maklik laat klink.”

“Dit ís maklik,” sê hy. “Ek koop dit en dis joune.”

Sy sit net na hom en kyk, haar vingers teen haar lippe. “Dankie,” sê sy uiteindelik. “Ek weet nie wat om te sê nie.”

“Jy hoef niks te sê nie,” sê hy saaklik. “As dit jou gelukkig maak, is ek tevrede.”

Sy sit nog so voor haar en staar lank nadat hy uit die kamer is. ’n Hoop bakstene het hom so gegrief dat hy met ’n wildvreemde vrou getrou het net sodat sy daarna kan omsien. Nou koop hy ’n nuwe hoop bakstene en verwag dit moet haar gelukkig maak. Sy kan nie stry dat dit ’n wonderlike gedagte is nie, ’n droom wat waar geword het – en juis daarom verstaan sy nie hoekom sy effens verlate voel nie. Sy het geen reg om so te voel nie. Hý is tog nie deel van die kontrak nie, hy het homsélf nooit aangebied nie.

Hierdie gevoel word sterker toe sy ’n maand later die deur van haar nuwe huis oopsluit. Sy stap stadig deur een leë vertrek na die ander en is bly om te sien daar lê ’n matras in een slaapkamer waarop sy darem die eerste nag sal kan slaap. Sy wens Roland was daar. Hy stel altyd belang in wat sy doen en luister aandagtig na haar vertellings en verduidelikings. As hy nou hier was, sou hulle saam kon besluit.

Sy onderdruk hierdie gedagtes en loop later na die enigste winkeltjie, waar sy koffie en melk en iets te ete kry. Terug by die huis gaan sit sy op die stoep en kyk uit oor die see. Dis ysig koud en sy trek twee truie en haar baadjie aan. Sy skrik toe die telefoon skielik êrens in die leë huis lui.

Dis Roland, besef sy dadelik. ’n Opgewekte Roland wat klink asof hy in die kamer langs haar staan.

“Hoe lyk jou huis?” vra hy.

“Pragtig,” sê sy, so bly om sy stem te hoor. “Baie koud op die oomblik.”

“Ek het gehoop ek kry jou nog daar,” sê hy nadat hy verder uitgevra het.

“Ek is mos hier vir twee weke,” antwoord sy verbaas.

“Ek het bedoel voordat jy hotel toe gaan.”

“Watse hotel?”

“Victoria,” sê hy kwaai. “Die huis is dan leeg. Jy kan mos nie so daarin bly nie.”

“Daar’s ’n matras in die een kamer,” sê sy. “En ek het linne saamgebring.”

“Jy kan nie op die matras slaap nie! Jy moet dadelik na ’n hotel toe gaan. Het jy ’n motor gehuur op die lughawe soos ek gesê het?”

“Ja,” sê sy. Dit het vir haar na ’n vermorsing van geld gevoel, maar sy moet erken, daarsonder sou sy hulpeloos gewees het.

“En vanaand gaan ek ’n lys maak van alles wat nodig is en môre ry ek dorp toe om te koop.”

“Dis goed,” sê hy. “Maak gou die lys voor jy na die hotel toe gaan.” Sy grinnik effens nadat sy die telefoon neergesit het. Hotel. Watse hotel? Moet sy nou al die pad dorp toe ry en daar stoksielalleen in ’n hotelkamer gaan sit? Sy trek haar liewer warm aan en gaan stap vér langs die see. Daarna haal sy haar notaboek uit en begin lyste maak.

Sy slaap inderdaad nie goed nie. Die matras is dun en hard, die komberse is te min en sy is bly toe dit lig word. Sy wens net sy kan die triestige gevoel afskud. Hierdie huis is ’n droom wat waar geword het, dis wat sy wou hê. En soos in ’n feëverhaal het die prins net sy toorstokkie geswaai en sy kan alles gaan koop wat nodig is, sonder om sente om te draai. Sy is eensaam, dis wat verkeerd is.

Sy wil nie alles op haar eie doen nie, sy wil nie alleen in die mooi huis bly nie. Soos Marlise vir haar gesê het: Jy het vir jou ’n bed opgemaak waarop jy moeilik gelê gaan kry. Is dit wat gebeur het? Is die kontrak nie meer goed genoeg nie?

Nee, erken sy ruiterlik, dit is nie. Sy wens Roland was ook hier. Sy wens hy het van haar gehou. Sy wens hy het haar ontmoet en vir haar lief geword en besluit sy is …

Victoria onderdruk die gedagtes met geweld en gaan bad om warm te word. Sy staan nog in die handdoek toegedraai toe die telefoon weer lui. Haar hart bons. Miskien is dit weer Roland en het hy besluit om sy reis kort te knip en by haar aan te sluit. Maar dis Karien.

“Haai,” sê sy vrolik. “Weet jy waar ek is? In Kaapstad. My vriend Saul moes skielik kom, toe ry ek saam en hier is ek nou en ek wonder toe skielik wat doen jy.”

“Karien,” sê Victoria oorstelp. “Kan jy op Duinebaai kom? Ek moet vandag begin meubels koop en dis alles ’n bietjie oorweldigend.”

Karien is nie iemand wat haar ooit laat onderkry deur praktiese probleme nie. Hoe sy Saul oorreed het om haar Duinebaai toe te bring, weet Victoria nie, maar twee uur later is sy daar.

Sy lag toe sy sien hoe Victoria uit die enigste ou pannetjie moes eet, bewonder die huis en ry saam Hermanus toe, waar hulle die winkels invaar.

Victoria moet haar suster die hele tyd teëhou, want Karien se smaak is bietjie uitspattig en eintlik is sy self gelukkiger in die antiekwinkel, waar sy ’n effens verweerde geelhouttafel en agt stoele kry. Karien flankeer so met die verkoopsman dat hy instem om teen geringe koste die tafel en stoele af te lewer.

Die volgende paar dae is baie besig. Victoria kry omtrent nie kans om langs die see te gaan stap nie. Sy is ook maar bly toe daar ’n sifreëntjie begin val, want sy kan in elk geval nie haar voete uit die huis sit nie. Elke paar uur klop nog iemand aan die deur om meubels af te lewer, ’n yskas of wasmasjien te bring of goed te installeer. Karien is van groot hulp, al is dit net omdat sy Victoria se gedagtes van Roland aflei. Hulle pak die eetstel en kombuisgoed uit, meet gordyne en ry heen en weer dorp toe.

Toe sy vyf dae later vir Karien terugneem Kaapstad toe, gaan kuier hulle eers by haar pa. Hy is baie bly om hulle te sien, en alhoewel Karien die meeste van die tyd babbel, kry Victoria en haar pa tog ’n paar oomblikke alleen.

“Is jy gelukkig, meisiekind?” vra hy vir haar.

“Ja, Pa.”

“Dié Roland van jou is ’n gawe man,” sê hy. “Ek het nie gehou van julle skielike besluit om te trou nie, maar nadat ek hom gesien het, voel ek heel gerus.”

Sy glimlag net.

“Hy sal goed vir jou sorg, mens kan dit sien.”

“O ja,” stem sy saam. “Dit doen hy ook. Pa-hulle moet kom kyk na my … die mooi strandhuis.”

“Ja-nee,” sê hy. “Dit klink nie vir my asof die man ’n tekort aan geld het nie. Is hy nou weer heeltemal gesond?”

“Ja.”

“Dis goed so. Jy moet hom mooi oppas.” Gelukkig verander hy die onderwerp. “En wat is dit van Karien en sy beste vriend, dié Peter?”

Victoria lag. “Ja, sy en Peter gaan uit, maar soos Pa kan sien, beteken dit nie sy los die ander mans uit nie. Sy gaan ewe veel met hulle ook uit.”

“Ag, sy’s nog jonk,” sê hy toegeeflik. “En sy was nooit so verantwoordelik soos jy en Marlise nie – veral jy. Dis hoekom ek so bly is jy het jou Roland gekry. Jy was gans te ernstig vir jou leeftyd.”

Toe Victoria laatmiddag terugry, maal haar pa se woorde nog steeds deur haar kop. Roland is nie hare nie en sy het hom ook nie gekry nie. Die gedagte stem haar weer droewig, maar toe sy voor haar huis stilhou, voel sy vir die eerste keer tuis. Dis háár huis, dink sy toe sy oopsluit. Dis regtig hare en dis gevul met meubels wat sý uitgesoek het. Sy skakel die ketel aan, maak die kombuiskassies oop en kyk na al die blinknuwe potte en panne, borde en messegoed. Die gezoem van die nuwe yskas is ’n vertroosting. Sy maak dit oop en kyk na die kos wat netjies op die rakke uitgepak is.

Later gaan sit sy op die stoep en eet, haar blik op die see. Toe sy gaan slaap, voel sy gelukkig en rustig. Maar in haar slaap hoor sy iemand na haar roep – ’n fluisterstem wat sy herken. Dis Roland wat na haar roep. Sy maak nie haar oë oop nie, sy glimlag net. Hy buig oor haar, sy is seker sy kan hom voel. Hy steek sy hand uit en raak aan haar gesig en sy druk haar lippe teen die palm van sy hand. Hy bly haar ontwyk, maar sy weet dis hy en sy skuif eenkant toe in die groot bed om vir hom plek te maak. Hy hou haar vas en sy voel sy hande oor haar lyf streel, maar toe sy haar arms uitsteek om hom stywer teen haar vas te trek, is daar niks nie.

Haar oë vlieg oop. “Roland!” roep sy uit en kyk vervaard rond, maar daar is niemand nie. Die straatlig skyn deur die gordyne. Daar is die nuwe laaikas en daar staan die lekker ou leunstoel wat sy gekoop het vir die hoek van die kamer, maar Roland is nie daar nie.

Sy staan op, trek haar kamerjas aan en loop bibberend deur die koue huis. As hy daar was, sou sy tasse êrens gestaan het, en daar is niks nie. Die voor- en agterdeur is nog gesluit en al die nuwe meubels staan roerloos waar sy hulle geskuif het.

“Ag!” kreun sy en gaan sit by die tafel met haar kop op haar arms. Wat ’n wrede droom. Dit was so werklik, glad nie vaag en deurmekaar soos drome gewoonlik is nie. Dit was regtig asof hy by haar was.

Sy maak vir haar ’n beker Milo en neem dit terug bed toe. Die groot bed strek soos ’n verlate woestyn om haar. As Karien nie by was nie, het sy seker twee enkelbeddens gekoop soos vir die ander kamers. Maar Karien het so verbaas gelyk dat sy opsluit hierdie ekstragroot bed gekoop het. Miskien omdat sy diep in haar hart gehoop het …

Dis onsinnig, probeer sy haarself oortuig. Sy kan nie nou soos ’n verliefde tiener begin ronddwaal nie. Sy en Roland het ’n goeie vriendskap. Hy versorg haar, hy is bekommerd oor haar en hy het vir haar hierdie pragtige huis gekoop net omdat sy gesê het sy wens sy het ’n huis by die see. Wat meer kan sy van hom verwag?

Sy drink klein slukkies en tuur in die skemerte. Hoe sou sy ander meisies gelyk het? Hoeveel was daar al? Sy wonder hoe dit moet voel om deur hom gesoen te word. Regtig gesoen te word – nie die pikkies wat hy haar op haar wang gee as daar mense by is nie, maar ’n regte, hartstogtelike soen.

Hoekom sal hy my wil soen? vra sy haarself af. Hy sien haar net as die knap huishoudster. Nee, dink sy koppig, daardie aand in Praag was hy … het hy … Maar dit was omdat sy regtig mooi gelyk het, moet sy erken. Karien en Marlise raas altyd met haar omdat sy altyd sulke vormlose, outydse klere dra. Miskien moet sy nuwe klere koop, hom bietjie laat sien sy is ’n vrou, nie net die huishoudster nie.

Sy sit haar leë beker neer en krul weer onder die warm komberse op. Sy is nie die soort meisie wat mans kan of wil uitlok nie. Na die gemors met Leo het sy haar hele klerekas verander. Sy wou haarself verander, wegsteek. Sy wou nie hê mans moet sien hoe sy lyk nie. Sy was bang hulle kry ook sulke vreemde idees soos Leo blykbaar gekry het.

Maar nou het dinge verander. En tog, dink sy somber, Roland is seker omring van mooi meisies by die werk. Modieuse meisies wat nie skaam is om te wys wat hulle het nie. As dit van kleredrag afhang, kan hy op enigeen van hulle verlief raak.

Sy sug en maak haar oë toe. Sy wil weer van Roland droom. Hy moet weer terugkom en oor haar buig en vir haar fluister. En hy kom inderdaad terug, maar nou in deurmekaar flardes en altyd buite haar bereik. In die droom verdwyn hy elke keer as sy naby hom kom, of soms, as sy na hom toe aangehardloop kom, draai hy om en dan is dit nie hy nie.

Sy word ’n hele paar keer wakker en huil haar kussingsloop waternat.

Christine le Roux Keur 2

Подняться наверх