Читать книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Peter Ruthven is die afgelope vier jaar Roland se privaat sekretaris, en as uitvloeisel hiervan ook sy beste vriend. Hy sorg dat Roland altyd die regte dokumente het, betyds op lughawens kom en nie vergeet om sy hotelrekening te betaal nie. Hy beskik oor dieselfde werkywer as Roland, wat ’n goeie ding is, anders sou hy nooit vier jaar uitgehou het nie. Hy vergesel Roland op al sy oorsese reise, is gedurende die week sy regterhand en is altyd gewillig om oor naweke ook te werk as Roland hom nodig het. Hy is daarom ook nie getroud nie, om dieselfde rede as Roland. Hulle het nie tyd om meisies te ontmoet of uit te neem nie. Hy is wel jonger as sy baas – dertig teenoor Roland se ag-en-dertig – en hy is blond, terwyl Roland donker is, maar andersins kon hulle ’n tweeling gewees het.

Vir hulle albei bestaan die lewe uit syfers, beleggings en aandele. Om ’n nuwe maatskappy te stig, nuwe beleggers te kry en so gou moontlik ’n wins te toon, is hulle lewensbrood. Dis hulle werk, hulle stokperdjie en hulle liefhebbery.

Dit is dus te begrype dat Peter heeltemal stomgeslaan is toe Roland hom vra of hy sal saamkom hof toe om as getuie op te tree by die huwelik.

“Wat?” kryt Peter en kantel sy stoel so ver agteroor dat hy amper omval. “Wat het jy nou net gesê?”

“Ek trou môre,” sê Roland van waar hy in die deur staan. “Ek wil graag hê jy moet ook daar wees.”

Peter kyk na die venster. “Dit lyk nie vir my na reën nie, maar dalk is daar donderweer in die lug. Voel jy nie lekker nie? Het jy iets snaaks geëet vir middagete?”

Roland grinnik. “Nee, ek trou net môre.”

Peter kantel sy stoel stadig terug. “Met wie?”

“Victoria Malan.”

“En wie is sy?”

“’n Meisie, hoe anders?”

“Ek weet sy’s ’n meisie,” sê Peter geduldig. “Wel, ek hoop sy is een, maar waar kry jy haar vandaan?’

“Ek het haar nou die dag ontmoet. By ’n ete. Sy’s ’n wonderlike kok. Sy hou van huishoudelike dinge.”

“Ja?” vra Peter skepties. “En toe komplimenteer jy haar met die kos en vra haar om met jou te trou?”

“Soort van.”

“En sy sê toe sommer ja?”

“Presies.”

Peter kyk hom ongelowig aan. “Komaan, Roland, vertel my die waarheid.”

“Dit ís die waarheid. Sy het die kos gemaak vir daardie ete voorverlede Saterdagaand. Die ete by my huis. Ek het dit vir jou genoem.”

“Jy’t so iets genoem, ja, maar jy het niks gesê van trou nie.”

“Wel, nou gaan ek. Môremiddag drie-uur.”

Peter kyk hom deurborend aan. “En waarheen gaan julle dan?”

“Wat bedoel jy? Ons gaan nêrens heen nie. Ek en jy moet oor die naweek werk aan daardie voorlegging.”

“Geen wittebrood nie?”

Roland maak sy mond oop om te begin verduidelik, om vir Peter te sê dis nie daardie soort huwelik nie, maar iets weerhou hom daarvan. Lojaliteit teenoor Victoria, of dalk sy eie trots – hy weet nie. “E … sy kan volgende maand saamgaan Praag toe.” Hy besef hoe dit klink en korrigeer homself. “Ek bedoel, dis wat sy wíl doen. Liewers as om nou weg te gaan.”

“Ek sien,” sê Peter kripties. “Hoe lyk sy, is sy mooi?”

“E … ja. Op ’n outydse manier.”

“’n Outydse manier!” herhaal Peter stadig.

“Ja, sy trek nie modern aan of … of so iets nie.”

“Ek sien uit daarna om haar te ontmoet,” sê Peter beleef en wonder wat in sy vriend se kop aangaan. Hy besluit om liewer die onderwerp te verander. “Weet jy dat jou hele hempsak vol ink is? Jy het seker weer jou pen sonder sy dop daar ingedruk.”

Roland kyk af na sy hemp en klik sy tong. “Miskien sal Victoria weet hoe om dit skoon te kry.”

“Inderdaad, ja,” sê Peter. “Môremiddag drie-uur, sê jy?”

“Ja. Ons kan sommer saam ry.”

Peter is baie nuuskierig toe hy die volgende dag een van sy goeie donker pakke aantrek. Behalwe dat Roland ook ’n donker pak dra, is daar geen teken daarvan dat hy binnekort ’n bruidegom gaan wees nie. Die dag is so besig soos altyd, sodat hulle tien voor drie eers motor toe hardloop en deur die verkeer jaag.

Wat presies Peter verwag het, sou hy nie kon sê nie, maar toe hulle uiteindelik parkeerplek kry en om die gebou na die hoofingang toe hardloop, sit ’n meisie op die trappe en koerant lees. Sy kyk op toe sy hulle klappende voetstappe hoor en vou die koerant tydsaam toe. Sy dra ’n lang roomkleurige rok van kaasdoek wat om die nek geborduur is. Op haar kop het sy ’n nuwe strooihoed, al om die bol versier met koringblomme en madeliefies.

“Haai,” sê sy kalm toe sy vir Roland sien.

“Jammer ons is laat,” sê hy uitasem. “Dis Peter Ruthven. Victoria Malan.”

“Aangename kennis,” sê Peter en skud haar hand.

Vir ’n oomblik staan hulle rond asof hulle nie weet wat om volgende te doen nie, dan wys Victoria na die ingang en hulle stap soontoe.

Die kort seremonie is saaklik en sou letterlik binne drie minute verby gewees het as daar nie ’n vertraging gekom het toe Roland besef hy het nie ’n trouring nie. Hy kyk pleitend na Peter, maar sy vriend dra nie eens ’n seëlring wat tydelik gebruik kan word nie. En nadat die magistraat goedig gelag het, maak Roland maar asof hy ’n ring oor Victoria se vinger skuif en toe is alles verby.

“Ag, ek is jammer,” sê Roland nadat hulle die register geteken het en in die son uitstap. “Wat nou?”

Peter besluit hy moet sy plig as assistent verrig. “Ek stel voor ons gaan drink ’n glas sjampanje,” sê hy ferm. “Die Plaza Hotel is hier naby. Ek sal die motor gaan haal.”

“Wat van jóú motor?” vra Roland vir Victoria terwyl hulle ongemaklik saam staan en wag.

“Ek het met die bus gekom,” sê sy. “Hier is nooit parkeerplek nie.” Sy haal haar hoed af en begin haar gesig koel waai.

Peter laai hulle voor die Plaza se deftige ingang af en probeer met oogbewegings en liptrekkings vir Roland iets beduie. Roland het nie ’n idee wat sy vriend van hom verwag nie, maar lei Victoria deur die goudkleurige glasdeure en sien toe die ry deftige boetieks aan die regterkant.

“Kom,” sê hy en neem Victoria aan haar arm. “Daar’s ’n juwelier.”

Dit is kennelik wat Peter vir hom probeer sê het, want Peter kom reguit by die juwelier ingestap nadat hy die motor afgegee het. Die klerk het reeds die twee trouringe eenkant gesit om hulle te verpak, maar Peter stamp liggies aan Roland se skouer en draai sy oë oordrewe in die rigting van die skitterende diamantringe.

“A,” sê Roland. “Ja, natuurlik. Wat van ’n verloofring?”

“Nee wat,” sê Victoria. “Dis nie nodig nie. Ons was nooit eintlik verloof nie.”

Die verkoopsman lyk verbaas, maar hy hou sy gesig op ’n behulpsame plooi en lig ’n skinkbord vol diamantringe uit.

“Dit sal mooi lyk,” sê Peter vir Victoria toe hy sien hoe sy na die ringe kyk.

“Ja-a-a,” sê sy twyfelagtig.

“Die trouring op sy eie gaan so afgeskeep lyk.”

“Dis waar,” sê Roland en beduie na die uitgestalde ringe. “Pas aan.” Victoria lyk asof sy in haar slaap loop, maar sy pas gedweë aan, al kyk sy kort-kort skuldig na Roland. Hy is klaarblyklik verlig toe sy op een besluit en haal sy kredietkaart uit om te betaal. Minute later sit hulle in die elegante sitkamer en die kelner bring ’n bottel Franse sjampanje.

“Op julle,” sê Peter en lig sy glas.

Al drie drink ’n sluk en Victoria hoes effens toe die borrels in haar keel afgly.

“Die ringe,” fluister Peter vir sy vriend en Roland haal die dosies uit sy sak en sit hulle op die tafelblad neer.

Eers probeer Roland sy eie ring aan Victoria se skraal vinger sit. Toe dit afgly, kry hy die regte een en stoot dit oor haar vinger. Hy sukkel om die diamantring uit die dosie te kry en glip dit ook aan.

“Daar,” sê Peter tevrede. “Nou lyk julle ten minste getroud.”

Victoria draai haar hand heen en weer. “Ek sal versigtig moet wees,” sê sy. “As ek met deeg werk, sal dit om die diamant vaskoek.” Roland kry nie kans om iets hierop te sê nie, want twee mans kom van die hysbakke af, sien hom en Peter en pyl reguit op hulle af. Die volgende paar minute praat hulle besigheid en dis eers na ’n ruk dat Roland besef hy is onbeskof.

“Menere,” sê hy. “Mag ek julle voorstel aan my … e … vrou?”

“Hallo,” sê Victoria skamerig en skud hulle hande. Die een man druk haar hand so hard dat dit voel asof hy haar vingerbeentjies vergruis. Hulle bly ook nie langer nie, maak verskoning dat hulle hulself sommer opgedring het en verdwyn in die rigting van die deur.

“Ek dink ek moet nou huis toe gaan,” sê sy toe haar glas leeg is.

“Watter huis?” vra Roland.

Peter rol sy oë en neem die leisels oor. “As jy saam met ons kantoor toe gaan, kry ek die bestuurder om jou verder te neem. Sal dit jou pas?”

“E … ja,” sê sy.

“Het jy al ingepak?” vra Roland.

“Ja,” sê sy. “Maar ek het nogal baie goed. Al my boeke en kookgereedskap en …”

“Smuts kan jou help,” sê Roland. “Hy kan jou huis toe neem en dan jou goed gaan oplaai.”

“Watter huis?” vra sy.

“Myne. Jy moet jou goed van jou woonstel af na my huis toe bring.”

“Oukei,” sê sy inskiklik en staan op.

Peter kyk na Roland. “Wil jy nie saam met haar huis toe gaan nie?”

“Nee, genugtig,” sê Roland. “Vyfuur kom die mense van Consolidated en …”

“Natuurlik” sê Peter. “Ek kry gou die motor.”

“Moet ek vir jou aandete maak?” vra Victoria toe hulle weer op die trappe staan en wag.

“Nee. Ja. Ek veronderstel so, maar ek sal seker nie voor agtuur by die huis wees nie.”

“Goed,” sê sy. “Ek sal nie iets maak wat kan bederf nie. O, en nog ’n ding. Waar slaap ek?”

Hy kyk haar verward aan. “Enige plek. Ek bedoel, jy kan enige kamer kies. Nes dit jou pas. Ek gee nie om nie.”

Peter bring die motor en hulle ry terug na Roland se kantoorgebou. Peter draf in, kry vir Smuts en oomblikke later vertrek die motor. Toe stap hulle die gebou binne asof die gebeurtenisse van die afgelope uur-en-’n-half bloot ’n klein onderbreking was.

By haar woonstel wys Victoria vir meneer Smuts wat alles gelaai moet word en hy stem saam dat hy dalk nie alles op een slag in die motor sal kry nie. Hy neem haar na Roland se huis met die eerste klomp tasse, neem haar woonstelsleutel by haar en belowe om die res binnekort daar te hê.

Sy stap die koel, stil huis binne en verken eers al die slaapkamers. Onder die omstandighede voel sy dis beter as sy ’n kamer kies wat ver van Roland s’n af is, en die een aan die punt van die gang het ook die mooiste uitsig oor die tuin. Sy sleep haar tasse soontoe, maak die leë ingeboude kaste oop aan begin uitpak. Nou en dan kyk sy af na haar hand en draai dit heen en weer sodat die lig die fasette van die diamant vang en flikkerend teen die mure van die kamer weerkaats.

Marlise is ongetwyfeld reg, sy is mal. Haar baas dink ook so, sy kon dit sien. Hy was suur toe sy hom vertel sy loop nou dadelik en het haar verseker dat sy haar laaste maand se salaris sou verbeur. Sy gee nie eens om nie. In Roland se huis hoef sy nie huur te betaal nie en haar inkomste uit spyseniering behoort genoeg te wees vir haar skamele behoeftes. Sy het nog nooit baie geld aan haarself spandeer nie. Toe sy jonger was, was dit belangriker dat haar susters alles kry wat hulle nodig het, en nou gee sy nie meer om nie. As Roland haar toelaat om rustig haar gang te gaan in ruil vir huishoudelike pligte, is sy tevrede.

Nadat sy uitgepak het, bring meneer Smuts al haar kombuisgereedskap en sy bedank hom, dra die kartondose kombuis toe en kyk waar sy alles kan uitpak. Sy ondersoek sommer die res van die huis ook, kyk waar die wasmasjien is en maak ’n opname van kosvoorrade en die inhoud van die vrieskas.

Toe Roland teen halfnege by die huis kom, het sy al geëet, maar sy dek vir hom ’n plek aan die groot eetkamertafel en bring sy kos vir hom. Hy lyk effens ongemaklik.

“Jy hoef my nie te bedien nie,” sê hy.

“Nee,” stem sy saam. “Dis net dat ek nie so laat kan eet nie.”

“Het jy al uitgepak?”

“Ja, dankie. Ek het die kamer aan die punt van die gang geneem. Is dit in orde?”

“Natuurlik. Jy moet jou tuismaak.”

“Ek sal, ja.” Sy bestudeer haar hande. “Hoe gaan ons … e … hoe wil jy hê moet ek kos koop en … en … daardie soort van ding? Sal ek koop wat nodig is en vir jou die strokies gee?”

“Nee, nee,” sê hy haastig en haal sy tjekboek uit sy binnesak. Hy skryf ’n tjek, skeur dit uit en stoot dit oor die tafelblad na haar toe. “Betaal dit sommer in jou bankrekening in. Ek sal met Peter reël dat ’n bedrag maandeliks in jou rekening inbetaal word. Jy kan hom net bel en jou rekeningnommer vir hom gee.”

Sy kyk na die bedrag en trek haar asem in. “Dis gans te veel,” sê sy flouerig.

“Ja, maar jy … ek bedoel, jy het tog seker ander goed ook nodig, soos klere of so iets.” Hy wys na die bord voor hom. “Die kos is heerlik, hoor. Eva was nie eintlik ’n kok nie en teen die tyd dat ek saans by die huis gekom het, was alles altyd verdroog.”

“Dit kan gebeur,” sê sy nugter. “Ek kan uit die aard van die saak nie vir jou voorskryf wanneer jy saans by die huis moet wees nie, maar as jy my kan laat weet hoe laat jy kom, kan ek toesien dat jou kos nie uitdroog nie.”

“Goed,” sê hy. Hy lig sy wynglas en drink ’n sluk. “Wil jy nie ook wyn hê nie?”

“Nee, dankie, ek gaan nou slaap.”

“O,” sê hy en onthou dan nog iets. “Gee my jou pa se adres en telefoonnommer. Ek gaan oormôre Kaapstad toe vir die dag. Ek het gedink miskien kan ek hom te siene kry.”

Sy is getref hierdeur. “Hoekom?” vra sy.

“Wel, dis seker niks minder as reg nie, al doen ons dit ’n bietjie agterstevoor. Ek moes mos eintlik voor die tyd sy toestemming gevra het om met jou te trou.”

“Ek is ag-en-twintig, ek het niemand se toestemming nodig nie. Maar dit is … hy sal dit op prys stel. Ek het hom oor die telefoon vertel, natuurlik, en hy het …”

“Het wat?” vra hy.

“Bietjie skepties geklink. Miskien omdat dit so onverwags is. Hy het nie gedink ek sal ooit trou nie.”

Hy lewer nie hierop kommentaar nie, leun net terug in sy stoel en draai die wynglas tussen sy vingers rond. “Ek het geen familie hier naby nie,” merk hy afgetrokke op. “Maar dit beteken nie ek wil sulke bande ignoreer nie. Jy moet die vrymoedigheid hê om jou familie te sien of oor te nooi, of wat ook al.”

“My suster Marlise was verlede naweek by my,” sê sy.

“As sy weer kom, nooi haar om hier te kom kuier.”

“Dankie,” sê sy en staan op om sy leë bord kombuis toe te neem. “Wil jy nog iets hê? Koffie?”

“Nee, dankie. Ek sal self later maak, want ek het nog baie werk om te doen.”

Sy stap kombuis toe, skeur ’n bladsy uit die notaboek waarin sy die koslys geskryf het en skryf haar pa se adres neer. Sy neem dit terug na die eetkamer en gee dit vir Roland.

“Dankie,” sê hy, lees dit en druk dit in sy sak. “Dit sal jou pa miskien gerusstel as hy sien wie ek is.” Hy besef dat dit dalk arrogant kan klink, en voeg haastig by: “Ek bedoel, dat ek ’n normale soort van man is.”

“Mm,” sê sy. “Dis waaroor Marlise haar kwel – my veiligheid. Sy’s bang jy’s ’n pervert of iets.”

Hy lag. “Ek hoop jy het haar gerusgestel.”

“Ek ken jou nie, maar ja, ek het haar verseker jy lyk normaal.”

“Ek ís normaal,” sê hy gekrenk.

“Mens weet nooit nie.” Sy tel die sout- en peperpotjies op en bêre hulle in die buffet. “Ek het my al vasgeloop.”

“In perverse mans?” vra hy tergend en lag.

Sy lag nie, kyk hom net ’n oomblik lank deurtastend aan. “Iets in dier voege,” sê sy kalm en stap deur toe. “Goeienag. Hoe laat eet jy ontbyt?”

Daar is ’n effense frons tussen sy wenkbroue en sy moet die vraag herhaal voordat hy antwoord.

“Goed,” sê sy. “Lekker slaap.” Sy draai om en haar dun rok swiep geluidloos om haar enkels voordat sy in die gang af verdwyn.

Christine le Roux Keur 2

Подняться наверх