Читать книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Toe Roland Saterdagoggend wakker word, voel sy kop asof iemand daarop trom gespeel het. Hy verstaan dit hoegenaamd nie. Normaalweg kan hy twee whiskies voor ete, ’n hele paar glase wyn tydens die maaltyd en miskien nog ’n glas port na die tyd drink sonder om noemenswaardig beïnvloed te word. Hy onthou wel dat hy nie die vorige dag middagete geëet het nie, juis omdat hy sy werk vroeg moes afhandel om eers supermark toe te gaan. Dit moet dit wees, besluit hy – die koue water van die swembad en drie glase wyn te vinnig gedrink. Hy druk sy handpalm teen sy kop, loop badkamer toe en sluk twee hoofpyntablette voor hy sy tande hardhandig borsel en kombuis toe loop om koffie te maak.

Hy het net die ketel aangeskakel toe hy bewus word van ’n sagte geneurie. Eers dink hy dis sy kop wat so sing, maar nadat hy die koffie gemaak het, loop hy na die spensdeur en steek vas.

Victoria is besig om blomme te rangskik. Onder die venster staan ’n hoë rangskikking irisse, rose, delphiniums en veelkleurige loof. Voor haar is ’n plat silwerbak waarin sy pienk rose en wit madeliefies rangskik. Sy kyk op toe sy hom sien en haar oë gly krities oor sy kaal bene, die donkerblou kortbroek, sy kaal bolyf, verkreukelde gesig en deurmekaar hare.

“Môre,” sê sy en gaan voort met die blomme. “’n Nuwe blik op Roland Meyer, sakeman.”

“Ek het nie iemand hier verwag nie.”

“Ek het gesê ek kom vroeg.” Sy lig die skêr op en sny ’n stingel korter. “Ek het gedínk jy’t daardie drie glase wyn te vinnig gedrink.”

“Drank het geen uitwerking op my nie,” sê hy kortaf.

“Uh-huh.” Sy los die rose, tel haar verweerde skouersak op en begin daarin rondvroetel. Sy kry blykbaar waarna sy gesoek het – ’n bruin botteltjie wat sy oopmaak en in haar handpalm uitskud. “Hier,” sê sy. “Vitamiene.”

Hy neem dit en loop terug kombuis toe, waar hy dit met water afsluk. Hy is ’n praktiese, metodiese man, dink hy. Hy kan ’n probleem in ’n oogwink analiseer en die voor- en nadele, knelpunte en oplossings identifiseer. Hy maak lyste van goed wat gedoen moet word en hy tik hulle een vir een af soos hy of een van sy assistente hulle afhandel. Daarom verstaan hy nie sy verwarring nie. Hy loop terug spens toe.

“Het ons gisteraand ooreengekom om te trou?” vra hy.

“Uh-huh,” sê sy, haar aandag by die blomme.

“Ek het so gedink, ja.”

Sy gee hom ’n goedige blik. “Ek sal vanaand vir Jeff sê om vir jou net koue water te skink.”

“Wie’s Jeff?”

“Een van die kelners.”

“Moenie laf wees nie,” sê hy. “Natuurlik sal ek wyn drink. Gisteraand was net … ek dink ek was moeër as wat ek gedink het. Ek het nog nie tot stilstand gekom vandat ek van die vliegtuig afgeklim het nie.”

Sy staan effens terug en bekyk haar handewerk. “Ek los die blomme vir eers hier, dis lekker koel. Sal ek vir jou ontbyt maak, of kan ek maar begin om die silwer op te vryf?”

“Nee, nee, Eva kan dit doen.”

“Eva is weg.”

Hy stort ’n bietjie koffie oor sy hand. “Weg? Wat bedoel jy met weg? Sy’t gesê sy sal vandag help en dan môre en Maandag afvat.”

“Nee, sy is weg.” Sy stap by hom verby, trek een van die hoë kroegstoeltjies nader aan die toonbank en maak die kissie met swartgevlekte silwerware oop. “Wanneer het jy dié laas gebruik – net na die Groot Trek?”

“Ek weet nie,” sê hy ongeduldig. “Kom Eva nie weer terug nie, of is sy net vir die dag weg?”

“Sak en pak,” sê sy. “Sak en pak. Ek het probeer pleit en gesê dinge gaan nou verander en sy sal nie weer sonder kos of geld gelos word nie.”

“Ek het haar nie sonder kos of geld gelos nie!”

“Dis hoe sy dit sien,” sê sy rustig. “En dis wat tel. Sy het ook iets gesê van haar dogter. Ek dink sy was lus vir weggaan en jy kan niks daaraan doen nie.” Sy kyk op en glimlag vir hom. “Ek kan my huishulp saambring. Sy stryk net een middag per week vir my, maar ek weet sy is moeg om elke dag by iemand anders te werk. Sy sal hou van hierdie huis.”

Dis asof daar diep binne-in Roland ’n klein liggie begin brand, asof daar ’n las van sy skouers afrol. “En jy sal dit alles organiseer?” vra hy hoopvol. “Ek hoef niks te doen nie?”

“Niks nie,” verseker sy hom. “Ek gaan Maandag my bedanking indien, en nes jy die kontrak opgestel het, kan ons trou.”

“Uitstekend,” sê hy en gaan haal brood uit die blik. “Kan ek vir jou roosterbrood maak?”

“Nee dankie, ek het klaar ontbyt gehad.”

Hy bring die roosterbrood en ’n botteltjie duur, ingevoerde marmelade terug na die toonbank en begin eet.

“Genade!” sê sy toe sy die prysetiket op die botteltjie sien. “Ek sal self marmelade kook. Moet asseblief nie sulke belaglike pryse betaal nie.”

“Jy hoef nie suinig te wees nie. Ek het meer as genoeg geld.”

Sy gee hom ’n baie streng kyk. “Dis ’n kwessie van beginsel.” Sy sit die blinkgevryfde messe eenkant en kyk hulle tevrede aan. “Het jy nie werk om te doen nie?”

“Ja, ek het,” sê hy verontwaardig. “Ek het net gedink ons moet miskien … wel, mekaar beter leer ken.”

“Hoekom?” vra sy. “Dis mos ’n saketransaksie.”

“Ek weet, maar tog. As ons een van die dae gaan trou … Het jy nie ouers wat sal wil kom nie? Moet ons hulle nie laat weet nie?”

“Nee wat. My ma is lankal dood.” Sy kyk vinnig op. “Dis hoe ek leer kos maak het, want ek het twee jonger susters. My pa is weer getroud en bly in Kaapstad.”

“Sal hy nie wil kom nie?”

“Miskien, maar dit sal veel minder moeite wees om hulle net na die tyd te laat weet.” Haar wenkbroue lig. “Ons gaan tog nie in wit rokke en sluiers trou nie, gaan ons?”

“Nie ek nie,” sê hy grappig.

“Wat van jou?” vra sy. “Sal jou ouers wil kom?”

“Hulle leef nie meer nie. Ek het ’n broer, maar hy woon in Kanada.”

“Dan is dit glad nie gekompliseerd nie,” sê sy en sit die laaste vurk ook neer. “Magistraatskantoor. Maklik. Sê net wanneer ek daar moet wees.”

Hy dra sy vuil bord wasbak toe en spoel dit af. Hy het die vreemdste gevoel dat hy die deur gewys is, maar dit pla hom nie eens nie. Hy kan hom nou in sy studeerkamer terugtrek, want hy weet so seker as wat hy daar staan dat nie net die ete nie, maar ook sy huis nou in bekwame hande is. As Josef kom vra vir die sleutel van die tuinskuur sal sy weet waar dit is; as sy ’n kastrol of ’n skinkbordlappie of ’n tafeldoek nodig het, sal sy dit soek en vind. Sy gaan nie vir hom vra waar dit is of hoe sy iets moet doen nie.

“Kan ek alles nou aan jou oorlaat?” vra hy, net om doodseker te maak.

“Natuurlik,” glimlag sy minsaam, asof dit ’n dom vraag was.

“Jy sal van nou af alles hier rond doen?”

Sy knik.

“Toe ek dié keer van China af teruggekom het, is ek oorval deur probleme. Die stoepdak het gelek, die wasmasjien was stukkend, daar was ’n swerm perdebye in die eetkamer en daar het water in my klerekas ingelek en al my truie het gemuf. Dit het glo vreeslik gereën terwyl ek weg was.”

“Mm,” sê sy.

“Die geute was verstop,” verduidelik hy.

“Ek gaan nie geute skoonmaak nie,” sê sy ferm. “Ook nie perdebyneste verwyder nie. Ek hou nie van insekte nie.”

“Maar jy sal iemand kry om hierdie goed te doen?”

“Ek sal probeer, ja.”

“Peter en mevrou Steyn sal bly wees.”

“Wie’s Peter?”

My privaat sekretaris. Soort van persoonlike assistent. Hy en mevrou Steyn het genoeg om te doen, hulle wil nie nog na my huis en tuin ook omsien nie.”

“Nee, ek veronderstel nie,” sê sy besadig.

Vir die res van die dag sien hy haar nie eintlik weer nie. Op ’n tydstip het hy by die eetkamer ingeloer en hom verwonder aan die mooi gedekte tafel. Teen die middag raak hy bewus van wonderlike geure uit die kombuis, maar hy sien haar eers weer kort voordat sy gaste arriveer. Sy het bloot die vormlose bruin rok van die oggend verruil vir ’n vormlose swart rok, en haar hare is nie in ’n poniestert nie, maar in ’n bolla op haar kop vasgemaak.

Sy kom glad nie te voorskyn tydens die ete nie. Die twee netjies geklede kelners bedien die een gang ná die ander en Roland se gaste is vol lof vir die lekker kos.

“Jy’t dit tog nie self gemaak nie,” sê ’n elegante vrou in swart satyn en enorme pêrels na die tyd vir hom. “Wie is jou spysenier?”

Dis op die punt van sy tong om Victoria se naam te gee, toe hy van plan verander. As sy regtig met hom gaan trou, kan hy tog nie haar naam vir almal gee nie.

“Dis iemand wat my sekretaresse gekry het,” antwoord hy dus vaag en maak hom uit die voete.

Nadat almal weg is, betaal Roland die twee kelners en kry vir Victoria in die kombuis waar sy die oorskietkos in kleiner bakke skep en met foelie verseël.

“Jy’t genoeg kos vir môre,” sê sy sonder om op te kyk. “Verhit dit net in die mikrogolf.”

Sy lyk vir hom baie moeg. Daar hang ’n paar los hare oor haar voorkop, en alhoewel hy haar nog nooit met grimering gesien het nie, lyk sy vaal.

“Jy’s moeg,” sê hy en gee vir haar die koevert met haar tjek.

“Ja, ek is. Dankie.”

“Kan ek jou nie huis toe neem nie?”

“Nee dankie, my kar staan hier buite.”

“Dit was ’n wonderlike ete,” sê hy. “Almal het my gekomplimenteer met die kos. Mense wou weet wie jy is, maar ek het nie jou naam gegee nie.”

Sy maak die yskas oop en begin die bakke insit. “Hoekom nie?”

“As ons getroud is, hoef jy nie meer vir ander mense kos te maak nie.”

“Ek weet nie dáárvan nie,” sê sy. Sy druk die yskas toe, gee ’n laaste kyk oor die skoon kombuis en tel haar handsak op. “Ek ry nou. Laat my maar weet wat verder nodig is en wanneer ek by die magistraatskantoor moet wees.”

Hy knik effens oorbluf en stap saam met haar tot by haar motor, maar sy is duidelik nie lus vir verder gesels nie en groet net met ’n handbeweging voordat sy met die rylaan afry.

Victoria dink nie meer as een of twee keer per dag aan haar toekomsplanne nie, maar toe haar suster Marlise daarvan hoor, is sy baie ontstoke.

“Is jy mal, Vicky?” vra sy ontstem. “Jy kan nie sommer met ’n wildvreemde man trou nie!”

“Jy moenie daaraan dink as trou nie,” sê Victoria. “Dis meer soos ’n nuwe werk, maar vir die eerste keer ’n werk wat my geval. Ek kan heeldag by die huis bly. Ek hoef nie in ’n kantoor te sit nie.”

“Onsin! Trou is trou en jy ken die man van geen kant af nie. Vir al wat jy weet, is hy ’n totale pervert.”

“Nee wat, hy lyk darem nie so nie.”

Marlise is in die stad om babakleertjies te koop vir haar eersteling, wat sy oor enkele maande verwag. Sy is vyf-en-twintig, drie jaar jonger as Victoria, en sy is baie lief vir haar man, Eric. “Hoe lyk hy dan?” vra sy kwaad.

Victoria kyk in die verte. “Baie ordentlik. Jy sal seker dink hy’s baie mooi.”

“Hoekom sal ek so dink?”

“Hy’s lank met sulke dik, donker hare en donkerbruin oë.”

“Dis nie genoeg rede om met hom te trou nie. Wat gaan gebeur as jy iemand ontmoet op wie jy verlief raak?”

“Ek twyfel. Ek het al baie mans ontmoet op wie ek verlief was, en hulle was almal op die ou end skurke.”

“En nou trou jy met ’n wildvreemdeling!”

“Ja. Ek dink dit behoort baie goed te werk. Ek weet presies wat hy van my wil hê en dis presies waarvan ek hou. Hy is buitendien selde by die huis en dit pas my nog beter.”

“Ek dink dis onsinnig. As julle eers getroud is, is jy wettiglik sy vrou en hy kan van jou verwag om … wel, om jou pligte na te kom. Hoe gaan jy hom keer?”

Victoria se oë rek. “Ek dink nie hy is ’n barbaar nie, maar ek sal my deur sluit as dit jou gelukkig sal maak.”

Marlise kyk haar moedeloos aan. Soms voel sy en hulle jonger sussie, Karien, skuldig omdat hulle altyd so swaar op Victoria gesteun het. Sy was die een wat die huishouding oorgeneem het en ma gespeel het vir die twee jongeres, wat gesorg het dat hulle toebroodjies gemaak kom, hulle skooltasse gepak is en hulle klere in orde was. Sy het selfs Marlise se trourok gemaak en die onthaal behartig.

Karien hoef maar net te gebel het om te sê sy moes na ’n dans toe gaan, dan het Victoria materiaal en patrone uitgeruk en vir haar ’n rok gemaak. Deur die jare het hulle op haar skouer gehuil as hulle liefdesprobleme gehad het. Toe Karien op sestien skielik baie gewig opgetel het en sielsongelukkig was daaroor, was dit Victoria wat ’n dieet vir haar uitgewerk het en toegesien het dat sy haar figuur herwin. Hulle het geweet daar was nou en dan ’n man in Victoria se lewe, maar niks meer nie. Of hy haar gelukkig gemaak het, of waarom die verhouding op die rotse beland het, het hulle nooit gehoor nie.

“Ons was nog altyd te selfsugtig,” sê sy nou en steek haar hand uit. “Ek en Karien het jou misbruik. Jy het ons deur al ons dramas gehelp en ons het nooit eens uitgevra na jou lewe nie.”

“My lewe is nie ’n probleem nie.”

“Maar is jy gelukkig?”

Victoria kyk haar peinsend aan. Haar ma was die laaste mens wat dit vir haar gevra het, en dit was twaalf jaar gelede. “Nee,” sê sy eenvoudig. “Ek is nie.”

“Hoekom nie? Hoekom het jy my nooit vertel nie?”

“Ek doen heeldag ’n werk waarvan ek nie hou nie en waarvoor ek nie veel betaal word nie. Die res van die middag en aand werk ek my as af in iemand se kombuis, kom baie laat in die bed en moet weer vroeg opstaan vir nog ’n vervelige dag op kantoor.”

“Maar jy het tog ander kêrels gehad. Wat van … wat was sy naam nou weer? So ’n mooi man met blonde krulhare. Leo, was dit Leo?”

“Ja,” sê Victoria bot.

“Wat het van hom geword? Jy het hom nog saamgebring na ons troue toe en ek het gedog jy lyk baie verlief.”

“Hy het nie dieselfde gevoel oor my nie. Ek was nie sy enigste meisie nie, soos ek mettertyd agtergekom het. Die ander een was baie mooi en sexy.”

Marlise sug. “Jy is ook mooi. Ek dink jy is pragtig. As jy bietjie moeite doen en ander soort klere dra en …”

“Ek hou van my klere,” sê Victoria. “As iemand nie van my hou soos ek is nie, stel ek nie belang nie. Leo en voor hom Johan en voor hom Casper wou altyd hê ek moet iemand wees wat ek nie is nie. Hulle het altyd aan my getorring om my hare kort te knip of te laat krul of rooi te kleur, of om korter rokke te dra, of hoëhakskoene of jeans of iets. Hulle het nooit van my gehou soos ek is nie; hulle wou my verander. Dis hoekom ek dink dit sal werk met Roland. Hy lyk nie asof hy omgee hoe ek lyk nie. Dis ’n saketransaksie en dit pas my.”

“Wel, ek dink dis ’n vermorsing. Ek dink jy het baie om ’n man te bied.”

Victoria glimlag. “Ek weet. My huislike eienskappe. Ek kan kook en ’n huishouding bestuur. Dis wat ek wil doen, en dis wat Roland van my verwag. Heel ongekompliseerd.”

“Maar Leo sou …”

Victoria se lippe verstyf en sy kyk verby haar suster na die venster. “Ek en hy het die oggend in die bed gelê,” sê sy stadig. “Ek het net vir ons koffie gebring toe hy my vra om sy sakboekie uit sy baadjie te haal. Toe ek dit doen, val daar ’n brief van ’n ander meisie uit. Ek het dit gelees, want ons het nie geheime gehad vir mekaar nie – of dis wat ek gedink het. Hy was glad nie ontsteld nie. Allermins. Miskien bietjie verleë. Hy het vir my gesê ek is mos mooi groot en …” Sy byt haar lip ’n oomblik vas. “Dit blyk toe hy het hierdie fantasie van my en hom en die ander meisie, al drie saam in die …” Sy skud haar kop heftig en vee hardhandig oor haar voorkop, asof sy die herinnering wil doodvee. “So jy hoef my nie te waarsku teen perverte nie.”

“Haai, Vicky,” sê Marlise geskok. “Ek het nie geweet nie. Ek hoop jy het die man summier uitgeskop.”

“Ja, ek het.” Sy gee ’n droë laggie. “Hy was gekrenk. Het gesê hy het gedink dit sou volmaak wees. Ek is die afsydige maar huislike een, en die ander meisie is die sekskat, en saam behoort ons al sy fantasieë …” Sy skud weer haar kop. “Genoeg hiervan. Dis lankal verby.”

“Maar dit moes jou diep seergemaak het.”

Victoria staan op om vir hulle tee te maak. “Ja, dit het. Miskien soveel te meer omdat hy die eerste een was.” Sy glimlag wrang. “Ek was mos maar altyd stadig. Moes seker die enigste maagd van ses-en-twintig gewees het. En om dan …” Sy haal die koppies uit die kas. “Jy kan dus verstaan waarom ek nou dink ’n huwelik gebaseer op ’n waterdigte kontrak en duidelik omlynde voorwaardes is presies waarna ek soek.”

“Ek veronderstel so,” sug Marlise bedruk.

Christine le Roux Keur 2

Подняться наверх