Читать книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux - Страница 11

Hoofstuk 8

Оглавление

Ten spyte van Marlise se vyandige houding teenoor Roland, bel sy dadelik vir Victoria toe hulle weer terug is by die huis, om in die eerste plek dankie te sê vir die gasvryheid en in die tweede plek te sê dat hulle albei van Roland hou.

“Jy speel,” sê Victoria ongelowig. “Ek kon sien hy en Eric vind mekaar, maar jý?”

“Ek moes hom eers deurkyk,” verweer Marlise. “Aarde, hy het uit die bloute met my suster getrou, ek het seker die reg om skepties te wees?”

“Nie eintlik nie,” sê Victoria vriendelik. “Dis ék wat met hom getrou het en as ek daarvoor kans sien, verstaan ek nie waarom jý so vyandig was nie.”

“Ek is jammer,” sê Marlise. “Dit was seker verkeerd van my. Voel hy sleg daaroor?”

“Nee wat. Karien se entoesiasme het opgemaak daarvoor.”

Marlise moet lag. “Sy’t nog altyd ’n swak vir ’n mooi man gehad.”

“Dis wat sy my ook vroeër oor die telefoon vertel het,” beaam Victoria.

“Julle moet by ons op die plaas kom kuier,” sê Marlise in ’n verdere poging om te vergoed vir haar gedrag. “Roland het vir Eric gesê hy sal dit geniet.”

“Het hy?” vra Victoria verbaas. Sy kan haar Roland nie eintlik tussen Eric se beeste voorstel nie.

“Sus,” sê Marlise net voor sy aflui, “ek dink jy’t vir jou ’n bed opgemaak waarop jy nie lekker gelê gaan kry nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Net wat ek sê. Groetnis vir Roland.”

Victoria dink in die daaropvolgende dae dikwels aan hierdie woorde en diep in haar binneste weet sy Marlise is reg. Sy het haar in iets begewe wat sy nie regtig deurdink het nie, maar sy skuif gou hierdie krapperige gedagtes eenkant toe. Dit word buitendien nou koud en sy hou van die winter. Sy gaan koop ’n wavrag groente en kook allerhande wonderlike soppe vir die vrieskas. Sy help in die tuin om die laaste uitgeblomde plante uit te trek en plant pronkertjies vir die lente. En sy raas met Roland toe hy een aand na werk eers gaan swem. “Dis hopeloos te koud,” sê sy vir hom waar sy met ’n warm trui aan op die stoep staan. “Jy gaan siek word.”

“Ek was lus om te swem,” sê hy toe hy bibberend uitklim. “En ek het jou al gesê, ek word nooit siek nie.”

Maar ’n paar dae later kan sy een oggend duidelik sien iets is verkeerd. Hy kla nie dat hy siek voel nie, hy lyk net omgekrap waar hy aan die ontbyttafel sit met die koerant voor hom. Af en toe gee hy ’n vieserige hoesie en skraap sy keel asof iets hom hinder.

“Voel jy nie lekker nie?” vra sy taktvol.

“Ek het sleg geslaap.”

“Het jy koud gekry?” vra sy besorg. “Ek hét al die dikker donskombers op jou bed gesit.”

“Nee, ek was te warm,” sê hy geïrriteerd. “Dit het gevoel asof ek in ’n stoombad lê. Ek het kort-kort natgesweet wakker geskrik.”

“Ek is jammer,” sê sy. “Ek sal die donskombers weer bêre.”

Daardie middag kom hy vroeg huis toe en sy kan dadelik sien hy is siek. Sy oë lyk glasig en sy hoes is erger.

“E …” sê sy skugter waar sy langs hom staan. “Mag ek maar?” Sy steek haar hand uit en hou dit teen sy voorkop. Dit voel vuurwarm. “Jy’s siek, Roland,” sê sy streng toe hy sy kop wegruk. “Jy moet in die bed gaan klim. Daar’s nog baie van die griepmedisyne oor, ek sal vir jou bring.”

“Ek wil nie in die bed klim nie,” sê hy koppig. “Ek het nog werk om te doen.”

“Jy kan dit in die bed ook doen,” paai sy.

Hy trek sy baadjie uit en rem sy das los asof hy benoud voel. “Ek makeer niks nie. Ek sal gaan stort en dan …”

“Roland,” sê sy en is self verbaas dat sy so kwaai kan klink. “Gaan klim in die bed! Ek argumenteer nie verder hieroor nie! Jy kan eers stort, maar dan klim jy in die bed. Ek sal vir jou sop bring.”

Hy kyk haar verras aan. “Ek het nie geweet jy is so ’n boelie nie?”

“Jy’t my nog nie gesien as ek op stryk is nie,” sê sy half verleë. “Toe, in die bed.”

Hy gehoorsaam sonder verdere teëstribbeling, en toe sy ’n uur later aan die deur klop met ’n skinkbord kos, lê hy inderdaad in die bed, al lyk hy gegrief. Die groot bed lê besaai met oop lêers en papiere.

Sy sit die skinkbord op die bedtafeltjie neer, tel die glas water op en hou ’n pilletjie in haar hand. “Hier, drink dit eers.”

Hy doen dit gedweë, trek homself regop teen die kussings en balanseer die skinkbord op sy skoot. “Kry ek nie ’n bietjie wyn nie?”

“Nee.”

Hy glimlag skewerig. “Jy ís kwaai met my.”

“Ek weet.” Sy stap deur toe. “Het jy nog iets nodig?”

“Nee, dankie.”

Net voordat sy gaan slaap, loer sy weer by hom in. Hy het aan die slaap geraak en lê skeef en ongemaklik teen die kussings, die bed nog vol papiere. Sy klik haar tong, maak alles bymekaar en sit dit op die laaikas neer. Dan buig sy versigtig oor die bed, trek ’n paar kussings onder sy kop uit en skakel die bedlamp af voordat sy die skinkbord optel. Hy maak ’n steungeluid, maar slaap verder. Sy los sy deur oop sodat sy kan hoor as hy haar roep, maar al wat sy kort-kort hoor, is die hol, roggelende hoes.

Vroeg die volgende oggend is sy langs sy bed met ’n glas lemoensap. “Hoe voel jy?” vra sy simpatiek.

Sy hare is verslaap en hy lyk vir haar baie sieker as die vorige aand. “Nie te goed nie,” erken hy. “Maar as ek eers gestort het en …”

“Niks van die aard nie,” sê sy kalm. “Jy bly in die bed.”

“Ek moet werk toe gaan,” protesteer hy. “Ek en Peter moet vandag …”

“Niks doen nie,” voltooi sy die sin. “Peter kan jou hier kom sien as hy iets wil bespreek. En ek gaan die dokter bel.”

“Nee,” begin hy, maar hy word oorval deur ’n hoesbui wat hom uitgeput laat. “Ek kan nie nou siek word nie,” sê hy klaend.

“Dan moes jy nie nou die aand geswem het nie,” sê sy. “Dis winter.”

Sy loop uit, bel die vriendelike dokter wat bereid was om haar by die huis te kom sien en maak toe vir Roland ontbyt. Hy eet nie veel nie en is baie knorrig toe die dokter kort daarna opdaag.

“Ek makeer niks nie,” kla hy.

Na die ondersoek kyk die dokter na Victoria en toe na Roland. “Dis brongitis, meneer Meyer,” sê hy. “Ek gaan jou dadelik op antibiotika sit en jy gaan in jou warm bed bly tot jy gesond is.”

Roland stem moedeloos in. Hy sluimer later in, en skrik eers wakker toe Victoria met die medisyne wat die apteek gestuur het, langs hom staan.

“Dis nie regverdig nie,” sê hy hees en sukkel regop sodat hy die pille met water kan afsluk.

“Ek weet,” stem sy saam. “Maar jy kan nie baklei teen siekte nie. Doen nou maar wat ons almal sê, dan word jy vinnig gesond.”

“Dis nie wat ek bedoel nie,” sê hy. “Dis nie regverdig dat jy my moet oppas nie. Dis nie in die kontrak nie.”

Sy kyk hom vir ’n oomblik lank aan, maar toe sy praat, is haar stem lig. “Ons kan die kontrak maar ’n bietjie rek,” sê sy. “Ons kon nie alle moontlike gebeure voorsien het nie.”

Hy vee oor sy natgeswete gesig. “Maar op kantoor … Wat gaan hulle dink as ek net wegbly?”

“Ek sal vir Peter bel.”

Sy oë flits. “Nee, nie vir Peter nie! As jy vir mevrou Steyn bel, sal sy wel sorg dat almal weet.”

Sy lyk geamuseer, maar hou haar stem ernstig. “Goed, ek sal nie met Peter praat nie. Liewer met mevrou Steyn.”

Sy gaan bel en kom terug met ’n handdoek en waslap. Hy knor toe sy sy gesig afvee, maar sy steur haar nie aan hom nie. “Jy hoef regtig nie jaloers te wees op Peter nie,” gesels sy terwyl sy sy hande ook met die koel lap afvee. “Karien vertel my hy’t haar gebel en hulle gaan die naweek uit.”

“Ek is nie jaloers nie,” sê hy vinnig. “Ek was nog nooit in my lewe jaloers nie.”

“Nee, natuurlik nie,” stem sy vroom saam. “En hoe kan jy ook jaloers wees oor my?” Sy lag. “Dit sou wees soos om jaloers te wees oor mevrou Steyn of een van die tiksters.”

“Dis nie dieselfde nie!”

“Ja, dit is,” sê sy rustig. “Hulle is ook, soos ek, onder sekere voorwaardes en vir ’n bepaalde doel aangestel.”

Hy gee haar ’n vurige kyk en maak sy oë toe. “Ek wil nou slaap.”

“Goeie plan,” sê sy, trek sy beddegoed mooi gelyk en loop uit. “Roep my as jy iets nodig het. Ek sal sorg dat jy jou medisyne op die regte tyd kry.” Sy gaan staan. “Weet jy, ek onthou my ma het ons gestoom toe ons klein was. Ja, ek onthou dit goed. Mens gooi kookwater in ’n kom en dan gooi jy bloekomolie of so iets by en dan buig jy oor die stoom met ’n handdoek oor jou kop en jy asem die walms in.”

“Nee,” sê hy sonder om sy oë oop te maak.

“Oukei,” sê sy.

Hy glimlag en draai op sy sy om te slaap.

Sy gaan aan met haar eie aktiwiteite, loer nou en dan by hom in en sorg dat hy sy medisyne drink. Na middagete werk sy aan die nuwe tafeldoek en servette wat sy besig is om te maak. Omdat die masjien ’n lawaai maak, hoor sy nie eintlik wat in die huis aangaan nie, maar toe sy eenkeer ophou werk, is sy seker sy hoor stemme. Fronsend staan sy op en stap na Roland se kamer.

Hy sit regop teen die opgestapelde kussings, weer eens omring van papiere en lêers. Peter sit op die punt van die bed en albei se koppe is afgebuig oor die werk voor hulle.

“Wel,” sê sy.

Albei mans kyk op, Peter vriendelik en Roland skuldig. Sy oë sit diep in hulle kasse en voordat hy iets kan sê, word hy oorval deur ’n rou, roggelende hoesbui. Dis so erg dat dit klink asof hy gaan stik.

Victoria stap nader en begin sonder om ’n woord te sê die papiere bymekaarmaak. Sy gee nie om of sy dit deurmekaar maak of frommel nie, sy vee net alles bymekaar en dra dit weg.

“Wag,” keer Peter toe sy die tweede arm vol opraap. “Jy maak dit deurmekaar en …”

“Lyk dit vir jou of dit my pla?” vra sy, ruk ’n lêer onder Roland se hand uit en dra dit ook weg. “Roland is siek. Hy’s koorsig. Volgens die dokter het hy brongitis. Hy is nie by die werk nie en hy gaan nie sy longe hier sit en uithoes terwyl julle twee werkverslaafdes hier aankarring nie.”

“Maar Victoria,” sê Roland en moet eers weer hoes. “Dis ’n verskriklik belangrike kontrak waarmee ons besig is. Dit kan nie uitgestel word nie, anders verloor ons dit.”

“Dis miljoene rande wat op die spel is,” sê Peter. “En die voorlegging moet môre gedoen word, anders sou ek Roland nie gepla het nie.”

Tevrede dat sy die laaste papier buite hulle bereik het, vou sy haar arms. “En wat wil julle daarmee maak?” vra sy.

Roland hoes so dat hy eers water moet drink. “Watse soort vraag is dit?” vra hy toe hy met sy hol oë teen die kussings lê. “Ek is ’n sakeman en dis my …”

“Soos ek die saak sien, het jy genoeg geld,” sê sy.

“Wel, ja,” sê hy onthuts. “Maar dit het niks daarmee te doen nie en ek …”

“Dit het alles daarmee te doen,” sê sy. “Jy kan sonder om ’n oog te knip vir my diamantringe koop, of vliegtuigkaartjies, of wat ook al. Wat op aarde wil jy met nog ’n paar miljoen doen?”

Roland kyk hulpsoekend na Peter. “Dis wat ek doen,” sê hy lamlendig. “Die feit dat een transaksie suksesvol beklink is, beteken nie ek kan nou sit en niksdoen nie. ’n Mens gaan dadelik voort met die volgende een.”

“En die volgende én die volgende een,” sê sy. “Jy hou nooit meer vakansie nie, jy gaan net aan van een jaar tot die volgende. Die lewe kan maar by jou verbygaan; al wat tel, is dat jy nog ’n miljoen maak.” Sy kyk hom vraend aan. “Sê my, wat wil jy daarmee maak?”

Hy haal sy skouers op en begin weer hoes. “Dis nie asof ek dit net in die bank sit en … Profyte word teruggeploeg en stel mense in staat om die volgende projek aan te pak.”

“Al maak dit jou dood?” vra sy. “Al is jy siek en veronderstel om te rus? Sal die miljoene vir jou ’n wonderlike kis koop?”

“Wag nou, Victoria,” protesteer Roland flouerig. “Jy oorreageer.”

“Wanneer laas het jy iets sommer vir die lekker gedoen?” vra sy. “Gaan fliek of piekniek gehou of …”

“Ek haat piekniek hou.”

Peter is dom genoeg om hieroor te lag en hy kry ’n vurige blik van Victoria.

“Die lewe gaan by jou verby, Roland,” sê sy koud. Dan kyk sy na Peter. “Roland moet nou rus.”

“Maar ons moet …” begin Peter.

“Niks nie. Julle moet niks doen nie. As julle die kontrak verloor, is dit jammer. Daar sal wel nog een opduik. En as ek jy is, Peter, kry ek vir my ’n lewe. Daar is ’n lewe daar buite, weet jy? Allerhande goed om te doen behalwe werk. Jy sal jou verbaas.”

Peter is te verstom om te protesteer. Hy staan op en begin die stapels papier in ’n netjiese hoop rangskik. “Ek is jammer,” sê hy. “Ek het nie besef Roland is so siek nie.”

“Hoe siek hy is, is nie van belang nie,” sê sy. “Die feit dat hy in die bed is, beteken hy kan nie werk nie. Hy moet rus.”

Peter kyk na sy vriend, maar kry geen hulp uit daardie oord nie, en toe hy alles bymekaar het, sit hy dit in sy aktetas en stap vinnig deur toe.

“Kan ek vir jou iets aanbied?” vra Victoria vriendelik, om te wys sy is nie kwaad nie. “Tee, koffie, ’n glas wyn?”

“Nee, dankie,” sê hy verbouereerd. “Ek sal maar teruggaan kantoor toe en …”

“Sê vir wie ook al sit en broei oor die kontrak julle laat dit dié keer verbygaan,” sê sy.

Peter is te verbaas om enigsins iets te sê. Hy kyk vir oulaas na Roland, mompel ’n groet en stap vinnig in die gang af. Victoria kyk op haar horlosie.

“Amper tyd vir aandete,” sê sy. “Is daar iets waarvoor jy besonder lus is? Jy het die hele dag nog omtrent niks geëet nie. Sal ek vir jou iets ligs maak – ’n kruie-omelet miskien?”

Roland lê terug teen die kussings en kyk na haar. “’n Kruie-omelet,” herhaal hy. “En dit nadat jy miljoene rande by die deur uitgegooi het.”

Sy haal haar skouers op. “Gaan dit jou laat honger ly?”

“Nee.”

“Gaan almal jou haat?”

“Wel,” sê hy, “ek veronderstel nie, maar mens weet nooit.”

“Dan het hulle nooit regtig van jou gehou nie,” sê sy onverstoord. “As almal van jou hou bloot omdat jy die gans is wat die goue eiers lê, is dit ’n treurige toedrag van sake.”

“Aarde,” sê hy. “Liewe genugtig. Ek het nie geweet jy kan so bitsig wees nie.”

Haar oë rek. “Ek is nie bitsig nie. Ek praat net die waarheid. En ek dink dis tyd dat jy ’n slag gaan stilstaan en besluit wat in jou lewe vir jou die belangrikste is.”

Hy antwoord nie dadelik nie, lê net moeg na haar en kyk. “Wat dink jy is die belangrikste vir my, Victoria?”

Sy kyk vinnig weg, sien dat sy waterglas leeg is en loop badkamer toe om dit weer te gaan vol maak. “Ek moet nou gaan kos maak,” sê sy afwysend.

“Want dis deel van die kontrak,” sê hy neutraal.

“Dit het niks daarmee te doen nie,” sê sy.

“Jy het Peter skoon verskrik.”

Sy haal weer haar skouers op. “Ek sou gedink het jy sal baie bly wees.”

“Nee,” sê hy dadelik. “Ek is nie.”

Sy lag. “Ek gaan nou vir jou ’n omelet maak, Roland, en dan gaan jy jou medisyne drink en dan gaan jy slaap. As jy verder wil praat, sal ek genoodsaak wees om jou ’n bedbad te gee. Weet jy wat dit is? Ek het dit altyd met my sussies gedoen as hulle siek in die bed was. Mens begin bo en eindig by die voete.”

Ten spyte van die feit dat hy baie siek voel en sy lyf brand van die koors, kan hy nie help om te lag nie. “Dink jy dit gaan my laat skrik? Ek sal glad nie omgee as jy …”

Sy swaai om. “Ek gaan jou aandete maak en ek moet nog brood uitgooi vir die voëls. Jy en Peter het my roetine heeltemal omvergegooi.”

Christine le Roux Keur 2

Подняться наверх