Читать книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux - Страница 12

Hoofstuk 9

Оглавление

Roland kry nie weer kans om hom oor die kantoor, sy werk of verlore kontrakte te kwel nie, want hy is te siek. Ten spyte van die medisyne en die inspuiting wat die dokter hom tydens sy tweede besoek gee, is hy drie dae lank baie siek – so siek dat hy nie weet of dit dag of nag is nie. Al waarvan hy bewus is, is dat Victoria altyd daar is met ’n glas yskoue water of lemoensap as hy dors is, dat sy gesig en hande met koel lappe afgevee word en dat sy beswete, omgewoelde bed soggens, wanneer hy badkamer toe gaan, skoon oorgetrek word sodat hy in ’n koel, skoon bed kan terugklim.

Toe hy begin beter voel, is dit weer eens sy wat toelaat dat hy opstaan en vir kort rukkies in die sonkamer sit. Sy dra voedsame, ligte kos aan wanneer sy dink hy moet eet, maar laat steeds nie toe dat enigiemand van die kantoor met hom praat nie.

Peter kom elke dag kyk hoe dit gaan. Victoria ontvang hom hartlik en bied hom iets te drinke aan, maar weier dat hy met Roland praat.

“Ek weet jy’s sy beste vriend,” verduidelik sy. “En jou kommer oor sy gesondheid is ’n riem onder die hart. Ek sal beslis vir hom vertel jy was hier, maar ek vertrou jou nie. Jy sal uitvra na sy gesondheid en dan oor die werk begin praat. En dan sal hy hom begin kwel.”

Peter is nogal beïndruk met haar, al maak hy halfhartig kapsie teen haar streng reëls. Roland het nie net iemand gekry om na sy huis om te sien nie; hy het ook ’n vrou gekry wat regtig na hom omsien. Hy hoop net dit gaan iets verander aan hierdie twee dom mense se verhouding.

Terwyl hy aansterk, voel dit vir Roland asof hy drywend is. Losgemaak van sy ankers. Hy is tevrede om Victoria se bevele te gehoorsaam. Hy vra nie uit na die werk of moontlike oproepe nie, hy dryf net deur die dae.

Hy weet nie of dit deel was van sy koorsdrome nie, maar in sy kop het hy ’n prentjie van Victoria in ’n lang, sagte gewaad en ’n los kamerjas met haar donker hare syerig om haar gesig. Sy buk oor hom, hy kan haar subtiele parfuum ruik en sy sê iets. Dan sien hy hoe sy haar opkrul in die leunstoel langs sy bed.

Die leunstoel staan nie gewoonlik langs sy bed nie, maar in die hoek van die kamer langs ’n ronde tafeltjie. Nou staan dit langs sy bed en Victoria lê teen die donkerrooi bekleedsel in haar sagte wit nagrok. Sy lê met haar kop skuins gedraai soos die keer in die vliegtuig. Die kamerjas het oopgeval en haar bors beweeg rustig op en af. Die sagte materiaal van die nagrok vou soos ’n tweede vel om haar lyf, en hy wil sy hand uitsteek na die sagte rondings. Hy sou dit ook gedoen het as hy nie so seker was dat dit alles net deel van ’n droom is nie.

Toe Roland eers begin beter voel, sterk hy vinnig aan. Hy staan soggens op en trek aan, maar hy voel nog kragteloos en sit graag op die sonstoep met die koerant of ’n boek. Wat vir hom die vreemdste is, is dat hy soveel beter voel en tog geen behoefte het om terug te gaan kantoor toe nie. Dit het nog nooit vantevore gebeur nie. Om net daar te sit en kyk hoe Victoria die plante en struike terugsnoei, die winterson warm op haar blink hare, is vir hom genoeg.

“Jy het my getoor,” sê hy toe sy vir hom tee bring en by hom kom sit. “Ek is seker jy het iets anders saam met die medisyne vir my ingegee. Hoekom is ek so lui?”

“Omdat jy baie siek was.”

“Ja, maar ek is glad nie lus om weer te gaan werk nie. Ek is nie eens lus om vir Peter te bel en te hoor wat daar aangaan nie.”

“Dis wonderlik,” sê sy en gee sy tee vir hom aan.

“Nee, dit is nie. Ons is seker al bankrot.”

“Nee wat,” lag sy. “Ek het nog vreeslik baie oor van daardie enorme bedrae geld wat jy elke maand in my rekening deponeer. Ek kan ons maklik vir ’n paar maande aan die lewe hou.”

“Jy’s veronderstel om dit te gebruik,” sê hy streng. Sy skud net haar kop. “Ek het min nodig.”

Hy kyk na haar trui waaraan los takkies en droë blare vassit. “Toe ek siek was, het ek gedroom …”

Sy kyk belangstellend op. “’n Mooi droom?”

“Pragtig, ja. Ek het gedroom jy lê en slaap in daardie rooi leunstoel in my kamer. Die een wat altyd by die venster staan, behalwe dat hy in die droom langs my bed was.”

“Dit was nie ’n droom nie, ek het die stoel tot langs die bed getrek.”

Hy frons en staar haar intens aan. “En daar gelê en slaap?”

Sy lyk skaam. “Wel, ja. Dit was daardie nag toe jy so erg siek was. Jy het kort-kort geroep en elke paar uur was jy so natgesweet dat dit gelyk het asof jy in die bad was.”

“Ja?” vra hy agterdogtig. “En toe?”

“Dit was net vir my makliker om daar te bly. Toe jy dors was, was ek byderhand en toe ek vir jou droë nagklere moes aantrek, was ek …”

Sy oë rek. “Het ek toegelaat dat jy my uittrek en droog aantrek?”

“Jy was baie deurmekaar,” sê sy en ontwyk sy oë. “En ek het jou gesê, toe my susters –”

“Nee,” val hy haar in die rede. “Jy mag jou susters bygestaan het toe hulle siek was, maar jy het nie broers nie.”

“Die beginsel is dieselfde: ’n mens trek die klam nagklere uit en die skoon, droë nagklere aan.”

Hy dink skielik aan iets en dis ’n ondraaglike gedagte. “Het jy al vantevore … wat ek bedoel, is … was een van jou vorige kêrels al ooit so siek dat jy hom moes oppas en …”

“Nee.”

Hy kyk haar deurdringend aan. “Is jy seker?”

“Ja.” Sy lig haar koppie op. “Jy praat asof ek ’n hele trop kêrels gehad het. Daar was net ’n paar, en net een was soort van ernstig en hy was nooit siek nie.”

“Dis ’n verligting.” Hy sit agteroor in sy stoel, maar nie vir lank nie. “Hoe ernstig?”

Sy lag. “Ek het gedink ek is baie lief vir hom, maar hy het nie dieselfde gevoel nie. Ek weet nie hoekom jy so uitvra nie – my liefdeslewe is beslis nie deel van ons kontrak nie.”

Hy weet dis waar, maar die woorde sny deur hom. Wat bedoel sy met “my liefdeslewe”? Het sy dalk selfs nóú ’n liefdeslewe waarvan hy niks weet nie? “Ja, maar …” sê hy knorrig.

“Dit was lank gelede,” sê sy paaiend toe sy sy gesig sien. “Dis lankal verby.”

“Daar’s nie nou iemand vir wie jy lief is nie?”

Die koppie wankel effens in haar hand en sy lek die gestorte tee op. “Hou nou op met die vrae,” sê sy. “Ek doen dit nie met jou nie. Vir al wat ek weet, het jy ’n string meisies van wie ek niks weet nie.”

“Sou dit jou hinder?” vra hy.

Sy dwing haar stem om geamuseer te klink. “Jy moet regtig weer ’n slag ons kontrak gaan lees, Roland. Ek is glad nie aangestel om my oor jou liefdeslewe te kwel nie.”

“Hoekom het jy my dan so sorgsaam verpleeg?” vra hy. “Dit is nie ’n deel van jou pligte nie.”

Sy haal haar skouers ongemaklik op. “Ja, maar dit het … liewe aarde, ek kon jou mos nie net los terwyl jy siek was nie? As Josef of Sara so siek was, sou ek na hulle ook omgesien het.”

Dít maak hom stil. Sy beskou hom dus in dieselfde lig as Josef en Sara! Haar mensliewendheid maak dat sy siek mense versorg. Sy was nie meer bekommerd oor hom omdat hy Róland is of haar mán is nie …

Toe hy weer terug is op kantoor, is dit asof sy lewe weer stadigaan spoed optel. Die enigste verskil is dat hy nie meer so laat saans op kantoor bly nie. Teen vyfuur voel hy rusteloos, sy werk verloor alle bekoring en hy wil huis toe gaan. Peter is nie spyt hieroor nie. Vir die eerste keer in jare is hy ook smiddae vroeg tuis en kan hy vir Karien bel om te hoor wat sy wil doen.

Roland voel nog steeds skuldig omdat Victoria hom so dag en nag verpleeg het. Sy lyk nie asof dit haar gepla het nie, maar hy voel hy moet haar op een of ander manier vergoed.

“Is daar iets wat jy baie graag wil hê?” vra hy haar een aand toe hulle aan tafel sit. “Ek wil graag vir jou iets gee om dankie te sê dat jy so mooi na my gekyk het.”

“Nee wat.”

“Daar moet iets wees,” dring hy aan. “Iets wat jy nog altyd wou hê en nie kon bekostig nie.”

“Ek dog ons is so arm?” vra sy tergend. “Ek het jou dan miljoene laat verloor?”

Hy lyk skuldig. “Wel, nee, jy het nie. Peter het toe die kontrak gekry. Hy het die werk gedoen terwyl ek so siek was en die mense oortuig om ’n week te wag. Ons het niks verloor nie.”

“Ek sien,” sê sy.

“Jy was hier, jy’t gesien ek het nooit eens die telefoon opgetel nie.”

“Jy kon ook nie, want ek het dit uit jou kamer verwyder.”

“Maar jy weet wat ek bedoel. Dis Peter wat alles aan die gang gehou het tot ek weer op kantoor was.”

“Ja,” sê sy.

“Ons is dus nie arm nie,” gaan hy voort. “En ek wil graag vir jou ’n present gee om dankie te sê.”

“Ek wil nie ’n present hê nie, dankie.”

Hy bestudeer haar. Die enigste juwele wat sy ooit dra, is die diamantring en soms haar ma se pêreloorkrabbertjies. “Wat van ’n goue horlosie of ’n halssnoer of …”

“Nee, dankie,” sê sy beslis. “Ek dra nie eintlik juwele nie.”

“Daar moet iéts wees waarvan jy nog altyd gedroom het!” roep hy moedeloos uit.

Sy kyk hom peinsend aan. “Ja, daar is iets, maar dit val nie eintlik in die kategorie van ’n terloopse geskenk nie.”

“Wat is dit?”

“’n Huis by die see.”

Hy kyk haar verras aan. “’n Huis by die see?”

“Ja.” Sy lyk weer verleë. “Jy hét seker al een. Marlise en Eric het Eric se oorlede ouers s’n en ek het al daar saam met hulle vakansie gehou, maar dis nogal klein en ons was almal so bo-op mekaar en ek –”

“Nee,” val hy haar in die rede. “Ek het nie een nie. Wat moet ek daarmee maak?”

“Dis waar. Jy hou nooit vakansie nie.”

“Maar jy sal daarvan hou?” vra hy en leun vooroor. “Watse soort huis?”

Sy lyk droomverlore, asof sy nie meer daar in die eetkamer sit nie, maar klaar uitkyk oor ’n rollende, altyd veranderende see. “’n Huis wat uitkyk oor die see. Waar ’n mens op die stoep kan sit met jou oggendkoffie en vir die see kan kyk.”

“Ek sien,” sê hy. “Het jy enige besondere see in gedagte? Die Middellandse See, die Noordsee, die Atlantiese …”

Sy lag, knip haar oë en keer terug na die werklikheid. “Nee, die gewone een, ons s’n – die Atlantiese Oseaan.”

Sy oë is tergend. “Die hele een of net ’n deeltjie?”

“Jy spot.” Haar oë word weer sag, asof sy iets sien wat hy nie kan sien nie. “Toe ons klein was, het ons altyd na verskillende plekke toe gegaan, nooit eintlik twee keer na dieselfde strand nie. My ma wou altyd ’n nuwe plek ontdek. Maar toe Marlise en Eric getroud is, het hulle my daardie eerste jaar saamgenooi Duinebaai toe.” Sy kyk na hom. “Dis waar die strandhuisie is wat Eric van sy ouers geërf het. En toe …” Sy bly stil.

“Ja,” por hy haar aan. “Vertel vir my. Wat het gebeur?”

“Ons was so ’n klomp in die huis, ek het jou mos vertel. Hulle het nog ander vriende ook saamgenooi, en jy weet ek hou nie van so ’n drukte en lawaai om my nie, dan het ek gaan stap, en toe …” Sy bly weer stil, asof sy nie weet hoe om dit te verduidelik nie. “Ek het net geweet dis my plek op die aardbol. Het jy al ooit so gevoel? Dat jy na ’n plek kyk en hom inasem en sy geluide hoor en net weet, absoluut seker weet, dis jóú plek op die aarde?”

“Nee,” erken hy, meegevoer deur die onderdrukte passie in haar stem. “Ek het nog nooit so gevoel oor ’n plek nie. Dis hoekom hierdie huis my so vreeslik gehinder het. Dis net ’n spul bakstene met ’n dak op en dit het soveel van my tyd en energie opgeëis.”

“Miskien het jy nog net nooit lank genoeg stilgestaan nie,” sê sy versigtig. “As ’n mens net voortjaag van een klomp bakstene na die volgende, gaan jy … gaan jy nooit weet waar jou tuiste eintlik is nie.”

“Dis moontlik,” gee hy toe. “Maar jy het jou plek gevind en dit is Duinebaai?”

“Ja. Dit was maar twee jaar gelede en ek … wel, die rede waarom hulle my saamgenooi het, was omdat ek toe pas ontsnap het uit die mislukte verhouding waarvan ek jou nou die dag vertel het. Hulle het gedink dit sal my help vergeet.”

“En het dit?” vra hy sag.

Sy knik. “Miskien was dit juis die rede. Ek was … nie gelukkig nie. Bietjie rou. Miskien het ek onbewustelik geweet dat ek ontuis gevoel het op al die plekke waar ek nog was, of tussen die mense met wie ek gemeng het, en … Al wat ek weet, is dat ek onmiddellik geweet het dis waar ek wil wees. As ek daar kon bly, sou ek niks meer van die wêreld vra nie.”

“’n Huis op Duinebaai,” herhaal hy. “Het jy enige spesifieke huis in gedagte?”

Sy lag. “Nee. Dis nie ’n groot plek nie en ek het maar altyd as ek gaan stap, opgekyk na die huise met stoepe wat uitkyk oor die see en gewens …”

“Dat een van hulle joune is,” voltooi hy die sin.

Sy knik en rol haar servet in ’n dun buisie wat sy dan weer losmaak en van voor af oprol.

“Daar is net een ding wat my pla,” sê hy. “Gestel ek koop vir jou so ’n huis, beteken dit dan jy gaan jou tasse pak en daar gaan bly?”

Haar kop skiet op, haar oë ontsteld. “Nee, Roland! Ek het onderneem om jou … wel, om my plig te doen soos ons afgespreek het en ek sal nie sommer dros nie!”

“Wat help dit dan?” vra hy. “Wat help dit jy sit hier en jou hart is op Duinebaai?”

Sy bly afkyk na die servet. “Jy gaan so dikwels weg. Oorsee en so. Vir twee, drie weke op ’n slag. Ek het gedink, dan kan ek mos soontoe gaan en hoef ek nie so alleen hier te sit nie.”

“Is jy alleen as ek weg is?” vra hy en iets roer in sy binneste.

Sy lyk ongemaklik. “Wel, daar is nie soveel om te doen nie en jy wil nie hê ek moet aangaan met die spyseniering nie en twee weke kan baie lank word.”

Hy steek sy hand uit en raak vinnig aan haar rustelose vingers. “Ek is regtig ’n selfsugtige mens. Jy moet my vergewe. Ek is so gewoond daaraan om niemand behalwe myself in ag te neem nie dat ek nie besef het ek is nou getroud nie.”

“Dis nie ’n rede nie,” sê sy. “Ons het nie só ’n soort huwelik nie. Jy kan mos doen wat jy wil. Dis nie deel van die ooreenkoms dat jy nou skielik jou lewenstyl moet verander nie.”

“Vergeet van die ooreenkoms!” sê hy geïrriteerd. Toe hy sien hoe haar oë rek, sê hy gou: “Jammer. Wat ek bedoel, is dat ek binne die ooreenkoms tog darem minder selfsugtig kan optree.”

Sy sê niks nie, begin net die servet in konsertinaplooitjies vou. “Ek wil graag vir jou die huis op Duinebaai gee,” sê hy. “En jy mag elke keer soontoe gaan as ek moet weggaan. Is dit goed so?”

Sy lyk bekommerd. “Jy hoef dit nie te koop nie. Ek het dit net genoem omdat jy so aangehou het. Dit sal te veel geld …”

Hy hou sy vinger waarskuwend in die lug. “Ek wil nie hoor nie!”

Sy glimlag en begin die vuil borde bymekaarmaak. “Maar ek wil ook nie hê jy moet my beloon omdat ek jou versorg het nie. Dit is iets … ek wil nie daarvoor betaal word nie.”

“Akkoord,” sê hy. “Dit het niks met my siekte te doen nie. Ek wil net graag vir jou die huis koop.”

“Dis miskien buitendien ’n praktiese oplossing,” sê sy.

Hy kyk haar vraend aan. “Praktiese oplossing? Waarvoor?”

“Wel,” sê sy weifelend. “Een of ander tyd gaan jy dalk iemand ontmoet vir wie jy … ek bedoel, ’n meisie vir wie jy regtig lief is en met wie jy wil trou, en dan …”

“Ek is klaar getroud.”

“Ja, maar dis sommer met my. Mens weet nooit nie, jy kan iemand ontmoet oor wie jy voel soos ek oor Duinebaai voel. Dat sy, en nèt sy, die een is saam met wie jy die res van jou lewe wil deurbring. Jy het dit so in die kontrak geskryf. As een van ons nie langer met die huwelik wil voortgaan nie, het hy of sy die volste reg om sonder enige komplikasie daaruit te stap.”

“Ja,” sê hy verstom.

“Nou ja? Dan sal daar selfs nog minder komplikasies wees. Geen skuldgevoelens nie. Jy sal jou glad nie hoef te kwel nie, omdat jy verseker sal wees dat ek ’n huis het op die een plek waar ek die graagste wil bly.”

“Dit is waar,” sê hy. “Dankie vir die ete.” Hy gooi sy servet neer en stap onthuts studeerkamer toe.

Christine le Roux Keur 2

Подняться наверх