Читать книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

“Sy’s ’n liewe kind,” sê Peter vir Roland toe hulle in die direksiekamer sit en wag vir die ander mense om by hulle aan te sluit. Hulle is te vroeg, maar Roland het so pas teruggekom van ’n ander vergadering, en hulle is dankbaar vir hierdie kwartier se ruskans.

Roland kyk vinnig op. “Wie?”

“Victoria.”

“Victoria?” vra Roland en sy oë vernou effens. “Jy bedoel my …”

“Ja,” sê Peter geduldig. “Victoria, jou vrou.”

“Wat bedoel jy, ’n liewe kind? Sy’s ag-en-twintig jaar oud.” Roland se stem is aggressief.

“Mens sou dit nie sê nie. Sy lyk vir my agtien.”

Roland skud die papiere voor hom gelyk. “Wat laat jou so sê? Waar sien jy haar dat jy so dink?”

“Jy stuur my elke tweede dag soontoe om iets by haar te kry.”

Roland antwoord nie, slaan net die lêer voor hom oop en dwing Peter so om sy aandag by die agenda te bepaal. Maar toe Peter daardie aand huis toe ry, kan hy nie help om weer aan sy vriend en sy ongewone huwelik te dink nie. Roland probeer van die begin af maak asof alles normaal is, maar hy oortuig Peter nie. Vandat hy die twee die dag in die magistraatskantoor gesien het, weet hy iets is nie pluis nie. Dis nie net dat Roland nie eens onthou het om ’n ring te koop nie, selfs nie die feit dat die twee nooit aan mekaar geraak het of mekaar gesoen het nie. Dis meer. Roland se leefwyse het op geen manier verander nie. Hy gaan nie vroeër huis toe of werk minder oor naweke nie. Sy lewe het onveranderd gebly. Hy neem nie sy bruid op ’n wittebrood nie – liewe aarde, hy neem haar nie eens saans uit nie!

Wat vir Peter nog vreemder is, is dat dit nie lyk asof dit Victoria enigsins hinder nie. Hy is seker hy sien haar meer dikwels en gesels meer met haar as Roland, want daar is heelwat papierwerk om af te handel. Haar paspoort moet in orde kom, en daar is die banksake en ander formaliteite.

Victoria lyk altyd bly om hom te sien en gesels gemaklik met hom. Sy lyk nie asof sy afgeskeep voel nie. Wanneer hy daar kom, is sy gewoonlik in die kombuis besig, soms in die tuin. Sy vra nie uit na Roland nie en lewer geen kommentaar op sy reise of veeleisende werk nie. Die enigste ding waarteen sy kapsie gemaak het, is die groot som geld wat Roland haar maandeliks gee vir die huishouding.

“Dis regtig te veel,” het sy ernstig vir Peter gesê toe sy die bankvorm moes teken. “Ek is ’n baie ekonomiese huisvrou.”

“Roland kan dit bekostig. Moenie sleg voel nie.”

“Dit maak my ongelukkig om geld te mors. Ek sal die balans elke maand spaar, dan kan ek dit later vir hom teruggee.”

“Nee, nee,” het Peter gekeer. “Dit sal alles kompliseer. Gebruik dit vir iets anders. Koop vir jouself klere.” Die oomblik toe hy dit sê, kon hy sy tong afbyt, maar dit het nie gelyk asof sy dit as ’n belediging beskou nie.

“Ek maak gewoonlik my eie klere.”

“Maar miskien wil jy jouself ’n bietjie bederf?” het hy vrolik voorgestel.

Sy het bekommerd aan haar lip gebyt. “Dink jy so?”

Hy het na die paspoortvorms gewys. Die reis na Praag moes uitgestel word omdat sy nie ’n paspoort gehad het nie. “Dis nou winter in Europa. Bitter koud. Het jy nie warm klere nodig nie?”

Haar mooi groengrys oë het geskitter. “Ek sien so uit daarna! Ek wou my hele lewe lank nog oorsee gaan.”

Toe hy ’n paar dae later weer daar kom, het sy vir hom ’n pragtige, sagte wolserp gegee. “Jy’t mos gesê dis so koud daar, Peter.”

Hy moes oorbluf gelyk het. “Ek het vir Roland ook een gekoop,” het sy hom vinnig verseker. “En vir myself. En ’n jas. Gelukkig het party van die winkels al wintergoed ingekry.”

Nee, Peter erken ruiterlik dat hy nie weet wat daar aangaan nie. Dat dit net ’n huwelik in naam is, is baie duidelik, maar waarom? Hy weet die eise van sy huishouding het vir Roland tot raserny gedryf, maar hoekom het Victoria ingewillig? Toe hy die oorsese besprekings moes doen, het Roland hom net ingelig dat Victoria haar eie kamer wil hê. Sonder enige verdere verduideliking. Peter wonder of Roland haar regtig raaksien. Besef hy hoe mooi sy eintlik is met haar groot oë en blink hare, al is sy so onopgesmuk?

Roland is gelukkig salig onbewus van sy vriend se spekulasie. Na ’n maand van getroude lewe kan hy nie anders nie as om te dink dat dit ’n uitstekende besluit was. Hy hoor nooit meer wat in die huis aangaan of nodig is nie. Die nuwe huishulp, Sara, het moeiteloos ingetrek en sover hy weet, verloop alles glad. Josef se arm is uit gips en die tuin lyk pragtig. Soggens agtuur kry hy ontbyt presies soos hy daarvan hou: sy eiers sag, maar nie loperig nie; sy roosterbrood warm en vars; sy koffie geurig en stomend warm. As hy saans by die huis kom, wag daar ’n wonderlike maaltyd op hom. Die uitgedroogde frikkadelle, smaaklose groente en valerige slaai is iets van die verlede. Hy hoef nooit vir Sara daaraan te herinner dat sy beddegoed lanklaas omgeruil is nie en hy hoef veral nie meer in ’n supermark te kom nie. Victoria laat sy pakke droogskoonmaak, sy verwyder op een of ander wonderbaarlike manier die inkvlekke uit sy hempsakke, en sy broeke word gepars.

Hy wonder waarom hy nie lankal getrou het nie. As hy geweet het dis so moeiteloos … Sy dring haar nooit aan hom op nie. Wat sy heeldag doen, weet hy nie. Saans as hulle eet, gesels hulle en soggens is sy stil omdat sy gou gesien het hy verkies om die koerant te lees terwyl hy ontbyt eet.

Die enigste haakplek tot dusver was toe hy een aand by die huis kom en net ’n briefie kry wat verduidelik waar sy aandete is en hoe hy dit moet opwarm. Hy het haar gaan soek, maar sy was nie in die huis nie en haar motor ook nie in die motorhuis nie. Hy was dadelik onvergenoeg, en toe sy teen halftwaalf nog nie by die huis was nie, nogal bekommerd.

Toe sy instap, het sy moeg gelyk en hy was op die plek kwaad. “Waar was jy die hele aand?” wou hy weet.

“Ek het ’n ete gehad.” Sy het die ketel aangeskakel. “Ek is nou lus vir tee.”

“’n Ete? Wat bedoel jy, ’n ete?”

Sy het verbaas na hom gekyk. “’n Ete. Goue bruilof.”

“Jy kan nie meer spyseniering doen nie!”

Sy het ’n teesakkie uitgehaal. “Wil jy ook tee hê? Hoekom kan ek dit nie meer doen nie? Ek hou daarvan.”

“Maar jy’s nou getroud.”

Sy het haar wenkbroue gelig. “Wat het dit met die saak te doen? Dis my werk.”

“Gee ek jou nie genoeg geld nie?”

“Natuurlik gee jy my genoeg – te veel, eintlik. Maar ek hou daarvan.”

Hy was sommer nukkerig. “Ek hou nie daarvan nie.”

Sy het vriendelik geglimlag. “Ek is jammer om dit te hoor, maar jy werk tog saans. Dis nie asof ek jou pla nie. Ek het jou aandete reggesit. Het jy dit gekry?”

“Ja, dankie.” Hy het geweet hy het nie die reg om te kla nie, maar hy kon homself nie help nie. “Jy kan nie snags alleen rondry nie. Dis gevaarlik.”

“Dit was nie ver hiervandaan nie,” het sy geantwoord. “Ek kon tog nie die mense in die steek laat nie.” Sy het weer na die teesakkie gewys. “Tee?”

“Ja, dankie.” Hy het die koppie by haar gevat. “Maar ek sien nie waarom jy nog vir ander mense wil kook nie.”

“Dis vir my lekker, Roland. Ek hou daarvan om soms ander mense te sien.”

Hy het op die plek skuldig gevoel en dit het hom kwaai laat reageer. “Jy het gesê jy hou daarvan om by die huis te bly. Jy het gesê jy haat dit om te werk.”

“In daardie dooie ou kantoor, ja, maar ek hou daarvan om kos te maak. Veral vir so ’n geleentheid. Ek wens jy kon die tafel gesien het. Ek het peule goud geverf en net goudkleurige blomme gebruik en …” Sy het vinnig stilgebly. “Dit was … e … baie mooi.”

Hy het soos ’n bullebak gevoel, veral omdat sy moeg gelyk het. “Wel, dis laat, ons moet nou gaan slaap. O, Peter sê jou paspoort sal hierdie week reg wees. Dan vertrek ons volgende Sondagaand.”

Haar hele gesig het opgehelder. “Regtig? O, ek sien so uit daarna! Gaan Peter ook saam?”

“Vanselfsprekend.” Hy was dadelik weer agterdogtig. “Hoekom vra jy?”

“Hy’s baie gaaf. Ek hou van hom.”

Hy het sy teekoppie opgetel en opgestaan. “Ek het nog werk,” het hy kortaf gesê. “Lekker slaap.”

Sy het haar koppie uitgespoel, die lig afgeskakel en kamer toe gegaan.

Toe Victoria se paspoort opdaag, is sy in vervoering. Dae lank staan haar tas oop op ’n stoel in haar kamer en pak sy in en uit, so opgewonde dat sy seker is sy gaan iets belangriks vergeet.

Meneer Smuts kom laai hulle Sondagaand op. Peter is klaar in die motor. Victoria het glad nie geweet wat om aan te trek nie omdat dit nog so warm is, maar het uiteindelik op ’n lang romp, bloes en enkelsteweltjies besluit, met haar nuwe jas oor haar arm.

Dis ’n gemaal en gewoel op die lughawe, maar Victoria geniet alles en merk skaars op hoe glad en vinnig alles onder Peter se bekwame en ervare leiding geskied. Roland lyk bloot ’n bietjie geïrriteerd. Hy is al so dikwels deur hierdie formaliteit dat hy dit net as lastig beskou. Toe hulle eers in die vliegtuig sit, slaan hy die koerant oop en begin lees. Victoria, wat tussen hom en Peter sit, verkyk haar steeds aan alles.

Sy voel ’n hollerige kol op haar maag en is skielik nie meer seker of sy van vlieg gaan hou nie. Die vliegtuig lyk vir haar te swaar en groot om ooit alleen in die lug te kom. Toe die vliegtuig met sy lomp, waggelende rit na die aanloopbaan begin, leun sy nog verby Roland om by die venstertjie te kan uitsien. Maar toe die enjins begin opwarm en al vinniger draai, sodat haar ore sing, voel sy bang. Geen voertuig kan so vinnig ry nie, dink sy angstig en druk haar lyf teen die sitplek vas.

Roland het sy koerant opgevou en kyk onbelangstellend deur die venster, en dis Peter wat oplet dat Victoria spierwit is. Klein sweetdruppeltjies pêrel op haar voorkop.

“Haai, Vic-” begin hy, maar Roland draai sy kop, sien hoe versteen van angs sy is en steek sy hande uit om albei haar bewende hande in syne vas te vat.

“Ons is netnou in die lug,” sê hy rustig. “Nes ons die regte hoogte bereik en gelyk vlieg, sal jy nie eens weet ons is in die lug nie.”

Sy sê niks nie en Peter kyk weg, bly dat Roland darem haar vrees raakgesien het en iets daaromtrent doen. Die oomblik toe die sitplekgordels losgemaak kan word, is dit asof almal ontspan. Die ligte word helderder, mense begin gesels, die lugwaardinne en vlugkelners verskyn met trollies en drinkgoed.

“Sien jy?” sê Roland vertroostend. “Nou is alles weer normaal.” Victoria glimlag bewerig, haal ’n snesie uit en vee oor haar gesig.

“Ek is jammer,” fluister sy.

Roland voel self ’n bietjie ongemaklik. Hy moes nog nooit iemand se hande vashou omdat sy bang is nie en hy is verbaas oor sy reaksie. Hy voel … beskermend en … Hy is verlig toe hy hulle bestelling vir die vlugkelner kan gee. Victoria stribbel teë toe hy vir haar witwyn bestel, maar hy verseker haar ferm dat sy dit nodig het.

Hy is ook reg, want na ’n paar slukkies kry sy weer kleur in haar wange en begin ontspan. Die mans eet nie veel nie en krap puntenerig hulle kos deurmekaar, maar sy vind al die klein bakkies baie oulik en eet al haar kos op. Sy is ook die enigste een wat na die fliek wil kyk en sy stel voor dat sy met Peter plekke ruil sodat hy en Roland langs mekaar kan sit en werk. Maar sy kan nie regtig die verhaal volg nie, want haar oë brand en sy raak te vaak. Baie ander passasiers het al hul slaapmaskers op en kussinkies onder hulle koppe. Sy haal die oorfone uit, druk haar kussinkie teen haar wang en kantel skuins. Roland kyk na haar en sien dat sy nie weet haar sitplek kan agteroor sak sodat sy gemakliker kan lê nie. Hy leun oor Peter en probeer dit doen.

“Toemaar,” sê Peter, “ek sal.” Hy verstel haar sitplek en haar oë fladder oop. Sy gee hom ’n dankbare, slaperige glimlaggie.

Roland voel nie baie gelukkig oor die glimlag nie, maar bepaal sy aandag opnuut by die werk. Die oomblik as hulle in Praag land, wag daar ’n rits afsprake en vergaderings en hulle moet voorbereid wees.

Van tyd tot tyd kyk Roland na Victoria, maar sy slaap rustig. So vas, sien hy na ’n halfuur, dat sy effens op haar sy gedraai het en haar kop nou teen Peter se skouer rus.

“Ek dink ek en jy moet omruil,” beveel hy vir Peter. “Victoria gaan jou pla.”

Peter kyk na die blink donkerkop wat teen sy skouer rus. “Ag, sy pla my nie,” sê hy ongeërg, maar Roland het reeds opgestaan en hy het geen keuse as om te gehoorsaam nie.

Victoria word gesteurd wakker en knip haar oë verward. “Ek is so dors,” prewel sy.

Roland, gesoute reisiger wat hy is, haal die blikkie sodawater en glas wat hy vroeër by die kelner gekry het uit en skink vir haar. Sy drink dit dorstig, maar dis duidelik dat sy baie vaak is. Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar mond, knip haar oë ’n laaste keer en raak weer aan die slaap. Roland trek die kombers oor haar skouers en besef dat sy gemakliker sal lê as sy sitplek ook teruggekantel is. Hy maak sy tas toe en laat sy sitplek sak.

“Wil jy slaap?” vra Peter verbaas. Roland kla altyd dat hy nie op ’n vliegtuig kan slaap nie.

“Ja, ek is nogal moeg.” Roland skik Victoria se kussing so dat sy nou slap teen sy skouer lê en maak sy oë toe.

Peter draai na die venster toe en kyk na sy eie weerkaatsing. Die beeld in die ruitjie lyk ewe geamuseer. Hy probeer onthou watter tipe meisies Roland deur die jare uitgeneem het. Daar was baie, maar hy is doodseker nie een het nog ooit Roland se hartsnare geraak nie. En daar was beslis niemand soos Victoria nie.

Hulle was almal baie gesofistikeerd en wêreldwys. Modieus ook. Sover hy kon sien, het hulle Roland ook maar gebruik. Gehou van die aansien wat hulle gehad het as metgesel van so ’n man.

Daar was een wie se naam hy nie eens meer kan onthou nie, wat ’n laspos geword het. Sy het Roland tydig en ontydig gebel. Geneul as sy nie van hom hoor nie, en soms sommer ongenooid by die kantoor opgedaag. Ja, hy onthou haar. Toe hy eenkeer in Roland se kantoor ingekom het, het sy op sy lessenaar gesit en in Roland se rigting oorgeleun. Hy onthou nog hoe benoud Roland gelyk het. Daardie meisiekind wou met Roland trou en sy het alles probeer. Hoe hy op die ou end van haar ontslae geraak het, weet Peter nie, maar sy het later van die toneel verdwyn.

“Nee, dit help nie,” het Roland na die tyd vir hom gesê. “Sodra ek ’n meisie saamnooi na ’n ete toe, dink sy ek wil met haar trou. Ek dink dis beter as ek op my eie gaan. Gasvroue nooi altyd ’n ekstra meisie, en alhoewel dit op sigself ook ’n komplikasie kan word, is dit beter. Moreel gesproke skuld ek daardie meisie niks nie. Ek hoef haar nie huis toe te neem en dan al daardie drama te hê van kom-in-vir-’n-laaste-drankie nie. Vroumense wil te veel van my hê. Ek het nie tyd daarvoor nie.”

Is dit hoekom hy met Victoria getrou het? wonder Peter nou. Beskerm sy huwelik hom nou teen al die ander vroumense wat agter sy lyf en veral sy posisie aan was? Hy hoop nie dis die geval nie. Victoria is te onskuldig om so gebruik te word. Aan die ander kant lyk sy vir hom allesbehalwe veeleisend. Miskien weet sy waarvoor sy haar ingelaat het en is sy tevrede met die reëling. As dit die geval is, sal hy wat Peter is nie inmeng nie, maar hy gaan nie staan en toekyk dat sy afgeskeep of seergemaak word nie. Dit sal wees soos om ’n klein katjie te skop; ’n hulpelose, weerlose klein …

Peter slaan sy gedagtes hok en kyk na die twee langs hom. Dit lyk asof Roland slaap. Sy kop is weggedraai van Victoria af, maar sy lê opgekrul op haar sy, haar kop teen Roland se skouer genestel. So aan die slaap lyk sy vir hom selfs jonger as gewoonlik, haar wimpers syerige halfmane teen haar wange.

“Waarna kyk jy?” vra Roland sonder om sy oë oop te maak.

Peter gee ’n oordrewe gaap, tel sy kussinkie op waar dit tussen sy voete geval het en druk dit teen die venster. Hy kan netsowel ook probeer slaap.

Christine le Roux Keur 2

Подняться наверх