Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 10

Hoofstuk 7

Оглавление

Sandra laat weet dat sy die Paasnaweek kom kuier en Julia sien met ongeduldige opwinding uit na haar besoek. Na meer as drie maande voel sy tuis in die gemeenskap, maar sy het nog niemand ontmoet wat ’n boesemvriendin kan word nie. Wanneer sy in die dorp is om inkopies te doen, groet die mense haar, kom knoop ’n geselsie aan en sal haar selfs nooi om saam tee te drink. Na hulle braaivleis is sy en André teruggenooi na heelwat etes en gesellighede.

Sy weet die mense vind haar miskien ’n bietjie afsydig, maar dis omdat hulle nie die feite ken nie. Sy voel dit sal onregverdig wees om haar in die omgewing in te grawe, net om oor ’n jaar weer te loop. Sandra weet alles, daar is nie geheime tussen hulle nie. Met haar sal sy die heerlikheid van die plaas kan deel sonder om skuldig te voel.

Intussen ry sy tog na ’n kwekery naby die dorp en koop ’n klomp struike wat sy solank plant. Sy hou dadelik van die man wat die kwekery bestuur en bring ’n hele oggend daar deur terwyl hulle gesels oor plante en tuine.

“Ek dog jy het gesê jy gaan eers in die lente begin verander aan die tuin?” merk André op toe hy haar in die tuin sien woel.

“Dit kan nie langer so leeg staan nie,” sê sy sonder om te verwys na Wilma se opmerkings oor die tuin.

Wilma het die gewoonte om oor naweke perd te ry en alhoewel Julia haar gewoonlik net in die verte sien, kom sy tog een middag tot op die werf. Radar, al goed genoeg geleer dat hy by Julia bly, grom waarskuwend en lyk asof hy op Julia se bevel ruiter en perd van die werf af sal verjaag.

“Wat ’n verrassing,” sê Julia, en sy staan en kyk hoe Wilma die perd aan die heining vasmaak. “Jy is seker dors.”

“’n Koppie tee sal lekker wees,” sê Wilma en sy kom nader. “Ek het vir André in die onderste kamp raakgeloop en hy het gesê ek moet kom hallo sê.”

Julia onderdruk die vreemde gevoel wat hierdie woorde in haar wakker maak. “Sal ons sommer op die stoep sit? Ek sal vir Mieta gaan vra om vir ons tee te maak.”

Maar Wilma wil nie op die stoep wag nie. “Ek stap sommer saam,” sê sy en voeg die daad by die woord.

In die huis kyk sy nuuskierig rond – hoekom, weet Julia nie.

“Dit lyk nog presies dieselfde,” sê sy. “Jy het inderdaad niks verander nie.”

“Ja,” sê Julia, maar toe sy die koppies op die skinkbord pak en koekies uithaal, sien Wilma dadelik raak dat dit nie koppies is wat sy ken nie.

“Mooi teestel,” merk sy op.

“Dankie, my ouers het dit vir my gegee.”

“André en oom Septimus het altyd daardie lelike ou kombuiskoppies gebruik,” sê Wilma, “al het ek vir hulle gesê die ander is veel mooier.”

“Die ander?”

“Daardie pragtige ou stel in die buffet in die eetkamer,” sê Wilma.

Julia pers haar lippe opmekaar. Sy weet van die stel in die buffet, maar sy verkies haar eie. Sy dra die skinkbord uit na die stoep toe en hulle gaan sit.

“Ai, dit bly darem die mooiste uitsig in die wêreld,” sug Wilma. “Ons huis is in die vallei; ’n mens kyk teen die bome vas. Ek het altyd vir André gesê ’n mens moet elke oggend gelukkig wakker word as jy na hierdie panorama kan kyk.”

“Dis waar.”

“Veral ’n stadsmens soos jy, gewoond aan die geluid van motors en die reuk van uitlaatgasse.”

Julia verwonder haar aan die meisie. Alles wat sy sê, klink redelik genoeg, selfs simpatiek. Waarom ervaar sy alles dan as ’n bedekte beskuldiging?

“Jy ken André seker al lank?” vra sy.

“Sedert hy oorgeneem het,” sê Wilma. “Ek weet hy het as skoolseun altyd vakansies hierheen gekom, maar ek was toe nog te jonk om kennis te neem daarvan. Ek was seker so veertien toe ek hom die eerste keer ontmoet het. Hy was pas klaar met universiteit. Ons het dikwels saam perdgery.” Sy kyk na Julia. “Ry jy perd?”

“Nee.”

“Dis jammer,” sug Wilma. “Hy is baie lief daarvoor.”

Julia sit na haar en kyk. Die ander meisie se dik bene is gegiet in haar rybroek; dit lyk asof die nate tot hulle uiterste gespan is. Haar mollige handjies lê ontspanne op haar skoot, elke vingernael perfek gevyl en ligpienk geverf. Sy kyk vinnig na haar eie hande. Die naels is steeds kort geknip en ongeverf, maar haar hande is darem in ’n beter toestand sedert sy met handskoene aan begin tuinmaak het.

Wilma, wat gesien het waarna Julia kyk, laat haar oë op hulle beurt oor Julia se lang, welgevormde, bruingebrande bene in die kortbroek gly. “Jy is gelukkig om ’n kortbroek te kan dra,” sê sy. “Ek hou maar by rokke of langbroeke.” Sy slaag daarin om dit te laat klink asof kortbroeke verwerplik is en rokke die ideaal.

“Dis soveel gemakliker,” sê Julia koel.

“Ek sien jy dra nie ’n verloofring nie.”

“Nee,” antwoord Julia. “Ons het nie die nodigheid daarvan ingesien nie.” Sy vryf Radar se kop waar hy waaksaam langs haar stoel lê.

“Foei tog, ek het gehoor jou hond is doodgery,” sê Wilma.

“Ja, maar André het hierdie lieflike hond vir my gegee.” Sy glimlag vir Radar.

Op hierdie oomblik sien sy die bakkie stilhou en André kom met die stoeptrap opgedraf. Radar gaan groet hom en begelei hom totdat hy sit.

“Jy is seker lus vir tee,” sê Julia en staan op. “Ek gaan maak gou ’n vars pot.”

Toe sy na vyf minute terugkom met die teepot en nog ’n koppie, lag Wilma en André uitbundig. Omdat sy nie weet waaroor hulle lag nie, hou sy haar besig met die skink van die tee.

“Wilma vertel my van oom Frekie,” verduidelik André. “Onhebbelike ou oom.”

“Ken jy hom?” vra Wilma vir Julia.

“Nee.”

“Dan help dit nie ek vertel jou nie.” Wilma skud haar kop en vee oor haar oë. “Haai, ek moet ry, my ma-hulle sal wonder waar ek is. Baie dankie vir die tee.”

“Dit was ’n plesier.”

Julia bly sit en kyk hoe André Wilma na haar perd vergesel, hoe hy sy hand hou om haar op te help, hoe hy bly staan totdat sy in die pad af verdwyn, en sy verwonder haar weer oor die heftigheid van haar gevoel.

“Het julle twee lekker gekuier?” vra André toe hy kom sit om ’n tweede koppie tee te drink.

“Ja dankie.”

“Hou jy nou meer van haar?”

“O ja,” jok sy sonder om ’n oog te knip. Na die braaivleis, toe sy so ongevraag haar opinie van Wilma gegee het, is sy baie versigtig. In die eerste plek het sy nie die reg nie – sy wat Julia is, is ’n tydelike reisgenoot op André se pad; wanneer sy weg is, moet hy met sy lewe voortgaan. Waarom sy so teenoor Wilma reageer, verstaan sy ook nie. Sy is en was nog nooit besitlik nie; dis ’n oerimpuls wat doodgedruk moet word.

André kyk haar ondersoekend aan, maar sy hou haar gesig uitdrukkingloos.

“Is dit moeilik om perd te ry?” vra sy.

“Nee, ek dink nie so nie. Sou jy wou leer?”

Sy probeer ongeërg lyk. “Ja.”

“Dan kan jy saam met Wilma ry,” sê hy en staan op. “Sy is ’n baie geesdriftige ruiter.” Hy kyk oor sy skouer na haar, sy gesig sonder uitdrukking. “Ons kan vanmiddag gaan ry. Ek sal die perde laat opsaal. Dankie vir die tee.”

Sy dra die skinkbord kombuis toe, haar gedagtes in ’n warboel.

Toe hy later die middag na haar roep, is sy aangetrek en reg. As sy kan perdry wanneer Sandra kom, sal dit lekker wees. Dit sal Sandra wys hoe goed sy al aangepas het op die plaas. As sy egter gedink het een middag se ry gaan haar in ’n kampioen verander, het sy dit mis. Teen die tyd dat sy net voor aandete in die bad klim, voel dit asof elke been in haar lyf losgeskud is en elke spier verrek is.

“Jy het ’n slag daarmee,” komplimenteer André haar toe hulle aansit om te eet. “Jy gaan vinnig leer en wanneer jy eers bedrewe is, kry ons vir jou ’n beter perd.”

“Ek voel nie bedrewe nie,” kla sy. “Ek voel asof ek deur die hamermeule gestoot is.”

Haar opinie van Wilma het ook noodgedwonge verander. Enigeen wat so moeiteloos op ’n perd kan galop, moet bewonder word.

Sy hou egter vol, hoe seer haar lyf ook al is. Elke middag klim sy op die perd en leer iets by. Haar beker loop oor toe hulle twee weke later, die middag voordat Sandra kom, gaan ry en vir Wilma teëkom.

“Nou toe nou!” sê Wilma en sy hou haar perd in. “Ek het gewonder wie dit is wat saam met André ry toe ek julle in die verte sien.”

“Sy’s ’n goeie student,” sê André lojaal. “Sy leer vinnig.”

“Ek kan dit sien,” sê Wilma.

Julia kan nie besluit of Wilma regtig beïndruk is nie en sy gee ook nie om nie. Hulle gesels oor kleinighede, groet en ry verder.

Julia is so in haar skik dat sy vergeet wat André haar geleer het. So hooghartig ry sy die werf binne, die teuels te slap in haar hande, haar gedagte by haar triomf en nie by die perd nie, dat sy onkant betrap word toe die perd vir die blasende eende skrik wat altyd dié tyd van die aand op die werf rondwaggel. Die perd ruk eenkant toe en sy val af, rollend in die stof.

“Julia!” roep André, en hy gly van sy perd af. “Het jy seergekry?”

“Nee,” sê sy suur, staan op en stof haar af.

Hy staan na haar en kyk, ’n geamuseerde uitdrukking op sy gesig. “’n Mens moet ten minste een keer afval voordat jy jouself ’n ruiter kan noem,” sê hy.

Sy vat haar perd se teuels vas en lei hom na die skuur om af te saal. Toe gaan bad sy, haar eer gekrenk, al weet sy sy kan net haarself en haar valse gevoel van selfvertroue daarvoor blameer. Sy is baie bly dit het op die werf gebeur en nie voor Wilma nie.

Na aandete sit hulle en televisie kyk toe die telefoon lui. Sy tel die gehoorstuk op, haar gedagtes by die nuusleser op die skerm.

“Julia Malan,” sê sy soos sy nou al gewoond is om te sê. Dan verander haar gesigsuitdrukking. Sy hou die gehoorstuk ’n ent van haar af, staar daarna asof dit ’n slang is en bring dit weer nader aan haar oor sonder om ’n woord te sê.

André, wat haar skerp dophou, draai die televisie sagter en kyk haar vraend aan toe sy die gehoorstuk neergooi sonder om te praat. Onder haar sonbrand is sy wit om die mond.

“Wie was dit?” vra hy.

Sy haal hygend asem, loop terug na haar stoel en gaan sit opgekrul daarin, haar arms om haar opgetrekte bene. Voordat sy iets kan sê, lui die telefoon weer.

“Moenie antwoord nie!” sê sy.

“Julia,” vra hy redelik, “wie was dit?” Hy staan op, tel die gehoorstuk weer op en sê koel: “André Malan hier.” Hy kyk na Julia. “Nee, sy is nie op die oomblik beskikbaar nie.” Hy luister nog ’n ruk. “Haar man, waarom?” Dan sit hy die gehoorstuk neer. “Wie is Wilhelm?”

“Hoe het hy uitgevind waar ek is?” vra sy ontsteld. “Wat wil hy hê?”

“Hy het my nie gesê nie. Hy wou met jou praat.” Hy gaan sit weer, sy skerp oë steeds op haar.

“Het jy vir hom gesê wie jy is?” Haar stem het ’n histeriese klankie in.

“Ja.”

“Dis goed,” sê sy en sit voor haar en uitkyk, haar oë donker van emosie.

“Wie is hy, Julia? Jy weet wie hy is.”

“Hy is niemand nie,” sê sy hatig. “Ek wil regtig nie oor hom praat nie.”

“Maar hy is die rede waarom jy so ’n hekel het aan mans?”

Sy antwoord nie, haal net haar skouers op.

“Wil jy nie maar vir my vertel nie?”

“Nee,” sê sy beslis. “Ek het hom meer as ’n jaar laas gesien; ek dog hy is al getroud.”

“Dan kan jy my mos maar vertel.”

“Nee.” Sy skud haar kop. “Ons maak almal foute wanneer ons jonk is. Hy is die grootste fout wat ek ooit gemaak het, maar dis lankal verby. Ek kan nie dink wat hy van my wil hê nie.”

Hy vra nie verder uit nie, draai weer die televisie harder en hou sy oë op die skerm, maar sy voel tog hoe hy kort-kort ondersoekend na haar kyk.

“As hy weer bel,” sê sy net voordat sy opstaan om te gaan slaap, “sê vir hom jy is ’n baie jaloerse man en jy gaan nie toelaat dat hy met my praat nie. Sê enigiets, laat hom dink jy is ’n monster, ek gee nie om nie. Solank ek net nooit weer met hom hoef te praat nie.”

“Ek ís ’n baie jaloerse man,” sê hy gelykmatig, so sonder emosie dat sy glad nie weet of hy spot nie.

“Dis goed,” sê sy.

Die volgende dag kom Sandra en Julia se blydskap verdring alle onplesierige gedagtes. Sy gaan haal Sandra op die lughawe en hulle praat soveel dat die kilometers verbyglip en sy skoon uitasem van al die uitvra en gesels op die werf stilhou.

“O,” sê Sandra en bly staan soos Julia daardie eerste oggend, “kyk net die uitsig!”

Julia is uitgelate van vreugde. Sy wys na alles, wil dat Sandra in die eerste paar minute alles inneem en waardeer. “En hier is André,” sê sy toe sy die bakkie sien stilhou.

André kom nader, groet en dra Sandra se tas na die gastekamer. Julia sit op die bed terwyl Sandra uitpak en hulle gesels onophoudelik. Julia is eintlik ongeduldig terwyl hulle tee drink, want sy wil dadelik gaan stap en vir Sandra alles wys.

“Vriendin,” sê Sandra opreg toe hulle ’n ent berg se kant toe gestap het en onder die bome sit en rus, “ek weet nie hoe jy dit alles gaan laat agterbly aan die einde van die jaar nie. Dis te mooi.”

“Wag totdat ek jou môre my rivier gaan wys!” terg Julia. “Al is daar nou bykans geen water in nie, bly dit my geliefkoosde plek.”

Sandra wys na die soliede huis wat ver onder hulle lê. “Hoe gaan jy ooit leef in jou klein huisie na hierdie pragtige ou huis? Jy gaan versmoor.”

“Onsin,” lag Julia. “Ek kan by enigiets aanpas.”

“En hierdie pragtige man,” gaan Sandra voort asof Julia nie gepraat het nie. “Ek het vir Dolf en ek is baie lief vir hom, maar ek kan jou sê as dit nie die geval was nie en iemand soos jou André kruis my pad, sien julle my nie gou weer nie.”

“Hy is nie my André nie,” sê Julia geamuseerd. “Glo my, sy Wilma is nog in die prentjie.”

Sandra loer na Julia. “Haal haar uit die prentjie uit. Wat makeer jou?”

Julia skud net haar kop en lag. Dan versomber sy skielik toe sy van die vorige aand onthou.

“Wilhelm het gisteraand gebel. Waar kry hy my telefoonnommer?”

“Nie by my nie,” sê Sandra dadelik. “Wat wou hy hê?”

“Ek weet nie; ek het die gehoorstuk neergegooi en toe hy weer bel, het André opgetel.”

“En hopelik vir hom vertel dat jy nou getroud is?”

“Ja.”

“Ek wonder wat hy wou hê?” sêvra Sandra nadenkend.

“Hy gaan my nooit vergewe nie,” sê Julia somber. “Hy sal my lewe verpes net uit lekkerte.”

“Jy kan hom ook nie blameer nie,” sê Sandra eerlik. “Jy het hom kaal gestroop.”

“Hy het dit verdien.”

“Ongetwyfeld.” Sy staan op en hulle stap terug huis toe.

Toe hulle later gereed maak vir aandete, kom Sandra na Julia se kamer toe en kyk nuuskierig rond. “So, dís waar jy slaap?”

“Ja,” sê Julia, besig om haar hare met lang hale te borsel.

“En hy?”

“Langsaan. In sy ou kamer.”

Sandra skud haar kop. “Wat sê die huishulp daarvan?”

“Ek weet nie.” Sy vertel van die tandeborsel en waslap, van die nagklere wat sy in sy kamer laat rondlê en Sandra gil soos sy lag.

“Ek hoop júlle besef hoe snaaks julle is,” sê sy vir Julia.

Die kuier gaan vir Julia gans te vinnig verby. Sandra besit die vermoë om mense te laat ontspan. Sy sien altyd die humor in enige situasie en hulle drie sit die aande om en lag en klets. Dis asof André ook in haar teenwoordigheid spontaner word, nie so bang om emosie te wys nie. Hy kry dit selfs reg om vir Julia te terg, meer speels te raak met haar.

“Jy moet haar net so ver kry om beskuit te bak,” sê hy die laaste aand vir Sandra.

Julia kyk hom verbaas aan. “Jy het nog nooit iets van beskuit gesê nie.”

“Natuurlik nie. Ek koop maar by die tuisnywerheid wanneer ek onthou.”

Die oggend nadat Sandra weg is, paslik beïndruk deur Julia in haar rol as boervrou en veral as perderuiter, vat Julia vir André vas.

“Daardie opmerking oor die beskuit,” sê sy. “Wil jy regtig hê ek moet bak?”

“Nee, nee,” sê hy weer op sy beleefde manier. “Ek kan koop.”

“Maar jy hou daarvan?” dring sy aan.

“O ja.”

“Ek kan beskuit bak,” sê sy. “Maar dis seker nie regte boerebeskuit nie.”

“Ek het net ’n grap gemaak,” sê hy.

Sy bring die hele oggend in die kombuis deur, bly dat dit darem nie meer so ondraaglik warm daar is nie. Sy vind ook uit dat die louoond van die koolstoof ideaal is om die beskuit in uit te droog.

Die volgende oggend is sy vroeg wakker en by toe hy sy eerste koppie koffie in die kombuis staan en drink.

“Hier is jou beskuit,” sê sy en bied die bakkie aan asof dit die kroonjuwele is.

Hy moet lag toe hy haar gesig sien. “Dis heerlik.”

“Is jy seker? Is jy nie net beleef nie?”

Hy skud sy kop. “Glad nie. Dis baie lekker. Dankie.”

“Jy moes lankal gesê het. Is daar nog goed waarvoor jy lus is, maar wat jy verswyg uit beleefdheid?”

“Bredies,” sê hy, “noudat dit koud word. Mieta kan nie bredies kook nie.”

“Ek is die koningin van bredies,” sê sy ernstig. “Uit luiheid, sien. Ek was te lui om saans ’n hele spul kastrolle vuil te maak; dis soveel makliker om alles saam te gooi.”

“Dis nie nodig dat jy vir my kook nie,” sê hy dadelik. “Mieta doen haar bes.”

Sy kyk hom ’n ruk nadenkend aan. “Ek gee nie om nie. Terwyl ek hier is, kan jy netsowel van my talente gebruik maak.”

Die keer is dit sy beurt om haar met ’n verskerpte blik aan te kyk.

“Dis nie wat ek bedoel nie,” sê sy vinnig en sy voel hoe haar gesig rooi word. “Ek bedoel as daar ’n dis is wat ek kan maak en jy is toevallig lief daarvoor en …”

“Ek weet wat jy bedoel,” sê hy.

Afgesien daarvan dat sy al haar uithalerbredies begin kook en dan met onverklaarbare genot sit en kyk hoe hy dit geniet, maak sy ook die eerste keer kennis met die verwerking van vars geslagte vleis. Sy het verwag om haar dood te gril, maar vind dit nogal bevredigend, veral toe sy daarna die vrieskas kan oopmaak en kan kyk na die netjies verpakte vleis. Sy sien nie kans vir biltong maak nie, maar staan gefassineerd en kyk hoe hy dit doen.

“Volgende winter sal ek weet hoe om dit te doen,” sê sy voordat sy besef wat sy sê. “Ek bedoel, ek weet nou hoe.”

Hy kyk net na haar sonder om kommentaar te lewer, maar sy vind dat sy al hoe meer soos ’n eggenote begin optree. Dis iets wat sy rasioneel probeer wegdink en emosioneel nie kan keer nie. Met Wilhelm het sy die tradisionele vrouerol vervul, ten minste aan die begin, maar dit was voordat sy haar vingers verbrand het. Dit was soos ’n rol wat sy vertolk het, omdat dit vir hom belangrik was dat sy in die openbaar en voor hulle vriende as die onderdanige metgesel voorkom. Sy het hom jammer gekry; hy het die sekuriteit nodig gehad wat sy hom blykbaar gegee het. En die hele tyd het hy sy planne gesmee.

“Ons koop die huis en sit dit op ons albei se name,” het hy gesê. “Dan is jy beveilig. Wanneer ons getroud is … ’n Mens weet nooit nie, enigiets kan gebeur.”

Sy het hom geglo, waarom sou sy nie? Haar hande was vol genoeg met die nuwe onderneming wat sy en Sandra begin het. Sy het die papierwerk, die formaliteit in sy – soos sy gedink het – bekwame hande gelos. Sy was naïef, dit weet sy nou; sy het nooit eens gevra om na die kontrak te kyk nie. Gelukkig is soveel van hierdie planne voor vriende en selfs haar ouers bespreek; dit het sake vergemaklik tydens die hofsaak, maar dit was ’n lang en bitter geveg, so onsmaaklik dat sy nou nog rillings kry wanneer sy daaraan dink. Veral wanneer sy sy selfgenoegsame gesig onthou, die manier waarop hy triomfantlik na haar gesit en kyk het in die hof, doodseker dat hy alles wat sy besit het, netjies van haar gesteel het: die huis, die meubels, alles.

Maar sy het gewen, miskien bloot omdat die regter simpatiek was teenoor vroue wat hulle laat inloop deur gewetenlose mans. Wilhelm moes die huis teruggee en die hofonkoste betaal. Kaal uitgetrek, het Sandra gesê. Maar die wraak was bitter; niemand kon haar vergoed vir twee jaar se vertroue wat sy in ’n man gehad het en verloor het nie.

Sy weet nie of sy ooit oor die skok sal kom van daardie aand toe sy teruggekeer het na haar huis ná ’n langnaweek by haar ouers en haar sleutel nie die voordeur wou oopsluit nie.

Sy het in die donker gestaan en sukkel en oplaas die klokkie gelui sodat Wilhelm vir haar kon oopmaak. Sy kon dadelik sien iets is verkeerd; die atmosfeer was anders. In die sitkamer het ’n meisie gesit wat sy nog nooit vantevore gesien het nie. Maar dit was Wilhelm se gesig wat haar die meeste geskok het: die tevrede uitdrukking, soos dié van ’n kat wat die bak room voor die ander katte se neuse weggeraap het.

Hy het nooit die huis in haar naam geregistreer nie. Gedurende die maande toe sy gedink het hulle bou saam aan ’n toekoms, het hy sy planne gesmee, alles ingepalm vir die lewe wat hy saam met die onbekende meisietjie beplan het. Om al die slotte van hulle huis te verander, was net die laaste klein gebaar.

Gelukkig het woede haar deur die maande daarna gedra – ’n woede soos sy nie geken het nie, woede wat haat en wraak geword het sodat daar min tyd was om te wonder of sy verraad ook hartseer ingehou het. Miskien is dít waarom sy so maklik hierdie ooreenkoms met André gesluit het. Hou die verhouding saaklik, laat alles van die begin af deur prokureurs wettig neergeskryf word. ’n Transaksie, niks meer nie.

Waarom sy dus meer en meer toegeeflik word, verstaan sy nie eintlik nie. Sy sit selfs een aand André se uitgerafelde ou plaastrui en stop. Sy wou dit weggooi, maar hy is so lief vir die ou ding dat sy besluit het om dit liewer reg te maak. Nie eens vir Wilhelm het sy ooit so iets gedoen nie.

Dis omdat sy niks het om te verloor nie, stel sy haarself gerus. Wanneer sy aan die einde van die jaar vertrek, laat sy niks agter nie, veral nie haar hart nie.

Christine le Roux Keur 3

Подняться наверх