Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 13

Hoofstuk 10

Оглавление

Nadat André uit is, gesels Julia en haar ma nog ’n hele ruk lank.

“Jy kan darem vir jou ’n mooi spieëltafel hier indra,” sê haar ma nadat sy die kamer bekyk het.

“Ag,” sê Julia, “ek gebruik die kamer hier langsaan as ’n kleedkamer. My goed is alles daar. Ma weet hoeveel rommel ek het.”

Haar ma staan op. “Ek moet gaan aantrek en hoor of jou pa lus is vir nog tee.”

Julia bly nog ’n hele ruk lank lê. Sy vind dit ’n vreemde, maar nie onaangename sensasie nie om hier in André se bed te lê. Dit ruik na hom, na sy skeerseep, en impulsief druk sy haar kop in sy kussing voordat sy regop spring en haarself berispe. Sy maak die bed op, gaan dan langsaan toe en maak haar bed ook vinnig op voordat haar ma onraad merk.

Toe sy later kombuis toe gaan, voel sy onverklaarbaar opgewek terwyl sy die tafel dek en alles regkry vir ontbyt. Haar ouers kom in en kondig aan dat hulle ’n ent wil gaan stap voor ontbyt. Sy maan hulle om warm aan te trek omdat dit so vroeg soggens bitter koud is, en gaan voort met haar werk.

André kom in voordat hulle terug is en sy neem vir hom ’n koppie koffie waar hy in die stoepkamer agter sy lessenaar sit en gou ’n paar telefoonoproepe maak. Terwyl hy praat, staan sy voor die venster en uitkyk, ’n beker koffie in haar hand.

“Vertel my meer van jou begeerte om warm agter ’n man se rug te slaap,” sê hy meteens agter haar.

Sy bloos effens. “Ek is baie koulik,” sê sy ontwykend.

“Ek dog jy hou nie van mans nie en wou glad nie trou nie?”

Sy draai om. “Dit was voor Wilhelm. Hy het my genees van sulke begeertes.”

“Ek sien,” sê hy. “Dis verblydend dat jy tog wel op ’n tydstip in jou lewe sulke gedagtes gehad het.”

“Natuurlik,” sê sy gebelg. “Ek is nie abnormaal nie.”

“Nee, nee,” stem hy saam.

Sy kyk hom waarskuwend aan. “Moenie gedagtes kry nie. Dis net dat … Wel, terwyl my ouers hier is, moet ons maar maak asof ons … jy weet.”

“Presies,” sê hy ewe ernstig.

“Dis tog nie te veel gevra nie,” gaan sy voort.

“O nee.”

“Dis mos nie vir altyd nie. Hulle kuier net tien dae lank.”

“Ek dink ek sal tien dae lank kan uithou,” verseker hy haar.

Sy kyk hom agterdogtig aan, nie seker of hy met haar spot nie. “Nou toe, kom,” sê sy toe sy haar ouers oor die werf sien nader stap. “Ons moet gaan eet.”

Dat hy sy rol ernstig opneem, word gou vir haar duidelik. Wanneer hy aan tafel agter haar stoel staan om wyn te skink, raak hy aan haar nek, ’n strelende gebaar, op die oog af doodnatuurlik. Wanneer hy langs haar op die bank sit, sit hy sy arm om haar skouer. Wat vir haar die verbasendste hieromtrent is, is dat sy glad nie omgee nie. Na die debakel met Wilhelm het sy maande lank ’n absolute afkeer van enige fisieke aanraking gehad, omdat sy dit met verraad geassosieer het. Wilhelm se liefkosings was doelbewus en voorbedag; hy wou haar sus terwyl hy sy planne beraam. Met André weet sy waarom hy dit doen. Sy het gevra dat hy so moet optree. Dit beteken niks nie, daarom kan sy dit aanvaar.

Die aand voor haar ouers vertrek, sit hulle in die kombuis en eet. Die koolstoof maak dit die warmste en geselligste vertrek op ’n koue aand. Julia se ma sit André en vergas op streke wat Julia in haar kindertyd uitgehaal het. Julia protesteer kort-kort, maar dis duidelik dat André dit geweldig geniet.

“Hou tog op,” sê Julia na ’n ruk. “Ek is nou ’n bedaarde volwassene. Ma laat my soos ’n stout kind klink.”

“Ek is nie so seker van die bedaard nie,” sê André guitig.

Mevrou Naudé kyk hom liefdevol aan. “Hoe gelukkig sou Septimus nie gewees het as hy ons vanaand kon sien nie,” sug sy. “Dis presies wat hy in gedagte gehad het.”

Julia kyk haar ma skerp aan. “Wat bedoel Ma?”

“Onthou jy toe hy verlede Julie by ons gekuier het? Jy was mos ook daar en nadat jy weg is, het hy vir ons gesê dit is sy hartewens dat jy en André moet trou.”

Julia kyk vinnig na André en dan terug na haar ma. “Het hy so gesê? Waarom?”

“Hy was lief vir jou, dit het jy tog geweet.”

“Ja, ek het, maar dis die eerste woord wat ek hoor van sy planne.”

“Ek sou dit nie só stel nie,” sê haar pa. “Hy was ’n wyse ou man en nadat jy klaargespeel het met daardie Wilhelm-skepsel, het hy vanselfsprekend gevoel dat die twee jongmense wat hy die beste ken en vir wie hy die liefste is, bymekaar hoort.”

“Dis waarom ons so verbaas was toe jy ons die nuus vertel,” voeg haar ma by. “Ons het nie eens geweet julle ken mekaar nie.”

Julia weet regtig nie wat om hierop te antwoord nie, maar André kom tot haar redding.

“Ek het dadelik geweet sy is die vrou vir my,” sê hy ferm, “die oomblik toe ek haar ontmoet.”

“Nou toe,” sê haar ma stralend. “Sien julle, alles het uitgewerk soos dit moes.”

Haar pa gee ’n gaap en sê hy gaan maar kamer toe, en André sê hy moet gou ’n paar sake afhandel, sodat Julia en haar ma alleen agterbly en opruim.

“Dit is tog wonderlik hoe dinge uitwerk,” gesels haar ma terwyl sy koppies uitspoel. “Dit was bitter jare vir Septimus totdat hy vir André opgespoor het.”

Julia sit op haar hurke voor die kas waarin sy die kastrolle bêre en kyk fronsend op oor haar skouer. “Wat bedoel Ma: opgespoor het? André was nooit weg nie.”

“Natuurlik,” sê haar ma. “Ek dink hy was tien jaar oud voordat Septimus hom opgespoor het.”

Julia staan regop, haar hande op haar heupe, haar oë skerp. “Wat sê Ma? Het oom Septimus die hele tyd van André geweet?”

“Dit was dan sy seun,” sê haar ma verbaas.

Julia voel hoe haar bene lam word en sy leun teen die tafel. “André is oom Septimus se eie kind? Waar kom Ma daaraan?”

“Het jy dit nie geweet nie?” vra haar ma en gaan sit by die tafel. “Ons het.”

Julia gaan sit oorkant haar ma nadat sy die kombuisdeur toegemaak het. “Vertel van die begin af,” sê sy beslis. “Ek kan Ma verseker André weet dit ook nie.”

“Wat tussen Septimus en die meisie gebeur het, weet ek nie,” begin haar ma. “Ek was altyd onder die indruk dat Septimus met haar wou trou. Sy wou nie. Septimus het ons die briewe gewys wat sy geskryf het. Sy het uit sy lewe uit verdwyn, sy wou nie ’n las wees nie.”

“Het hy geweet sy het ’n kind, of verwag ’n kind?”

“Nee, dit het hy eers jare later uitgevind. Ek weet nie hoe nie, dis so lank gelede. Miskien het hy haar uiteindelik opgespoor, net om uit te vind sy is dood. Iemand moet hom van die kind vertel het, want dis hoe hy André by die weeshuis opgespoor het.”

“Waarom het hy nie vir André vertel nie?” vra Julia ontstoke. “Hoekom het hy hom nie aangeneem en as sy kind erken nie?”

Haar ma skud net haar kop. “Ek weet nie. Miskien het hy gevoel dit sal die seun ontstel.”

“Onsin,” sê Julia kwaad. “Dit het hom veel meer ontstel om nie te weet wie sy pa was nie.”

“Hoe ook al,” sê haar ma en staan op, “van die oomblik dat hy André gevind het, het hy hom hierheen gebring, al sy studie en onderhoud betaal en soos jy weet, ook die plaas aan hom nagelaat.”

“Ja, ek weet dit,” sê Julia ongeduldig. “Maar ek dink steeds nie dit was reg nie. Hy moes van die begin af vir André gesê het. Dit sou André se hele lewe verander het. Hy was altyd bang oom Septimus vergeet weer van hom. As hy geweet het dis sy pa, sou dit anders gewees het.”

“Septimus was nie soos ander mense nie,” sê haar ma kalm. “Jy het dit geweet. Hy was nooit die trousoort nie en ek dink hy was skrikkerig vir intimiteit van enige aard. Miskien het hy gevoel hy is nie in staat om ’n openlike vader-seun-verhouding te hê nie; miskien was dit net vir hom moontlik om op ’n afstand vir iemand lief te wees.”

Julia skud haar kop. “Ek weet nie. Waar is hierdie briewe waarvan Ma gepraat het?”

“Hy het dit in ’n ou sigaardoos gehou,” sê haar ma, “in sy slaapkamer. Dis seker weggegooi; jy sê mos jy gebruik daardie kamer vir jou klere.”

“H’m,” sê Julia nadenkend.

Sy bly hieraan dink totdat sy die volgende oggend terugkom van die lughawe af, waar sy haar ouers weggesien het. Sy betrap haar self dat sy André kort-kort ondersoekend aankyk. Weet hy hiervan en hou hy dit stil om die een of ander duistere rede? Het sy prokureur hom dalk daarvan vertel?

Dié middag trek sy elke laai in haar kamer oop en soek. Dit duur nie lank voordat sy die sigaardoos kry nie. In die hoek van die kamer is ’n outydse lessenaartjie wat sy nooit gebruik nie en in een van die laaitjies lê die sigaardoos. As sy gehoop het om ’n dik pak briewe te kry wat alles sal verduidelik, word sy teleurgestel. Daar is net twee briewe. Die een is van oom Septimus self waarin hy by die onbekende Elisabet pleit om hom toe te laat om haar weer te sien. Dis nie ’n liefdesbrief nie; sy taalgebruik is formeel en hoflik en Julia besluit misnoeg dat sy ook nie op so ’n brief sou gereageer het nie.

Die ander brief is van Elisabet waarin sy haar redes uiteensit vir haar besluit en byvoeg dat sy sy brief terugstuur omdat sy geen verdere kontak met hom wil hê nie. Ons is nie dieselfde soort mense nie, skryf sy. Jy sal met iemand anders trou. Dis beter om dit nou te besef.

Julia sit lank met die briewe op haar skoot voordat sy hulle weer bêre. Al wat die briewe wel bewys, is dat André se ma oom Septimus geken het, dat hulle ’n verhouding gehad het en dat sy dit baie beslis verbreek het. Moet my nie probeer opspoor nie, sê sy in haar brief. Dis verby en ek gaan weg. As dit moet, sal ek my naam verander. Ek wil nie skande oor jou bring nie.

Die laaste sin sê die meeste, dink Julia, en maak sommetjies in haar kop. Elisabet het toe al geweet sy is swanger. Was sy te trots om oom Septimus te vertel? Was sy bang hy verwerp haar? Maar hy sou tog nie, redeneer sy, sy brief maak dit duidelik. Of was hy die soort man wat tog geskok sou gewees het? Sy weet nie, sy het hom nie so goed geken nie.

’n Week lank loop sy en tob oor die saak. Sy kan nie besluit of sy vir André moet vertel of nie. As sy gekrenk voel oor oom Septimus se gedrag en die feit dat hy so ’n belangrike stukkie inligting van sy seun weerhou het, hoeveel te meer gaan dit vir André seermaak? Aan die ander kant, besluit sy toe sy een aand al in die bed lê, sal dit sekerheid bring. Sy spring uit die bed uit, haal die briewe uit en loop langsaan na André se kamer toe. Senuagtig klop sy aan die deur en rittel van die koue, omdat sy nie eers haar kamerjas gevat het nie.

Hy kyk haar verbaas aan toe sy binnekom. Hy lê in die bed met ’n landboutydskrif wat hy laat sak. Gelukkig is daar ’n verwarmer in die kamer aan en sy gaan staan koulik daarby.

“Waaraan het ek hierdie eer te danke?” vra hy. “Jou ouers is mos nou weg.”

“Daar is iets wat ek jou wil vertel,” sê sy haastig.

Hy lig sy wenkbrou. “En jy gaan ’n sigaar rook terwyl jy dit doen?” Hy kyk na die doos in haar hand.

“Nee, man,” lag sy, en sy slaan haar arms om haar lyf.

Hy sit regop en vou die beddegoed aan die voetenent van die ongebruikte deel van die bed terug. “Klim maar hier in, jy gaan verkluim as jy daar bly staan.”

“Dis nie nodig nie,” sê sy vinnig.

“Ek sal nie aan jou raak nie,” verseker hy haar. “Jy sal veilig wees.”

Sy gehoorsaam en kruip dankbaar in, haar rug teen die bedstyl aan die voetenent.

“H’m, dis beter,” sê sy, en kyk hom dan doelgerig aan. “Jy het my eenkeer vertel jy weet glad nie wie jou pa is nie,” begin sy. “Is dit so?”

“Ja.”

“Het jou ma nooit iets gesê nie?”

“Nee. Ek was maar ses toe sy dood is; ek het nie eintlik vrae gevra nie.” Hy kyk haar ondersoekend aan. “Waarheen lei hierdie vrae?”

Sy skud haar kop. “Iets wat my ma gesê het en wat ek moeilik vind om te glo.”

“Ek weet nie wie my pa is nie, Julia,” sê hy en daar is geen emosie in sy stem nie. “Dit is die hoofrede waarom ek nog nie getroud is nie.”

“Jy is,” sê sy. “Met my.”

“Nie regtig nie. Jy weet wat ek bedoel. Ek het nog nooit gevoel ek kan dit doen nie. Dit sal nie regverdig wees teenoor die vrou nie.”

Sy frons. “Hoekom? Sy trou met jou, nie met jou pa nie.”

“Dink,” sê hy gelykmatig, maar in sy oë sien sy tog iets wat brand. “Ek het geen benul wat my genetiese agtergrond is nie. Ek kan die draer wees van allerhande vreeslike siektes.”

“Ag, kom,” protesteer sy. “Jy is gesond en sterk en … alles. ’n Mens kan dit mos sommer sien.”

Hy maak ’n beweging met sy skouers. “Wat wil jy vir my vertel, Julia? Hoekom is dit vir jou so belangrik om te weet wie my pa was?”

“Dis nie wat ek gesê het nie,” sê sy gebelg. “En ek weet. Ek wou bloot weet of jy ook weet.”

Hy antwoord nie dadelik nie, leun net terug en kyk haar uitdrukkingloos aan. “Jy weet?” vra hy uiteindelik.

“Oom Septimus. Die mees voor die hand liggende persoon.”

Hy skud sy kop, gee dan ’n laggie. “Waar kom jy daaraan? Hy het ander kinders in die weeshuis ook gehelp.”

“My ma het my vertel.” Sy tik teen die sigaardoos. “Hulle, jou ma en oom Septimus, het ’n verhouding gehad, maar toe sy uitvind sy is swanger, het sy uit sy lewe uit verdwyn en alle kontak met hom verbreek.” Sy haal die twee briewe uit en gee dit vir hom om te lees.

Hy lees eers die een, dan die ander, dan weer die eerste een. Sy sit hom besorg en aankyk.

“Hoekom het hy nie vir my gesê nie?” vra hy sag, sy kop nog geboë oor die briewe. “Hoekom het sy nie vir my gesê nie?”

“Ek weet nie,” sê sy sag. “My ma ook nie. Kyk na daardie laaste sin in jou ma se brief. Sy moet ’n baie eerbare mens gewees het; sy was bang die skande is vir hom te veel. Ek is seker as hy geweet het, sou hy met haar getrou het. Kyk na sy brief. Al is dit nou nie eintlik wat ek ’n liefdesbrief sou noem nie, is dit tog duidelik dat hy baie vir haar omgegee het. My ma reken hy was ongemaklik met gevoelens, met intimiteit. Miskien was hy van plan om jou te vertel en is hy dood voordat hy dit kon doen.”

“Nee,” sê hy. “In die laaste weke het ons oor alles gepraat.”

Sy leun effens vorentoe. “Die belangrikste is dat hy jou opgespoor het, dat hy jou hierheen gebring het, die plaas aan jou nagelaat het. Aan die einde het hy soos ’n vader opgetree.”

“Hy het dit altyd gedoen,” sê hy, sy stem dof. “Hy het my altyd aangespreek as sy seun.”

Haar hart is seer terwyl sy na hom kyk. Sy kan haar nie keer nie – sy gooi die komberse eenkant toe, kruip vorentoe en slaan haar arms om hom, sy kop teen haar bors.

“Nou weet jy hy het dit regtig bedoel,” fluister sy vir hom. “Hy het net nie geweet hoe om dit te sê nie. Party mense is so.”

Sy kan voel hoe hy ruk, maar hy stoot haar nie weg nie. Na ’n ruk laat sy hom gaan, klim sy uit die bed uit.

“Ek gaan nou slaap,” sê sy. “Is jy … sal jy …? Kan ek vir jou iets bring om te drink?”

Hy skud net sy kop sonder om op te kyk. Sy loop saggies uit en druk die deur agter haar toe. Terug in haar eie bed lê sy nog lank wakker, verras deur haar eie gevoelens. Sy wou nie vir hom jammer wees nie, dink sy, en sy is nie, verseker sy haarself. Wat sy vir hom voel, is net … vriendskap. Sy is vir hom lief soos sy vir ’n vriend lief is, ’n goeie vriend wie se welsyn haar na aan die hart lê.

Gedurende die volgende paar dae is André baie stil en Julia roer ook nie weer die onderwerp aan nie. Hy vertel haar wel dat hy met sy prokureur gepraat het.

“Hy was baie vaag,” sê hy. “Hy wou dit nie regtig bevestig of ontken nie. Hy sê wel daar is verdere dokumente wat eers beskikbaar gestel mag word wanneer die jaar verby is.”

Sy kyk hom fronsend aan. “Nog voorwaardes?”

“Ek weet nie. Dit klink na briewe wat oom Septimus nagelaat het.”

Sy sug. “Ek hoop nie daar is ’n hele nuwe spul voorwaardes nie. Hy kan ons nie van jaar tot jaar afpers nie.”

Hy kyk vinnig na haar. “Afpers? Is dit hoe jy dit beskou? Is dit regtig so ondraaglik?”

“Nee, André,” sê sy kalm. “Dis hoegenaamd nie ondraaglik nie. Dis, om die waarheid te sê, baie aangenaam. Ek is net skepties oor hierdie nuwe briewe. Wie weet wat hy nou weer van ons gaan verwag. Moet ek eers ’n erfgenaam voortbring voordat ek mag loop?”

Hy ruk asof sy hom geklap het.

“Ek is jammer,” sê sy berouvol. “Moenie elke keer so seergemaak lyk nie. Ek bedoel dit nie persoonlik nie. Jy is tog ook gretig om weer met jou lewe voort te gaan, is jy nie?”

“Watse lewe?” vra hy.

“Van ’n jaar gelede,” sê sy ongeduldig. “Voordat jy met my moes trou.”

Hy antwoord nie, vat net sy baadjie en loop uit na die skuur toe.

’n Dag of twee voel sy half kwaad vir hom omdat hy haar skuldig laat voel. Hy is tog ewe veel as sy gebonde deur oom Septimus se testament. Hoekom lyk hy altyd seergemaak wanneer sy iets sê oor die onnatuurlike situasie? Maar sy kan nie te lank hieroor dink nie, want in die pos kry sy ’n kaartjie wat alle ander gedagtes uit haar kop vee.

Dis van Wilhelm. Hy en sy vrou, skryf hy selfversekerd, ry een van die dae Kaap toe en hy het gedink hulle sal vir Julia kom hallo sê wanneer hulle daar verbykom.

“Hoe durf hy?!” bars sy los toe sy dit daardie aand vir André wys. “Kyk net: geen datum nie, geen adres nie. Ek kan nie terugskryf en sê as hy sy voete op die werf sit, sal ek hom wegjaag of vir Radar sê om hom op te vreet nie.”

“Stadig nou,” sê hy. “Hy is tog nou ’n getroude man. Hy wil seker net kom kyk hoe dit met jou gaan.”

“Hy het hom nog nooit oor my welsyn bekommer nie,” sê sy ysig. “Waarom sal hy dit nou doen?”

“Dalk voel hy spyt oor wat hy aan jou gedoen het?”

“Moenie glo nie!” Haar stem is vol haat.

“Julia,” maan hy, “gee die man ’n kans. Jy is ook nou getroud. Ek sal ook hier wees. Dis miskien nie ’n slegte ding dat jy vrede maak met hierdie onplesierige episode nie. Handel dit af, maak klaar daarmee.”

“Dis maklik vir jou om te praat,” sê sy bitter. “Jy sal die hele tyd op die landerye wees. Ek sal hier moet sit en gesels met hulle.”

“Ek belowe jou ek sal sorg dat ek daardie dag heeldag hier is,” belowe hy. “Ek sal dit baie duidelik maak aan wie jy nou behoort.”

Sy kyk hom aan, haar oë op skrefies getrek. “H’m,” sê sy.

Christine le Roux Keur 3

Подняться наверх